Ronelda Kamfer (1981–)

  • 2

Sêgoed van Ronelda Kamfer

Oor Afrikaans: “Hou op praat en doen iets! Skryf 'n boek, maak 'n cd; hei, maak 'n fliek, bou 'n brug en get over it!” (LitNet)

“Afrikaans is ’n taal; mense moenie dit ’n issue maak of die Groot Stryd nie. Daar is ander belangriker dinge om oor te baklei – soos om goeie mense te wees.” (Die Burger, 27 Junie 2008)

“As dit ’n goeie gedig is en dit laat mense dink, is dit irrelevant oor wie dit gaan. Aan elke gedig in die bundel is daar ’n waarheid of ’n werklike persoon gekoppel, ongeag of dit ek is of iemand anders.” (Die Burger, 27 Junie 2008)

Poetry is vir my ’n vorm van self-expression. Om gepubliseer te word, is daarom nie dié belangrikste aspek van my digterskap nie, wél as iemand die gedigte lees en dit ’n emotional chord raak.” (Die Burger, 27 Junie 2008)

“Die skryfproses vind vir my natuurlik plaas. Ek hoef nie in ’n hoekie te gaan sit met sagte musiek in die agtergrond nie. Net inspirasie waar ek ook al is.” (Die Burger, 27 Junie 2008)

Oor die taal waarin sy skryf: “Kaaps het comic relief vir mense geraak; as iemand ’n joke wil vertel, is dit altyd in Kaaps. Dis baie irriterend, want die manier waarop ek skryf, is my manier van praat. Dis nie ’n grap nie; dis reality. En ek sal nie daarvan hou as dit ge-pigeonhole word nie, ingeboks word nie.” (Die Burger, 27 Junie 2008)

Waaroor gaan haar gedigte? “In my 25 jaar het ek nogal heelwat dinge gesien en ervaar en ek skryf daaroor.” (LitNet: onderhoud met Danie Marais)

“Van stories aandra weet ek baie. Ek bedoel: is dit nie maar wat skrywers doen nie? Stories aandra. Op die een of ander manier probeer hulle tog ’n storie vertel. Somtyds as ek niks het om te doen nie, maar ek wil ook nie gaan slaap nie, gaan staan ek maar buite by die hek, kyk so af in die straat en dink ’n klomp goed wat ek onmiddellik weer vergeet.” (Rapport, 3 September 2009)

“Toe ek as ’n tiener begin gedigte skryf het, het ek selde digbundels gelees. Digters was nie cool nie, digters was nie street nie, digters was nie hip hop of rock ’n roll nie. Digters was boring en gedigte was te veel moeite, jy weet, te veel dinge.” (Rapport, 30 Oktober 2009)

“Daar is duiwels in my drinkwater, die soort wat uit die hel verban is.”

“Ek was 16 jaar oud toe ek die heel eerste keer gehoor het van die hele panic attack rondom Afrikaans. Ek is daai selfde dag biblioteek toe om vyf Afrikaanse boeke te trek – nie omdat ek gedink het die taal gaan sterf nie, maar omdat dit op die top tien uitleenlys was. Ek dink dit is makliker vir my om Afrikaans as ’n taal te sien en nie as ’n wapen nie. Daar’s 11 amptelike tale en die oomblik wanneer iets uitgesonder word, word dit vreemd en net nie kwaai nie. Afrikaans dra swaar aan haar verlede en as almal haar heeltyd vertel van hoe sleg sy was en wat in haar kas hang en hoe om te verbeter gaan sy nooit tot haar volle potensiaal kan groei nie. Hou op praat en doen iets! Skryf ’n boek, maak ’n cd; hei, maak ’n fliek, bou ’n brug en get over it! Afrikaans groei, gaan nêrens, hét reeds ’n ons. Laat die taal toe om ’n taal te wees en praat met mekaar oor goeters wat julle regtig pla.”

“Ek het nie ’n ‘beef’ met Afrikaans nie. Ek is Afrikaans, so ek skryf in Afrikaans.” (LitNet: onderhoud met Danie Marais)

“Jong digters moet net onthou dat om te skryf, werk is, en werk moet ’n mens altyd probeer goed doen.
Jy moet jou kuns respekteer en baie lees en leer van ander skrywers.” (Die Burger, 11 Junie 2012)

“Omdat ek skryf, was my oupa die groot invloed omdat hy baie lief daarvoor was om stories te vertel. Net sy stem en sy manier van praat en sy manier van dinge vertel.” In die roerende gedig “Oupa Thomas Daniel Granfield” skryf sy:
die swaarste vir my was nie dat my oupa dood was nie
maar
dat die aarde aanhou draai het
dat ek aanhou leef het
dat alles wat verkeerd was nog steeds verkeerd is

(Die Burger, 16 Julie 2011)

“Musiek is waar ek meeste van my inspirasie kry, maar ek het besef om te kan skryf, moet jy die geskiedenis ken van jou taal en lees wat al gedoen is. Dis useless om arrogant te wees en te sê ek lees nie al die ou wit mense nie, ek luister net rock ’n roll.” (By, 16 Julie 2011)

Gebore en getoë


Ronelda Sonette Kamfer is op 16 Junie 1981 in Blackheath in die Kaapse Skiereiland gebore. Op driejarige ouderdom gaan bly sy by haar oupa en ouma, Thomas Daniel en Sarah Granfield, wat op ’n appelplaas by Grabouw gewerk het. Sy is terug na haar pa en ma, Gertrude en Ronald, in Blackheath toe sy tien was. Hulle verhuis later na Eersterivier op die Kaapse Vlakte, waar sy eerstehands kennis maak met die berugte bendekultuur. ’n Skoolmaat is voor haar oë buite die skool in kruisvuur dood geskiet. Ronelda se ma, Gertrude, is in Junie 2011 onverwags oorlede weens breinvliesontsteking.

