2018 Hayfees: Wanneer gaan die kapitalisme dan nou eindig?

  • 1

Wanneer gaan die kapitalisme dan nou eindig? Die versugting onderlê die openbare debat in Brittanje nou al geruime tyd, sedert die finansiële krisis, en verder terug, sedert 9/11. Ook by die Hayfees duik die vraag op in verskeie praatjies oor nuwe boeke.

Terry Eagleton het ’n nuwe boek, maar hy is gevra om liewer oor ’n oue te praat: Why Marx was right. Karl Marx was natuurlik die eerste wat die einde verkondig het van ’n stelsel gebaseer op kapitaal. Aan die ander kant van die spektrum was ons eie Dambisa Moyo, die aanvallige Zambiese ekonoom wat die wêreld vol reis om soms eksentrieke oplossings voor te stel (hierdie jaar was dit om ekstra stemreg aan mense te gee wat kan bewys hulle verstaan die politieke ekonomie).

Die lewende legende Eagleton het laat blyk hy is besig met ’n nuwe boek, getitel Death, en beoog om dit na sy dood uit te gee, as hy by sy uitgewer kan verbykom. Hy is ook bekend vir sy hardnekkige pogings om Christenskap met Marxisme te versoen. Marx se uitspraak dat godsdiens die opium van gewone mense is, moet in konteks gesien word, sê hy. As iemand wat soms ’n wilde boheemse lewe gelei het, was onse Karl nie noodwendig gekant teen dwelms nie. “What’s wrong with a little opium?” het Eagleton gevra.

Bill Clinton se slagspreuk was “It’s the economy, stupid”, iets waarmee Marx glad nie sou saamgestem het nie. Volgens Eagleton, self eintlik ’n letterkundige, wou Marx veel eerder ’n boek oor Balzac as oor kapitaal skryf. “Al hierdie ekonomiese str**nt,” het hy van sy sleurwerk in die argiewe van die Britse Museum gesê. Om die “despotiese mag” van ekonomiese uitsprake te verminder, was een van sy motiewe vir sy studie van kapitaal.

Dit was egter sy verantwoordelikheid, het Marx geglo, om sy monumentale werk te doen omdat die armoede en verval rondom hom in Londen net te skokkend was, en vererger is deur die feit dat op die hoogtepunt van die menslike beskawing op daardie punt in die 19de eeu, werkers drie keer langer as hul Neolitiese voorvaders gewerk het.

Eagleton het ander mistastinge omtrent Marx uit die weg probeer ruim. Hy was byvoorbeeld nie teen die middelklas gekant nie; inteendeel, hy het hulle as die mees revolusionêre groep in die geskiedenis beskryf. Binne die bestek van 300 jaar het hulle die wêreld verander en die ancien regime tot ’n val gebring. “Prins Charles het oorgebly, en dis moeilik om te sien hoe hulle hom kon misgekyk het met sulke groot ore.”

Marx was ook nie juis geesdriftig oor sosialisme indien dit nie uit die middelklas ontstaan nie. Indien sosialisme posvat in ’n omgewing van wanhoop en gebrek, sal dit net lei tot ’n veralgemeende skaarste van alles. ’n Mens kan aansluit by Eagleton en Suid-Afrika as ’n voorbeeld noem in die mate dat dit ’n sosialistiese staat is met ’n onvolhoubare salaris- en sosiale-toelae-beleid.

Marxisme gaan ook nie oor werk nie, het hy gesê. Eerder oor ontspanning en die skepping van vrye tyd – dis tog wat tegnologiese vooruitgang aan die mens kan bied: “’n Mens word ’n Marxis eerstens om ander mense vies te maak, jou ma en pa miskien, en om fisieke arbeid te vermy.”

Marx het ’n diep ongeneentheid teenoor bloudrukke gehad en sou die Stalinisme en Maoïsme wat die kommunisme so klaaglik laat misluk het, heeltemal verwerp het, voer Eagleton aan. Bloudrukke word te maklik ’n fetisj vir politici en verskaf ’n instrument aan hulle om hul wil op mense af te dwing. Hy het ook nie geglo aan absolute gelykheid nie, en het ’n “rekenkundige” konsep daarvan verwerp. Daar moet ruimte wees vir verskille tussen individue met verskillende vlakke van vernuf en gewilligheid. Nog ’n les vir Suid-Afrika met sy klem op persentasies in die aandrang op transformasie.

Dis wanneer ongelykheid ekstreme vorme aanneem dat dit gevaarlik raak. Marx het voorspel dat kapitaal – hy het nooit die woord kapitalisme gebruik nie – onvermydelik daartoe sal lei, en ná Tomas Piketty se studies oor die huidige toedrag van sake moet jy hom gelyk gee. Die ander groot gevaar was vir Marx dat kapitaal globaal gaan raak, en ook hieroor was hy reg. Vandag besit die 62 rykste mense ewe veel rykdom as die armste helfte van die mensdom.

Lees ook:

2018 Hayfees: Die era van gelukkige toeval

2018 Hayfees: Dink jy jou werk is nutteloos?

2018 Hayfees: plek, verhaal, taal en veerkragtigheid

2018 Hayfees: ’n model vir die lewensvatbaarheid van minderheidstale

2018 Hayfees vier vrouestemreg se eeufees

  • 1

Kommentaar

  • "Vandag besit die 62 rykste mense ewe veel rykdom as die armste helfte van die mensdom."

    En tog is die mensdom vandag beter daaraan toe as ooit tevore. Kapitalisme (of dan kapitaal) werk.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top