
In die wêreld van die diplomasie word die amp van ambassadeur met baie groot waardigheid en status geag, omdat ’n ambassadeur die persoonlike gesant van een staatshoof by ’n ander staatshoof of regeringsleier is. Saam met waardigheid en status gaan daar ook beperkings gepaard, soos dat die persoon se eie siening of politieke oriëntasie van min of geen belang is nie. Ibrahim Rasool, tot op 17 Maart 2025 die Suid-Afrikaanse ambassadeur in Washington, DC, het al hierdie reëls en tradisies in een toespraak verbreek. Nie alleen het Rasool ’n onnadenkend diplomatieke flater begaan nie, maar die wyse waarop sy toespraak deur ’n Amerikaanse netwerk hoorbaar gemaak is, eensydig geïnterpreteer is, en hoe hy op sosiale media persona non grata verklaar is, is buitengewoon en ’n baie betekenisvolle diplomatieke stap.
Die manier waarop Rasool hanteer is, vertel iets van die politieke ekosisteem wat rondom die Trump-administrasie aan die ontwikkel is. Reeds met Rasool se aanstelling vir sy tweede termyn was daar geluide dat sy simpatie en solidariteit met Hamas en die Palestynse kwessie die Trump-administrasie dwars in die krop steek. Dit staan in direkte kontras met die hartlike verhouding tussen Washington en Jerusalem sedert Trump die Amerikaanse president geword het. Rasool se persoonlike standpunte oorvleuel volledig met die ANC se posisie as politieke party, maar as ambassadeur is dié politieke oorvleueling onbelangrik. Met die Lady R-insident in Desember 2022, is die Amerikaanse ambassadeur, Reuben Brigety, op die rooi tapyt gekry in Pretoria, maar nie uit Suid-Afrika geskop nie, wat ’n meer konvensionele diplomatieke optrede was. Marco Rubio, die Amerikaanse minister van buitelandse sake, het egter gewys hoe ongenaakbaar die Trump-administrasie sal optree om sy belange af te dwing.
Uit die Rasool-gebeure is ’n paar lesse te leer: Suid-Afrika sal baie vinnig moet leer om die kamertemperatuur in Washington, DC te lees, en ’n nuwe ambassadeur sal baie noukeurig vir buigsaamheid en pragmatisme gekies moet word. Die naam van iemand soos adjunkminister Andries Nel word in die wandelgange genoem. Die Trump-administrasie se netwerk van wie-sê-wat in Suid-Afrika is baie fyn ingestel, en uitsprake soos dat ons nie geboelie sal word nie, of hoofberigte oor samewerking met Iran, help beslis nie. Die VSA is Suid-Afrika se tweede grootste handelsvennoot, en met die ontwrigtende buitelandse beleid van die Trump-administrasie in die algemeen sal Suid-Afrika sy beleid en optrede met betrekking tot die VSA baie dringend moet herkalibreer.
- Foto van Rasool: DoD photo by Erin A Kirk-Cuomo (Released) CC BY 3.0, via wikimedia

