I
Die geneurie van elektroniese toestelle dring tot my onderbewussyn deur. Die lug wil-wil herinner aan skoonmaakmiddels. My ledemate voel swaar en metaalagtig. ’n Oorweldigende hoofpyn klop in my skedel. Stadig fladder my ooglede oop. Die spierwit kamer is vreemd.
"Waar is ek?" kraak ek.
"In die ongevalleafdeling," antwoord ’n gladde manstem.
"Hoekom?" paniek vul my.
"Jy was in ’n ernstige motorongeluk. Ons het alles probeer, maar jy het dit nie gemaak nie." Sy stemtoon klink asof hy ’n vervelige lesing gee.
Ek wil my asem ophou, maar daar is geen asem om op te hou nie. Trane wil in my oë skiet, maar daar is geen vloeistof nie. Ek besef meteens dat my hart nie jaag soos hy behoort in so ’n situasie nie.
"Ek's dood? Hoe ... hoe’s dit moontlik? Wie is jy?" my stem klink uitheems. "My beskermengel?"
"Nee, net die dokter."
"Is jy dood?"
"Nee." Hy klink verveeld.
"Hoe praat ek dan met jou?"
"Nou kom ons by die komplekser vrae uit."
Die vertrek se wit deur gaan oop. ’n Aantreklike, middeljarige man tree binne. Hy is geklee in die tradisionele hospitaaldrag.
"Welkom by die Kunsmatige Intelligensieprogram." Sy stem is herkenbaar as die een wat my glaswêreld laat versplinter het.
"Ek verstaan nie! Wat gaan aan? Droom ek?"
"Sien dit as reïnkarnasie. Tydens jou tyd op aarde het ons jou dopgehou. Jou gemonitor. Jou goeie dade, slegte dade, liefdadigheid, liefdes, haat, ensovoorts, ensovoorts. Dan het ons jou op ’n skaal van een tot tien gegradeer. ’n Hoër graad beteken jy reïnkarneer na ’n beter posisie toe."
"Ek glo nie in reïnkarnasie nie. Ek glo nie dat ek gesterf het nie. Ek glo jou nie."
"Medies gesproke het jy gesterf. Vir ’n volle vyf minute. Ons het jou gered. Jou brein geneem en in ’n nuwe liggaam geplaas."
"Reïnkarneer almal?" Ek klink verbasend kalm.
"Jou vyf minute het verloop."
Die dokter buig af en fluister in my oor: "As ek jy was, het ek my lot aanvaar en nie bevraagteken nie." Met dié woorde loop hy uit die koue kamer uit. Die deur klap agter hom toe.
II
Tyd sluip verby terwyl ek die inligting probeer prosesseer. Die oorweldigende hoofpyn verdof effens. Dit voel onwerklik. Vinnig knyp ek myself hard op my voorarm, maar geen skel pyn skiet deur my liggaam nie.
Ten minste besit ek nog motoriese beweging, probeer ek troos. Ek staan styf op en skuifel, soos ’n kleuter wat pas leer loop het, na die spieël wat teen die muur hang. Die gelaat wat terugstaar, behoort aan ’n vreemde wese. Alhoewel dit ’n neus, mond, oë, ore en hare het, skei die beeldskone porseleinvel en emerald oë dié wese van een met die gelaatstrekke van ’n mens.
Ek wil huil, maar weet dis doelloos om te probeer. Ek het my vermoë om emosie te toon, verloor. Ek skree. Die bloedstollende geluid laat my beter voel en ek hou aan met skree en gil.
Stadig sak ek tot op die vloer. Rukkende bewegings pols deur my liggaam. Geforseerde snikke ontsnap. Ek vou my arms om my en klou myself vas. Dit bied geen troos nie. Tog huil ek. Ek huil oor wat ek is. Huil oor waar ek is. Ek huil sonder trane.
III
Ek lê in ’n selfbejammerende hopie op die harde vloer. My sintuie keer terug en ek raak bewus van ’n ysige koue. Ek knyp weer my arm. Hierdie keer skiet die pyn. Opgewonde spring ek op en kyk weer in die spieël, maar weereens is dit die porseleingesig wat terugstaar.
Woede bou in my op. Ek storm by die deur uit en kom skielik tot stilstand. Dis beslis nie ’n hospitaal waarin ek myself bevind nie. ’n Houtdeur aan die oorkantste muur trek my aandag. Die goue naamplaatjie lig in dat die kantoor aan doktor Oudtshoorn behoort.
Niemand steur hulle aan my nie. Die enigste aandag wat op my gefokus is, is wanneer hulle padgee sodat ons nie bots nie. Ek voel vasgekeer. My kop voel lig. My voete onstabiel. Ek kyk weer na die naamplaatjie. Met ’n nuwe missie marsjeer ek tot voor die deur. My kneukel wil klop, toe ’n hand aan my skouer vat.
Die vlamrooi hare van my teenstaander is die eerste aspek wat ek opmerk. Volgende is dit sy onbeskryflike akwamaryn oë.
"Jy moet die nuwe skepsel wees. Daar is baie gespog oor jou." sy stem is grof, tog het dit ’n strelende effek. Hy plaas sy ruwe vinger onder my ken en draai my gesig in alle rigtings terwyl hy my krities aanstaar.
"Mmm. Ek kan hiermee werk. Die doktor het hom goed van sy taak gekwyt. Ek wonder vir watter tipe … werk … hy jou gaan gebruik."
Die laaste woorde dwing my terug na realiteit. Ek stoot sy arm weg. Voel die sterk spiere onder my palm spring.
"Hy't geen reg gehad! Om als weg te neem: my familie, vriende, werk – ek’t ’n plan gehad!" Die woede bou op: "Ek wou trou, kinders kry, oud word saam my lewensmaat. Maar nou? Nou’s als weggeneem. En ek’s verander in ’n emosielose wese!"
"Ek's nie so seker van emosieloos nie."
Hy sien ek is onbeïndruk met sy opmerking. Weereens draai hy liggies my gesig. Die muur dien as ’n spieël. My wenkbroue is saamgetrek, my uitdrukking meer gespanne, en my mond op ’n plooi getrek.
"Ek's nog steeds nie meer mens nie." antwoord ek, steeds ontsteld.
"Jy is meer menslik as wat jy besef. Jy't nog jou brein, denke, emosies ..." Hy tik teen my sleutelbeen, "jou eie hart."
"Ek dog die 'Doktor' sê net my brein is oorgeplant."
"Nee, jou hart ook. Luister, jy is laat vir jou eerste opleiding. Ek sal jou na die tyd kom soek en alle vrae beantwoord."
Hy lei my deur ’n reeks gange en stop met my voor ’n ysterdeur. Ek vat ’n nagemaakte diep asemteug. Dit het dieselfde kalmerende effek as wat regte asem sou. Ek stoot die deur oop.
’n Nuwe wêreld wag binne.
Lees nog oor die LitNet Akademies WF-skryfkompetisie