Ronelda se leesgewoontes en –patroon is by haar ouma en oupa se huis gevorm. Dáár het sy werklik begin lees en dáár het haar persoonlikheid ook sy beslag gehad. Haar waardesisteem wat gebaseer is op eerlikheid en dat jy teenoor ander moet optree soos jy wil hê hulle moet teenoor jou optree, is in haar ouma se huis vasgelê. “Ook die belangrikheid van familie is in my vormingsjare by my ingeprent – en dat mens nie altyd moet vinger wys en jou circumstances moet blameer nie,” vertel sy aan Murray la Vita (Die Burger, 27 Junie 2008).

Murray la Vita vertel verder: “In haar ouers se huis is daar kunsafdrukke teen die muur en ’n aantal bofbalpette wat by die deur hang. Aan die kombuismuur se kant hang ’n babaportret van Ronelda; teen die ander kant ’n portret van haar as ’n opgeskote dogtertjie, en op die vertoonkas is daar talle latere foto’s van haar. Sy spot dat die sitkamer ’n ‘Ronelda shrine’ is. En sy lag: graag, en maklik, en lekker. Kou bubblegum regdeur die onderhoud. Haar tongring wys soos wat sy praat. Haar intense oë deurdring jou.”

Ronelda skryf haar eerste gedigte as ’n tienderjarige as ’n manier om aan haarself uitdrukking te gee.

Oor haar ma en haar stories vertel, skryf Ronelda (Rapport, 3 September 2010): “So nou, op daardie dae wanneer ek rondhang en eintlik besig moet wees met skryf, staan ek by die hek en vat notas van die goed waaroor die mense praat, nie juis van dit waaroor hulle praat nie – dit sal te skandalig wees vir publikasie – maar oor die manier waarop hulle dit sê.

“Neem nou maar my ma en die vrou langsaan, met hul ‘geheimsinnige’ manier van ’n storie oorvertel, ’n manier – wat nou vir my baie duidelik is – wat deur die jare aangeleer is by hul ouers en tantes en wie weet dalk ’n paar ooms.

“Deesdae voel ek nogal ’n bietjie spyt dat ek altyd my ma en anties se ‘skinnersessies’ vermy het. Terwyl hulle in die voorhuis, kombuis of waar die lig ook al reg val, vergader het, het ek eerder in my kamer gaan sit met Dylan Thomas en daar gedink oor skryf. Iets sê my nou ek kon miskien meer by my ma-hulle geleer het oor skryf as by Dylan Thomas. In die ongeskrewe verstandhouding tussen vroue en dié in wording het ek juis by hulle die basiese goed geleer: ’n dame lag met haar mond toe, sit met haar bene gekruis, sy mag insit in die skinder solank sy weet om nie in te chime nie, om nie tande te tel nie, nie ‘oor’ te vertel nie ... So waar anders, hoe gaan ek leer van oorvertel?”

Ronelda matrikuleer in 1999 aan die Eersterivier Sekondêre Skool.

Verdere studie en werk

Na skool werk Ronelda as verpleegster, kelner en administratiewe assistent by ’n bemarkingsmaatskappy. In 2010 was sy ’n honneursstudent aan die Universiteit van Wes-Kaapland met die digter Antjie Krog as een van haar professore.

In 2005 het ’n vriend van haar, Richard Roberts, haar aangepor om van haar gedigte vir Nuwe Stemme 3 voor te lê. En soos sy self sê: “Daai was basies die begin van alles.” (Die Burger, 27 Junie 2008).Van haar gedigte is later ook opgeneem in My ousie is ’n blom en Bunker Hill.

Uit die meer as vier duisend gedigte wat die samestellers, Antjie Krog en Alfred Schaffer, vir keuring moes lees, het twee van Ronelda se verse, “Bedrewenheid” en “Kuns en Culture”, haar in dié bundel laat debuteer. Die samestellers was só beïndruk met haar verse dat hulle drie maal in hulle “Verantwoording” Ronelda vermeld het. Nie net oor die manier waarop sy en ander daartoe bygedra het dat Kaaps se register wyer gemaak is nie, maar ook hoe hulle daarin geslaag het om hulle nuwe wêreld in hulle verse saam te bring en ook oor die wyse waarop hulle die taal wat die jeug praat, oorgedra het in hulle poësie.

“Dit is ’n Afrikaans waarvan die Engelse woorde nie in kursief verskyn nie,” skryf Krog en Schaffer, “maar ingesluk deel van die brei van Afrikaans vorm wat skrynende ondertone met ironie bedek”.

Krog en Schaffer skryf ook voorin Nuwe Stemme 3 hoe jaloers hulle is op die bruin Afrikaanse digters wat beskik oor die onontginde nuwe woordeskat, agtergronde en temas wat nou vir die eerste keer in Afrikaans gehoor word. En dit is hulle wens dat die digters met hulle verskeidenheid van sterk en nuwe stemme wat in Nuwe stemme 3 opgeneem is, “die droogte in Afrikaanse digbundels gaan breek en dat ’n bloeitydperk van opwindende debuutwerke op hande is”.

In 2008 maak Ronelda S Kamfer se Noudat slapende honde die samestellers se wens ’n werklikheid. In 2007 nader Nèlleke de Jager van Kwela Ronelda vir ’n manuskrip en sy besluit om dit ’n go te gee. En so is Noudat slapende honde gebore. Nèlleke se opinie oor die gedigte is dat dit jou “soos ’n vuis in die maag slaan. Sy werk vér verby woorde.” (Die Burger, 27 Junie 2008)

Hierdie is ’n debuutbundel wat ’n mens opgewonde maak. Dit verskyn op ’n tydstip dat digbundels al minder gepubliseer word en toe daar ’n tekort aan nuwe, maar veral jong stemme in Afrikaans is: “Kamfer se gedigte is vreesloos, en skram nie weg van taboe-onderwerpe nie. Sy skryf veral oor tragedies wat alledaags geword het in die wêreld waarin sy haar bevind – dwelms, druglords, en kinders wat doen wat hulle nie hoef te doen nie. Kamfer se gedigte is tegelyk toeganklik en onkonvensioneel. Sy is ’n sterk nuwe stem in Afrikaans. ’n Vonds.” (Die Burger, 27 Junie 2008)

“Dit voel vir my vreemd,” vertel sy aan Die Burger (27 Junie 2008), “omdat baie ou gedigte is wat ek net afgerond het. Maar ek voel ook trots en pleasantly surprised, want dit is iets waarop ek nie prepared was nie, maar tog gewillig.”

