2018 Hayfees: Die gesondheidsnadele van eentaligheid

  • 1

Jy mag maar met medelye na die middeljarige Engelse kollega agter die lessenaar langs jou kyk, die een wat nie Afrikaans kan praat nie. Hy gaan vier jaar vroeër as jy Alzheimersiekte kry. Die rede? By die Hayfees in Wallis is dit dié week onthul dat dit een van die gesondheidsnadele vir iemand met eentaligheid is.

Natuurlik moet ’n mens nie stereotipeer nie, maar Wendy Ayres-Bennett van Cambridge het nie sulke swarighede nie. Eentaligheid is ’n “newly identified disease”, sê sy pront. Sy is deel van ’n span navorsers by die universiteit se MEITS-projek (Multilingualism: Empowering Individuals, Transforming Societies) en dis hul jongste bevindinge.

In 2007 het Kanadese wetenskaplikes die verband gelê tussen “early onset dementia” en eentaligheid. Maar verskeie besware is teen die studie gebring, en in 2011 het MEITS dit in Hyderabad, Indië met ’n statisties meer aanvaarbare groep herhaal. Die resultaat was feitlik dieselfde: die gaping was weer eens vier jaar.

“Geen medisyne gee vir jou vier jaar se uitstel vir demensie nie,” merk Ayres-Bennett op. MEITS is versigtig om nie mites oor taal te versprei nie. Dis nie waar dat tweetaliges beter minnaars is as ander nie. Kinders is ook nie sponse wat meer tale as grootmense kan leer nie. Tweetaligheid maak jou nie minder lomp nie. Maar dit lei daartoe dat jy veel vinniger as eentaliges van ’n beroerte sal herstel. Dit bevorder ook jou konsentrasievermoë tot ’n aansienlike mate.

Die span sluit navorsers van etlike dissiplines in. Hul sielkundiges het die doeltreffende TEA-toets (Test of Everyday Attention), toegepas en bevind dat tweetaliges baie beter vaar om op klanke te konsentreer wat met ander klanke verdoesel is. Hulle het die toets herhaal met ’n groep mense wat ’n taal net ’n week lank geleer het, en amper dieselfde verbeteringe is aangeteken.

MEITS is ’n ambisieuse projek om die Britte se besorgdheid oor die afname aan belangstelling in ander tale aan te spreek. Hoewel daar eintlik meer kinders is wat belangstel om ander tale op skool te neem, skryf al minder studente uiteindelik in vir tale op tersiêre vlak. Van 2000 tot 2015 het die aantal studente in ander tale met 57% gedaal.

Een van die ses arms van die projek bestudeer maniere om Britte oor te haal om meertaligheid te beoefen, maar daar is ’n hardnekkige weerstand. Die aanhaal van syfers om te bewys dat maatskappye eerder Switserse graduandi wat Engels magtig is in diens neem omdat hulle drie ander tale op skool geleer het, maak min indruk.

Britte sien die aanleer van ander tale as elitisties; gewone mense het hulle nie nodig nie. Ayres-Bennett is egter nie sonder hoop nie. Sy wys daarop dat Britte 20 jaar gelede niks wou weet van chemie nie, terwyl ouers vandag hul kinders in so ’n rigting aanpor. Een manier om dit te help oplos, is om “pop-up”-museums vir tale te bedryf.

Die Britte, merk sy op, het museums vir enigiets van hondhalsbande tot grassnyers, maar nie ’n enkele een vir ’n taal nie.

’n Ander suksesvolle inisiatief is om meertaligheid as ’n vaardigheid vir amptenare en politici in hul diplomatieke “soft power” te verkoop. Die Stormont-parlement het homself verdaag omdat lede nie kon saamstem oor ’n nuwe taalwet vir Noord-Ierland nie. MEITS is nou besig om klas in Iers aan Protestante te gee om hulle weg te laat beweeg van die geloof dat Iers net aan een gemeenskap behoort, die Katolieke.

Aktiviste vir Afrikaans kan natuurlik hieruit leer. Afrikaans behoort nie net aan wit Afrikaners nie, en ook nie eens aan Afrikaanssprekendes nie. En swart mense wat Tsotsitaal praat, sal moontlik langer kan konsentreer as jy met hulle daaroor sou wou stry.

Lees ook:

2018 Hayfees: Wanneer gaan die kapitalisme dan nou eindig?

2018 Hayfees: Die era van gelukkige toeval

2018 Hayfees: Dink jy jou werk is nutteloos?

2018 Hayfees: plek, verhaal, taal en veerkragtigheid

2018 Hayfees: ’n model vir die lewensvatbaarheid van minderheidstale

2018 Hayfees vier vrouestemreg se eeufees

  • 1

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    Meertaligheid bevorder glo mense se gesondheid. Geld dit ook vir diegene wat onvoorbeeldig Afrikaans en Engels deurmekaar praat?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top