WF 2015: Wie is ek?

  • 0

Sy navorsing was uiteindelik op ’n einde – die eindproduk ’n suiwer wetenskaplike waagstuk. Sy nanobotte was perfek. Ontwikkel om die onderliggende gedagtepatrone van ’n persoon van die gasheer se keuse te analiseer, en dan die gasheer se gene te verander om sodoende by die spesifieke persoon se voorkeure te pas wat voorkoms betref. Dit was die resultaat van dekades se navorsing deur generasies aan die volgendes oorgehandig. ’n Deurbraak wat die wêreld gaan verander.

Die bestuursraad het reeds befondsing vir menslike toetsing geweier weens onvoldoende bewyse dat verandering wel sal plaasvind, maar hy was seker hulle is verkeerd. Hy moes hulle toets. Hy kon nie aangaan om sy beste idee op diere uit te toets net omdat die idiote nie die geniale grootsheid van sy tegnologie verstaan het nie. Vandag is die dag wat professor Alex Rhodes die raad verkeerd bewys. Oor twee ure sal hy die raad ontmoet en aan hulle bewys dat sy nanobotte gereed is.

Hy neem ’n diep, kalmerende asemteug en spuit homself in met ’n oplossing wat wemel van sy nanobotte. Vir ’n oomblik het hy niks gevoel nie, en toe word hy verswelg deur ’n vibrerende tinteling. Met voorsitter Grossword in sy gedagtes was daar ’n skielike steiering in sy binneste, en daarna net donkerte.

Daar wakker geword, het hy dadelik besef hy is anders. Waar hy eens platborstig was, pronk daar nou ’n paar vol borste. Hy was ’n blonde jong vrou, presies die tipe wat Grossword verkies het. Hy besef met ’n skok dat sy skepping sy verwagtinge ver oorskry het. Nie net het hy suksesvol op Grossword se breinfrekwensie ingeskakel nie, maar hy het ook sy eie genetiese struktuur oombliklik verander om aan te pas by wat hy waargeneem het as Grossword se idee van ’n droomvrou. Rhodes was in sy lewe nog nooit so trots nie. Dit was tyd om die raad te onmoet.

Hy het opgedaag by die vergadering, homself voorgestel en die situasie verduidelik. Aanvanklik wou hulle hom nie glo nie, waarna hy sy fokus na visevoorsitter Martin Haigh verskuif het en in ’n brunetskoonheid verander het. Die raad het verslae in stilte gesit. Die eerste wat iets te sê gehad het, was Marinda Kairn, hoof van die meganikadepartement reg langs sy robot-ingenieurswese. Sy het hom aangesê om huis toe te gaan sodat hulle sy voorstel kan bespreek. Hy het besef dat hy nie in sy huidige vorm kan huis toe gaan nie. Wat sal sy vrou dink?

Weer eens word hy wakker ten aanskoue van die gesigte van die raadslede wat hom aangaap met bekommernis en fassinering. In sy agterkop maak hy ’n nota dat ’n geslagsverandering tot ’n oomblik se bewusteloosheid lei. Verlig dat hy weer eens ’n man was, het hy opgestaan en huis toe gehaas.

Hy het na sy vrou, Helen, geroep die oomblik toe hy deur die voordeur stap. Hy vind haar en word tot stilstand geruk deur die uitdrukking op haar gesig. Dit was een van vrees en verrassing. Hy het te laat besef dat hy verkeerdelik aangeneem het dat hý sy vrou se droomman sou wees.

“Helen, luister na my. Dis ek, Alex,” het hy gesê, terwyl hy na die naaste weerkaatsende oppervlak beweeg. “Onthou wat het ek vir jou vertel het oor my nano’s en hoe hulle DNS kan verander? Wel, dit is …” Sy stem het weggeraak soos hy vir die eerste keer die man sien oor wie sy vrou nog altyd gedroom het. Sy eens ligte bruin hare het verander in ’n lewendige swart wat sy oë gekomplementeer het. Sy oë het ook vanaf akwamarynblou verander na ’n hartstillende silwer. Sy goudbruin vel het net gedien as verryking van sy nuwe, afgeronde atletiese lyf. Al wat nie verander het nie, was sy stem. “Ek is nou jou droomman,” het hy gefluister.

Hulle het vir ure gesels tot sy uiteindelik oortuig was dat hy wel was wie hy gesê het hy was. Dit was gedurende hierdie tyd dat ’n steurende gedagte by hom opgekom het. Het die liefde van sy lewe die man wat hy geword het, verkies bo die man wat hy werklik was? Was hy werklik homself of was dit moontlik dat hy geheel en al iemand anders geword het? Hierdie een vraag het begin om elke gedagte te oorheers. Elke dag sou hy soos homself voel, en elke dag sou die depressie aan hom vreet. Hy het ingekluister en geïsoleerd geword en uiteindelik was sy depressie ondraaglik.

Twee maande na hierdie insident het die raad besluit dat die nano’s wel oor ’n week met menslike toetsing sou begin. Hy kon dit nie laat gebeur nie. Hy het geweet wat sou gebeur indien massaproduksie goedgekeur sou word. Hy het ’n besluit geneem.

Hy het al sy proefdiere en geakkumuleerde data bymekaar gemaak, en die verassingsproses laat daardie aand begin, terwyl hy die woorde “Wie is ek?” herhaaldelik saggies vir homself mompel soos hy elke item in die houer gooi. Kort voor lank was daar niks meer oor om te verbrand nie.

Soos hy daar gestaan en tuur het in die vlamme, starende na die gloeiende oorblyfsels van wat eens sy beste werk was, onthou hy als wat voorheen was. Hy het geweet wat hy moes doen. Hy het homself met olie deurweek en vir oulaas in die vuur ingestaar. “Ek is wie ek is,” het hy met oortuiging gesê soos hy sy hand in die vuur gewerp het en homself deur die vlamme laat verorber het. Sy doodsgille het weergalm deur die kamer soos die laaste van professor Rhodes se navorsing vernietig is.

Of was dit?

Lees nog oor die LitNet Akademies WF-skryfkompetisie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top