2018 Hayfees: Dink jy jou werk is nutteloos?

  • 0

Die dokter was woedend. Sy het seker gemaak sy vra die eerste vraag nadat David Graeber by die Hayfees oor sy nuwe boek, Bullshit jobs, gepraat het. Sy het vroeë aftrede gevra, want dis van haar vereis om haar werk te evalueer, te regverdig – daaroor te dink – terwyl sy net siek mense gesond wil maak.

Vandat Karl Marx die filosofie onderstebo gekeer het, praat en dink ons oor werk – en dikwels word ons gedwing om dit te doen. Graeber, ’n antropoloog, het geskerts dat sy sport dikwels beskuldig word van nutteloosheid. Maar niemand sal so ’n etiket om sy nek hang nie: hy is al die belangrikste politieke denker van sy tyd genoem en word ook as ekonoom geag. Voor sy praatjie het hy pas lede van die Bank of England toegespreek.

Graeber is die skrywer van die blitsverkoper Debt: The first 5 000 years. Te oordeel aan die 800 mense wat ’n saal volgepak om na hom te luister, raak sy nuwe boek ’n ewe welluidende snaar aan. Aanvanklik het hy net ’n kort artikel oor “bullshit jobs” geskryf, maar in ’n oogwink is dit in 15 tale vertaal, en toe studente uittreksels daaruit in Londen se underground teen die mure plak, het hy besluit om ’n behoorlike projek daarvan te maak. Hy het sosiale media gebruik om met mense oor hul werk te praat. Terwyl hy hiermee besig was, is ’n opname gedoen wat bevind het dat 37% van alle Britte glo hulle doen werk wat betekenisloos is. Nog 13% was nie eens seker nie.

Graeber is ’n grapjas en het die gehoor kort-kort laat skater. Hy verkondig ’n soort reël: hoe meer produktief die werk is wat jy doen, hoe minder word jy daarvoor betaal. Baie mense het gerapporteer hul familielede dink hulle doen belangrike werk omdat hulle pakke werk toe dra, terwyl hulle eintlik die heeldag niks doen nie. Heelwat van hierdie nuttelose werke bestaan daaruit om ander mense dop te hou wat ewe nuttelose werk doen.

Sommige mense het gedink die hele sektor waarin hulle werk,  is nutteloos. Graeber noem dit die feodale-heer-sindroom. Die aristokrasie van ouds het hul verhewe bestaan geregverdig as sou hulle hul pagters beskerm teen gevare, welke gevare aanvalle deur ander feodale heersers was. Vandag is dit korporatiewe regslui wat hul werk as nodig kan regverdig net omdat hul maatskappye se mededingers ook korporatiewe regslui het.

“Raak ontslae van korporatiewe regslui en die wêreld sal ’n beter plek wees, net soos dit ’n beter plek is na die feodale era,” het Graeber geskerts.

Soos reeds genoem, word Graeber nou hoog as ekonoom geag omdat hy basiese vrae vra. ’n Belangrike maatstaf om ’n werk as nutteloos te beskou is dat die werker self moet dink sy/haar werk is nutteloos. Hy meen elke mens het ’n diepgewortelde behoefte om sy/haar merk op die wêreld te laat, en die besef dat dit nie gaan gebeur nie, kan soms traumaties wees.

Tog is daar heelwat mense wat gelukkig is om nuttelose werk te doen, omdat dit hulle vrystel om iets anders van hul lewens te maak. ’n Goeie 6% Britte glo hul doen nuttelose werk, maar is gelukkig daarmee.

Gevra uit die gehoor of sulke soorte werk nie deel is van die menslike toestand sedert die oorgang van die jagterslewe na die agrariese bestaan sowat 10 000 jaar gelede nie, het Graeber gesê dis onmoontlik om te sê. ’n Dienaar wat die hele dag lank ’n farao met ’n waaier van pouvere moes koel hou, het moontlik gedink sy werkgewer is ’n god en dat hy daarom werk van kosmiese omvang doen.

Dis moeilik om Graeber se idees nie op Suid-Afrika se burokrasie toe te pas nie. Heelwat van die kaders wat in die regering  opgeneem is, lyk nie of hulle weet wat hulle doen nie. Maar sou hulle dink hul werk is nutteloos? Baie is daar omdat hul “swart belasting” moet betaal – die gunste en gawes wat hele families van hulle moet vra bloot om te oorleef.

Voor ’n mens die ondoeltreffendheid van die ANC se patronaatskap wil beoordeel, moet ’n mens eers dink oor die stabiliteit en die basiese onderhoud van arm mense wat dit meebring. Dit geld ook vir ander eg Suid-Afrikaanse verskynsels in die werksomgewing. Die wag wat die hele dag lank niks doen in die voorportaal van ’n moderne kompleks nie, is dalk die gelukkigste mens in die hele gebou.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top