WF 2015: Om die son te sien

  • 1

Ek is Arethusa, vyftien jaar oud. Ek het lang, donkerbruin hare en doodgewone bruin oë. Daar is niks besonders aan my nie. Op die oog af lyk ek soos net nog ’n Fortun, maar as jy dieper kon kyk, sou jy agterkom dat ek allesbehalwe net nog ’n slaaf van iTOD is. Ek is my eie mens.

Sewe pare kwaai oë hou my stip dop. Dun lippies onder yl kombersies prewel saggies vir mekaar en elke nou en dan flits ’n uitdrukking van emosie oor een van die bleek gesigte. Hier en daar krap seningrige hande oor leë bladsye. Die sekondes tik verby en my bene begin kramp van al die staan. Ek brand om op die bal van my voete om te draai en uit hierdie doodsvertrek te hardloop, maar tog doen ek dit nie.

Die sekondewyser gee nog ’n paar treë. My hele wese is reg om te vlug, maar my onderste ledemate staan botstil. Die lang vingers van die pyn in my bene vat-vat aan my heupe en gryp dit dan stewig vas. Net toe my bene my in die steek wil laat, voel ek ’n doodsgreep om my boarm. Terwyl ek van die middel van die vertrek na die deur gelei word, ontmoet my oë en ’n paar koue kykers mekaar. Hy kyk eerste weg.

Dit is tien jaar gelede. Die Goue Oorlog is uiteindelik in sy vernietigende spore gestuit. Stede is platgevee; armoede is aan die orde van die dag en diegene wat die oorlog oorleef het, skop een vir een die emmer danksy die hongersnood en siektes. Die wêreld is aan flarde.

Vyf jaar vlieg verby. Fortuna, die land van voorspoed, wat ’n voltooide legkaart van al die oorblywende stukkies is, floreer. Stadig maar seker word die wêreld weer heel. Die Magtiges, Fortuna se leiers, kom tot die gevolgtrekking dat onafhanklike denke die Goue Oorlog veroorsaak het. Hulle bring Projek Ingryping Teen Onafhanklike Denke, oftewel Projek iTOD, op die been.

’n Paar maande verloop. Elke Fortun word met ’n transmissieserum ingeënt, wat kunsmatige intelligensie in staat stel om ons soos marionette te beheer. Onafhanklike denke word stilletjies onder die mat ingevee en ons toutjies word deur blikmeesters getrek.

Ek skrik sopnat wakker. My voorkop is aan die brand en dit voel asof elke been in my liggaam gebreek is. Met elke flentertjie krag wat in my oor is, trek ek myself regop sodat ek soos ’n lappop teen die muur sit. Terwyl ek my loodbene van die bed af probeer lig, verskyn ’n sterrelose nag skielik voor my en ek voel hoe my liggaam onder my ingee.

Ek word soos gewoonlik saam met die hoenders wakker. Van my tydelike siekbed is daar geen sprake nie. Ek gaan aan soos wat ek geprogrammeer is om te doen: trek aan, eet ontbyt, loop skool toe. Alles is pluis, of so blyk dit. Ek doen presies dieselfde as ander dae, maar klein dingetjies is anders. Ek voel die sagte briesie wat die blare laat dans; ruik die soet asters in die klein tuintjie op die hoek van die straat en sien die verskillende kleure raak wat deurmekaar op die sypaadjie vleg. Hoe harder ek probeer om dit te ignoreer, hoe sterker waai die windjie en hoe soeter ruik die blomme. Dit word later onvermydelik.

Op pad huis toe tref dit my ewe skielik. Dit mag dalk die heel grootste oomblik van my lewe wees – die begin en die einde van alles – en dit is so onseremonieel dat ek dit amper mis. Terwyl ek nog tussen deur die ander Fortune op die sypaadjie vleg, raak ek skielik bewus van die lug. Dit is die mooiste ding wat ek al ooit gesien het. Die hemelruim lyk asof iemand dit met allerhande skakerings van oranje en pienk geverf het en op die horison is daar ’n reusagtige, brandende bol vuur wat stadig wegsak. Vir die eerste keer sedert die Oorlog voel ek weer vry en in beheer van my eie lewe. Ek kan die son sien, werklik sien en niks sal ooit mooier as dit wees nie.

Daardie aand by die huis probeer ek om so normaal moontlik op te tree. ’n Klein stemmetjie fluister hard en duidelik in my oor dat my lewe in gevaar is, dat as enigiemand sou uitvind, die son nie meer vir lank vir my sou skyn nie. Terwyl ek egter my ma-hulle met nuwe oë aanskou, besef ek hoe haglik ons lewens eintlik is. Ons gaan van dag tot dag, oomblik tot oomblik, sonder dat ons werklik bewus is daarvan. Die wêreld is so perfek as wat dit moontlik kan wees, maar dit is nie óns wêreld nie. Die son skyn vir ons, maar ons sien dit nooit nie; kan dit nooit waardeer nie. Terwyl ek aan ons kombuistafel sit, het dit vir my duidelik geword hoe ons as siellose marionette doelloos deur die lewe sweef. En ek kon dit nie meer verdra nie.

Vanaand sal ek saam met die son verdwyn. Die son sal weer ’n nuwe dag aanskou, maar vir my is vandag die laaste. Vanaand sal ek die ewigheid betree, natuurlik nie uit eie wil nie. Dít is juis wat my tot hier gebring het: eie wil.

Ek is Arethusa, vyftien jaar oud. Ek het lang, donkerbruin hare en doodgewone bruin oë. Ek was altyd net nóg ’n Fortun; daar was niks besonders aan my nie. Alles het egter handomkeer verander. Ek is my eie mens. Ek het die son gesien en niks sal ooit mooier as dit wees nie.

Lees nog oor die LitNet Akademies WF-skryfkompetisie

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top