Van 5241 na 9904

  • 0

Dis ’n nat dorp. ’n Dorp, die konsep van “dorp” sink in. Dorpsmense. Dorps. Oos-Londen. Al wat ek sal onthou is hoe nat dit was en winderig, ’n vieslike irriterende wind, maar so asof die dorp die heeltyd in blou hang, ’n mistige blou, want die wind waai alles vuil, nie skoon nie.

Ongelukkig met die uitgewys is dit ’n vuil plek, soos ek inry van Queenstown deur die Quigney is dit net rommel en straatlopers en prostitute waar jy kyk. Mens kry sommer ’n vibe oor die plek, kyk as jou verwelkoming begin met ’n beggar by jou boot en ’n prostituut op jou bonnet en die stank van asdromme, wonder jy nogals wat die hel jy in so plek maak. Maar ek soek jou en as ek tussen rommel, beggars, kuslyne, branders en ’n irriterende wind moet soek, dan soek ek daartussen. Maar vir jou sal ek vind. Ek sou jou enige plek heen volg, vertel my iets, ek’s besig om op te gee …

In die kroeg op die strand drink ek ’n koue bier en wonder of jy nog drink, jy wou altyd ophou. Ek weet jy’s nie hier nie, dit is die eerste plek waar ek na jou sou kom soek het, Oos- Londen. Die wind waai my hare deurmekaar. ’n Hipster en ’n Goth bedien my, hier is baie blondines en dit lyk my dit is waar; die dorp het ’n slegte reputasie vir sy vrouens en hulle, gemak as jy dit so wil stel.

’n Man met ’n aksent is vir hulle ’n akme. Hulle vra vrae oor Nederland en ek’s nie lus nie, ek lieg en vertel ek is van Rusland, met my swaar Nederlandse aksent weet ek hulle weet ek’s ’n ongeskikte vark deur blatant vir hulle te wys ek stel nie werklik belang nie, maar na my derde bier miskien doen ek.

Ek haal jou foto uit want dit is wat mense vir my geword het - potensiële inligtingskubisse. Ek weet niemand sal jou herken nie, jy’s al tien jaar terug hier weg, jy’t altyd baie lank kom kuier en noudat ek hier is kan ek net nie verstaan waarom jy altyd so lank gebly het nie. Die plek ruik nie eers werklik meer na kus nie, meer soos geskuurde vuilvoet. Almal is of blond, of hipsters of hulle lyk arm en te veel getan. Jy weet back in the day was ’n gebrande vel ’n teken van armoede, die adelstand hoef nie te gewerk het in die son nie dus was hulle nie blas nie. Blas lyk so, soms na biltong. My BBQ chicken wings word afgelaai by my tafel deur die Goth, sy’s bitter omdat ek ’n skurk was, nulliteit irriteer my, soos die wind. Vervelige nutteloosheid. Maar sy steek vas op jou gesig geklam teen my tafel se bierkringe … die Goth ken jou, sy lyk te jonk om jou te ken, but then again jy was altyd ’n legend. Sy vra of ek jou ken, nutteloosheid is iets van die verlede. Ek maak seker sy verstaan baie mooi wat dit wel beteken as sy jou ken. Sy vertel my om haar by ’n ander kroeg te kry na haar skof. Ek neem haar nommer en verdaag.

Ek ontmoet haar later by ’n jockstrap bar, hel dit voel of niemand ooit skool verlaat het nie. Ek vertel haar van ons reise, Angkor Wat en jou obsessie met Big Brother en die Killing Fields, jou liefde vir Kambodja sal altyd by my bly ek het jou nog nooit so gelukkig gesien nie. Jou lag daai somersaand in Phnom Pehn … jy was alles en tussen al ons visums en vlugte het ek net dieper en liewer vir jou geraak met elke airmile, ek lag vir my eie grap. Help.

Die aand verloop glad, sy’t jou gesien ’n paar aande vantevore, goed om te weet jy drink nog, maar my skat ek jag jou steeds. Dit was nie nodig om te vlug van my af nie, dit was ons teen die wêreld; nie teen mekaar nie.

Ek verlaat die dorp laatmiddag en ry Noord na Gauteng, gerugte van die Goth vertel hoe jy gepraat het van jou trip Gauteng toe, ek sal nie eers weet waar om te begin nie. Maar hel ek ry. Ek klim in my kar en ek trap die petrol en ry die hel uit my Ford uit. Ek skiet deur ’n verdroogde Stutterheim en uiteindelik sit ek vas in vreemde laatnag taxi verkeer in Queenstown, nog ’n Quigney, die Oos-Kaap is stadig maar seker besig om in Transkei-dorpies te verander. Arm. Unmaintained. Vergete.

Ek skiet vas in Reddersburg vanaf die N6. Ek is lief vir die land. Beeste en krale en berge, die plekke waar daar nie bergies behoort nie, waar almal hoort en almal ’n tuiste het, die berge van jou land lewer ’n skoot van glorieryke verwelkoming oor en oor en oor ... Ek is tuis in jou land.

Sarie Marais Hotel, metafisies geplaas in die middel van Van Riebeeckstraat, die Sarie Marie, waar twee jeugdiges my: “Oom, Oom wat is Oom se vice?” “Waar kom Oom vandaan?” “Ver gery, Oom?”

Die B&B is spotgoedkoop en die drank ook. Die kroeg is depressing, maar warm, soos ’n ou tannie se sitkamer, hel-uit depressiewe interior, maar warm en tuis.

Reddersburg is een van daai slaperige, donker, agterwaters, meeste mense ry net deur, daar is niks spesiaal aan die plek nie, behalwe dat ek weet jy moes hier gestop het. Ek raak dronk op potency en ciders en wat ook al nog die commoners drink, warm mense nietemin, ver van opulent af.

Ter verwagte is daar ’n Oranjestraat toe ek gaan stap het, ek wou vars lug kry, te dronk om nie ’n hartseer te vang nie.

’n Kerkstraat, daar is blomme toe ek by Kerkstraat af hunker na “jou” toe. Jy was lief vir blomme; ek pluk ’n Swart Maria in poskode 9904.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top