WF 2015: Gisters

  • 1

Die ritme van my koue voete wat op die metaalplate klap, weergalm in die gang. "Ekskuus ... jammer," sê ek uit gewoonte terwyl ek verby ’n groep van die bemanning wat op die onderste vlak van die Titanic werk, hardloop. Hulle kan my eintlik nie sien in die onsigbare uniform wat ek aanhet nie. Ek het minute voor die reuseskip vermoedelik met die ysberg bots. Ek hardloop by die reuse-eetsaal verby. Dit voel of my hart in stukke wil breek elke keer as ek ’n huilende baba of ’n laggende familie waarneem. Hulle het geen idee wat op hulle wag nie. Ek ignoreer my omgewing soos ek opgelei is, en fokus op my missie. Ek hardloop volspoed na die stuurboord, waar ek weet die kaptein gaan wees.

Terwyl ek hardloop na my koördinate, dink ek aan die wonder van my werk as ’n Gisters-agent. My professor het altyd gesê dat wanneer jy voel dat alles te veel raak, moet jy net deurdruk. Gisters is in 2279 gestig. Die organisasie is gestig om deur tyd te reis en geskiedkundige gebeure wat onopgeloste of raaiselagtige vrae het, op te los. Jy word van ’n jong ouderdom af opgelei en indien jy suksesvol is, word jy bevorder na een van vele groepe wat op missies gestuur word. Ek was nog nie op baie missies nie en is nog nie eens ’n jaar deel van die agentskap nie. Op sestien weet ek dit is wat ek vir altyd wil doen.

Tot dusver was een van my gunstelingoomblikke die dag toe ons moes bewys dat Neil Armstrong wel die eerste man op die maan was, daardie gevoel toe hy sy eerste tree neem en die wêreld stil word. Selfs die keer toe ek eerstehands kon toekyk hoe soldate met hulle families herenig is na die Derde Wêreldoorlog en kon sien hoe die wêreld vir eens verenig word. My grootste gunstelingoomblik was toe ek tussen die juigende skare staan en kyk hoe Nelson Mandela vrygelaat word. Al hierdie oomblikke maak die hartseer gebeure van my werk die moeite werd.

"Amalia, is jy in posisie?" kom Lukas se stem deur my gehoorstuk. Ek beweeg die vertrek binne vanwaar die massiewe skip gestuur word. "Ja, in posisie," antwoord ek. Ek beweeg na ’n area waar ek in niemand se pad sal wees nie en alles fyn kan observeer. ’n Bemanningslid kom die vertrek binne en gee aan die kaptein ’n papiertjie. Hy lyk angstig. ’n Senior bemanningslid vra vir die kaptein wat aangaan en nog voor die kaptein antwoord, weet ek wat hy gaan sê. Daar is gerugte van ysberge in hul area. Die senior bemanningslid vra die kaptein of hulle van koers moet verander. Die kaptein skud sy kop: ons sal maklik uit die gevaarsone kan bly, geen rede om tyd te mors nie. Ek byt my onderlip sodat ek nie uitskree dat hy van rigting moet verander of omdraai of enigiets nie – want oor ’n paar minute gaan dit te laat wees.

"Die kaptein het inligting ontvang van moontlike ysberge op hulle roete. Hy glo dat hulle dit kan vermy," doen ek verslag. "Dit klink of die tragedie veroorsaak is deur die kaptein se verkeerde besluitneming," klink Rieka se stem oor die lyn. "Dit klink so," antwoord Victor. "Daar is nog ’n volle vyf minute oor en julle weet in ons lyn van werk is vyf minute ’n ewigheid," beduie Leon, ons bevelvoerder. "Reg so, baas," herken ek Lukas se stem.

Na ’n minuut rapporteer almal dat daar nog niks verder vreemds gebeur het nie. "Ek kry ons vervoer solank reg, kry julle almal by die TRM (tydreismasjien),” beveel Leon. Al gaan die skip eers sink ’n uur of twee nadat dit die ysberg tref, is die TRM geprogrammeer om op ’n spesifieke tyd terug te keer na die basis. Ek is net van plan om te gaan, toe ’n jong man wat soos ’n bemanningslid aangetrek is, binnekom. Hy kyk senuweeagtig rond en wanneer hy sien dat niemand hom dophou nie, druk hy ’n klomp knoppies op die paneel voor hom. Dan stap hy vinnig weg. Ek volg hom dadelik. Hy kom tot stilstand voor ’n man in sy middeldertigs. “Het jy dit gedoen?” vra die ouer man. “Ja, wanneer word ek betaal?” Die jong man lyk baie agterdogtig. “Die baas sal jou betaal sodra hy weet die skip het nie sy reis voltooi nie.” Die ouer man gee die jong man ’n papiertjie en stap weg. “Wag, hoekom moet die skip gesink word? Hier is soveel mense ...” begin die jong man. Die ouer man lag bitter “Die baas het ’n wrok teen die man wat die skip gebou het, en hier is mos genoeg reddingsbootjies, die mense sal oukei wees. Die Titanic, aan die ander kant –” hy verdwyn in die skadu's. Die jong man staan en staar na die papiertjie in sy hand.

Ek moet weet wat op die papiertjie geskryf staan. Ek loer oor sy skouer. Ek lees: “Sien jou na die reddingspoging, dan sal ek jou geld vir jou gee. Jonathan Francis Higgins.”

"Amalia? Waar is jy?" hoor ek Lukas se benoude stem. "Ek is op pad!" antwoord ek en begin hardloop. Ek kyk vinnig af na my horlosie. Ek het agt sekondes oor! My hart klop woes en my asem jaag. Ek is amper daar, kom, hardloop! Ek kan die TRM sien. ’n Wit lig begin om hom skyn. "Hardloop!" skree Lukas. Ek gaan dit nie maak nie, ek gaan saam met meer as eenduisend vyfhonderd mense met die skip sink. Die lig raak so helder dat ek nie kan sien nie en ek spring.

"Amalia?" My naam weerklink deur my brein en ek probeer vasstel waar ek is. Ek sit penorent. "Wat?"

"Jy is oukei," sug Lukas met ’n glimlag. "Wat het jy gedink!" raas Leon. Ek glimlag flou. "Meer soos, wat het ek so pas uitgevind ..."

Lees nog oor die LitNet Akademies WF-skryfkompetisie

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top