ATKV-Skrywersalbum | Writers

 
Abraham H de Vries (1937 –)

Gebore en getoë
Abraham Hermanus de Vries is op 9 Februarie 1937 in die distrik Ladismith in die Klein Karoo gebore. Sy ma is met sy geboorte oorlede en sy pa is later getroud met Hester, ’n jonger suster van sy ma, en dit was Hester wat sy ma was. Hy het ’n suster, ook Hester. Sy ma het in 1986 net na haar 87ste verjaardag ’n doktoraat van die Universiteit Stellenbosch ontvang. Sy is op 2 Mei 1990 op 90-jarige ouderdom oorlede.

Sy ma was, net soos sy suster, ’n bederwer van geaardheid. “Ek het in ’n huis met boeke en koerante en tydskrifte grootgeword. Dit was nog voor televisie. Stories was die manier waarop mense met mekaar gesels het.”

Braam word groot op sy pa se plaas Winkelplaas in die distrik Ladismith. Sy pa was die laaste winkelier op Winkelplaas. Braam begin sy skoolloopbaan aan die Laerskool Buffelsdrift net oorkant die Dwarsrivier. Milly, soos almal, ook die skoolkinders, haar genoem het, was sy onderwyseres op die plaasskool.

Hy matrikuleer in 1956 aan die Hoërskool Ladismith. Mnr IS Terblanche was die onderwyser wat op hoërskool die grootste invloed op Braam gehad het. “Bert die jagter” is sy eerste storie wat gepubliseer is. Dit verskyn in 1953, toe hy 16 was, in Die Huisgenoot. “Spioene” was sy eerste kortverhaal wat aanvaar is vir publikasie, maar dit het na “Bert die jagter” verskyn. Braam vertel: “Geen mens voel ooit weer so oor enige skryfwerk as met die publikasie van jou eerste verhaal nie. Ek het gevoel ek het vir iets vergoed, maar ek het nie geweet vir wat nie.”

Verdere studies en werk
Braam gaan in 1957 na die Universiteit Stellenbosch en behaal daar sy BA-graad en in 1959 sy BA Honneurs. Hy vertrek na Nederland vir verdere studie en in 1962 behaal hy sy Kandidaats en DLitt et Phil met Afrikaanse letterkunde en taalkunde, perswetenskap en Nederlandse taalkunde aan die Gemeentelijke Universiteit van Amsterdam. Vanaf 1962 tot 1963 doen hy navorsing onder W Hellinga.

In 1986 ontvang Braam sy DLitt van die Universiteit Stellenbosch met sy tesis “Tendense in die Afrikaanse kortverhaal sedert 1867-1984” onder die promotorskap van Merwe Scholtz.

Terwl Braam student aan die Universiteit Stellenbosch was, debuteer hy in 1956 met Hoog teen die heuningkrans en reeds met hierdie eerste bundel word sy talent as kortverhaalskrywer raakgesien en erken deurdat Hoog teen die heuningkrans in 1962 met die Reina Prinsen Geerligsprijs voor Zuid-Afrika bekroon is.

Net soos Hoog teen die heuningkrans word Braam se volgende bundel, Verlore erwe (1957), ook by Culemborg Uitgewers gepubliseer. In Spitsberaad skryf Rob Antonissen dat hierdie twee vroeë bundels nie destyds te herken was as werk van iemand uit die jonger generasie wat in Afrikaans ’n nuwe tipe verhalende prosa sou skep nie. Die verhale was nie alleen plattelands van tema nie, maar hoofsaaklik ook realisties in gees en sfeer: voortsetting, en dikwels heel fynsinnige voortsetting, van ’n regionalistiese tradisie. Onopdringerig, en op heel natuurlike wyse in die gebeure en in die ervaring van doodeenvoudige mense vermeng, was daar egter tog reeds, byna in verhaal na verhaal, iets besonders aanwesig; die besef van iets onvatbaar geheimsinnigs aan die gang onder die gang van die alledaagse lewe en in die omgang met die alledaagse dinge, iets wat te midde van al die lewensgedoentes te make moet hê met die dood; en waarop die mens, wanneer dit skielik voelbaar word, reageer met ’n redelose angs, benoude verwondering, rou verdriet, ontsetting.

Vetkers en neonlig word in 1960 (na Proegoed in 1959), met herdrukke in 1962 en 1966, uitgegee. In Vetkers en neonlig is dit merkwaardigerwyse juis die twee stadsverhale wat konvensionele realisme voortsit, skryf Antonissen. Die mooi humorverhaal “Sy laaste weddenskap”, met net ’n ligte vleugie fantasma, teken die plattelander op sy oudag in die stad; en “Afrika-toonbank” onthou Antonissen veral om die kundige versmelting van psigologie en verrassingsverhaal. Die plattelandsverhale daarenteë, het, op een na, feitlik alle “gemoedelikheid” laat vaar en al hoe meer met ’n demonies-gelaaide geheimsinnigheid deurdrenk geraak: wat des te opmerkliker word indien mens ouer en nuwe verhale wat verwante stofgegewens verwerk, met mekaar vergelyk.

Daar is vir Antonissen ’n bestendige voortgang na ’n makabere fantastiek, wat ’n hoogtepunt bereik in die verhaal “Die gusooi”, ’n fyn-gestruktureerde verhaal van ’n oorspronklike driehoekspatroon waarin juis die beskaafde vrou as afgrondelike mens verskyn en die gruwel bedryf.

Aanvanklik was WEG Louw se reaksie op Vetkers en neonlig om ’n skoolmeesteragtige stukkie oor taalgebruik te skryf, maar hy het volgehou en was “later heeltemal verras deur die boekie”. Van die agt verhale is daar net enkeles wat “bestendiging in dié vorm verdien” en dit is “Skoenemaker”, “Diepe water”, “Die gusooi” en “Sy laaste weddenskap”, en miskien nog “Afrika-toonbank”.

“Die gusooi”, sy dit met ’n enigsins growwe, boerse toespeling op die kinderloosheid van dié ongelukkige vrou, het indruk gemaak. Die wrede slot van die verhaal was vir Louw ’n vonds. Ook die oupa in “Sy laaste weddenskap” is ’n interessante figuur: iemand wat as rustende boer op ’n nuwe wyse aansluiting by die stand en die dinge van die stad kry. In hierdie verhaaltjie skyn die vetkers byna met die lig van ’n neonbuis.

In die eerste verhaal in Vetkers en neonlig was daar egter talle voorbeelde van onpresiese taalgebruik en Louw het gevoel dat De Vries, as hy net versigtig wil wees, dinge kan sê. Maar sonder daardie versigtigheid, wat woord vir woord afweeg, wat hom van elke nuanse van betekenis rekenskap gee, gaan hy êrens bly vassteek.

Die indruk wat Vetkers en neonlig by SC laat, is een van ’n belowende skrywer wat betreklik vry is van die invloed van ander skrywers en wat die dinge wat hom na aan die hart lê, wil vergestalt, en dat hy klaarblyklik eerlik is met sy bedoelinge. Dit wat hy wil sê, kan hy egter nog nie op die regte manier sê nie.

