WF 2015: Die einde

  • 1

Dag na dag sit ek hier. Jy weet waar om my te vind. Met onderaardse voete, vingers uitgestrek hemelhoog – ek is Moeder Aarde se kind. Ek het ’n stewige liggaam, wat menige slag kan weerstaan; tog word ek jaarliks gedwing om te aanskou hoe my broers een vir een geslag word. My ou, verrimpelde vel is so grof soos die tong van ’n leeu, maar as iemand hul naam in my liggaam probeer uitkerf, voel ek maar broos.

Wanneer die hemel huil en die wolke grom, kom bloedvergieters skuiling onder my vind. Maar ek gaan die laaste lag hê, want eendag gaan ek neerval en nie weer opstaan nie. Eers dan sal die gewetenloses besef hoe erg hulle my eintlik nodig het. En dan gaan dit te laat wees. – Die boom.

Die jaar 2173 nC

Met roggelende asemhaling stoot ek die deur agter my toe. Ek kan die bitter bloed in my mond voel vermeerder. Gevul met vasberadenheid, dwing ek my geskroeide bene om een-vir-een met die laboratorium se donker, leë gange langs te beweeg.

Sedert die kernoorlog begin het, het grootskaalse ontruiming plaasgevind. Dié eens lewende gebou is nou ’n spookhuis; leeg en onheilspellend. Na wat soos ’n ewigheid voel, kom ek tot stilstand voor ’n metaaldeur. ’n Rilling skiet deur my liggaam soos ek die yskoue handvatsel onder my vingers vasknyp. Ek druk dit versigtig af, totdat ’n “klik” by die gange af weergalm. Stadig stoot ek die deur oop en tree die vertrek binne.

Meteens word ek van my voete geslinger. Soos blits kom ek orent en skakel die ligte aan. “Lucy,” skree ek, “sit!” Sy kan haar opgewondenheid skaars inhou, maar gehoorsaam tog my bevel. Met groot treë stap ek haastig verby haar en spring onmiddellik aan die werk. Dit is uiters belangrik dat ek vandag my nuutste skepping klaar maak. Ek het nog net een keer in die verlede sukses behaal met hierdie tipe werk. Ek staar vir ’n oomblik ingedagte na Lucy.

Hierdie keer moet dit net werk. Dit moet. Vandat ons voedselvoorraad begin taan het, het paniek en chaos soos ’n donderstorm gevolg. Die laaste strooi wat die kameel se rug gebreek het, was toe mense teen mekaar begin draai het. Regerings het ineengestort, nasies het verkrummel, selfs gesondheid van verstand het gesneuwel. Daar is nie meer een nie, maar verskeie gate in ons osoon. ’n Pikswart wolk het die aarde in ’n permanente nag omhul. Die lug en die strate is gevul met bestraling.

Skielik begin ek om bloed te hoes. My vingers beweeg haastig en instinktief oor al die fyn skakelaars en komponente van my ontwerp. Ek kan voel hoe ek besig is om in my eie bloed te verdrink soos my longe stadig opvul. Soos als om my donkerder word, aanskou ek ’n laaste keer my handewerk en is gevul met tevredenheid soos ek die kompartement vol meganika toemaak.

Die jaar 3725 nC

Ek ontwaak met die opkoms van die son. Die horison is ’n palet van vrolike kleure: ’n hemelse goud, gemeng met die pigment van verskeie kleure rose. Langs my lê Lucy, die hond wat ek naby ’n verwoeste laboratorium gevind het. Ek neem aan dat haar vorige eienaar die naam Lucy vir haar gegee het, omdat dit netjies geskryf staan op haar halsband.

Met moeite staan ek op en gee vir Lucy ’n ligte tik teen haar kop. Sy ken al die roetine en volg my stertswaaiend by die bult af. Dis so ’n halfuur se stap voor ons by die grondbedekte teerpad uitkom. ’n Eindelose ry voertuie strek weerskante oor die pad. Die strukture is oor die jare deur suurreën ingesluk en weer uitgespoeg. Ek loop met ’n ritmiese gekners van my skoene op die teerpad. Donkervuil wolke is nou besig om die hemelruim te vul. Dit lyk soos suurreën wat gaan volg. Ek begin om voluit te hardloop. Lucy kom vinnig agterna gewaggel. Nes die eerste besoedelde druppels aarde toe plons, gryp ek Lucy en strompel die naaste gebou in.

Hierdie is een van die min geboue wat nog ’n dak het. Dié gebou was oorspronklik ’n biblioteek en gelukkig was geen van die boeke al slagoffers van die suurreën nie. Ek sluip deur die nou paadjie en kyk aandagtig na elke boek soos ek verby beweeg. Dit interesseer my geweldig om te sien hoe mense op ’n stadium gedink en gelewe het. Ek voel skielik ’n effense leegte binne-in my.

Omtrent ’n uur later besef ek dat die gekletter van die reën op die dak gestop het. Soos ek my pad na die deur toe werk, tref ’n boek my oog. Ek staar ’n ruk lank na die voorblad en bewonder die onnatuurlike grootte van die boek.

Die reis terug na die woud is baie swaarder op my knieë. Ons kom sonsondergang by die toppunt van die bult uit en ploeg albei langs die boomstam neer.

Ek staar ’n ruk diep ingedagte na Lucy. My oë dwaal oor haar pragtige goue pels en ontmoet haar groot, onskuldige, meganiese oë. Ek haal my hemp af en kyk na my geroeste vel. Ek trek die kompartement in my borskas oop. Binne-in is ’n paar skakelaars, enkele drade en ’n boek. Ek haal die boek uit en lees die titel: “Die Groot Ensiklopedie van die Wêreld se Diereryk”. Ek kyk noukeurig deur al die foto’s totdat ek op die regte een afkom. Met ’n groot glimlag kyk ek na Lucy en sê: “Jy is my La-bra-dor.” Ek bêre die boek weer binne-in my en trek my hemp aan. Soos die son sak, sak my ooglede en die oomblik toe dit agter die berg verdwyn, is ek vas aan die slaap.

“Die as van jou bestaan sal eendag die grond bemes vir die heelal om te volg” – Richard Kradey

Lees nog oor die LitNet Akademies WF-skryfkompetisie

 

  • 1

Kommentaar

  • Wat ek geniet het, is die feit dat ek onmiddellik die verhaal in my geestesoog kon volg. Die skryfster het geslaag om 'n prentjie te skets met goeie byvoeglike naamwoordkeuses. Ek is dan ook 'n ywerige wetenskapfiksie-leser.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top