Haar inspirasie kry sy deels uit haar liefde vir rockmusiek en rap en van haar heroes is die digters Derek Walcott en Charles Bukowski wat sy voorin die bundel aanhaal. Sy vertel aan Danie Marais op LitNet dat sy mal is oor Bukowski se skryfstyl, aan Danie Marais op LitNet dat sy mal is oor Bukowski se skryfstyl, “sy houding en die feit dat hy vreesloos skryf – reguit en tot die punt”.

Oor Bukowski vertel Ronelda in Rapport van 30 Oktober 2010 (“Onder my literêre laken”) dat hy nie die soort skrywer is wat jy nog moet reg lees om te besluit of jy vir of teen hom is nie; hy is ja of nee en as gevolg hiervan diskrimineer sy teen hulle wat nie van hom hou nie. “Een van die redes waarom ek so erg is oor Bukowski, is omdat sy werk sonder moeite lees. Hy doen nie iets pateties soos om ’n gedig te pleeg nie of nog erger – te gaan sit diep in die kamers van die hart en een te word met die skryfproses nie. Nee. Hy doen twee van my gunsteling-dinge: ‘I write what I like’ (Steve Biko) en ‘I write what I see’ (Lupe Fiasco). (...)

“Dit is die eenvoudige eerlikheid wat my vashou; niks is mooi nie: ‘Pretty words like pretty ladies wrinkle up and die’ (uit sy ‘A trick to dull our bleeding’). Elke keer as ek enigiets van Bukowski lees, voel dit soos die eerste keer. Gedigte, stories, prosa, opstelle – die hele wêreld van Bukowski is so disgusting en aantreklik gelyk. Hy is lelik, vuil, vet en varklik, maar sy woorde is helder, seepglad en verskiet soos ’n ster. (...)

“Hy laat jou verstaan dat hy die digter is en jy die leser; hy laat jou sien presies wat hy wil hê jy moet sien. Dit wat Bukowski met woorde doen, is amper onregverdig – hy skryf met ’n vermetelheid waarvan ek net kan droom. Hy is my gunstelingskrywer omdat daar nie ’n einde aan sy ellende is nie. Hy het alles gebruik wat veronderstel was om hom te vernietig en vir die wêreld teruggegee:

peace of mind and heart arrives when we accept what is
having been born into this strange life we must accept
the wasted gamble of our days and take some satisfaction in the pleasure
of leaving it all behind. (Uit: ‘Mind and heart’)

“Net soos ek nie van NP Van Wyk Louw hou nie, is Charles Bukowski nie vir almal nie. Maar as daar een skrywer is wat sy middelvinger vir die wêreld gewys het, is dit Bukowski. Hy het die verskille tussen rock stars en losers opgehef – soos Leonard Cohen gesê het: ‘He brought everybody down to earth, even the angels’. Bukowski het my geleer daar is plek vir almal, en mooi kan somtyds nogal lelik wees.”
Ook Antjie Krog is iemand van wie Ronelda hou, want sy was die eerste digter op hoërskool wie se werke Ronelda nie vervelig gewind het nie.“Toe ek haar werk ontdek, het ek geweet dat poësie nie veronderstel is om gekompliseerd of vervelig te wees nie. Ek hou ook nogal van Koos Kombuis.”

Oor die dwelmverwysings in die gedigte het sy net die volgende te sê: “Dis maar net ’n geval van been there; done that. Dit was deel van my eksperimentele fase, en ek veronderstel dit het my wyser gemaak. Nou oordoen ek niks meer nie, want te veel van enigiets is nie goed vir ’n mens nie, glo ek.” (Die Burger, 27 Junie 2008)

Noudat slapende honde se voorlopige titel was Vergewe my, maar ek is Afrikaans. “Ek was een oggend op pad werk toe,” vertel sy aan Danie Marais (LitNet), “en toe ons so verby ’n construction site ry, was daar graffiti teen die muur met dié woorde. Ek het skielik gevoel soos die klein kindjie wat die eerste keer haar veters reg vasgemaak het, maar wie se ouers te besig was om op mekaar te skreeu om dit op te let. Vir my beteken dit basies om nie skaam te wees oor watter dialek jy praat nie; om nie weg te probeer hardloop van jou agtergrond en verlede nie, en bowenal, om nooit minderwaardig teenoor enigiets of enigiemand te voel nie.”

Charl-Pierre Naudé skryf op Poetry International Rotterdam se webwerf dat Ronelda met haar gedigte  skerp fokus op die “bruin gemeenskappe” wat op die rand van die samelewing woon.  “This shines on the racial faultline that continues to divide Afrikaner culture and on that uneasy territory where the Afrikaans language was integrated into the so-called Coloured community long before white Afrikaners claimed it as the flagship of their nationalism and identity.”

Vir Naudé is daar ’n skynbare teenstrydige kinkel in haar sterkste werke wat die leser nie maklik kan mislees, maar vir diegene wat dit wel raaksien, word alles duidelik. Dit is haar suiwer liriese krag – sotto voce, maar beginselvas. Haar poësie kan ook beskryf word as ongekunsteld, vars, rou en intelligent.