Vliegoog verskyn in 1965 en JME meen in Dagbreek dat De Vries weggebreek het uit die voorspelbaarheid van sy vorige bundels en ontwikkel het in ’n veelsydige skrywer wat die moed het om telkens van nuuts af te begin, nuwe wêrelde te verken en met nuwe vorme te eksperimenteer. En dit laat ’n mens uitsien na volgende werke van De Vries. Vir Antonissen was Vliegoog Braam se beste werk tot op daardie stadium. Hy het die bundel as “baie goed” beskryf.

Na sy terugkeer uit Nederland is Braam tot 1965 joernalis by Die Vaderland as dagbladresensent en kunsredakteur. Vanaf 1965 tot 1967 is hy vir verdere studie na Amsterdam en onderneem ook reise na Griekeland en Israel vir reisboeke oor hierdie lande: Die rustelose sjalom, Joernaal uit ’n gragtehuis, Afspraak met eergister.

Braam het ook ’n aantal boeke onder die skuilnaam Thys van der Vyver die lig laat sien. In Gesprekke met skrywers 3 (1973) het Chris Barnard hierdie verhale as “sommer net lekker stories vir tydskriflesers” beskryf en wou by Braam weet of ’n skrywer iets kan leer deur die ander soort dissipline wat “entertainments” van ’n skrywer vra. Braam se reaksie was dat Thys van der Vyver as ’n speletjie begin het en altyd een was. “Hy leer my ’n goeie verhaal vertel – vir wanneer ek dit nodig het – en ek leer hom skryf. Hy raak by die dag vaardiger. Ons kan natuurlik iets leer by ‘entertainments’, ja. Jy weet dit net so goed soos ek: niks wat ’n mens doen of meemaak, is sommer-maar nie. ‘Entertainments’ skryf is vingeroefeninge, maar ook meer as dit: dis ’n speletjie met sy eie bekoring. Ons het hoeka so min lekker stórieboeke in Afrikaans. Goed geskryf, vlot, sonder ’n spul diepsinnighede.”

Vanaf 1967 tot 1968 is Braam tydelik lektor in taalkunde aan die Universiteit van Port Elizabeth, daarna tydelik as lektor in die letterkunde aan Rhodes Universiteit, en vanaf 1969 tot 1970 lektor aan die Universiteit van Natal in Pietermaritzburg. In 1970 word hy aangestel as senior lektor aan die Universiteit van Natal in Durban, met sy hoofleeropdrag om hom toe te lê op die drama as genre en die Afrikaanse en Nederlandse drama in die besonder. In 1984 word hy aangestel as hoof van die Departement Tale en Kommunikasie aan Technikon Skiereiland in Kaapstad, ’n pos wat hy tot 1997 beklee. In 1985 stig hy die Afdeling vir Joernalistiek, wat in 1991 tot ’n volwaardige departement ontwikkel. Vanaf 1997 gee hy deeltyds lesings aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Tans (2012) is hy buitengewone hoogleraar aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Verder hou hy hom voltyds besig met sy skryfwerk.

Braam is getroud met Hannie Pienaar, wat vroeër omroeper oor die radio was en ook ’n tannie van Siembamba, ’n kinderprogram oor die radio. Hulle het drie kinders en woon in Kaapstad. Hannie is as vrou Braam se rolmodel en een wat uittroon bo ander vroue: “Ek het haar immers lankal gekies. My ander keuses is die skrywers Nadine Gordimer en Elsa Joubert en die politikus Helen Suzman. Ek kies hulle vir die gehalte van hul werk.”

Volmoed se gasie, ’n bloemlesing uit vroeëre werke, is in 1972 gepubliseer. Oor die rede vir die bloemlesing het Braam vir Chris Barnard vertel: “’n Baie goeie (rede), ja. Die wolf voor die deur. Buitendien het ek darem gedink: al die gepraat oor die ouer soort verhale, goed en wel, maar ek het ’n paar geskryf waarvoor ek nie skaam is nie. Ek gaan hulle weer ’n nuwe jas aantrek en op straat uitstuur.”

Oor die titel Volmoed se gasie het Braam gesê: “‘Volmoed’ is die naam van my geboortehuis. Ek het die ou plasie teruggekoop, sommer om daar te gaan sit en skryf, sommer om daar te loop leef tydens die vakansies. En oor ek die plek liefhet. Dis my baarmoeder: ek kom elke keer daar weg met ’n bietjie nuwe moed, met ’n paar nuwe streke. ‘Gasie’ beteken betaling. Of die boek letterlik Volmoed se gasie sal wees, dit weet ek nie. Maar ek het die ou wêreld van my daar ’n boek geskuld – die voor-keur was die beste wat ek kon gee. Ek is ’n soort boer – met woorde. ’n Mens is baie verskuldig aan die aarde.”

Dorp in die Klein Karoo (1966) en Briekwa (1973, ook bekroon met die Perskorprys) is twee bundels sketse oor De Vries se grootwordkontrei, Ladismith en omstreke, en die mense daar. En albei bevat sketse wat jou “op ’n fyn manier aanraak” en wat ’n plesier is om te lees, aldus Anna van Zyl,.

In 1965 verskyn Bliksoldate bloei nie. Vir PD van der Walt is die beste stukke in die bundel die eerste vyf, wat meer tradisionele kortverhale is as kontreikuns. Van der Walt beskou die verhaal “Een vlees” as die heel aangrypendste en artistiek die mees bevredigende een in die bundel – indien nie een van die bestes in Afrikaans nie. “Kenmerkend van De Vries se vertellings en kortverhale is ’n bedrieglike terloopsheid en geleidelik indirekte informasie wat deur ’n onthullende slot ’n verrassende geladenheid kry. Só word Abraham de Vries se stories peilings na en openbaringe van die mens se bestaansgeheimenis en sy lyding en worsteling, hoe hy kan verwond raak en bloei, want die mens is geen bliksoldaat nie. Bliksoldate bloei nie is in sy geheel van ongelyke gehalte, maar De Vries bly ’n verteller by uitnemendheid, en die lees van die stukke ’n kostelike leeservaring.” 

 

In Februarie 1975 is Braam gaslektor aan die Germanistiek-Instituut van die Ryksuniversiteit in Oslo, Noorweë, waar hy ’n lesingreeks oor die Afrikaanse letterkunde lewer. Hy lewer ook ’n lesing voor PEN Club International terwyl hy in Oslo is saam met die Turkse skrywer, Yasar Kemal. Hy was ook ’n aktiewe lid van die Afrikaanse Skrywersgilde en dien twee termyne as voorsitter daarvan. Later is hy ook voorsitter van die Afrikaanse Skrywersvereniging.

Braam neem ook aktief deel aan skrywers se stryd teen literêre onbegrip ten opsigte van sensuur en publikasiebeheer, veral in die sewentiger- en tagtigerjare.

In 2000 lewer hy die openingslesing by die Universiteit van Leipzig se Europese Werksessie oor Afrikaans, “Afrikaans Extra Muros”.

In 1967 het Braam die Eugène Marais-prys vir al sy prosawerke tot op daardie stadium verower en in 1974 is Briekwa met die Perskorprys bekroon.

In 1987 word Braam se kortverhaal “Die bruid” bekroon met die Saambouprys in Antenne en De Kat se kortverhaalwedstryd. Dit word opgeneem in sy baie bekende bundel Nag van die clown (1989).

