- Bettina Wyngaard skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.
.......
Hoe veilig is Suid-Afrikaners wanneer hulle oorsee gaan, en hoe seker kan ons wees dat ons land se amptenare gaan help as ons in die sop beland?
.......
Die afgelope ruk het twee internasionale insidente my aandag getrek. Die eerste, een wat aan die meeste lesers bekend sal wees, was die geval van die 25 sokkerspelers en drie afrigters wat in Portugal gestrand was sonder vliegkaartjies om terug huis toe te kom.
Die radio- en televisiepersoonlikheid Tracey Lange het, saam met ander, dadelik aan die werk gespring om fondse in te samel en hulp te kry om die span veilig huis toe te bring. Daar was heelwat kontroversie rondom die Wes-Kaapse minister van sport en kultuur, Ricardo Mackenzie, se besluit om Portugal toe te vlieg en te gaan kyk hoe hy hulle kan bystaan. Wat hy gesien het, behalwe die Portugese besienswaardighede, is onduidelik, maar Tracey en haar span het alles gereël gekry sonder om Suid-Afrika te verlaat, en (klink dit) sonder hulp van die minister. Ten minste kon hy sy Frequent Flier Voyager Miles vermeerder. Op ons, die belastingbetalers, se onkoste.
Ek het probeer agterkom wat die Departement van Buitelandse Sake (Dirco) gedoen het om die Suid-Afrikaners by te staan. Dis tog ’n groot deel van hulle werk, om landsburgers in die buiteland van hulp te wees, nie waar nie? Daar was nie veel meer as ’n inskrywing op sosiale media van Clayton Monyela dat die kinders veilig is nie. Hier moet ek byvoeg dat ek X maande gelede verlaat het. Dis seker moontlik dat hy daar elke uur kon statusse plaas sonder dat ek dit weet, maar dis te betwyfel.
Die afrigters moes uit hul eie sak vir die kinders kos koop, en vir verblyf sorg. Watter hulp, indien enige, Dirco verleen het, is onduidelik. Of minister Mackenzie met Dirco kontak gemaak het, is ewe onduidelik. Wat wel duidelik is, is dat dit gewone mense was wat vanuit Suid-Afrika skouer aan die wiel moes sit en sorg dat die kinders gehelp word, sonder die hulp van belastingbetalers se geld.
Die tweede geval, een wat ten tye van die skrywe hiervan nog onopgelos is en waarskynlik nie dieselfde gelukkige einde gaan hê nie, is die ontvoering van advokaat Robert Lungya Kayingo, ’n regsgeleerde en politikus met burgerskap in beide Suid-Afrika en Uganda. Kayingo het op 17 Julie in Entebbe aangekom, en is daar op die lughawe deur vermoedelik agente van die staat ontvoer. Dis nodig om hier te noem dat hy die leier van ’n opposisieparty, Uganda Federal Alliance, is. Omdat hy ook ’n Suid-Afrikaanse burger is, en boonop ’n beampte van die Hooggeregshof, sou mens verwag dat Dirco betrokke sou raak om ten minste vas te stel waar hy aangehou word, en belangriker, hoekom hy in aanhouding is.
Ek het aanvanklik bewus geword van sy ontvoering nadat my Facebook-vriendin Karin Human daaroor gepost het. Haar seun Nic is verloof aan Kayingo se dogter Joanna. Terwyl daar op Ugandese televisie verslag gelewer is oor sy verdwyning, is die Suid-Afrikaanse media skynbaar doof, stom en blind, iets wat my verstom. Ons kan berig oor Trump se Skotse golfmanewales, maar ’n politikus wat deur ’n staat ontvoer word, kry nie een enkele berig nie? Dis eers toe ek die hutsmerk #FreeKayingo in my rekenaar ingevoer het dat ek enige inligting, alles op sosiale media, kon opspoor.
.......
Dis nou amper twee weke later, en die familie weet nog steeds nie waar Kayingo is, of hy nog lewe en hoekom hy ontvoer is nie. Dirco se standpunt is blykbaar dat hy ’n Ugandese burger is, in Uganda verdwyn het, en dit dus Uganda se probleem is.
.......
Volgens Karin se Facebook inskrywings klink dit nie asof Dirco van veel hulp is nie. Dis nou amper twee weke later, en die familie weet nog steeds nie waar Kayingo is, of hy nog lewe en hoekom hy ontvoer is nie. Dirco se standpunt is blykbaar dat hy ’n Ugandese burger is, in Uganda verdwyn het, en dit dus Uganda se probleem is. Dis ’n houding wat natuurlik in Ugandese owerhede se hande speel indien hulle die oorsaak van sy verdwyning is.
Dit laat my wonder: Hoe veilig is Suid-Afrikaners wanneer hulle oorsee gaan, en hoe seker kan ons wees dat ons land se amptenare gaan help as ons in die sop beland? Die voorbeelde wat ek hierdie maand gesien het, boesem nie veel vertroue in nie. Dalk is Jan Tuisbly se karretjie maar die beste vervoer.
Lees ook:
Wat sê Bettina? Is een tree vorentoe en twee treë terug ’n cha-cha, Uncle Cyril?
Wat sê Bettina? Persona non grata – wanneer ’n diplomaat slae ontvang namens sy regering
SITRAP: Militêre attaché word huis toe gestuur (31 Maart 2025)
Wat sê Bettina? Kry die minister van elektrisiteit performance bonus?