2018 Hayfees: Die era van gelukkige toeval

  • 0

Miskien sal geskiedkundiges nog ons era die era van gelukkige toeval (oftewel serendipiteit) noem. Daar is Facebook, YouTube en webwerwe soos StumbleUpon wat gelukkige toeval, ironies genoeg, deesdae iets maak wat eintlik onvermydelik is. In die meeste gevalle laat dit ’n mens met ’n onbevredigende gevoel van tydmors, oppervlakkigheid, los-maar-liewer.

Soos enigiets, seker, verander dit as jy moeite daarmee doen, en geld spandeer. Facebook werk vir my omdat ek tyd afstaan om die wonderlike artikels uit alle oorde in my nuusvoer te lees. Reis 10 000 km na die Hayfees, trotseer die Walliese weer, parkeer ’n myl ver, ploeter deur die modder en jy sal genoeg hooi maak vir enige winter wat mag kom, dit belowe ek.

Gister het ek die verkeerde kaartjies aangevra en by ’n praatjie oor Chinese voorwerpe beland. Absoluut boeiend, die foto's van begraafplase vir honderde duisende fietse, tienlaanverkeer in Beijing, die sketse van 6 000-jaar-oue skilpaddoppe wat wys hoe Chinese piktogramme ontstaan het uit die barste wat gevorm het wanneer sjamane hulle verhit. In alle skrif, vergeet ons, is daar ’n magiese moment.

Serendipiteit is ook deel van die bestaan van Whitney Brown, ’n Amerikaner wat haar brood verdien deur klipmure te stapel. ’n Groot, sterk Amasone van ’n vrou, toevallig ook beeldskoon, wat haar ambag in Wallis geleer het, waar sy etlike jare gewoon het nadat sy op ’n klipmuurbouer, ene Jack, verlief geraak het.

In Wallis, die land van skape en mure bedek met eeue se mos, het die "dry-stone wallers" die gewoonte om van enigiets persoonliks ontslae te raak deur dit sommer  as vuller te gebruik. Wanneer sy en Jack ou mure reggemaak het, was die opbrengsels voorwerpe soos grawe en selfs die rokers van 300 jaar gelede se gebreekte pype. Eendag het hulle op ’n handskoen afgekom wat hy 20 jaar gelede daar "gebêre" het, soos sy gewoonte was.

Brown was ’n tegniese organiseerder by ’n skou in Washington DC toe sy by ’n uitstalling oor Wallis ’n vrou ontmoet het wat klipmure bou. Dié het haar genooi om haar te help klippe breek met ’n voorhamer om ’n tipiese Walliese muur vir die skou te bou, en Brown het so van haar frustrasies met haar moeilike werk ontslae geraak. Net daar het sy besluit om haar MA-studie in volksverhale op te skort en Wallis toe te gaan – waar haar en Jack se paaie gekruis het.

Sy het opgestaan en aan die gehoor gewys wat ’n muurbouer nodig het om enigiets tussen drie en agt ton klippe per dag te verskuif: ’n groot stel boude, want daarin is die spiere wat keer dat jou rug iets oorkom. Eienaardig genoeg, ly die meeste bouers aan nekpyne, want terwyl hulle moet buk om ’n klip op te tel, moet hulle solank opkyk na presies waar dit gaan inpas.

Toe haar en Jack se verhouding skipbreuk ly, is sy terug Amerika toe, waar sy haar praktyk nou voortsit. Haar verhaal het sy in ’n memoir verwerk, ook oor haar liefde vir ’n land wat sy voorheen gering geskat het as te onbelangrik, maar wie se taal sy nou onder die knie wil kry as ’n volgende projek.

Whitney Brown in gesprek

In die tou vir die geskiedkundige Horatio Murpurgo se praatjie oor sir Francis Drake, die eerste Brit wat om die wêreld gevaar het, vertel ’n vrou my sy het hom gekies omdat sy van sy Romeinse naam hou. In sy boek The paradoxical compass lig hy ’n seminale oomblik in Drake se vaart uit toe sy skip, die Golden Hind, vir 20 uur lank op ’n rif naby Indonesië gestrand was.

Aan boord was ’n priester, ene Fletcher, en hy het amper daarin geslaag om die bemanning te laat muit. Die vaart is voortgesit, maar al die kanonne is oorboord gegooi. Niks is meer bekend oor Fletcher se toespraak nie, maar Morpurgo spekuleer dat dit gehandel het oor Drake se korrupte "gangster"-benadering. Fletcher wou die skat aan boord ook in die see laat gooi, en dat almal eerder fokus op die versameling van wetenskaplike kennis, kwansuis die doel van die vaart, maar Drake kon hulle omkoop om dit te behou.

Die skat was goud en silwer wat Drake in Panama van die Spanjaarde afgeneem het nadat hy en sy manne elders ook nedersettings afgebrand het. Berekeninge het getoon dat hierdie buit ’n wins van 4 700% vir die finansierders van sy ekspedisie beteken het.

Morpurgo se argument is dat hierdie skat die saad vir die eerste Britse buitelandse beleggings geplant het in die 16de eeu toe globalisering ’n aanvang geneem het. In Brittanje, en spesifiek die Weskus, is die see van toe af beskou as "bounty" om te plunder. Dit is ’n houding waarvan ons vandag die wrange vrugte pluk, en net soos Drake se geldgierigheid uit sy verhaal geredigeer word, is ons geneig om die skouers op te trek oor al die data oor verwoesting van die aarde se seehulpbronne.

Sulke vergeetagtigheid, sê Morpurgo, is ’n simptoom van iets ernstigs wat verkeerd is.

Een van die stalletjies by die fees word beman deur ’n organisasie wat die see om Antarktika wil red. Elke keer wat ek daar verby loop, lyk die vrou agter die tafeltjie dood van verveling. Nie veel van die honderde duisende feesgangers wil hoor wat sy te sê het nie.

Lees ook:

2018 Hayfees: Dink jy jou werk is nutteloos?

2018 Hayfees: plek, verhaal, taal en veerkragtigheid

2018 Hayfees: ’n model vir die lewensvatbaarheid van minderheidstale

2018 Hayfees vier vrouestemreg se eeufees

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top