Gunther Pakendorf begin sy resensie van Die nag van die clown as volg: “Sedert die dae van die Romantiek aan die einde van die 18de eeu blyk dit een van die eienskappe van veral nie-sosiaal-gerigte kuns te wees om die kuns self as onderwerp te kies, om ’n portret van die kunstenaar in sy ateljee te gee, ’n verhaal oor die skryf van ’n verhaal, ’n gedig in gesprek met homself te skryf. Dis soos die bakpoeierblikkie daarop, wat self weer dieselfde prentjie bevat (totdat die laaste een net nog ’n kolletjie is ...) Deesdae word hierdie rigting, veral in die verhalende prosa, ook tot die post-modernisme gereken: die saamflans van heterogene en reeds bestaande elemente tot ’n nuwe geheel, die gebruik van letterlike aanhalings of die bruikleen van motiewe of karakters uit ander werke. Dit is ’n soort toegepaste vorm van Roland Barthes se stelling dat daar net één boek is, wat maar gedurig herskryf word. So word die literatuur self een van die belangrikste bronne en verwysingsvelde van die literatuur. By hierdie tendens sluit ’n groot aantal van Abraham de Vries se kortverhale aan - sonder dat hy noodwendig as ’n post-modernis beskou moet word - en dit is ook die belangrikste fokus in sy jongste bundel verhale. (...)

“De Vries is onteenseglik een van die meesters van die kortverhaal in Afrikaans en met hierdie tekste lewer hy weer eens bewys van sy vermoë om die verwikkeldheid van ’n gebeurde deur fyn nuansering van verhaal en karakter en deur ’n subtiele manipulasie van die verteller-perspektief weer te gee. En hierdie soort verhaal het fyn en versigtige lees nodig, want nie een van dié stukke is sommer maar net ’n storie nie. Die trant word dikwels onderbreek, daar is aanhalings uit, of toespelings op ’n reeks ander tekste, daar is skertsende kommentaar of ironiese distansiëring. En daar is gedurigdeur die basiese vraag hoe ’n mens ’n storie dan vertel, waar jy begin en wat die verband is tussen werklikheid en fiksie. (...)

“De Vries het sy snaar baie fyn gespan, en dit is met verwondering dat ’n mens sien hoe hy telkens nuwe situasies en nuwe variasies vir hierdie komplekse tema vind. Die beperkte ruimte laat my nie toe om op al die stories in te gaan nie, maar spesiale melding moet gemaak word van ‘Die bruid’, ‘Towenaars’ en ‘Met dik hale’. Dit is stories wat ’n verskeidenheid temas aanspreek, wat met dieselfde nuansering en konsentrasie deurgevoer word. Terloops, dis opvallend hoe die Suid-Afrikaanse gegewe: landskap, mense, situasie op subtiele en feitlik onopmerklike wyse in dié stories ingeweef word.”

Braam se liefde vir Afrikaans kan nie in twyfel getrek word nie en hy sal ook nooit huiwer om in die bresse vir Afrikaans te tree nie. In 1994 het hy hom uitgespreek teenoor die SAUK se hantering van Afrikaans en gemeen dat dit ’n taalstryd kan ontketen wat nie minder intens sal wees as die land se rasseprobleem wat toe so pas opgelos is nie.

Sy waarskuwing het op dieselfde dag gekom as ’n hoofartikel van die Cape Times waarin gesê word dat die SAUK Afrikaans oor die TV afskeep. Dié koerant sê voorts dat dié beleid van die SAUK ’n fout is en dat kykers dit sonder twyfel aan die korporasie sou duidelik maak dat die situasie onverwyld hersien moes word. Die gesaghebbende The Times van Londen het ook op 29 April 1994 in sy hoofartikel oor Afrikaans geskryf en gesê daar is tekens dat Afrikaans binnekort die Aspoesterjie van die SAUK kan word. Braam het gesê die SAUK herhaal die fout van 1976. Dié keer is dit net Engels wat in mense se kele afgedruk word. Die taalstryd wat die SAUK nou ontketen, druis regstreeks in teen die versoenende houding wat die ANC-leier, Nelson Mandela, (daar)die tyd aanneem. Daar word tog nou aan een nasie met vele tale gebou. Volgens De Vries druis die SAUK se hantering van Afrikaans in teen bepalings van die oorgangsgrondwet en hy stel voor dat die grondwet op dié punt getoets word deur regsoptrede. Dit moet gou geskied. Hy is ook ten gunste van ’n televisie-uitsaaistasie vir Afrikaans. Luidens die Cape Times se hoofartikel is daar goeie rede om te kla dat Afrikaans nie sy regmatige aandeel kry met net agt persent van die verkiesingsuitsendings nie. Dit is verkeerd en kortsigtig om Afrikaans as ’n streektaal af te skryf, want dit het ’n betekenisvolle aanhang in baie dele van die land, aldus dié koerant.

Sy liefde vir die Klein Karoo, en veral vir sy erfplaas in die Ladismith-distrik, spreek duidelik uit sy kortverhale en in 1997, met sy 60ste verjaardag, word die ereburgerskap van sy geboortedorp, Ladismith, aan Braam toegeken – die eerste Ladismitter wat die eer te beurt val. In ’n oorkonde wat aan Braam oorhandig is, word die raad en gemeenskap se dank en waardering aan hom betuig vir die besonderse bydrae in die bekendstelling van “ons dorp en sy mense, wat u met groot toegewydheid dien en wat duidelik geopenbaar word in die meeste van u kreatiewe werk. U dien Ladismith op ’n betekenisvolle wyse met die skryftalent waardeur u liefde vir hierdie dorp en distrik duidelik weerspieël word. U het sodanig uitgestyg bo andere, maar u het steeds ’n gewone en nederige mens gebly. As blyk van die hoë agting wat daar in Ladismith vir u bestaan, en as opregte huldeblyk aan u, het dit ons behaag om ons dankbaarheid aan u te betoon by wyse van ’n burgerlike toekenning ingevolge ’n besluit van die stadsraad geneem op 31 Oktober 1996.”

Hy sê self: “Dis in die onvoltooide landskappe van die Klein Karoo, van reëndae tot helwarm Februariedae, wat ek dink: dié raaisel, dit het ek as kind al geweet.” Twee bundels is ook uitgegee om sy 50ste en 70ste geboortedae te herdenk, naamlik Soms op ’n reis (1987) en Elke slot ’n weerbegin – Abraham H de Vries 70 (2007).

Hy laat hom verder só oor sy geliefde landstreek uit: “Ek het ’n plaas op Ladismith waarheen ek gereeld terugkeer om te kan skryf. Ek ken die reuke, tekstuur en mense van die Klein Karoo. Dis ’n plek waar ’n mens nie stres nodig het om aan die lewe te bly nie. Eenvoudig gestel: daar is in die Karoo minder dinge wat ’n mens se aandag kan aftrek. Ek skryf in een dag in die Karoo meer as wat ek in vier dae in die stad skryf. Ek meen mense het ’n hunkering om terug te keer na hul geboortegrond. Dis nie ’n tipiese Afrikaanse of Suid-Afrikaanse ding nie. In Europa is daar ’n reaksie téén globalisasie. Mense neig om terug te trek na die plek wat hulle ken. Dit is een van die redes waarom streekliteratuur wêreldwyd aan die opbloei is.”

Braam was regisseur van twee videoportrette vir televisie oor die digters Adam Small en Hendrik Januarie. Hy was ook verantwoordelik vir die regie, teks en vervaardiging van die dokumentêre televisieprogram Afrikaans en Nederlands na apartheid (1992).