Naudé gaan voort: “Her best poems create a sense of inevitable expression, as if, despite the manifest freshness, they have existed since the beginning of time. However, it is not only in expressive power, which often characterises the work of younger poets, that she shines, but also in her furtive, seering insight, not least into character. This gives the impression that she has a latent poetic reservoir. A quiet irony starkly underlies much of what she has to say. In the tone of her reserve lies a sting that should not be underestimated, but this is not ‘political poetry’. It is, rather, political reality experienced in intensely private terms.”

Noudat slapende honde het die Afrikaanse literêre toneel met ’n slag getref. Dit is in 2009 bekroon met die Eugène Marais-prys vir Poësie wat sy met ’n ander jong digter, Loftus Marais, deel. Dat sy dié prys ontvang het, was vir Ronelda ’n groot eer. Heilna du Plooy, een van die beoordelaars, het gesê Ronelda se bundel is aangrypend en die simplisiteit, direktheid en dinamiek van die gedigte tref die leser.

Loftus Marais wen die Ingrid Jonker-prys in 2009, met Ronelda se Noudat slapende honde ’n baie sterk naaswenner. Een van die beoordelaars vir laasgenoemde prys het gesê “dat haar poësie gekenmerk word deur belydenis, maar dan ’n belyding wat ’n gat deur die bladsy brand”. Nog een het dit só gestel: “’n Totaal onderbeligte deel van die Afrikaanse taaldemografie praat deur haar in ’n besondere sterk stem op ’n manier soos nog nooit tevore nie.” (http://bookslive.co.za/blog/2009/10/21/loftus-marais-wins-the-2009-ingrid-jonker-prize-for-staan-in-die-algemeen-nader-aan-vensters/)

Die opskrif van Joan Hambidge se resensie in Beeld van 22 September 2008 lui: “In ’n sterk stem basuin sy haar sê uit.” Hambidge beskou dit as ’n debuut wat geen kompromisse maak nie en self die leser ontsenu met die wyse waarop die lewe in Blackheath uitgebeeld word. Die Afrikaanse is in ’n lekker loslit, alledaagse taal geskryf. “Die gedigte subverteer die gedagte van die mooi gedig of die vers as ’n soort skoonheidstroos. Dit word gekenmerk deur ’n soort woede en opstand wat herinner aan Krog se ‘ek skryf omdat ek woedend is’.

“Die bundel lewer sterk sosiale kommentaar sonder om ooit die digterlike eise te verontagsaam. Hierdie digter het kennelik kennis geneem van haar tradisie – die motto’s verraai dit – en sy skryf helder oor haar ervaring van die lewe. Die harde werklikheid van ’n tussen-in-bestaan word vir die leser verduidelik: hoe die verlede die hede kleur en jong mense swaar dra aan dit waaraan hulle nooit deel was nie. (...) Dis beslis ’n talent om dop te hou. In haar eie woorde: sy weet presies waar sy staan met haarself en die wêreld. Sy het ook iets om te sê, wat die bundel nóg meer verfrissend maak.”

Op LitNet meen Steward van Wyk dat dit gedigte is “wat inhoudelik ’n mens laat regop sit en ongemaklik skuif in die stoel, ’n ‘hardcore comedown experience’, as ek haar uitdrukking so mag gebruik. Dit verwoord ’n ervaring wat op die grense van middelklasbestaan beleef word en spreek van ontgogeling, die verlies van ’n prille, onskuldige jeug, ontvlugting in dwelms, moontlik dood, soos in ‘OD 1’ en ‘OD 2’, verbrokkelde verhoudings met afwesige pa’s in ‘Pick n Pa’, uitsigloosheid en verval. ’n Mens hoor die stem van jong werkersklasvroue, wit, bruin en Afrikaans, in ’n subtiele en wrang aanklag teen die samelewing wat hulle tot statistiek en opskrifte in poniekoerante reduseer - vgl ‘Lolla’ en ‘goeie meisies’. Dit word egter goed gebalanseer deur vertellings oor vertroeteling en geborgenheid binne die eie groep - vgl ‘kliek van sewe’.

“Wat bybly, is die maatskaplike inslag van die verse wat die fokus op die nood op die Vlakte laat val. In ‘Klein Cardo’ en ‘Dis vroeg winter in die Kaap dié jaar’ word die uitgelewerdheid aan bendegeweld, dwelmsmouse en armoede verbeeld, maar op ’n ingehoue wyse wat paradoksaal die skreiendheid daarvan aksentueer. Die politieke onderbou van hierdie sosiale onreg is onmiskenbaar, soos in ‘Klonkies’, en word juis deur die voortreflike gebruik van ironie en onderbeklemtoning na die oppervlak gebring.

“Vertellings van miskenning en verontregting is welbekend in die Afrikaanse literatuur en in ons politieke onderbewuste. Dat Kamfer mens weer opnuut daarmee boei, is toe te skryf aan haar skryftalent.

“Die minimalisme, bedrieglike eenvoud en strak versbou van sommige gedigte herinner aan Valda Jansen se werk – vgl haar ‘Vrye vers’ en ‘toe skoene’ Sy maak voorts effektief gebruik van enumerasie en herhaling wat, soos by Adam Small, as ’n refrein werk wat die aanklag versterk. Daar is dikwels ’n mooi reël of twee wat sommer klaar staan, soos ‘Ek wil so erg myself saam met jou wees/ dat my vriende moet sê dat ek anders is’. Alhoewel dit ’n dunnerige bundel is, kry mens die indruk dat Kamfer nog ’n wye register het om te ontgin.

“Die impak van Kamfer se debuut kom voort uit ’n miskende wêreld wat sy na die sentrum bring, en sy is terdeë bewus van haar ambivalensie jeens Afrikaans en digterskap, soos sy te kenne gee in die openingsgedig, ‘Waar ek staan’, maar veral pittig uitgedruk in die woorde van die oom in ‘ek soek 'n goue sterretjie’:

terwyl ek so staan en preek sal ’n stink kwankiedronk oom
my voor God uitkak en sê jy is maar net ’n hotnot
met ’n goue sterretjie voor jou kop
moenie met jou verkakte gedigte na ons toe kom nie
gaan vertel daai kamtige sad stories van jou vir die mense
wat die reëls maak
jy ruik elk geval nes hulle.

