WF 2015: Hier is die finaliste!

  • 0

Elzette Steenkamp, ’n kenner op die gebied van wetenskapfiksie, het LitNet Akademies gehelp om deur die meer as 70 inskrywings te sif vir die tien beste kortverhale. Die wenner van dié kompetisie, die grootste kortverhaalwedstryd vir hoërskoolleerders, stap weg met ’n kontantprys van R4000 en ’n Kindle Fire-bondel.

Hier is die finaliste:

Marilene Blom

"Volgende" deur Marilene Blom

Elzette sê: My persoonlike gunsteling. Die volgende evolusie van die mens is ’n tema wat gereeld in WF-verhale soos X-men en Heroes uitgebeeld word. Hierdie kortverhaal volg nie die voorspelbare "super-mens"-troop nie, maar bied ’n ekologies sensitiewe uitbeelding van homo sapiens se moontlike opvolgers. Roerend en beslis ’n talentvolle jong skrywer.

Christine Viviers

"Invallers" deur Christine Vivier

Elzette sê: ’n Interessante blik op die "invallers uit die buitenste ruim"-tema – hierdie een het ’n angel.

Sue-AnjaBresler

"B-56371" deur Sue-Anja Bresler

Elzette sê: Hierdie spekulatiewe verhaal speel af in ’n wêreld verpletter deur die Derde Wêreldoorlog. Oortuigende dialoog, genoeg aksie om die aandag te hou en dit laat jou met ’n gevoel van ongemak. Is ’n superwapen soos die een wat in die verhaal uitgebeeld word, ooit werklik veilig – selfs in die hande van die "goeie ouens"?

Tamara Jonas

"Wie is ek?" deur Tamara Jonas

Elzette sê: Hierdie verhaal gebruik die nanotegnologie-novum om vrae rondom identiteit te ondersoek. Wat maak jou jy?

Handre

"Tyd wag nie" deur Handré Jankowitz

Elzette sê: Aksiebelaaide avontuur volg ’n kloon-tydsreisiger se poging om sy oorspronklike "weergawe" te red. Die einde het ’n lekker angel.

Telisa Lombard

"Om ’n hart te hê" deur Telisa Lombard

Elzette sê: ’n Interessante blik op kunsmatige intelligensie en identiteitsvorming. Wat beteken dit om mens te wees?

JuaneCronje

"Om die son te sien" deur Juané Cronjé

Elzette sê: Wat sal gebeur met die mensdom as onafhanklike denke en emosie onderdruk word? Sou jy kies om jou eie mens te wees selfs al weet jy dit is kortstondig en dat dit sonder twyfel tot jou einde sal lei?

aldennovember

"Eindtyd" deur Alden November

Elzette sê: Hierdie donker verhaal van verlies speel af teen die agtergrond van die bekende WF-ruimtewese-inval-tema, maar die "aliens" is nie die sentrale konflik in die verhaal nie.

Karla Muller

"Gisters" deur Karla Muller

Elzette sê: ’n Interessante konsep – Gisters is ’n organisasie wat gestig is om geskiedkundige raaisels op te los. Ons protagonis, ’n tydreisiger, bevind haar op die Titanic – minute voor die noodlottige botsing met die ysberg. Was dit bloot ’n ongeluk?

theabooysen

"Die einde" deur Thea Booysen

Elzette sê: ’n Ekologiese "cautionary tale". Die mensdom is uitgewis as gevolg van ons onverskillige misbruik van die aarde se natuurlike hulpbronne. Die enigste oorlewende en haar (sy?) labrador kerf ’n bestaan uit in die bouvalle van die eertydse beskawing, maar alles is nie heeltemal pluis nie.

Ons beoordelaars, Eldridge Jason, Elizabeth Wasserman, Fanie Viljoen en Koos Kombuis, moet nou die moeilike taak aanpak om die wenners uit die tien finaliste aan te wys.

Lees nog oor die LitNet Akademies WF-skryfkompetisie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top