Op die wye oop Karoo verskyn in 2002 en Kirby van der Merwe word by die lees daarvan weer getref deur die sjarme en duidelike segging van De Vries se skryfwerk. “Min skrywers kan so met woord en wonder omgaan. Hy bied die verhale aan as terloopse vertellings (stoepstories, weliswaar) en ’n kleindorpse ‘geskinnery’ waarin die verteller ‘afdwaal en teenpraat’, sy stories laat ‘opdam’ en homself in die rede val. In die proses herbevestig De Vries sy insig in die mensheid. Hy is die busybody van die dorp (want is dit nie per slot van rekening wat ’n skrywer is nie?), en soos ’n ware oerverteller lê hy in die oorvertel van die doen en late van klein lewens, lewenswaarhede bloot waarin ons onsself, en ander, herken.

“De Vries se Winkelplaas is die ruimte waarna hy telkens in sy skryfwerk terugkeer en sy bemoeienis met die Klein Karoo is die doek waarop hy sy motiewe skilder: Winkelplaas se werf (waarop al die karakters een of ander tyd ’n spoor kom laat het), ’n rooi-en-wit sirkustent met sy vreemde diere en clowns, Makadas, ’n Tiger Moth, die ’37 Cheffie en spore, spore. (...)

“De Vries het egter die gawe ontvang om ’n handvol dowwe woorde in ’n stringetjie te ryg en die leser te laat met ’n gevoel van weemoed en van blydskap asof iets jou net-net ontglip het, maar jy ook die volle waarheid wéét.

“In Op die Wye Oop Karoo besin hy oor die aard en wese van kunstenaarskap en oor sy eie skryfambag. In ‘Omwille van Servaas’ laat hoor die verteller skalks: ‘Skilders en komponiste en pottebakkers en skrywers en sulke snare is mos nie mense wat hulle maklik laat ken nie. En wat wis ons ook nou van sulke soort mense?’

“Gewis. Maar lewer De Vries, ware storieman wat hy is, met voorbedagte rade kommentaar op die huidige kunstenaar-kansvatter-uitbuiter-debat? In die openingsverhaal sê die verteller se vriend, Izak: ‘Clowns is bokkers. Die regte clowns. Die óú clowns. Om voor gelag te word, is vir hulle ’n voorreg, maar voor jy weet, lag hulle vir jóú.’

“Die bundel laat die leser met ’n gevoel van vreugdevolle melancholie, want dit is asof De Vries dít wat verbrokkel het omdat alles verander, met woorde probeer heelmaak. Of dan probeer het om dit te doen. Of dan, ten minste, te troos: ‘Wie, o wie, dink ek later, voor ons inslaap met om ons die vriendelike geluide van die huis wat wentel in die koeler nanag in, wie het soveel deernis met die mens om ons so aan mekaar uit te lewer? (...) Ondanks, in weerwil van, nietemin.’”

In 2004 is Braam se bundel Tot verhaal kom met die RAU-prys vir Skeppende Skryfwerk bekroon. In sy commendatio het Willie Burger gesê: “Wat hierdie bundel van De Vries onderskei van verskeie ander werke waarin ‘heimwee na geborgenheid’ voorkom, en wat dit uiteindelik ook myns insiens ’n waardige pryswenner maak, is die manier waarop die heimwee nie bloot ’n melancholiese oproep van ‘n vergange (gewaande) paradys word nie. Dit is veel meer as ’n versugting na die goeie ou dae toe die ontreddering nie sterk was nie, toe ek nog geborge kon voel, nog tuis kon voel in my eie omgewing.

“So ’n soort melancholie is eintlik niks anders nie as ’n poging om te ontsnap van die hede en om in ’n illusie van die verlede te probeer geborgenheid vind. In Tot verhaal kom gaan dit nie, júis nie, om ’n melancholiese verlange na die goeie ou dae nie. Tot verhaal kom is nie ’n poging om die ruïnes van toe te probeer herstel nie, maar om sin van die hede te maak, om ’n greep te kry op hoe om die toekoms in te gaan.”

In sy bedankingswoord het Braam onder andere gesê: “Die kortverhaal is nie een van die mees geliefde prosavorms by verkope, vertaling en beprysing nie. Dié plek is nog altyd gereserveer vir die roman. Dit hoef niemand te verbaas nie. Die massamedia, TV en radio, het verhale en die vertel van verhale uit die letterkunde uitgehaal en teruggebring na waar dit hoort: Shakespeare en Goethe het al saamgestem: The art itself is nature ...

“Om stories te vertel is so normaal as om asem te haal. Ek ken nie ’n skrywer behalwe Hennie Aucamp (hy’s in Isidingo, man) wat nie versot is op 7de laan nie. Dis ’n uitstekende storie, dis vrouevriendelik – die vrouens is die sterkste karakters – en dit speel af in ’n droom van ’n Suid-Afrika.

“En soos daar in die skilderkuns verskillend gereageer is op fotografie, so reageer die roman en die kortverhaal verskillend op dié normalisering van verhale. Die roman brei uit, die kortverhaal word kompakter, die roman wil die leser huisves en bekend stel aan almal en alles, die kortverhaal belig vir ’n paar oomblikke lank die heroïese en die dwase, die walglike, die wonderbaarlike, die komieklike en die kranksinnige in die mens.

The short story, as I see it, allows for what is crazy about humanity: obstacles, inordinate heroism, immortal longings, sê Elizabeth Bowen. Romanskrywers is slim en geduldige mense, maar kortverhale doen ’n beroep op die leser se intelligensie en samewerking. Van skrywerskant het Hennie Aucamp dan ook al gesê: ‘Ek glo nie ’n skrywer wat na grootsheid streef, gaan die kortverhaal as medium kies nie. Maar iemand wat van suggestie, fantasie, poësie en vormdissipline hou, genees nooit van die kortverhaal nie.’

“’n Skrywer wat na eer en beprysing streef, sal ook nie die kortverhaal toelaat om hom/haar te kies nie. Voor ek Willie Burger (sameroeper van die RAU-pryskomitee) se telefoonoproep gekry het, het ek baie keer gesê dat ’n skrywer oor die sestig nie literêre pryse moet aanvaar nie omdat jy nooit weet of dit gehalte is wat bekroon word nie of bloot net uithouvermoë. Veral die rol van die jeug in hierdie bekroning het my oorgehaal tot ander insigte.

“Dat die toekenning in koerante aangeprys is as regstelling van ’n onreg, het my verbly maar ook regtig verbaas. Omdat ek my eie limiete en die grensloosheid van die kortverhaal ken, het ek nog nooit vir enige prys geskryf nie. Wie ’n wilde perd probeer ry, het nie altyd tyd om te sit en kyk wie van die toeskouers knik en wie frons nie. Vir diegene wat my as skrywer probeer benadeel het, ek is werklik jammer, maar ek het dit nooit agtergekom nie.

“Natuurlik is daar in my eie verhaal ook varke en luise en boewe en bliksems en magsmisbruikers. Ek kom ook mos maar hiervandaan. Ta ken mos vir ta. Maar in ’n kortverhaal is daar nie ruimte vir boewe en bliksems en almal wat ’n dergelike lewe ly ? [is dit hoe hy dit gespel het?] sonder ’n funksie nie. In een van my verhale, ‘Nag van die clown’, sê die clown geplaas in sy sirkusjargon vir die verteller: ‘Ek het gewonder, meester, ek het gewonder wie die script skryf, dat ons kan rondval met sulke perfect timing.’

