WF 2015: Volgende

  • 2

blom650

Die skoenlappergeel kanolabloeisels is melerig sag teen my donkergroen vingerpunte. Sonstrale val op die aarde soos pyle, vererger deur die groeiende osoongaping, maar die ultraviolet brand nie my lyf nie en die lig is onskadelik vir my donker oë.

Die organiese stilte word skielik onderbreek deur die swiepende skroef van een van hul reuse-vliegmasjiene. Elsra, haar groen gesig nou bleek, skreeu: “Hulle is hier!”

Die kanolaveld is in ’n oogwenk ooglopend leeg, elke homo organus om my plat teen die grond vir kamoeflering. Ek voel hoe my velkleur stelselmatig verander om by die skoenlappergeel te pas.

Ons moet wegkruip, want hulle is hier. Die mense is hier. Homo sapiens.

Evolusie is ‘n natuurlike proses, een wat streef na verbetering. By ons het evolusie skeefgeloop – walglik skeefgeloop.

Die proses is veronderstel om geleidelik te wees, om eers oor eeue sigbaar te wees. In ons geval was dit oornag. ‘n Nuwe spesie is in een generasie gebore.

Evolusie moet ‘n spesie sterker maak, dominant oor die ou een. Dit het nie met ons gebeur nie.

Ons, homo sapiens se opvolgers, is nie vinniger of sterker nie. Nee, Moeder Aarde het besluit die volgende groepering organismes moet verkieslik in harmonie met die natuur kan leef. In plaas van ’n superintelligensie, het ons die vermoë om ons te kamoefleer soos trapsuutjies. Ons leef saam met die diere; ons voedselbron is plante; ons longkapasiteit is groter en ons vel is ondeurdringbaar vir die giftige son.

Homo sapiens hou nie van bedreigings vir hul dominante status nie. En ons is ‘n minderheid. ‘n Sagmoedige minderheid.

Daarom kruip ons weg in berggrotte, waterbronne en selfs kanolavelde. Ons leef in vrees vir die dag wanneer die menspatrollies een van ons sal ontdek.

Ek lê met my lyf styf teen die warm grond en sukkel om my benoude asemhaling stil te maak. My hart val my ribbekas paniekbevange aan.

Die raserige vliegding land skaars ‘n paar meter weg en die homo sapiens spring uit met die aggressie en doelgerigtheid van jaghonde. Ek hoor voetstappe nader knars. Ek sien dik stewelsole wat onskuldige plantjies verpoeier. Die skoene is sentimeters van my goudgeel neus af en my brein pleit: Moenie afkyk nie. Asseblief, moenie afkyk nie.

Ek lig my lyf effens en wil versigtig na die kant rol, weg van die bedreigende stewels. Weg van die kans op ontdekking. Maar voordat ek ‘n haarbreedte kan beweeg, vang stewige vingers my arm in ‘n doodsgreep vas. My kop swaai om. Van skok slaan my vel weer blaargroen uit.

Ek kyk op.

’n Mens. Dis ‘n mansmens. Hy sit op sy hurke tussen die kanola, sy hand toegevou om my elmboog. Sy ivoorkleurige vel is net ‘n paar skakerings donkerder as sy wit linnepak. Sy swart hare steek effens by sy wyerandhoed uit en kleef aan sy ronde voorkop, ‘n teken van die tol wat aardverwarming eis. Dis winter, maar die sweet slaan uit soos reëndruppels – wat ook deesdae skaars is. Dan val my oë op die glimmende blou masjiengeweer wat informeel oor sy skouer geswaai is. My gedagtes flits na tonele van wreedheid.

Groen lyke gedoop in rooi bloedpoele en gepeper met hatige koeëlwonde. Homo organus-peuters verwerp deur hul menseouers. Ek sien my eie lyf leweloos tussen die kanolaplante. Ek sien hoe my spesie nog ‘n individu verloor. Ek sien my kleinsus weerloos en alleen en ek hoop dat sy nie haar posisie sal verraai deur te skree wanneer ek vermoor word nie. My gedagtes skiet terug na die werklikheid, waar die bedreiging steeds reg langs my is. Ek maak gereed vir die koudbloedigheid en die absolute haat in sy blik. Ek maak gereed vir die pyn. Vir die loodkoeël in my vlees. Vir die einde. My polsslag hamer teen my keel. My asem haak vas. My ledemate bewe.

Ek lig my oë op ...

En dit wat ek in syne sien, slaan die lug uit my longe uit. Sy oë is omring deur ‘n dik laag wimpers en is die kleur van die wolklose atmosfeer.

Wat ek gewaar, is nie haat nie.

Sy pragtige oë is vol simpatie en sagmoedigheid. Met stadige en ligte bewegings los hy my arm en druk sy wysvinger teen sy vol lippe in ‘n gebaar wat my maan om doodstil te bly. Steeds vasgevang in ongeloof, knik ek woordloos. Die mansmens lig hom van sy hurke tot hy bo die kanolaveld uittoring en roep: “Ek dink dit was ‘n vals alarm. Hier’s niks hier nie. Die boomkinders kruip seker weer in die dam weg.”

Die ander homo sapiens lag halfhartig saam en draf terug na die massiewe vliegmasjien. My menseredder kyk af na my en knipoog vinnig voordat hy ‘n kanolablommetjie pluk en na my uithou.

Ek kyk na hom terwyl hy na die vliegding haas en vir die eerste keer in my vlugtelinglewe voel ek hoop. Hoop verpak in ‘n skoenlappergeel kanolabloeisel.

 

Lees nog oor die LitNet Akademies WF-skryfkompetisie

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top