“Ek sien daarna uit dat sy hierdie ambivalensies verder oopskryf. Die toets is nou om hierdie debuut op te volg, noudat slapende honde wakker is!”

In Die Burger van 25 Augustus 2008 skryf Joan Hambidge dat toe sy die eerste keer Ronelda se gedigte in Nuwe Stemme 3 gelees het, sy geweet het dat daar ’n nuwe vrouestem in die Afrikaanse poësie is. “Haar gedigte breek deur alle grense. Taal, die kanon, fatsoenlikheid, noem maar op. Sy spreek alle kwinte en kwale aan: familieskap, gender, ras, politiek, dwelms, bloedskande, armoede, verwerping, buitestanderskap, jeugervarings in Blackheath ... (…)

“Dit is iemand wat deur baie pyn beweeg het en alle selfbedrog minag. En paradoksaal is dit juis die weerloosheid wat agter alles skuilhou wat tot my gespreek het. Sy is al met ’n jong Antjie Krog vergelyk. En dit ís so. Dis praatverse, vrye verse, ’n ampere traak-my-nie-agtigheid. Maar om só te kan skryf, moet jy baie gelees het. En geleef het. (Bukowski en Walcott pryk as motto’s.)”

Daar is niks in die bundel waarvan Hambidge nie gehou het nie – van die voorblad tot die ongelooflike gedigte. Die ontgogeling en onbeskermdheid kan soos ’n swart draad deur die bundel getrek word en die leser kan aanknoping vind by die buitestaanders en uitgeworpenes.

“Die vader des huises en verskillende soorte pa’s word raak beskryf. Die afwesige pa is egter die een wat die dogter die meeste verwond. (...) ’n Mens vind lewensinsigte wat jou ontstig. Die desperate poging om in die nou te leef, word gekelder deur die onmoontlike van vergeet. Die nu­we geslag is in elk geval te jonk om te weet, maar te sinies om te aanvaar dat alles reg is. Oor Afrikaans het sy ’n mening. Oor die boereooms ook. ‘Vergewe my maar Ek is Afrikaans’ speel klaar met etlike mites oor aan wie Afrikaans nou eintlik behoort:

ek praat julle taal 
ek eet julle kos 
ek bly in julle vaderland 
ek drink julle wyn 
ek sing julle musiek 
en liewe ooms, ek, ja ek, ek vry met julle seuns.

“Dis ’n aangrypende debuut. Praatverse. Vry, loslit, keelgrypend. Ek lees hierdie bundel op GRA-dag, 14 Augustus, en dink hoe het Afrikaans nie verander en verruim nie.

“Waarvoor moet sy oppas? Dat minder begaafde woordvrate haar tot ikoon verhef en haar stem so mag stilmaak. Kwela Boeke moet geluk gewens word met hierdie helder, suiwer debuut. Ek was laas met Jeanne Goosen se Elders aan diens so opgewonde oor ’n digbundel.

“Lyk my die ongekunstelde, uit-die-hart-uit-gedig is aan die terugkeer. Dis ’n dun bundeltjie. Maar elke gedig ontplof soos ’n klapper. Ja, luister hoe tjank die honde oor die geraas.”

In Tydskrif vir Letterkunde (Februarie 2009) sluit TT Cloete se resensie af: “Hierdie bundel wys vir ons ’n aandoenlike wêreld, so aangrypend dat die digter nie al die lyflike taal nodig het waarmee sy die leser wil wakker skok nie. Haar vers steun ook nog te veel op die aandoenlike van die onderwerp self en is daarom dikwels nog onvolgroeid en fragmentaries. Maar desnieteenstaande bly dit ’n pakkende bundel gedigte. Ondanks sekere tekortkominge of nog ’n sekere onvolgroeidheid weet Kamfer tóg soos sy in die openingsgedig sê baie goed waar sy staan.”

Charl-Pierre Naudé (Rapport, 13 Augustus 2008) meen dat ’n debuutbundel “’n gebeurtenis in ’n kleiner letterkunde is”. Daarom word baie van hulle “hopeloos oorspeel. Ander se voortekens word onderskat.” Hy vervolg: “Noudat slapende honde – ’n veelseggende titel wat die leser laat raai – is die debuut van Ronelda S Kamfer, van vroeg in die twintig. Hierdie lakoniese, wars, gedrewe liriese digstem gaan nie beteuel word volgens projeksies nie. Dit dwing jou tot stilstand, ondanks sommige voorbehoude.

“’n Raps meer as ’n derde van die gedigte is besonder geslaag en onthoubaar. Dit bevat minstens een gedig wat, konserwatief gesproke, briljant, is: ‘Die huisvrou’ oor ’n hardwerkende vrou met die trots van diegene wat dit minder breed het wie se voorstedelike neurose ’n onverwagte wending neem. Dis ’n gedig wat, soos die bestes, ’n vermoë toon vir die uncanny, verrassende afloop, wat Kamfer baie goed doen, dikwels met ’n skok-effek. (…)

“En selfs die gedigte wat nie in hul geheel slaag nie, het stembuigings, karaktergrepe of streek-, subkulturele en volkse segswyses wat oor ouderdomsgrense sal bekoor en die Afrikaanse digkuns vernuwe. Die beste gedigte wek ’n indruk van onvermydelikheid, asof dit nie nie gesê kon gewees het nie. En die direkte segging laat alles ongemaak klink: asof gevonde, nie geskryf nie.