“Daar is niks wat nié dié misterie vergroot nie.”

Tot verhaal kom is in 2003 deur Human & Rousseau gepubliseer. Braam het aan LitNet vertel dat hierdie verhale oor ’n tydperk van naastenby vyf jaar geskryf is. “André (P Brink) het in dié tyd drie romans geskryf, elkeen in Afrikaans én in Engels. Dis nie dat ek so stadig skryf nie, maar skryf is by my ’n proses: elkeen van die verhale is tot ses maal oorgeskryf; daaraan kan ek niks doen nie. Ek troos my aan wat David Kaplan eenmaal gesê het: Revising is what all good writers do. The purpose of a story is to rewrite it. Tolstoi het Oorlog en vrede agt maal oorgeskryf en toe selfs in die drukproewe nog verbeterings aangebring. Raymond Carver het tot veertien variasies geskryf van sy kortverhale. Hoe dit ook mag lyk, vlotheid, moeiteloosheid, ongedwongenheid kom in ’n verhaal nie vanself nie, dit kom met oorskryf. (...)

“Party van die stories het ontstaan en ontstaan nog uit goed wat Izak Bruwer of Stanley de Witt vertel het, vroeër my pa of een van sy vriende, uit iets wat ek in die plaaslike koerant (die Oudtshoorn Courant) gelees het of elders gehoor het – van Lydenburg tot Leipzig. Ek het nêrens verhale net opgeteken nie (nee, ook nie ou Paai s’n nie). Die plesier van vertel vir my is juis die herskepping van die vertellende stemme, watter stories ek hulle ook laat vertel. En dít is my ‘brood van vroeëre jare’, my ‘promise at dawn’, my ‘baksel in die môre’: dié stemme, die vertellers; dis mense wat in die Klein Karoo, nie net op Ladismith nie, bestáán of bestaan hét – sommige is al oorlede. Die idees, waarnemings, sinne, flardes gesprekke waaruit my verhale ontstaan, dié lê oral in boekies rond wat ek in my bosak kan dra. Maar hoe sal daar van dié veelstemmigheid iets oorbly as ek dit nie in die stories herskep nie?”

Oor die stad Dresden en die agtergrond agter die verhaal “Dagboek van ’n afloop” vertel Braam: “Wat het geword van daardie aantekeninge wat ek gemaak het toe ek in Leipzig die kongres gaan open het en ons kans gekry het om vir die eerste maal Dresden toe te gaan? Dresden, die simbool van sinlose geweld, selfs onder oorlogsomstandighede. Dresden, die stad met die twee gesigte. (Was dit Dresden wat my so morbied gestem het, of was dit die klomp Amerikaanse hotelle en plastiek en gemorskos en die Engelse se pogings tot afkopery van ‘Bomber’ Harris en sy vlieëniers se verwoesting van die stad?)

“’n Kunsstad, die pêrel van die Barok aan die Elbe, ’n stad van kunsgalerye en wêreldberoemde skilderye – dit was die gesig van die dag. Op 13 Februarie 1945, die aand, gooi 244 Lancasters 7 000 ton brandbomme af op hierdie stad. Op 14 Februarie (dit was Valentynsdag) herhaal die Amerikaners vir nog 11 minute lank die slagting: hulle bombardeer die ruïnes en die ingangsroetes waar die mense heen gevlug het uit die brandende stad. Oor Dresden het die Geallieerdes en die Nazi’s vir een waansinnige etmaal plekke omgeruil in ’n soort wedloop om die hoogtepunt van sinlose geweld. Op 16 Februarie verwys Associated Press daarna as terreurbombardemente wat daarop ingestel was om die gewone mense se moed te breek. Dit was die ander gesig van Dresden. Ek het Harry Mulisch en Kurt Vonnegut se romans oor die verwoesting van Dresden geken, maar nie Victor Klemperer se dagboek, Tot het bittere einde, nie.

“Ek het toe nog nie geweet nie … in verband met Dresden is daar ook die vreemde toevallighede: kort nadat Jurg Friedrich se Der Branden verskyn, ’n verslag van ’n historiese ondersoek na bombardemente op Duitse stede buite die oorlogsgebied, publiseer Günter Grass ook sy Im Krebsgang (Kreeftegang) oor die sink van ’n hospitaalskip net buite die hawe van Goterhaven by Danzig met 10 000 aan boord, onder wie ook terugtrekkende Duitse soldate. Stukke Duitse geskiedenis waarin Duitsers die slagoffers was, was lank gehul in swye vanweë die Duitsers se skuldgevoelens oor die Nazi-tydperk. Die laaste keer wat ek aan die verhaal gewerk het, het ek besluit om die oorspronklike vorm (die aantekeninge) te behou.

“Daardie gil is die slot. Een nag laat in Amsterdam – ons het langs ’n grag af gestap terug na ons woonplek toe – het ek dié gil gehoor wat ek met die skryf verplaas het Dresden toe. Munch se skildery van die gillende vrou was in my gedagtes en later, terwyl ek nog aan die verhaal gewerk het, die televisiebeeld van daardie rou, allesdeurdringende snikke van die Irakse seuntjie wie se arms en bene deur die Amerikaners afgeskiet is. Selfs in die hel wat die Bushe en die Blairs en die Hoesseins van hierdie wêreld skep met hulle kamma-godsdienstige gebrabbel, is daardie ‘oerkreet van alle dinge’ die heel laaste opstand téén geweld, téén ontmensliking, die heel laaste bevestiging van bestáán.

“Hoekom Dresden? Ek het dit, toe ek daarmee besig was, nie geweet nie, ek weet dit nou. ’n Moord naby ons huis in Kaapstad en die plaasmoord op Ladismith (albei het werklik ook gebeur) het my opnuut bewus gemaak van die twee gesigte van ook ons land. (Ek het dit nooit só vir myself gesit en sê soos ek dit nou hier skryf nie.) Aan die een kant is daar die ongekende vooruitgang, daar is internasionale erkenning, die gevoel van euforie wat moeilik is om te onderdruk, van bevryding, van ons het almal weer ’n toekoms. Totsiens aan die verdomde broertjies en walglike politici met hul leuens en korrupsie en pretensies en mensonterende eiegeregtigheid wat van my pa ’n ou man gemaak het voor sy tyd. Wie wil nie graag hê dit moet goed gaan nie? Dis die gesig van die dag. Maar ek het geruime tyd al (sonder dat dit my erg ontstel het) byna weggesteekte syfers in koerante begin raaklees. ’n Antwoord byvoorbeeld op ’n vraag in die parlement: daar was die afgelope tien jaar 250 000 moorde (vier maal Nuweland vol dooies). Daar was 14 000 plaasaanvalle. Daar was onmenslike wreedheid, daar was die verkragting van klein kindertjies. ’n Ou walging in blatante oneerlikheid het teruggekeer elke keer as ek ’n politikus dié geweld, dié voor die hand liggende probleme hoor invee onder die tapyte van bevryding en demokrasie. Dis die ander gesig van die land: dat dit een van die gewelddadigste lande ter wêreld is. Die gesig van die nag.”

