Septentrion – die kind-danser

  • 0

Die storie van Septentrion spook in die nou strate van Antibes, die kusdorp tussen Nice en Cannes. Antibes se ou-dorp self laat my dink aan ’n langbaard-grysaard wat na die soutgolwe van die see ruik, en dit was Ptolemeus, die Griekse geograaf, wat aan dié inboorlinge die naam mense van die see (Saleya) toegeken het. En die ou kêrel loer oor ’n ironiese skouer na die twee gevierde stede, hulle wat soos stokou verrimpelde hertoginne deur hul skilferende grimering aan bouillabaisse proe. Nie sy wêreld nie, want Antibes behou sy Middeleeuse karakter en voorkoms, soos die skrywer Graham Greene gelet het; ’n gestroopte eenvoud van okersteen en toring.

 Uit die Griekse sesde-eeu-voor-Christus-staanspoor uit, toe die dorp ’n kolonie van die florerende Massalia (vandag Marseille) was, daag hierdie dorp al die wêreld uit  ̶  is dit die see se storms wat uitgedaag word, ’n see wat menige galeie ru bodem toe geruk het? (Waarom dink ek aan die Cabo Tormentoso?) Is dit die oerbevolking, die Kelties-Liguriërs wat seker bitter aan hulle gedwonge onderdanigheid gekou het? Is dit die bruinharige spierbeenbarbare uit die noorde?

Selfs die naam Antipolis is uitdagend ̶ die dorp wat konfronteer ̶ en dit was ook so vir die Romeine wat eeue lank ná die Grieke hulle sweep hier geswiep het. Hulle voetspore lê diep in die suide van Frankryk ̶ om ’n paar te noem: die akwaduk by Nîmes; die teaterstadium in Arles; Cimiez, die Pompei-agtige ruïnes in die heuwels bo Nice en Augustus se treffende Le Trophée wat 49 jaar voor Christus opgerig is. En dan is daar die skerwe in Antibes.

Seker die bekendste en geliefste oorblyfsel uit die Romeinse eeue in Antibes, in verbasende goeie toestand, is die grafsuil van Septentrion die kind-danser, uit die derde eeu ná Christus.  In sig van die barok-katedraal, word hierdie heidense artefak in ’n nou straat teen die muur van die Hotel de Ville uitgestal.

santDaarop is ’n teks uitgraveer: Aan die gode Mânes van die kind Septentrion, twaalf jaar oud, wat in die teater by Antipolis vir twee dae in die reën gedans het.    (Vertaling uit Frans van die Latyn)  

 Mânes dui op die gode of die geeste van die doderyk.  Die teater self, spekuleer die kundiges, was waar die busterminus vandag is, in die moderne dorpsentrum, verwyder van die ou-dorp.  

 Dié grafsuil is natuurlik nie enig as Romeinse oorblyfsel in Antibes nie. Daar is die pragtige mosaïekvloer wat deel was van ’n domus, ’n Romeinse woning vir gegoedes. Daar is ’n versameling amfora, tesame met ’n vrag muntstukke, uit ’n skeepswrak wat by die Cap de Antibes gesink het. En die koplose breëbors figuur van Dionysus, Grieks-Romeins, wat hulle in die Valmasque-woud oopgevee het. Maar Septentrion se grafsuil word veral in die harte van die Antibois gekoester.

sant1

 Die Romeise teater

Wat my aangryp met hierdie grafsuil is juis dat dit ’n grafsuil is en tog met sulke opbeurende woorde, woorde wat die swaar weer uitdaag, en dalk die dood self.  

Septentrion, ’n Griekse naam wat noordwaarts beteken, was blykbaar ’n slaaf, en daaraan kleef ’n legioen vrae.  Was die twaalfjarige uit Afrika?  Gallië?  Uit Noord-Europa?  Die Midde-Ooste?  

Die grafsuil self beeld sewe sipresse uit op die buitelyn van ’n askruik wat die hoofontwerp is.  In die houerdeel van die askruik is daar ’n kantaros met twee hangende eilhoofblare en die sesstraalsterre aan weerskante.  Die kantaros, sê hulle, was by uitstek in rituele gebruik − die simboliek het met hergeboorte te doen, met opstanding. In Septentrion se geval is daar vir ons ’n dieper betekenis, dog misterie wat begin oopvou.

Die vrae doem op.  Is die grafsuil dan ’n afkondiging, dalk herdenking, van Septentrion se dood?  Het die kind, na twee dae se dans voor vasgenaelde gehore, teen gietende reën geknak, inmekaar gesak en die gees gegee?  En verder, het hy as slaaf begin besef wat vir hom voorlê in die komende jare … pyn, vernedering … en dat hy hier, ver van alles en almal wat hom die lewe gebied het, homself tot ekstase begewe en tot die dood toe dans? 

Die skrywer, Jules Michelet, is deur dié patos getref. “Ek weet van niks meer tragies in sy kortstondigheid, niks wat die hardheid van die Romeinse wêreld só uitbeeld nie.” En dat daar die moeite met só ’n grafsuil was, dui op ’n blywende indruk wat daardie kind op die inwoners gemaak het.

Vir my is dit ’n droomagtige beeld wat spook, teen ’n waas van mistigheid en reën, met fors ritmiese mansstemme, diep tromme en die arabesks van arms en lyf, spronge, swaaie en krulle, bene soos vlerke, ’n gesig al in die hemel. Ek verstaan ’n sweem van Nietszche se pleidooi vir ’n god wat dans. Septentrion is ’n beeld in strakke kontras met die platvloerse nugterheid van die Romeinse heersers.

Ver van hierdie oomblik sien ek die Voorloper van die Klopse in Adderleystraat wat uitbundig, mateloos, selfs verruk beweeg voor die gedissiplineerde peloton musikante wat volg. En in die Romeinse teater, die honderde oë, ’n gehoor wat weier om die reëndruppels weg te vee, in genot, verbasing, in vervoering en wat uiteindelik na twee dae die val sal sien.  

Die sangers, die tromslaners staan stom terug. Iemand kniel langs die beweginglose vorm van die kind. Dan rys die ongoddelike stilte oor die teaterverhoog, die klipstrate en die see.  

Die Kanadese digter Raymond Radiguet wat Antibes besoek het, het in sy bundel Die Wange van Vuur (1920), die gedig Septentrion, god van liefde opgeneem.  Ek offer ’n vertaalde indruk van ’n uittreksel.

             As ons vuur drie dae duur

            Is dit die naam liefde waardig?

            My pragtige onbekende danser,

            Beraad met Venus hieroor

            Al herken sy nie

            dié seun as die ware liefdesgod.

            Moet ons glo, soos die onsterflikes?

            Die ware god is dié geliefde kind

            Die Septentrion danser

            En met dié dans gaan staan sy hart

            En ons liefde sterf net so gou.  

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top