Presies vyfuur vertrek ons. Vrydagoggend. Terug huis toe. ’n Haas swink-swink voor ons uit op die sinkplaatpad. Die lig breek oor die rant. By die eerste Ry-Stop-beheerpunt vlak na die grenspos moet ons wag.
’n Padwerker verduidelik vriendelik: "... da is nog twie karre op pad …"
Hy stap agteruit en neurie saam met die lied op sy foon: "…in djou hartsier salie Gies jou onnerskraaghh…" Hy trek ’n traan uit.
Dis ’n koel dag in Namakwaland. So dertig kilometer voor Kamieskroon by Brakhoek val die skaars Namakwareën.
"Die Buffelsrivier is nog droog," sê ek, "…hierdie kaal klipkoppe sal vinnig die droë loop aan die beweeg sit."
Ek dink-verlang terug na die eerste oggend, vier dae terug. ’n Janfrederik wekker die groep voor sonop. Tienuur vertrek nege roeibootjies. En sommer met die inroei-slag kry ek en Manlief nie ons roeie nie. Ek agter, hy voor. Die boot neuk links. Sy regterroei te sterk, en ék, ek het twee links’e. Ons raak agter.
Kortaf mompels vlieg links en regs: "… as ons hierie bootreis oorleef vir víér dae, kan ons maar getroud bly."
Gelukkig is die gidse huweliksberaders: "Skuif posisies," skree een, "roei na daai rots en ruil om!"
Ons mis 'daai' rots. Tref ’n groter een. Arkagtig hang ons op Ararat; plons in, ruil-swem om, sukkel terug. En daar vloei dit! ’n Gelukkige huweliksbootjie - geskuif na waar die ander een gesit het! Effe stroomaf parkeer almal teen ’n steilte. Die vinniges stap al wallangs terug ... Waarvoor?
"Virrie nappy rush!"
Mens klim ín jou reddingsbaadjie; gort vas ommie boude, dan, waggelend tot in die riviermiddel. Daar gáát jy! Oppie rug! Innie stroom! Dobberend tot die stroomversnelling jou uitspoeg. Wéér.
"Dit werk soos ’n charm," sê Manlief prettig-opgewonde in sy extra large nappy. Die orige roei-kwota was ’n ongedeerde, ritmiese 'slush-slush-slush'. Ons slaap in die swart bergkom. Hier en daar ’n nagvoëltjie wat 'krrr-krrr'. Verder ondertoe ‘hoe-hoe’ ’n gevlekte ooruil.
"Die ou wat windpompe verkoop het, is seker die rykste man in die Noord-Kaap," bring Manlief my terug op die pad.
Op die Spoegrivierbrug spoeg ’n lorrie ons voorruit in ’n blindekol in! Die pad is nie geboog nie. Riviertjies en dammetjies vorm op die pad.
"Ek ry maar wydsbeen," sê Manlief.
’n Bordjie in die Base Camp-lapa het gesê: ‘A man wrapped up in himself makes a very small bundle.’ Daar’s nie tyd vir bondel word op die rivier nie, onthou ek van ons tweede dag: ’n Rooiwangmuisvoël met sy lang stert golf net-net bo die water voor ons uit. By King Kong beach ons. Stap deur erg warm sand tot bo in die koel grotte wat oor die rivier uitstaar. ’n Paar skraletjies gaan kyk fossiele hoër op terwyl die res in die grot sit en gesels.
Net bokant die spitskop sweef ’n Witkruisarend-broeipaar. Uitgedaag hardloop ons teen die warm sandduin af terug bote toe. Kamp Twee. By die laataand-kampvuur word die land se ekonomie uitgesorteer en ’n Kilimandjaro-avontuur gedeel. Diep in die nanag stap ek die halwe maanlig in. ’n Duisend sterre slaat wit uit, omsoom met donker berge en ’n kabbelende rivierlandskap. Ek sit op die cooler box en adem die nag in en ontbondel myself ...
Die bordjies skiet terug verby Noord-Kaap toe met ons afry Suide toe: Middelkraal. Koiingaas. Hondeklipbaai – met grondpaadjies wat oor koppies wegstreep. By Garies reën dit al vir tagtig kilometer. Naby Groenrivier en Doringkraal, sê SA Roadworks: ‘We apologize. Roadworks for the next 68km.’ Buffelsfontein en Grootriet. Ons stop weer.
Manlief wil rook, maar sy siegret het ’n knak gekry, maar hy's nie gepla nie: Ook nie gepla dat ék laat slaap nie. Hy wag by die ontbytvuur - gesels tot oppaktyd. Vandag róéí dit.
‘Manlief, ek’s bly ons’t nie hiér by Divorce Straights begin roei nie”.
Rapids is aanhoudend kolkend! Roei-roei veg ons tot by die Ritz, die coolste eetplek. Ons smul koeskoes-hoenderslaai neffens ’n besige voëllewe: rooioogtiptol; swartkopwielewaal en gariepglasogies. Vir laaste roei ons tot by die Namibiese oornagkant. ’n Paar dapperes stap berg-op na ’n verlate myn. Ek en Manlief verkies ’n middagslapie in ’n sonskuiling.
Die kosmakery klingel: pasta, Orange River Apple Crumble en speserye-kaas-potbrood! Isabella kom vanaand van die binneland in. Die son raak sag. Die geselse ongeïnhibeerd. Jade krap die vuur groot oop.
"Ons vier vanaand julle huweliksherdenking!" kondig sy aan. Met die middag se stap op na die myn het hulle ’n paar vaal klippies opgetel. Sy gooi dit in die vuur. Dit verdwyn.
‘Wag’, sê sy, "Wa-a-a-g!"
Klein ronde, wit balletjies word dan liggroen, dan … ssshussshhhhh … plof! Silwer strepies skiet op! Hóóg - in alle rigtings. Ons wip agteruit.
“Bushmen's fireworks,” sê sy. Nóg en nóg en nóg … asem … rowend.
"Geluk," sê almal. Ons lig ’n rooiwynglasie saam met Umkulu Safari & Canoe Trails - since 1996. Sewentien jaar - nes ons!
By Vonkelfontein, veertig kilometer voor Bitterfontein, kom ’n groot Weakley-lorrie van voor. ’n Wolk het langs hom op die pad opgeslaan en breek op die klein voorruit. Ons’t net ons sig terug, toe is die volgende lorrie op die bult.
"Sit jou veërs op dubbelvinnig," bestuur ek uit die bek-seat uit. Hy kom verby en die water slat ons en slat ons en slat ons – lánk na die lorrie verby is. Hy’t wragtag ’n hewige reënbui agter hom aangesleep.
Soos ons laaste dag, onthou ek, toe ons ook so onkant gevang is: "Halt! Go Back! Sorry," skree die gids. Per ongeluk land al wat roeier is in die verkeerde uitroeistroom - in ’n slymerige moeras. Elk moes plek-plek uitklim; stoot-trek deur slap, papperige grasse in suigende modderwater. Die oplaai-gids wag al by die Namibiese uitklimpunt. Ons groep breek op. Die helfte gaan verder vir nóg twee dae. ’n Kuifkophoutkapper agterna. Ons is spyt. ’n Dorre, vervelige pad slinger ons terug na die realiteit.
Ons sleep die groot reëns agter ons aan uit die Noord-Kaap, die Wes-Kaap in. By die Kersvlakte is daar ’n kombuis wat kokerboomkoffie bedien - lyk my uit Boeswater se put. Ons dors vir daai wêreld, vir die rivier ... lank na ons by die huis aangekom het.