In 2005 ontvang De Vries die Patrick Petersen Gedenktoekenning. Die toekenning word jaarliks gedoen aan ’n skrywer wat die doelstellings van die Afrikaanse Skrywersvereniging nastreef, uitleef en onderskryf. Braam was nie net instrumenteel in die stigting van hierdie inklusiewe skrywersorganisasie in 1996 nie, hy was ook een van die leidende figure in die skryf van die grondwet.

In 2007 het Braam aan Rachelle Greeff gesê dat die probleme van die Afrikaanse boek nie by die skrywers lê nie, maar by die feit dat sommige uitgewerye deel is van maatskappye wat op die aandelebeurs genoteer is. “Ek weet goed daar is voordele ook, beslissende voordele, maar as met ’n kleiner taal gebeur wat ná 1994 met Afrikaans gebeur het, verkope wat op party plekke ineengestort het en weer opgebou moes word, ly die skrywer en/of die koper van boeke skade, want die uitgewer moet oor sy skouer bly kyk na die aandeelhouer se winste. Skrywer en koper is al wat nie aan daardie kraal behoort nie.

“Afrikaanse skrywers het met die nuwe kontrakte ’n minimum van R10 op ’n boek van R114 verloor. Die grap is natuurlik dat dit nie juis die uitgewerye is wat dié maatskappye se aandele laat styg nie, dis wêreldgehalte-entrepreneurskap se internasionalisering. Uitgewerye in so ’n omgewing kan egter nie agterbly nie. Dis hoekom ek wonder of hulle daar hoort. Klein, laerkoste-uitgewerye en veral die al hoe meer boekhandelprestasies is vir die hele Suid-Afrikaanse letterkunde nog steeds van gróót belang.”

Willie Burger skryf as volg oor Braam se bundel Verbeel jou dis somer wat in 2009 verskyn het: “Die ­verhale is meer as plaaslike ­pogings tot singewing wat net ­naïewe, lokale ­vertellings sou wees. De Vries lê ­herhaaldelik bloot hoe uitgesoek en wat weggelaat is uit die vertellings. Hy wys hoe die plot uitgewerk is en ­sodoende rafel al die verhale as’t ware uit. Die verhale word nie sluitende stories wat sin gee nie. Ons begrip – deur middel van vertelling – word telkens geproblematiseer deur een vertelling in ’n ­groter verhaal in te bed.

“Waar die kontreiverhaal dalk nog vroeër kon troos, word ­hierdie verhale telkens teen die agtergrond van die wêrelddorp onthutsend. Die eerste verhaal in die bundel se openingsparagraaf suggereer al dat geen sluitende storie aangebied kan word nie: ‘Die begin van die beloofde ­verhaal stuur ek nou vir jou. Hoe verder, dit weet ek nog nie.’

“Hierdie onvermoë om te voltooi oorheers in die bundel. Ook die slotverhaal word in twee dele ­aangebied: ‘die storie’ en ‘die ­geskiedenis’. In hierdie tweede deel word die mooi liefdesverhaal van die eerste deel gekontekstualiseer. Die klein dorpsvertelling word in die wêrelddorp geplaas.

“Om oorhaastig te besluit hierdie bundel is nóg ’n tirade oor verval in die land of teen globaliserende kragte, sou ’n fout wees. Soos in Tot verhaal kom word nostalgie na die ­vorige ­bedeling ­afgewys. Ou murasies word nie bloot gerestoureer nie. Daar word opnuut gebou, omdat bou en ­aanleef en vertel al is wat ’n mens kan doen. Maar ’n mens kan net hiér, in jou eie kontrei bou en ­liefhê en hoop en jou verbeel dit is ­somer.
De Vries keer die kontrei­vertelling op sy kop, plaas dit in die wêrelddorp. Sodoende lewer hy ’n vernuftige bydrae tot ons dink oor die spanning tussen die lokale en die globale. Die kompleksiteit van hierdie spanning blyk nie soseer uit die argumente nie, maar uit die belewenis van die ­stories wat juis só vertel word dat ons maniere van sinmaak ­bevraagteken word.”

Hans Ester, professor in die lettere aan die Radboud Universiteit Nijmegen, kies Verbeel jou dis somer as een van die beste kortverhaalbundels wat in 2009 gepubliseer is: “Hierdie stories lê so naby aan die aarde, nie net die rooi aarde van die Klein Karoo nie. Hulle herinner aan jou eie lewenservarings. Hulle doen ook reg aan die waarheid van die lewe dat elke ervaring in ’n samehang gebring en begryp word. Wat jy onthou van die dinge wat jy belewe het, is ’n vorm van verwerking en van kommunikasie. Ek ken geen ander skrywers in Afrikaans wat so oortuigend aangetoon het hoe belangrik die menslike gesprek in ’n samelewing is nie. Daarom is die wêreld vol stories. Braam de Vries kan uitstekend luister na wat mense vertel wat ander mense aan hulle vertel het. Daar is ’n element van weldadige troos in De Vries se stories. Dit hang met sy subtiele humor saam, ’n glimlag wat die menslikhede aanvaar. Egter, met kennis van die uiterstes. Vir die idille moet jy as leser wel betaal met aanvaarding van die geniepsighede van die mensdom.”

In 2011 verskyn Die behoue huis, ’n keur uit veral sy laaste drie “ernstige” bundels. In sy inleiding tot hierdie keur skryf Wium van Zyl: “Geen kortverhaalskrywer in Afrikaans ewenaar De Vries se volgehoue uitdaging aan sy leser nie: die intens gekonsentreerde intriges, die kriptiese weergawe van hele lewensgeskiedenisse in volle verwikkeldheid en daaragter tergende oerbeelde uit die kollektiewe onbewuste (die towenaar, die idioot, die jokkie, die clown) met beheer oor dood en lewe, oor verval en opbou ... De Vries bly ’n maatskaplik betrokke skrywer (...) ’n skrywer wat te midde van ons land se nimmereindigend kwellende geskiedenis in ’n deur kritici afgeskeepte genre sy skrywerskap aanhou verfyn het om ’n groot oeuvre tot stand te bring wat vreesloos wonder oor die raaisels van die menslike bestaan.”

Die verhale in Die behoue huis is deur die skrywer self uitgekies uit Soms op ’n reis: ’n keur (1987), Nag van die clown (1989), Skaduwees tussen skaduwees (1997), Tot verhaal kom (2003) en Verbeel jou dis somer (2009).

In Skaduwees tussen skaduwees vat Braam die Kannalandse oerbronne waaruit sy verhaalkuns ontstaan het, só saam: “Ek het grootgeword met diewe en moordenaars wat ontsnap het en dan in vervalle murasies of in Swartberg se klowe tussen ruie bosse wegkruip. Gange waarin iemand afstap en dan skielik die reuk van die dood kry, vrouens wie se hare in een nag heel­temal grys word, gesmoorde gille, dig toe vertrekke waarin klippe of klonte vars bloed op mense val, dit het nie net in my nagmerries bestaan nie. Maar daar was ook dié stories wat jou ­gevoelens verwar het ...,” skryf Wium van Zyl met Braam se 75ste verjaardag in 2012. Op abstrakter vlak verwys hy daarna as die onbegryplike, die verskriklike, die onverwagte en (soms) droefheid. Die meestervertellers van die Klein Karoo was inderdaad vir hom rigtingwysers, hoewel sy groot kundigheid oor literêre teorie steeds meespeel.

