Liewe vriende,
Ek wil vanmiddag graag iets in Afrikaans skrywe, hier uit die Indiese subkontinent. Gun my die geleentheid om ons ervaringe met `n Afrikaanse tong te proe – om na gesprek met `n Afrikaanse oor te luister, en met `n Afrikaanse pen oor te vertel.
Ons is op pad na Goa in Indië, `n Portugese nedersetting tot 1961. Ons skip, die MS Rotterdam, het met `n byna ongelooflike geraas van masjinerie so teen sewe-uur die oggend aan wal vasgemeer. Teen die tyd was ons al wakker en gestort, want die dag aan wal wag vir ons.
Na ontbyt stuur Suzanne, my vrou ons na die "gangplank" en ons tree vir die eerste maal Indiese stof. Soldate met masjiengewere ontmoet ons by die hek, vind fout met my dokumente, maar na `n geskarrel skryf Suzanne sommer my regte paspoortnommer op die dokument en daar is almal tevrede. Deur die hek; daarbuite wag Indië vir ons.
`n Deftige man kom nader, vra hoe lank ons die motor wil huur en bied 80 dollar as fooi.
"Sewentig," sê ek, want mens moet mos haggle, of so hoor ons maar.
"Lugverkoeling," skiet hy terug; ek weet hy speel met my.
"Sewentig," hou ek vas, "en vier uur se ry."
Hy loop weg. Die twintig of dertig mans wat daar rondstaan kyk ons deur, op en af. Wat dink hulle nou? Is ons deftige ou die tussenganger? Word ons nou aangebied as slagoffers teen $70? Skielik kom daar `n wit Suzuki nader. Ek word uit my rystoel opgetel en voor ingesit.
Die rystoel is in die bagasiebak ingeprop, Suzanne is agter my, en Prakash het die stuur.
"Do you play cricket?" vra ek.
"Every Sunday," sê hy vir my; hy blom onmiddellik. Ek het die regte snaar gekielie.
Ons moet ons weg deur die skare vind, deur die duisende swart en geel driewiel dik-dikke, die derduisende bromponies en motorfietse, die toeristebusse, die karre, die honde almal eners en nog meer bromponies wat `n mens laat wonder of daar nog bromponies vir die res van die mensdom kan bestaan. Die ou gryses op fietse, almal meesal op die skeidslyn of aan die verkeerde kant van die pad. Die vrouens in kleurryke sari’s; die swartkopkinders in blou en wit skool-uniforms en, glo tog vir my, nóg duisende bromponies. Deur dit alles vertel komkommerkoel Prakash vir ons van sy lewe.
So amper elke vyftien sekondes blaas hy op sy toeter; net so `n tikkie om vir die ou voor hom te laat weet "ek is hier, en ek wil verby." Alles geskied kalm en sonder haas in verbasende veiligheid. Nooit voel ek in lewensgevaar nie.
(`n Jong offisier kom verby terwyl ek hier sit en tik. Ek soek `n Afrikaanse woord vir "tolerant." Soek toe `n Hollander – daar is driehonderd van hulle op die Rotterdam – besluit toe om vir die jong man hieroor te vra. Hy`s tog sekerlik `n Nederlander.
"What’s the Dutch word for "tolerant? " vra ek hom.
"Tolerant," antwoord hy met `n effense laggie.
"No, can`t be," sê ek vir hom. Ek is op soek na `n volleerde Hollander.
Ek kan "geduld" gebruik vir "tolerant" om die verkeer in Goa te beskryf, maar Prakash was as bestuurder beslis nie geduldig nie, liewer meer toegeeflik teenoor andere se tekortkominge.)
`n Bromponie kom by ons verby met drie jongetjies daarop, `n tiener en twee kinders.
"Illegal," sê Prakash.
Ons ry by `n vuur verby, een van `n heel paar wat ons gesien het – rommel wat amper op straat brand.
"Illegal," sê Prakash weer, "but the Indian people ..." Daar gelaat.
Prakash se groot kommer is die 11 000 rupees wat hy elke maand skuld op sy nuwe Suzuki-motor. Omtrent ZAR2 000, of so VS$180. Ons het hom $70 betaal vir die dag, en omdat ek die rit so geniet het, en omdat hy vanaf sesuur die oggend vir ons gewag het, en omdat hy so in die nood verkeer met sy 36 paaiemente van 11 000 rupees elk, het ek vir hom `n verdere 20 Euro gegee. Dit val my nou by dat ons helfte van Prakash se maandelikse paaiement betaal het, en dit vir een dag se werk. Daar is nog nege-en-twintig dae voordat die paaiement betaalbaar is. "A fool and his money are soon parted" klink in my gedagtes. Maar allemagtig man, ons het heerlik tussen die bromponies gery, die mensdom gesien in van sy wondere. En tuis gevoel.
("Tolerance is "toleransie" in Nederlands", sê `n lang Hollander vir my.
"Dis nie in Afrikaans aanvaarbaar nie; dis `n anglisisme," sê ek vir hom.
"Aha," antwoord hy my en stap weg.)
Hierdie dag met Prakash het my so aan Suid-Afrika laat dink. Die rooi grondkleure, die mense, honde, hitte, die weelderige plantegroei en die wonder van "toleransie."
Die volgende dag het ons by Bangalore aangeland, maar op die skip bly sit.
Daarna is dit Cochin waar die eerste Christenkerk deur die Portugese gebou is, so om en by die vroeë jare 1500. Cochin en Joseph, ons bestuurder. Die keer in `n wit Toyota.
Met die krieketstrategie vra ek hom watter span die wêreldbeker gaan wen. Toe ons by Indië kom as een van die moontlike wenners is dit net vir hom te veel. Hy krul glad van die plesier.
Cochin het, nes Goa, gelei onder Portugese, Nederlandse en Engelse heerskappy, maar daar was ook `n Chinese invloed. Hierdie invloed het niks bygedra tot `n verkeersstilte nie; alle verkeer was net so uitbundig as in Goa. Net so aards. Heerlik!
Joseph neem ons eers na `n gebou waar wasgoed versorg word.
"Very interesting," sê hy vir ons, maar ons is nie beïndruk nie.
Daarna is dit weermaggeboue, Roomse kerke, Hindu-tempels, Slamse moskees en hotelle waar buitelanders teen $100 per dag maande lank woon.
Totsiens Indië. Nou is ons op pad na Thilawa of Rangoon in Myanmar. Daarna Phuket in Thailand, dan Singapore, Jakarta en verskeie stede in Indonesië, dan weer via Singapore heelpad terug na Southampton.
Gelukkig gaan ons weer in Indië aan, hierdie keer by Mumbai. Ek wil weer saamry met `n towenaar soos Prakash of Joseph.
Liefdegroete,
Frank.
Lees hier meer oor die reisskryfkompetisie: 1 001 reiswoorde