“Dis seggingskrag wat skitter, iets waarvoor jonger digters meer bekend is. Maar dan dra van die gedigte ook die saad van eienskappe wat vir die langer duur belofte inhou: sosiale en karakter-insae, en vertel- en besinningsvermoë, byvoorbeeld. (…)

“Kamfer bring die steeds onderbeligte kultuurwêreld van die bruin woongebiede tot lewe, tot in die senuwee. Die gedigte bevat indirekte politieke kommentaar wat op eie risiko veronagsaam kan word. Maar nooit aangeplak nie. Meestal kom dit deur ’n baie persoonlike belewenis liries te vertel. (...)

“Die bundel is aan die dun kant, asof die uitgewer publikasie gehaas het. ’n Groter gerf van die beste verse sou welkom gewees het, maar ’n besondere toekoms wink vir hierdie nuwe digter op Kwela se kerfstok.”

Een van Ronelda se gunstelinggedigte in die bundel is ‘Klein Cardo” en dit is opgedra aan twee jong slagoffers van geweld op die Kaapse Vlakte, Alfonso Cloete en Valencia Farmer. Dit begin só:

Cardo was gebore
maar niemand het hom verwag nie
sy ma was sestien
en sy pa gemeenskapsbouer vannie jaar
sy ouma was ’n cashier
en sy stiefoupa het gedrink virrie pyn.

en eindig op treffende wyse:

Die aand voor Cardo se eerste dag op grootskool
het die Schoolboys klappers innie pad geskiet
Cardo het by die venster uitgeloer
die koeël het in sy keel gaan sit
sy ma hettie gehuil nie
die politicians het ’n boompie geplant
en die Kaapse Dokter het hom uitgepluk
en gegooi waar die res vannie Kaap se drome lê
oppie vlaktes.

By die Aardklop Kunstefees in 2008 tree Ronelda saam met onder andere Andries (Roof) Bezuidenhout op. Daar was nie genoeg kaartjies vir almal wat dit wou bywoon nie. Andries vertel: “Ronelda het ’n encore gekry. Waar in jou lewe het jy al so iets gesien? Al die kaartjies vir ons vertoning was uitverkoop en dit saam met Ronelda se encore maak my opgewonde. Dit wys my daar is ’n energie om die digkuns.” (Die Burger, 21 Maart 2009)

Oor haar gewildheid sê Ronelda: “Ek dink dis omdat ek oor dinge skryf waarmee jongmense kan identifiseer. Soos bendegeweld en armoede. Ek noem my gedigte stories, omdat ek ander mense se stories deur my gedigte vertel. Daar kom gereeld mense van my gemeenskap wat sê hulle het hul storie herken. Dit beteken vir my veel meer as enige encore.” (Die Burger, 21 Maart 2009)

In 2010 verskyn die Nederlandse vertaling, Nu de slapende honde, vertaal deur Alfred Schaffer, by Podium Uitgewers. Erik Lindner skryf in De Groene Amsterdammer, een van die vernaamste literêre publikasies in Nederland: “De gedichten van de Zuid-Afrikaanse Ronelda S Kamfer zijn des te aangrijpender omdat ze vrij rechttoe, rechtaan anekdotes uit het dagelijks leven vertellen.”

Na hy kortliks aandag aan die bloemlesing De 150 mooiste gedichten uit het Spaansgegee het, swaai sy fokus volledig na Ronelda: “Een verrassing is Nu de slapende honden van Ronelda S Kamfer, een jonge dichter uit Zuid-Afrika die vertaald is door Alfred Schaffer [...] De bundel is volop een debuut. Een jonge stem die zich presenteert. Veel gedichten bestaan uit gruwelijke anekdotes, koel en ingehouden gebracht: ‘tegen de eerste pauze was er een lijk in de Skoolstraat/ een miskraam in mijn klas’. Het effect van de gedichten van Ronelda Kamfer is vooral dat je al lezend steeds beter doorkrijgt dat er geen woord gelogen is van de familie- en buurtverhalen die ze opdist.”

Na ’n besonder knap oorsig van die bundel – met gepaardgaande kontekstualisering van bepaalde gedigte - eindig hy met die volgende samevatting: “Documentair, aangrijpend, confronterend. Nu de slapende honden is een zeldzame kans om een dichter op een heel andere plek aan het werk te zien, die van opvallend nabij tegen je praat.”

Dit is beslis ’n groot kompliment vir een van Afrikaanse se opwindende digters van die hedendaagse geslag.

Ronelda vertaal self ook heelwat van haar gedigte in Engels.

In 2010 woon Ronelda die 14de jaarlikse Poësiefees van Afrika in Durban by en bekoor die gehoor in die Elizabeth Sneddon-teater met haar gedigte waarin sy die lewens en drome van die mense op die Kaapse Vlakte uitbeeld. Sy is ook uitgenooi na die Winternagfees in Den Haag saam met Antjie Krog. Van haar gedigte is in Frans en Portugees vertaal en word later dalk ook in Turks vertaal.

In Februarie 2011 is Ronelda erg getraumatiseer nadat die polisie een aand – die tweede keer in ’n week – haar huurhuis “afgebreek” het. Karin Burger skryf in Rapport  (5 Februarie 2011) dat die polisie glo op soek was na dwelms, onwettige wapens en gesteelde goedere in die huis wat Ronelda en haar vriend Nathan Trantraal met Nathan se broer en nog vyf ander mense in Athlone deel. Ronelda was toe vyf maande swanger. Ronelda vertel dat sy so groot geskrik het dat sy huilende op die vloer gelê het. “Een van die polisiemanne het gesê hy sal my iets gee om oor te huil.”

Ronelda gee raad aan voornemende jong skrywer (Die Burger, 25 Maart 2013): “Toe ek op skool was, was ek ’n erge taal-geek. Ek het opgewonde geraak oor opstelle skryf. Ek het boeke vol opstelle, gedigte en diaries vol geskryf. Eendag stuur my vriend Richard my gedigte in vir ’n kompetisie vir nuwe stemme. Ek het toe nog as kassier by Clicks in Somerset Mall gewerk; ek was daai meisie wat jou gevra het of jy ’n clubcard het. Maande later bel Tafelberg-Uitgewers my en sê my gedigte gaan in Nuwe Stemme 3 opgeneem word.