Volgens Van Zyl is dit dus uiters gepas dat die KKNK in 2012 aan Braam ’n Afrikaans Onbeperk-toekenning vir Lewensbydrae toegeken het. En is dit ook verblydend dat daar na hom as beide “meesterkortverhaalskrywer” en “kontreistorieverteller” verwys word. Van Zyl gaan voort: “Die ­vernaamste rede waarom hy oor die jare so stief behandel is deur onder andere die toekenners van Akademie-pryse is waarskynlik dat
die hoë ­letterhere en -dames daardeur verwar is dat hy twee oeuvres uit­gebou het.

“Allereers is daar die ‘ernstige’ verhale, altyd nog die kern van sy werk, en waarvan verlede jaar ’n bloem­lesing, Die ­behoue huis, verskyn het.

“Daarteenoor staan die komiese kontreistories soos in Rooikoos Willemse is soek (2006), net mooi dit wat geleerdes ­afskrik. Wat die saak nog ingewikkelder maak, is dat De Vries soms glim­lagstories as springplank gebruik na die groot temas van die wê­reld­­letterkunde. Daarvan is die einste Rooi Koos, wie se bravade by dorpsrugby hom in ’n diepe eksistensiële krisis laat beland, ’n sprekende voorbeeld. Miskien is De Vries se grootste sonde juis dat hy ‘gevoelens verwar’.

“Deurgaans het ’n mens by hom met ’n vakman te make op soek na nuwe ­maniere van vertel. Dit is daarom nie verbasend nie dat ’n jonger skrywer soos Etienne van Heerden juis De Vries se werk vir ’n ­doktors­graad gekies het. Met sy studies oor die kortverhaal en die Groot ­Afrikaanse Kortverhaalboek het De Vries bowendien al ’n reusebydrae tot die Afrikaanse literatuurwetenskap gelewer.

“Nog ’n sonde is hoeka dat hy by ­uitstek kortverhaalskrywer is. Dit is ’n genre wat by pryse ­ontereg gereeld laer as die roman aangeslaan word. De Vries se werk self laat al sien hoe ’n mistasting dit is. ’n Enkele bundel van hom, dikwels selfs ’n enkele verhaal, stel groter eise aan die leser en omvat meer as die meeste romans.

“Daarom is die tyd ryp vir die instel van ’n jaarlikse Abraham H de Vries-prys vir die Afrikaanse kortverhaal, by uitstek die genre vir die volgehoue verfyning van ons prosa. Intussen sal sy eie werk bly flonker vir wie dit ­ook al oopslaan lank-lank nadat ­berigte oor pryswenners vergeel het.”

Tydens die KKNK van 2012 het Braam se skatkis van verhale en staaltjies oor die Klein Karoo beslag gekry in die produksie Smelt wat daar opgevoer is. Die teks is deur Saartjie Botha geskryf.

Oor ’n boek wat sy lewe verander het, vertel Braam: “Dit was nie van die boek léés nie; toe ek Zorba die Griek van Kazantzakis die eerste maal gelees het, het ek Anthony Quinn se vertolking in die Amerikaanse moord op dié boek in my kop gehad. G’n wonder die Kretensers het hom die dorp uitgejaag nie, agter sy kamma robuustheid kon jy die naskeermiddel ruik.

“Nee, dit was nie met die eerste lees nie, dit was met die vertaling. Bartho Smit (die vader van die Sestigerbeweging, indien iemand nog nie weet nie) was uitgewer by die ou APB en hy het ’n reeks ‘Wêreldletterkunde’-boeke laat vertaal. Ek was pas uit Spanje terug waar ek Afspraak met eergister, die reisboek oor Griekeland, gaan sit en skryf het. Nee, natuurlik ken ek nie Grieks nie. (Die meeste Afrikaanse boeke word ook uit Engels uit in die ander tale vertaal.) Geen probleem vir Smit nie; ek moes die vertaling ‘so oor ’n maand’ gereed hê.

“Dis in my studentejare se buitekamer op Winkelplaas waar ek Kazantzakis se Alexis Zorbas, die man wat duisend jaar moes gelewe het, leer ken het. Die man wat probleme met dade beantwoord, die oermens met sy bouzouki wat hy so jaloers soos ’n siel bewaar.

“Vertaling, sê die Italianers, is verraad. Die uitdaging was om Zorba nié te vertaal nie, maar te herskep, in Afrikaans geloofwaardig te maak. Hoe sou hy antwoord op ‘meester’ se vrae? (Anders as ’n kortverhaal laat ’n roman skynbaar stukke swak skryfwerk toe; as jy die geheel lees, kom jy dit nie agter nie.)

“En teenoor Zorba: Kazantzakis se ‘meester’, die twyfelaar, die boekwurm, die alter ego van die verteller in die onverbeterlike Report to Greco. Vreemd dat die edele Kazantzakis so byna vergete is. Sy graf is op die groot muur van Herakleon, met geen steen nie; net ’n ruwe houtkruis bespeel die wind.”

Oor sy “vertellery” bely Braam teenoor Kirby van der Merwe: “Ek is en bly net ’n storieverteller. Ek het nog nooit voorgegee ek is dié groot verteller nie. Dit sou verkeerd wees om voor te gee dat ek dié groot verteller is. Ons put almal uit baie bronne. Ek het die voorreg gehad om te kon luister na vertellers in murg en been, want ek het tussen hulle grootgeword. Pa was een van hulle.

“Ou Paai kon ’n Saterdagoggend lank in die middel van die hoofstraat in Ladismith staan en konsert hou. Nou is die grootste verteller in die kontrei Izak Bruwer en moenie vir Stanley de Wit met sy koeistorie vergeet nie.

“Wanneer ek verhale maak van vertellings, is die kuns om ’n ding so te vertel dat ’n mens die náklank van die vertelling nog kan byhoor. Dan is dit nodig dat jy in jou kop ’n klomp stemme het – dat jy weet hoe vertel Pa, Izak, Stanley, my suster, ’n storie. Dis hulle wat die borrels in die stories inpraat.”

Dis aan een van hierdie vertellers, sy vriend Izak, dat sy bundel Op die wye oop Karoo (2002) opgedra is. Izak vertel dat hy partymaal in die veld rondstap en die hardste stukkies hout wat hy kan kry, optel en vir Braam neem. Dis vir hom altyd mooi om te sien hoe ’n meester te werk gaan om fyn meubeltjies daarvan te maak.

Braam de Vries word beskou as een van die belangrikste vernuwers van die kortverhaal in Afrikaans. Hy skryf sy vermoë om woorde “só fyn te timmer” toe aan sy studie en kennis van Nederlands, maar veral aan die invloed van twee groot leermeesters in Amsterdam, WG Hellinga en Merwe Scholtz: “Hulle kón die woord, Afrikaans en Nederlands, meet en pas.”

André P Brink beskryf Braam de Vries as ’n skrywer wat “die hele kortverhaalgenre binneste-buite kan keer”. En Joan Hambidge sê: “Ek ken min skrywers wat ’n mens so bewus kan maak van die onafheid van alles, die gebrokenheid van die wêreld.”

Etienne van Heerden het in sy Postmodernisme en prosa: vertelstrategieë in vyf verhale van Abraham de Vries aangedui hoe postmodernisties De Vries te werk gaan. Tekste en sitate uit ander tekste word betrek, regte mense en regte plekke genoem en gefiksionaliseer, die ruimte word ’n karakter in die verhaal en daar is die oop slot. Dit verklaar ook hoekom die leser fyn moet lees, want met hierdie meester kan jy jou lelik vasloop en van die betekenisnuanses mislees, skryf Marius Crous in sy resensie van Die behoue huis.

