Wêreldgeletterdheidsdag, 8 September 2023: ’n onderhoud met Laurette Marais

  • 0

Foto’s: Alam Kusuma op Unsplash en Jill Wellington op Pixabay

Wêreldgeletterdheidsdag word elke jaar vroeg in September gevier. Die dag is in 1966 deur UNESCO geskep met die doel om op geletterdheid in ontwikkelende gemeenskappe te fokus.

Laurette Marais is ’n senior navorser by die WNNR se Digitale Oudio- en Visuele Tegnologieë-groep. Sy doen navorsing oor die modellering van natuurlike tale via reëlgebaseerde metodes, met die klem op die amptelike Suid-Afrikaanse tale, sowel as die toepassing van sulke metodes in spraaktegnologie.

Laurette Marais praat met Naomi Meyer oor Wêreldgeletterdheidsdag (8 September)

Laurette, jy het ’n rekenaartegnologie-agtergrond; sal jy iets van jou agtergrond en navorsing vertel?

My agtergrond is in teoretiese rekenaarwetenskap, maar ek het reeds tydens my voorgraadse studie al probeer om die tale daarby te bring deur Afrikaans as addisionele hoofvak te neem. Ek het eintlik rekenaarlinguistiek met moedersmelk ingekry: My ma, Laurette Pretorius, het haar navorsingsmerk in taaltegnologie vir Afrikatale gemaak, en ek en sy werk deesdae saam aan navorsingsprojekte. Ons fokus op die ontwikkeling en toepassing van rekenaarmatige grammatikas om ons hulpbronskaars tale digitaal te ondersteun.

..........
Ons fokus op die ontwikkeling en toepassing van rekenaarmatige grammatikas om ons hulpbronskaars tale digitaal te ondersteun.

............

Hoe hou menslike, gesproke taal en rekenaartegnologie met mekaar verband?

Taaltegnologie, wat gesproke én geskrewe taal raak, is ’n veld wat daarop gemik is om natuurlike taal te modelleer. Daar is nie net ’n legio toepassings daarvan nie (dink maar aan speltoetsers, Google Translate en Siri), maar daar is ook verskeie tegnieke om sulke modellering te benader, waarvan diepleer deesdae die grootste opslae maak. Diepleer van taalmodelle is wat agter iets soos ChatGPT sit. Rekenaars raak al hoe beter daarmee om menslike teks en spraak te verwerk en te genereer. Ons doel is om op doelgerigte, betroubare taaltegnologie vir die Suid-Afrikaanse tale te fokus.

Dis Wêreldgeletterdheidsdag is vanjaar op 8 September. Die kinders van ons land sukkel om met begrip te lees. Hoe kan die rekenaartegnologie waarmee jy jou besig hou, ’n oplossing help bied?

Die Ngiyaqonda-toepassing maak van rekenaarmatige grammatikas en teks-na-spraak-tegnologie gebruik om kontekstuele, grammatikaal korrekte sinne in natuurlike taal te genereer. Dit kan ook ’n gebruiker begelei om sulke sinne self te skep deur woord vir woord moontlike keuses beskikbaar te stel – amper soos om sinnetjies met yskasmagnete te bou, maar met magnete wat kan aanpas by die keuses wat reeds gemaak is. Ons kombineer hierdie tegnologieë om ’n digitale omgewing te skep waarin grondslagfase-leerders kan oefen om sinne te skryf, en selfs uitgedaag kan word om sinne waarna hulle luister, self weer te gee. Ons tegnologie en die toepassing is ook meertalig, en ons gebruik die meertaligheid vir taalaanleer, veral vir nie-Engelssprekende kinders wat ná hul grondslagfase skielik in Engels moet begin skoolgaan.

...........
Die uitdagings in geletterdheid in Suid-Afrika hou deels verband met hoe die Afrikatale in skole onderrig word, en dit is hoekom ons vir Lionel Posthumus, ’n gesiene Zoeloe-linguis, genader het as kenner van die ontwikkeling van geletterdheid in die Afrikatale.
..............

Die uitdagings in geletterdheid in Suid-Afrika hou deels verband met hoe die Afrikatale in skole onderrig word, en dit is hoekom ons vir Lionel Posthumus, ’n gesiene Zoeloe-linguis, genader het as kenner van die ontwikkeling van geletterdheid in die Afrikatale. Sy bydrae is van onskatbare waarde wanneer so ’n toepassing, wat bedoel is vir jong kinders se gebruik, ontwerp en ontwikkel word.

Dit voel ’n bietjie teenstrydig om ’n rekenaar in te span om kinders te help met lees en taalbegrip, of is dit nie? Rekenaars bied soveel moontlikhede van wat ’n kind hierop kan doen. Gaan dit nie juis die kinders se aandag aftrek nie? Miskien kan jy prakties iets vertel van die tegnologie en metodes wat julle inspan om met leesvaardighede te help.

Hoewel ons self nog baie kan leer oor hoe om rekenaargebruik en outydse lees en skryf te balanseer, laat ons dit gerus op hierdie stadium aan onderwysers oor. Vir ons eerste loodsstudie, wat tans by Ebuhleni Primary School in Soweto gedoen word, het die onderwyseres met wie ons saamwerk, self gekies hoe om die toepassing in die klaskamer tydens leesperiodes aan te wend. Ons hoop om baie te leer oor die maniere waarop ons tegnologie in die klaskamer kon help, maar ook waar ons kan verbeter.

Waarom is dit belangrik vir kinders van hierdie land om met begrip te kan lees? En wat van grootmense?

Om met begrip te kan lees is die sleutel tot al die kennis- en storieskatte van die wêreld. Ons wil graag ons deel doen om dit moontlik te maak vir alle Suid-Afrikaanse kinders om daarin te kan deel. En kinders word natuurlik grootmense wat in hul eie kontekste hul waardes wil uitleef. Toegang tot kennis en stories stel enige mens in staat om as ingeligte lid van die samelewing sy of haar bydrae te lewer.

Lees ook:

Wiskunde-ondersteuning vir isiXhosasprekende leerders in die grondslagfase

As jy nie Engels by die huis praat nie, maar in Engels skoolgaan: Hoe om Wiskunde in graad 1 te leer praat

Spraak-na-spraak-slimfoonvertaling vir verloskunde

Onderwyshulp en leesbegripstrategieë 7: Die maak van afleidings

Leesbegripoefening vir Graad 7-leerlinge

LitNet-AfriKI-miniseminaar: Kunsmatige intelligensie as skrywer

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top