Na die Derde Wêreldoorlog is die wêreld in chaos gedompel. Die oorlog, bomme en siektes het miljoene mense uitgewis. Die mense wat oorgebly het, is in twee groepe verdeel. Die eerste groep is die Saevio, die wêreldwye regering en dié wat hulle blindelings volg. Die tweede groep is die rebelle wat die Saevio beveg met alles wat hulle het. Oral leef mense in vrees.
Die TV in die kroeg speel niks behalwe ou rugbywedstryde nie. Die stoele is ongemaklik, maar dis beter as om die hele aand alleen in sy kamer te sit. Op die skerm het een of ander eens-bekende rugbyspeler so pas ’n drie gedruk toe iemand op die stoel langs syne kom sit. Hy kan nie sy oë nie van die rooikop langs hom wegskeur nie. Beeldskoon … 16 of 17, beslis nie ’n rebel nie. Sy hoort nie hier nie. Met “hier” bedoel hy hierdie wêreld. In hierdie oorlog wat nie een van hulle begin het nie, maar waaraan almal gedwing is om deel te neem. Sy was nooit veronderstel om te baklei vir oorlewing nie. Sy was veronderstel om matriek deur te kom met erekleure, universiteit toe te gaan, te trou en kinders te hê. Sy was veronderstel om ’n normale lewe te hê, nie op 16 of 17 in ’n kroeg te sit en te probeer vergeet wat sy alles verloor het nie.
“Is jy oukei?” vra sy skielik. Sy praat Afrikaans met ’n vreemde aksent. Vlugteling, ruk lank al hier? “Ja, ek’s fine. Hoekom?” Sy glimlag. “Ag, ek dog ek vra maar, since jy net na my gestaar het en skielik jou kop begin skud het.” Hy kan sy ore voel rooi word. “Sorry. Ek dink maar net.” Sy trek haar skouers op. “Ek’s Natasha, by the way.”
“Quintin.” Weer ’n stilte. “Welkom in Suid-Afrika, Natasha.” Sy kyk verbaas op. “Hoe het jy geweet?” Hy trek sy skouers op. “Die aksent het jou verklap.” Sy staan op en tel haar leerbaadjie van die tafelblad af op. “Kom ons hou dit net Natasha,” sê sy ysig en loop by die kroeg uit.
Dis koud buite, die wasem slaan teen sy gesig op. Hy het net oor die pad begin stap, toe hy dit hoor ... ’n Vrou wat skree.Hy kan nie regtig onthou hoe hy so vinnig daar gekom het nie, maar wat hy sien, het hy nie verwag nie: Natasha lê bewusteloos op die sypaadjie. Quintin Pouwrie het al baie dinge in sy lewe gedoen waaroor hy spyt is. Dinge wat hom afgestomp het vir emosies, gevoelens en die wêreld daarbuite. Maar op daardie oomblik, toe hy haar gesig sien, kon hy vir die eerste keer in ’n lang tyd nie iemand aan hulle eie lot oorlaat nie.
“As ek jy was, het ek nie so vinnig opgestaan nie, meisiekind.” Soos hy verwag het, is sy ’n bietjie deurmekaar. “Waar is ek?”
“In my kamer, op my bed. Vat dit stadig. Jy het ’n lelike hou teen jou kop weg.” Sy val terug op die dubbelbedmatras. “What happened?” Hy trek sy skouers op. “Iemand wou jou gryp. Ek was net betyds. Jy het geval. Ongelukkig kon ek hulle nie opspoor nie.” Hy maak die kragboks oop en sit die geiser aan. “Die stort is anderkant daardie wit deur. Ek behoort nie te lank te wees nie.”
Toe hy in die kamer terugkom, lê sy toegedraai in ’n handdoek en slaap. Hy voel hoe sy hart ’n slag mis. Hy gooi ’n kombers oor haar en gaan lê op sy bedrol in die hoek van die kamer. Hy weet nie wat met hom aangaan nie, maar dit moet ophou. In hierdie wêreld kan nie hy óf Natasha swakheid bekostig nie.
“Quintin! Quintin!” Hy skrik wakker toe hy sy eie naam hoor. “Hm?” Sy lyk baie bekommerd. “We have company.” Hy tel sy pistool langs sy kussing op en kyk deur die venster. “Wie is hulle?” Sy kyk met groot oë vir hom. En die eerste koeël trek deur die venster.
Natasha skree. “Sjjj ... ” hy kniel voor haar. “Ons gaan okay wees.” Hy gee vir haar ’n rugsak en sy ekstra geweer. “Maar ons moet gaan. NOU.” Hy buk en hardloop na die muur, wink dan vir haar om nader te kom. Daar’s ’n geheime agterdeur, en buite die deur staan sy motorfiets. Hy gooi vir haar die valhelm en wys vir haar sy moet opklim, dan jaag hy in die rigting van die stadshekke. In die basis sal hulle veilig wees.
Hulle maak dit in ’n rekordtyd tot by die rotse en sy hand druk blitsig die geheime knoppie wat die ingang vir ’n paar sekondes oopmaak. Hulle is hier! Veilig. Natasha is doodsbleek. “So – gaan jy my sê?” Sy trek haar skouers op. “Jou wat sê?” Hy buk nader na haar. “Natasha, daai ouens is agter jou aan. Deur jou te beskerm, het ek myself hierby ingesleep. Ek is nou net soveel in gevaar soos jy. Waarvoor hardloop ons weg, Natasha?”
“Die projek se naam was Projek Veteraan. ’n Chemikalie is ontwikkel wat, wanneer dit ingeasem word, ’n persoon van binne af begin verteer. Aan die begin van die Derde Wêreldoorlog het die Saevio weer daaraan begin werk, op mense geëksperimenteer om vas te stel presies hoeveel ’n dodelike dosis is. Min het oorleef. Dié wat het, is nou immuun. Een aand was daar ’n brand in die laboratorium. Van dié op wie geëksperimenteer is, het ontsnap. Ek was een van hulle. En nou is ek die laaste. Die laaste een met chemikalie B-56371 in my are. Die chemikalie wat die Saevio nie kan verloor nie.” Sy kyk na hom. “Quintin, ek’s hulle Hirosjima-bom.”
Verdwasing en verwondering spoel om die beurt deur hom. Dis sy! Hy weet van haar. Sy is B-56371! Vir die eerste keer het hulle regtig hoop. Hulle het die wêreld se enigste oorblywende superwapen hier in Suid-Afrika, waar die rebelle se hoofkwartier is! Hy glimlag, vat haar hand en begin aanstap na die hysbak om haar aan die res voor te stel...
Lees nog oor die LitNet Akademies WF-skryfkompetisie


Kommentaar
Baie oulik geskryf.
Fantasties hoor!