“Drie jaar later sit ek in my kamer en skryf aan my debuut, Noudat Slapende Honde, sonder ’n rekenaar, sonder dat ek literatuur ge-swot het, sonder dat ek Breytenbach, Small of Van Wyk Louw aanbid het. Ek het toe nog elke dag bedpanne in die Mediclinic aangedra.

“Die moral of the story is dat niemand jou kan leer skryf nie, dat jy niks nodig het om jou ’n beter skrywer te maak nie. Ek het geskryf en gehoop wat ek weet oor die lewe sal genoeg wees. Ek wou ’n goeie boek skryf, ek wou ’n boek skryf wat almal kon lees.

“Om te skryf need ’n mens eintlik maar net twee goed: eerlikheid en ’n storie, jou eie storie, een wat jou sal deurdra, deur die tye wanneer almal vir jou lag, die tye wanneer almal by jou verbykyk en jou minag. Skryf soos jy wil skryf; niemand kan dit van jou af wegvat nie.”

Ronelda is op Maandag 4 Julie 2011 met Nathan Trantraal getroud, ook ’n digter en grafiese kunstenaar. Hulle het ’n dogtertjie, Seymour Gertrude. Ronelda en Nathan vertel aan Willemien Brümmer (Die Burger, 16 Julie 2011) oor hierdie vinnige troue: “Ons beplan nooit goed voor die tyd nie; toe besluit ons net die Maandag, oukei, ons het tyd vir trou.Ons het darem al die Vrydag voor die Maandag besluit. En toe kry ons gelukkig iemand wat willing was om ons te trou.”

As hulle praat, los Nathan en Ronelda mekaar af asof hulle uit een mond praat. “Ons het na home affairs in Bellville gegaan, want ons het nie geweet precisely hoe dit werk nie,” sê Nathan. “Ons het baie lank daar gestaan, en toe begin ons foto’s neem van mekaar, en toe het die vrou wat daar werk seker uitge-figure ons wil trou. Sy’t gesê: ‘Vra dié man wat hier staan. Hy trou altyd mense.’ ”

Ronelda val in: “Dit was ’n random marriage officer. Ons het nie geweet of hy legal is nie, maar hy’t ons sommer hier kom trou Maandag. Daar was nie juis gaste nie, en ná die tyd het Nathan ’n post bachelor’s party gehou en sit en Guinness drink op die bank. Ons sê vir almal dit was nie ’n troue nie, ons is net getroud.”

Ronelda se tweede bundel, grond/Santekraam, is in 2011 uitgegee, weer deur Kwela, en geïllustreer deur die broers Nathan en André Trantraal. Sy vertel aan Rapport (5 September 2010) oor dié geïllustreerde digbundel:  “Ons (sy en die Trantraal-broers) meen poësie moet voortdurend op nuwe, vars maniere aangebied word. Ons leef in ’n visuele milieu en sien geen rede waarom die digkuns nie ook meer visueel kan word nie. Só word dit toegankliker en is dit interessant om te sien hoe die twee mediums saamsmelt om iets nuuts en opwindends te skep.”

Dit is nie die eerste maal wat hierdie idee gebruik word nie, sê sy. “Die konsep van geïllustreerde gedigte is baie oud. William Blake het dit onder meer gedoen en plaaslik het Breyten Breytenbach iets soortgelyks gedoen.”

’n Belgiese webwerf het Ronelda gevra om ’n gedig oor haar skoene vir hulle te stuur, met ’n foto by, en dit het daartoe aanleiding gegee dat die drie van hulle besluit het om “iets anders” te doen. Die resultaat was die gedig “Splinters en Converse”, met illustrasie deur die Trantraals.

grond/Santekraam het sy ontstaan gehad terwyl Ronelda in 2009 aan die Universiteit van Wes-Kaapland aan haar honneursgraad gewerk het. Antjie Krog, mede-samesteller van Nuwe stemme3 waarin Ronelda gedebuteer het, was haar studieleier vir die kreatiewe gedeelte van die kursus. Ronelda vertel aan Willemien Brümmer (By, 16 Julie 2011): “Antjie was amazing, want sy wou my nie beïnvloed nie. Sy wou my heeltyd net hou soos ek is. Haar ding was net ek moet meer lees, want ek het baie min Afrikaanse digters gelees. Ek lees dieselfde digters oor en oor. Dylan Thomas en Charles Bukowski. Daai’s maar al en that’s it.”

In grond/Santekraam word die storie vertel van Ronelda se ma, Gertrude Granfield, se familie. Die boek is ongeveer ’n maand na haar ma se dood, uitgegee. Hierdie tweede bundel is ’n “deurgekomponeerde eenheidsbundel wat haar vir goed ’n staanplek sal gee in die kanon van die hogere Afrikaanse digkuns. Dit is meer deurdag, die produk van ’n deurwinterde digter. Ná elke lees word nuwe betekenislae oopgevlek, met vergete stemme wat bo en onder water saampraat. Dis ’n wêreld waar meerminne skinner en afkopskepe roer,” aan Willemien Brümmer van By (16 Julie 2011).

Oor die titel verduidelik Ronelda aan Andries Bezuidenhout op Versindaba dat die woord “Santekraam” uit die Nederlands afkomstig is en dat die “die res” beteken.  Sy wou nie ’n boek skryf wat net oor grond of grondverskuiwings handel nie en het die woord in Nederlandse poësie raakgelees. Toe sy haar ma daaroor vra, het sy gesê dat dit ’n redelike outydse woord is. Die bundel handel dus oor “grond en die res wat daarmee saamhang”.

