2018 Hayfees vier vrouestemreg se eeufees

  • 0

Die jaarlikse Hayfees in Wallis het die naweek begin en 100 jaar nadat vroue die stemreg in Brittanje gekry het, is dit gepas dat vroue die program oorheers. Om hierdie eeufees te vier, het  die bestuur die verrigtinge afgeskop deur ’n lys van die 100 mees invloedryke vroueskrywers in Engels sedert 1918 te publiseer.

Virginia Woolf is daar, Naomi Klein is daar, Elizabeth David se kookboeke, Marguerite Duras, Doris Lessing … maar geen Suid-Afrikaner nie. Wat dan van Nadine Gordimer? Haar afwesigheid sal straks diegene steun wat haar nie hoog ag, gemeet teen suiwer literêre oorwegings, nie, maar die lys is opgestel deur feesgangers, meestal Britte. Taamlik eenogig dus.

Die vraag ontstaan nogtans: Het vroueskrywers in Suid-Afrika werklike verandering teweeg gebring? En die antwoord sal moet wees dat hul impak veel groter in Afrikaans was. Gordimer het sekerlik haar deel gedoen, maar ’n mens sou kon aanvoer dat Ingrid Jonker met “Die kind”, Elsa Joubert met Die swerfjare van Poppie Nongena en Antjie Krog met Country of my skull ewe veel, en dalk meer, as André P Brink en Breyten Breytenbach gedoen het om wit mense, en daarmee die land, te laat verander.

In die skilderagtige dorpie Hay-on-Wye is die boekefees nou al 31 jaar aan die gang. Dit word soms die “Woodstock of the Mind” genoem, want dit gebeur ook op ’n plaas, en in die ewige nat Wallis beteken dit net een ding: modder. Dis waarskynlik die enigste plek waar die dra van Wellingtons ’n liefde vir lees aandui.

In die drie dekades van sy bestaan het die fees uit sy nate gebars en homself gekloon soos Dolly die skaap (en ja, die skape wei tussen die boeke in Hay). Dit word nou in Segovia in Spanje, Arequipa in Peru, Aarhus in Denemarke en Cartagena in Colombia gehou. Die oorsprong in Hay is te danke aan die dorpie se reputasie as die plek met die meeste tweedehandse boekwinkels op aarde.

Dit is onbeskaamd ’n kommersiële fees. Skrywers met nuwe boeke in die mark oor enige onderwerp word eenvoudig op ’n verhoog in ’n tent neergeplak en ’n uur gegee om oor die boek te praat en daarna vrae te beantwoord. Dan kan hulle boeke verkoop en teken, soms by die honderde. Daar is dikwels vol sale, en gehore van ’n duisend mense is nie ongekend nie. Plaaslike vrywilligers is al geoefend in die flinke hantering van die lang toue, iets op sigself om te aanskou.

Die resep skep ’n geleentheid waartydens jy lewende legendes soos Margaret Atwood en Salman Rushdie kan meemaak, en ook boeiende debatte oor enigiets van Engelse spelling tot woede teenoor Donald Trump. Natuurlik is daar kos uit die boonste rakke, en selfs die straatcuisine in die dorpie is iets om te onthou.

Omdat dit Wallis is, word etlike items aan die Walliese taal gewy, en is kwessies rondom minderheidstale pal op die feesagenda.

Om die 62% besoekers wat vroue is te bedien is daar vanjaar, terwyl #MeToo steeds voortrol, ’n sterk fokus op die jongste bewegings vir vroueregte. Chelsea Clinton gaan optree, asook die aktrise Rose McGowan, die slagoffer van die Hollywood-produsent Harvey Weinstein wat alles begin het. Daar is items oor mans en feminisme, seksisme en die vraag: Is 2018 die Jaar van die Vrou?

Tydens een van die eerste besprekings Vrydag het Helen Pankhurst, agterkleinkind van Emily Pankhurst van Suffragette-faam, beskryf wat daardie beweging beteken: "The Pankhurst legacy means that I am not afraid to have ambitions, not stupid to dream, not deluded for wanting to transform the world we live in." Maar tog was die gevoel sterk dat vrouebewegings dikwels ná die aanvanklike sterk momentum regresseer. Dit is noodsaaklik dat aktiviste nie weer stoom verloor nie, het een spreker gemaan.

’n Unieke bydrae is Owen Sheers en Laura Bates se Letters to the Future, waarin hulle bestek opneem van die huidige stand van sake wat gelykheid tussen die geslagte betref, sodat mense in die toekoms kan bepaal of daar vordering was.

Die komende naweek kry feesgangers insae in The guilty feminist, die potgooiprogram van Deborah Frances-White wat al 22 miljoen keer afgelaai is.

Die stigter en direkteur van die Hayfees, Peter Florence, is trots daarop dat daar ewe veel mans as vroue op die program is, iets wat hy as ’n verantwoordelikheid na die jongste weerstandsbewegings sien. “As a culture curator it means checking prejudice and thinking about what role gender plays for our [overwhelmingly] female audience. We have never had a male writer who was even a third as popular as Margaret Atwood or Toni Morrison,” het hy aan die tydskrif Elle gesê.

Foto's: Hayfees 2013

  • Hans Pienaar woon vanjaar se Hayfees by en sal elke dag vir LitNet daaroor verslag lewer.

Lees ook:

2018 Hayfees: ’n model vir die lewensvatbaarheid van minderheidstale

2018 Hayfees: plek, verhaal, taal en veerkragtigheid

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top