Op die pad na Arniston

  • 2

Die Prado staan gepak en toegesluit in die motorhuis. Die Kellerman is gekoppel, die kameras se batterye gelaai en die padkaarte lê voor langs ons. Môre gaan ek en Adri op ons jaarlikse Pa-en-Dogter-toer. Ek het ’n vermoede dat hierdie dalk ons laaste toer gaan wees. Sy het vanjaar 16 geword en die mannetjie met die regop kuifie raak al hoe meer ‘n gereelde besoeker.

Elke jaar met die kort vakansie vat ons die pad in ‘n ander windrigting sonder Ma. Ma gaan net saam as daar ‘n teerpad tot daar en terug is. Vanjaar doen ons die Tuinroete vanaf Mosselbaai tot in die Kaap; nie op die N2 nie, maar die grondpad-kusroete al langs die see.

Met ons vertrek hang daar so ‘n mistigheid oor die see met die belofte vir ‘n mooi dag. Vars koffie in die fles en ‘n mandjie met padkos vir die dag staan agter die sitplek. Die selfone word in die paneelkissie gegooi. Die self-opgelegde reël laat ons toe om eers vanaand te luister of die wêreld nog bestaan. Ons ry stadig om nie ‘n foto-geleentheid te mis nie, want vroeg in die oggend is die lig op sy beste.

Die eerste dag is al langs die kus af, vanaf Mosselbaai tot by Witsand. Dag twee is tot by Agulhas en dag drie tot by Hermanus. Dan is daar twee onbeplande dae terug met Roete-62. Dag twee vertrek ons na Agulhas.

Terwyl ons op die pont wag by die rivier, bestudeer Adri ons roetekaart en wil weet waarom ons dan nie by Arniston ‘n draai gaan maak nie. My keel trek toe, want hoe verduidelik jy vir jou sestienjarige dogter van ‘n groot hartseer wat lê op die pad tussen Bredasdorp en Arniston? ‘n Hartseer wat jy diep wegbêre en net uithaal as jy alleen iewers is en jou gedagtes kan laat gaan en niemand die verlange kan raaksien nie.

“Adri ek wil vir jou ‘n liedjie speel en dan vertel waarom ek nie graag die pad na Arniston ry nie. Die liedjie gaan oor ‘n plek wat afdraai van dié pad af.”

Ek grawe tussen al die laserskywe en haal ‘n David Kramer laserskyf uit. Die klank van branders wat breek kom helder oor die luidsprekers.

Pak op, pak op, sit jou goedjies op jou kop …” vul sy stem stem die voertuig.

“Skipskop!” kraai Adri. “Ek ken die liedjie, Pa speel dit as jy buite by die braaivleisvuur staan.”

“Jy’s reg, ek het in my jong dae baie daar gaan hengel saam met vriende; toe onteien die regering van die dag vir Skipskop om ‘n missieltoetsbaan daar te bou. Die van ons wat huisies op 99-jaar huurpag besit het, het géén ander keuse gehad nie as om dit aan die regering te verkoop.” Ek staar ver oor die droë landskap, sodat Adri nie my oë moet sien nie.

“ ’n Stukkie lê hier en ‘n stukkie lê daar, my hele lewe, dié lê deurmekaar ...”

“Wil Pa nou vir my sê dit gaan alles oor ‘n visvangplek? Verskoon my voorbarigheid, maar julle mans kan soms simpel raak oor kleinighede, daar is mos baie ander plekke waar julle kan gaan hengel.”

Sy wag nie op ‘n antwoord nie en die volgende wat sy vra is: “Ken Pa vir Shorty en vir Pop, was hulle rêrige mense?”

Ek moet ‘n keer of twee sluk voordat ek kan antwoord.

“Ek het hulle en nóg ander baie goed geken; dit is oor hulle dat dié seer nou nog so diep lê. Hulle was die vissersmense wat Skipskop sy karakter gegee het, nie ons ‘weekenders’ wat net soms daar kom aflaai het nie. Dit was hulle wat vir jou kon sê of die visvywers vannag sal vis in kry. Of jy ‘n goeie kans staan om op die plaat ‘n kabeljou te kan vang en of Meisiesbaai stompkoppe gaan oplewer. Selfs of die ou skeepsmas op Martha-se-rif weer ‘n seekat huisves.

“Dit was hulle wat altyd eerste kom groet het wanneer hulle jou motor voor jou plek sien staan het. Dit was hierdie mense wat die swaarste getref was deur die regering se onteiening. Hulle is weggestuur na daar waar geen see is nie. Na daar waar hulle nie die branders sou kon hoor nie. Daar waar hulle nuut moes begin; met geen ander nering as om te kan visvang nie. Ek was daardie oggend daar toe die weermagvragmotors die families kom haal het. Ek het die verslaentheid op hulle gesigte gelees. Hoe hulle, sonder hulp, hulle eie goed moes gelaai het. Die losgoed het hulle styf in komberse toe gedraai, want hulle het niks anders gehad om dit in te verpak nie. Erfgoed wat hulle styf teen die bors vasgedruk het asof dit aan hulle ‘n sekere sekuriteit moes gee. Die kindertjies wat bang en met betraande oë agter hulle ma’s se bene uitloer na die manne in uniform.”

“ ... tel op tel op vir Shorty en vir Pop / gaan haal vir Apie en hou daai kindjie dop ...”

“Die mense wat verslae agter op die voertuie tussen hulle besittings gesit het. Wat op die laaste hoogte stilweg gewaai het, voordat Skipskop vir ewig vir hulle verdwyn het.

“Sê maar so long Skipkop, Skipskop sê good bye ...”

“Verstaan my kind nou waarom ek nie die pad na Arniston wil ry nie?” vra ek.

“Wat het van die mense geword?” wil sy weet.

“Ons het hulle nooit weer gesien nie. Ons ‘weekenders’ het vir jare na die sluiting elke jaar ‘n reünie gehou; die vissersmense was egter nooit genooi nie,” antwoord ek met ‘n diepe skuldgevoel.

“Maar waarom nie?” wil sy weet.

“My kind, dinge was toe baie anders.”

In stilte ry ons Bredasdorp binne, by die afdraai na Agulhas huiwer ek vir ‘n oomblik, maar hou dan reguit aan na Arniston. By die ou Skipskop-afdraai hou ons stil. Die Skipskop-bordjie is verwyder ... Die nuwe groen bordjie lees Denel.

“Pappa dit lyk vir my almal het van Skipskop vergeet, so asof hy nooit bestaan het nie. Kom ons gaan soek volgende jaar vir Shorty en vir Pop ...”
 

Lees hier meer oor die reisskryfkompetisie: 1 001 reiswoorde

  • 2

Kommentaar

    • Mata Sobotker

      Trane in my oë toe ek lees oor wat met die mense op Arniston gebeur het. Nooit geweet waaroor SKIPKOP gaan nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top