Crous wil egter nie voornemende lesers afskrik nie. De Vries slaag daarin om met sy goedgekose titels en sy storietrant-insette die leser gou in te lok in sy verhaal in. Dikwels begin die verhaal oënskynlik eenvoudig met ’n voorval van ’n karakter met ’n goedige naam soos Miss Maggy of ’n brief of ’n oproep wat van iewers af ontvang word. Die storie loop dan sy gang, maar word ingevleg met verskeie postmodernistiese stylgrepe en ’n bewustelike besinning oor die skryf van stories.

In die voorwoord tot Die behoue huis skryf Wium van Zyl tereg dat die leser dikwels in een verhaal van De Vries “meer moet verwerk as in die oorgrote meerderheid literêre romans”.   

Met Braam se 70ste verjaardag het Christine Barkhuizen-Le Roux die volgende gedig geskryf:

’n Stopseltjie vir Braam – op 70

hy roer die geure om en om 
stryk oor die wit kenbaard en kop
druk hier en daar ’n knypie twak
verbode feit met duim en vingers vas
blaas ring op ring gedagtes uit
soos wat hy aansteek teug en trek

’n nuwe stopsel vir ’n dampie slaan
meng hy en maak dit vurig brand
totdat die hele Kannaland se berg
van swart tot rookwit wolke skuim

die kinders van die Klein Karoo
sal eeulank met sý pruimpies pronk
toorstories uit hul heer se pyp:
Abraham de Vries van Donk.

Publikasies:

Publikasie

Hoog teen die heuningkrans

Publikasiedatum

  • 1956
  • 1958

ISBN

(hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Culemborg
  • Kaapstad: HAUM

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

  • Reina Prinsen Geerligsprys 1962

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Verlore erwe

Publikasiedatum

  • 1957
  • 1960

ISBN

(hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Culemborg
  • Kaapstad: HAUM

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Reina Prinsen Geerligsprys 1962

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Proegoed

Publikasiedatum

1959

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: HAUM

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Vetkers en neonlig

Publikasiedatum

  • 1960
  • 1962
  • 1966

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: HAUM

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

  • Eugène Maraisprys 1967 (vir al sy prosawerke)

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Dubbeldoor: Kaapstad – Amsterdam – Kaapstad

Publikasiedatum

  • 1963
  • 1980

ISBN

0624013731

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Eugène Maraisprys 1967 (vir al sy prosawerke)

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die rustelose sjalom

Publikasiedatum

  • 1965
  • 1967

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Reisverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Vliegoog

Publikasiedatum

1965

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

  • Eugène Maraisprys 1967 (vir al sy prosawerke)

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kruispad: ’n novelle

Publikasiedatum

1966

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Novelle

Pryse toegeken

Eugène Maraisprys 1967 (vir al sy prosawerke)

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Dorp in die Klein Karoo

Publikasiedatum

  • 1966
  • 1971
  • 1973
  • 1974

ISBN

062800324 (hb)

Uitgewer

Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Eugène Maraisprys 1967 (vir al sy prosawerke)

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Afspraak met eergister: Griekse reisjoernaal Oktober 1965 tot April 1966

Publikasiedatum

1966

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Reisverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Joernaal uit ’n gragtehuis

Publikasiedatum

1968

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk

Literêre vorm

Reisverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Twee maal om die son

Publikasiedatum

1969

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Volmoed se gasie

Publikasiedatum

  • 1972
  • 1976
  • 1982
  • 1987

ISBN

  • 0798102330 (hb)
  • 0798113413 (hb)
  • 0798121203 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Briekwa

Publikasiedatum

  • 1973
  • 1975

ISBN

0628004427 (hb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

  • Perskorprys 1973

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Bliksoldate bloei nie

Publikasiedatum

1975

ISBN

0798106409 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Legkaart

Publikasiedatum

1976 (Grootdrukuitgawe)

ISBN

0909231222 (hb)

Uitgewer

  • Pretoria: Makro

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die Klein Karoo: ’n legkaart

Publikasiedatum

1977

ISBN

062401004X (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kontrei + fotoboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die uur van die idiote

Publikasiedatum

1980

ISBN

0798110473 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kortom: ’n gids by die Afrikaanse kortverhaalboek

Publikasiedatum

1983

ISBN

0868741701 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Academica

Literêre vorm

Literêre kritiek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Soms op ’n reis.Saamgestel deur André P Brink

Publikasiedatum

1987

ISBN

0798120754 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Nag van die clown

Publikasiedatum

1989

ISBN

0798126132 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

’n Plaaswinkel naby oral

Publikasiedatum

1994

ISBN

079813309 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Skaduwee tussen skaduwees

Publikasiedatum

1997

ISBN

079813688X (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kort vertel: aspekte van die Afrikaanse kortverhaal

Publikasiedatum

1998

ISBN

9074112153 (sb)

Uitgewer

Amsterdam: Suid-Afrikaanse Instituut

Literêre vorm

Literêre kritiek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Op die wye oop Karoo: plaaswinkelstories uit die Klein Karoo

Publikasiedatum

2002

ISBN

0798142251 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Tot verhaal kom

Publikasiedatum

2003

ISBN

0798143533 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

  • RAU-prys vir Skeppende Skryfwerk 2004

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Verhale uit ’n koel voorhuis: die Klein Karoo eersteling

Publikasiedatum

2005

ISBN

1869191269 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Rooikoos Willemse is soek

Publikasiedatum

2006

ISBN

0798146982 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Onder hoë sterre

Publikasiedatum

2006

ISBN

9781869191276 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Verbeel jou dis somer

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780798149211 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die behoue huis: ’n keur uit die kortverhale van Abraham H de Vries

Publikasiedatum

2011

ISBN

9780798152792 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Publikasies onder skuilnaam

  • Van der Vyver, Thys: Die swart sirkel: ’n speurverhaal. Kaapstad: Tafelberg, 1961
  • Van der Vyver, Thys: Mense agter glas. Johannesburg: Erica-uitgewers, 1965
  • Van der Vyver, Thys: Alibi van ’n verdagte. Kaapstad: Tafelberg, 1972

Abraham H de Vries as samesteller

Abraham H de Vries as redakteur

  • Jonker, Ingrid: Versamelde werke. Johannesburg: Perskor; Kaapstad: Human & Rousseau, 1975, 1983, 1994
  • Op die wyse van die taal: ’n huldigingsbundel ter geleentheid van prof Merwe Scholtz se 65ste verjaardag, 8 Julie 1989. Vlaeberg: Vlaeberg Uitgewers, 1989

Abraham H de Vries as vertaler

  • Hedayat, Sadegh: Die blinde uil. Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel, 1965
  • Gijsen, Marnix: Jojakim van Babilon. Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel, 1967
  • Kazantzakis, Nikos: Zorba die Griek. Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel, 1968
  • Maugham, W Somerset: Die vonnis. Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel, 1968
  • Van Dis, Adriaan: Palmwyn. Kaapstad: Human & Rousseau, 2001

Publikasies oor Abraham H de Vries

’n Keur van artikels oor Abraham H de Vries op die internet

’n Keur van artikels deur Abraham H de Vries beskikbaar op die internet

 

Bygewerk: 2012-05-04
Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan album@litnet.co.za

Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address