’n Kruiwa is gemaak om te stoot

  • 0

Nostalgie pak my beet soos ek kyk na die kiekies van mense wat ek nie eens ken nie. Ek het al baie hul name gehoor, maar nog nooit hand geskud nie. In die oë gegroet nie. Dit maak dit moeilik om te onthou wie is wie.

Liefhê kom so maklik. Dis 'n ‘kies’. Hoe moeilik kan dit wees om ‘goed’ en reg te kies? Waarheid? Flippen moeilik. Paulus het gesê want wat hy wil doen, doen hy nie. Wat hy nie wil doen nie… Ja nè. En dis Paulus. Skrywer van grootste deel van die nuwe testament.

Ek is 'n kleuterskooljuffrou. Elke kleuter moet wéét en ervaar en glo jou hart is vir hulle en jy’t hulle lief. Onvoorwaardelik. Dan eers is die hartjies veilig en speel hulle lekker. Hoe het ek geleer om lief te hê? Op die mensies wat kleiner is as wat jy kan onthou jy ook eens op 'n tyd was.

Saam met mense wat so na aan my hart is, ry ons vroeg Vrydagmiddag die bosveld in. Daar waar ons op die veranda sit en uitstaar oor die Oranje. Dig naby die Botswana-grens. Koringkrieke laat meisies gil, seuns kattekwaad aanvang.

Dis 'n man; vroeër 'n treindrywer, professionele duiker, vlieënier en suksesvolle sakeman. Al wat dit gevat het was om een aand te vroeg by die huis te kom en sy vrou onkant te betrap. Sy hele lewe soos almal dit ken en aanvaarbaar vind, plat gery. In reverse gesit en weer plat gery. En weer. En weer.

Diep bruin oë en silwer wit hare. Dis 'n hart wat seer het en jare lank al hunker na heel wees.

Maar hoe?

Vervang dit tydelik met stilte, afsondering, 'n bosveldvuur, honde vriende en meer as genoeg drank.

Tydelik.

Daar in die bos sing ek saam met jou terwyl jy op jou eeue oue kitaar speel. Een van die min besittings wat jy nie laat gaan het nie. Die snare ken jou vingers en die honde raak rustig langs die vuur soos die bekendheid van jou stem die nag in neurie. Dis nie beeldskoon en opneemkwaliteit nie, maar die rou in jou siel ego deur die bosveldstilte en my hart ruk. Vasgepen aan jou lirieke wat ek heeltemal te laat gebore is om te ken. So luister ek na jou hart en vat die houe wat die lewe al na jou kant toe gegooi het saam met jou.

Om jou lief te hê is maklik. Dis mos hoe ek jou leer ken het. Aan die stukkende kant. Dit vat net 'n opregte handdruk, 'n glimlag. Luister na die detail omdat jy regtig wil hoor. Wil weet. Verstaan.

Dit vat een oggend se stap om te kyk hoe die son oor die Oranje opkom. Wys my waar die waterpomp is en vertel my van sy stukkend wees. Staan saam met jou doodstil soos die visarend oor ons koppe vlieg en op sy gewone ‘goeie-more-bosveld troon’ gaan sit.

Jy wys my die veld. Leer my in jou eenvoud en taalverskil hoe die water verbyvloei dat die krokodille tot hier kan kom en waar ons 'n boomhuis sou bou as ons gereeld die pad draadlangs kon stap. Jy leer my die spel van swart en wit mannetjies rondskuif oor 'n teëlvloer. Dis aaklig, maar saam is dit mos 'n uitdaging. Daarom dat daar hard gekonsentreer word vir 'n wen. Vertel van die pofadder wat agter op die bank se kussing gelê het. Daai keer toe die poachers byna teen die huis verby is en jy en geweer in die veld vir hulle gelê en wag het.

Hoe lank neem dit om nie meer jouself raak te sien nie? Die lekker te ervaar wanneer jou eie kruiwa vol moeilikheid onder die afdak gelos word. Rêrig daar te los.

Stap armswaaiend sypaadjie af en buurman se kruiwa, drie tot vier maal jou geloste kruiwa se size, raak te sien. Dan is diep asemhaal mos lekker. Met jou leë hande, want kruiwa is mos onder die afdak, kan jy lag-lag vir buurman help om sy kruiwa afdak toe te stoot en daar te los.Van hier af is hande vat makliker. Bagasie so swaar, afgelaai. Soos 'n klippie wat jy oor die water skiet en 'n rimpeleffek skep. 'n Hele klomp golfies. Nuwe rekord.

Jou liefhê is voelbaar. Hoe? Jy lees. Mens-lees. Jy lees so raak dat jou optrede verander afhangend van hul inhoud. Jy raas nie. Jy word nie kwaai nie. Jy vat met jou leë hande saam met my my kruiwa en help my afdak toe.

Waar loop draai my hart weer vanmiddag? Begin by nostalgie en eindig waar en hoe net ek en hierdie wit vel papier verstaan wat hier aangaan.

Hierdie arme papier.

Mense. Elkeen. So mooi. Gemaak in die Beeld van 'n Pa wat hulle elke hartklop ken en liefhet. Wat tiekiedraai oor hul eie-wees en volwees en leegwees en menswees.

Ek huil nie. Nooit. Ma het my groot gemaak om op my tande te byt. Soms wanneer ek alleen is. Voor die klavier. Of wanneer daai trailrunners aan my voete is. Maar nooit so voor jou nie.

Daar is iets aan daai liefde wat keel laat toe trek. Laat swaar sluk. Onvoorwaardelik. Unconditional. Nie perfek nie, maar permanent. Niks kan jou skei van daai liefde wat jou Pa laat tiekiedraai oor jou nie.

Dis die ope geloof in die kinderogies wat my laat glo die ‘wys jou ek het jou lief’ is vas in hulle hartjies. As ek hulle nie wys nie, hoe sal hulle ooit glo wanneer ek sê: ‘lief-jou’. Wanneer jy help stoot aan daai kruiwa, dan is dit so maklik om te glo wanneer jy sê ‘lief-jou’.

Wag. Plat op my knieë. Oop hande. 'n Hart wat oopmaak om die waarheid te glo.

Hungry I come to You, for I know You satisfy…

Daar langs die Oranje.Wanneer die ‘tydelik’ permanent word. Dis my hart vir jou.

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top