2018 Hayfees: ’n model vir die lewensvatbaarheid van minderheidstale

  • 1

Daar is ’n sweem van nomadisme wat die Hayfees in Wallis met kunstefeeste in Suid-Afrika deel. Maar dis ook al. Die tien reusagtige tente op ’n skaapweiveld in die Wyeriviervallei lyk van binne soms soos die weelderigste korporatiewe suites en die jongste tegnologie oorheers – in een item op die program kan jy selfs jou eie kwantumrekenaar bou.

Die massiewe gaping in benadering tot die kunste in die twee lande is maar alte duidelik. Waar in Suid-Afrika die ontwikkeling van minderheidstale vlytig afgeskaal word, is die bevordering van Wallies een van die hoekstene van ’n onderneming wat derduisende besoekers na Wallis bring en die node is van ’n netwerk wat nou al oor vyf lande strek.

Waar in Suid-Afrika die Departement van Kuns en Kultuur ’n koelkas is vir ministers wie se sterretjies van hul voorkoppe afgeval het en salarisse die begroting toestop, verskaf etlike staats- of semi-instansies vele van die borgskappe vir die Hayfees. Die bestuur het lank nie meer die opbrengs van pokerspelle nodig nie, soos die gerugte hier dit wil hê die geval was in sy stigtingsjaar in 1987 nie.

Van ’n gesprek om ’n tafel het die fees sodanig ontplof dat die internasionale aankondiging van die kortlys vir die Golden Man Bookerprys, die beste onder die 51 wenners sedert die 1970’s, daar gedoen is (VS Naipaul se In a free state, Penelope Lively met Moon tiger, Michael Ondaatjie se The English patient, Wolf Hall van Hillary Mantel en George Saunders se Lincoln in the Bardo).

Vir diegene wat begaan is oor die lewensvatbaarheid van minderheidstale as meer as net ’n patois, is die fees ’n model en ’n eksperiment met vele suksesse om van te leer. Een van die indrukwekkende aspekte is hoe die departement van opvoeding in die Walliese streeksregering die jeug by die fees betrek. Donderdag en Vrydag is opsy gesit vir gratis besoeke deur leerlinge van Wallis en Engeland. Meer as 12 000 leerlinge van sowat 100 laerskole en meer as 70 sekondêre skole het deelgeneem en van die verrigtinge is regstreeks na klaskamers gestroom.

Vooraanstaande wetenskaplikes, geleerdes, skrywers en komediante bied programme aan wat wissel van hoe om vuur te maak in die bittere Britse koue tot raad oor jou broer wat dink hy is ’n superheld. Of hoe om wettiglik by die internet in te breek. Die meeste programme word deur die Walliese regering befonds.

Saterdag is een item vir volwassenes en een vir kinders op vyf verskillende tye na biblioteke dwarsdeur Brittanje gestroom.

’n Ander indrukwekkende dimensie van die fees is die internasionale. In sy 31 jaar, sê die stigter en feesdirekteur Peter Florence, het die fees nou al weergawes op 30 verskillende plekke buite Wallis aangebied. Daar is elke jaar Hayfeeste van etlike dae lank in Spanje, Peru, Meksiko, Colombia en Denemarke.

Dink net as die Woordfees dieselfde soort ding in ander lande in Afrika kon doen.

Van Wallies self is daar nie veel sprake buite enkele verhoogoptredes nie, hoewel alle tekens en aanwysings ook in Wallies verskyn. Dit is ’n demonstrasie van hoe Engels gebruik kan word om ’n minderheidstaal te bevorder sonder enige wrywing of afgunstigheid. Enige twyfel of tweetaligheid in instansies die antwoord is, sal aansienlik minder wees na ’n besoek aan Hay.

Die kwessie van taal en ’n monolitiese wêreldtaal wat ander tale verdring, kry simpatieke dekking in etlike items. Anders as in Suid-Afrika, waar taal gekoppel word aan konserwatiewe kultusorganisasies soos AfriForum en tradisionele owerhede, wys hierdie besprekings dat taalbevryding en taalgeregtigheid, om twee begrippe wat hier opduik rond te gooi, ’n progressiewe doelwit is. Dis een van die maniere om ’n ander wêreld te skep, “another possible world”, soos die alterglobaliste dit in die lingua franca stel.

Foto's: Hayfees 2013

Lees ook:

2018 Hayfees vier vrouestemreg se eeufees

2018 Hayfees: plek, verhaal, taal en veerkragtigheid

  • 1

Kommentaar

  • Theodorus du Plessis

    Re: 2018 Hayfees: ’n model vir die lewensvatbaarheid van minderheidstale.
    Oeps! Ek kan my indink dat diesulkes wat Afrikaanssprekendes gyselaar probeer hou rondom alles wat met die verlede te maak het, hewig ontsteld sal wees om te verneem dat daar lewensvatbaarheid in 'n minderheidstaal is. Maar ongelukkig ondermyn Hans sy eie betoog ietwat deur nou te gaan staan en AfriForum etiketteer as konserwatiewe kultusorganisasie. Sou die tallose dorpenaars van alle oorspronge waar AfriForum met binne die konteks van toenemende verval onder meer met watervoorsiening en beveiliging help ook so dink, Hans?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top