Fred de Vries skryf in Rapport (1 Julie 2011) dat hierdie 42 gedigte van Ronelda hom sonder woorde gelaat het. “Hulle het my dae lank bygebly, rondgespoel in my kop, vrae laat opkom, nuwe vistas laat oopgaan. Hulle het by my gespook en my gepynig. Hier is ’n digter wat ongeag verwysings na popmusiek (Arcade Firs, Elbow) met ’n tydlose stem praat, wat wysheid anderkant die grense van haar ouderdom het (sy is in 1981 gebore). 

“Hierdie is gedigte oor konflik en verlossing, waarheid en leuens, wat diep in die siel en die geskiedenis van die land se ongesproke stories delf. Hierdie is volksverhale in vele lae wat die verlede, die hede en die onderbewuste saamsnoer. Kamfer neem verskillende persona aan, gebruik vele dialekte, neem ons na die Kaapse Vlakte, verlate vissersdorpies en die bodem van die see. Alles ewe moeiteloos. 

“Daar is ’n verblindende rykheid, nie net wat onderwerp betref nie, maar ook in die taal wat menings opper. Dis in die vorm en kadense, in die manier waarop sinne, woorde, letters en leestekens krul en draai (‘Mislukte Mitchy manmin staan op voor die spieël dis sy wens wat waar waar waar word word word’). Maar die toon is peinsend, nooit te oordrewe of oordadig nie – afgetrokke, selfs effens fatalisties.”

grond/Santekraam lees vir Fred de Vries soos ’n “wettige weergawe van onwettige, verbode opnames, iets wat uit Amerika se Suide van die 1930’s kon gekom het. Dié is ’n moderne Suid-Afrikaanse weergawe van die ‘dust bowl blues’ van die liedjies van die katoenplukkers en chain gangs – ’n oproep tot medemenslikheid en begrip wat nooit gekunsteld of pateties aandoen nie.”

Ronelda se grond/Santekraam is ook in Nederlands vertaal onder die titel Santenkraam. Haar Nederlandse uitgewers, Podium, het haar aan die einde van 2012 na Amsterdam genooi om die bundel bekend te stel en ook vir ’n gasskrywerskap in Athenaeum se Skrywershuis in Amsterdam. Ronelda is ook genooi na die Festival voor het Afrikaans in 2012 in Nederland, maar moes die uitnodiging van die hand wys nadat haar ma oorlede is.

In 2012 is Ronelda die ontvanger van die Kanna Afrikaans Onbeperk-toekenning vir ’n Jong Stem by die jaarlikse KKNK. Vir Ronelda was die toekenning ’n toegif: “Dit beteken baie, veral omdat dit ’n toekenning is vir ’n jong skrywer. Om te skryf is vir my so ’n intieme en persoonlike ding dat ek die meeste van die tyd net bly is dat daar mense is wat dit lees, ek is dankbaar vir lesers, ’n verering is ’n bonus.” (Die Burger, 25 Januarie 2012)

Kamfer is eenparig deur ’n paneel bestaande uit Steward van Wyk, Elmari Rautenbach, Anastasia de Vries en Frederik de Jager aangewys.

Ronelda sluit af:

die baas van die plaas (vir Mammie)

ek het ’n ouma
wat net een taal praat
sy vertel my stories van baas Willem
en dr Metzler
hoe goed baas Willem vir haar was
sy kon altyd eerste kies
watter ou klere sy wou hê
sy vertel van myle se stap dorp toe
en hoe baas Willem haar voor
in die bakkie laat sit het
baas Willem het gesê haar kinders
hoef nie standerd 10 te maak nie
hulle gaan mos op die plaas werk
en help met die kinders grootmaak
dr Metzler het gesê
my ouma se kinders confuse hom
hulle’t ’n immorality in hul oë
hy sê my ouma kan dankie sê
die laaste een is doodgebore
daai een se naam sou Judas gewees het.

 ’n Gewone blou Maandagoggend

Dit was ’n gewone blou Maandagoggend
êrens het ’n ma haar kind se lyk gaan uitken
ek het my gewas, tande geborsel en my bio-taak afgehandel
op die yskas was ’n briefie van my ma
wat vra dat ek tog nie die Breyani so sterk moet maak vanaand nie
my sussie het haar sokkies gesoek en by halfag het ek die voordeur gesluit en die sleutel op die ou plek gaan wegsteek
by die huiswinkel het ek twee los sigarette gekoop en in my sokkie weggesteek
op die hoek van Wild Flower en Rosestraat het ’n meisie saam het haar toekomstige moordenaars gejoke
in my kop het Dylan Thomas geskreeu “do not go gentle into that good night, rage, rage against the dying of the light”
in die voorligtingklas het my hoogswanger beste vriendin begin bloei
buite in die straat was daar ’n paar gun shots
by eerste pouse was daar ’n lyk in Skoolstraat
’n uitstel op die bio-taak en ’n vrou wat gillend in die straat afhardloop en vir die Here vra “waar was Josef toe Jesus gekruisig is?”

Publikasies:

Publikasie

Noudat slapende honde

Publikasiedatum

2008

ISBN

9780795702730 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Eugène Marais-prys 2009

Vertalings

Nederlands deur Alfred Schaffer 2010

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

grond/Santekraam

Publikasiedatum

2011

ISBN

9780795703652 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

2012 Kanna vir Afrikaans Onbeperk vir ’n Jong Stem

Vertalings

Nederlands deur Alfred Schaffer

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet


Artikels oor Ronelda Kamfer op die internet

Artikels deur Ronelda Kamfer op die internet

Bronne

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum


• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

Bygewerk: 2014-06-03
Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan album@litnet.co.za

  • 2

Kommentaar

  • Hallo, ek het ongelukkig nie die moed om die m...rse relaas hiebo te lees nie maar wil graag vir Ronelda hartlik gelukwens met die toekenning. Uiteindelik kom dit iemand toe wat dit werklik verdien.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top