
(SITRAP is ’n bekende militêre term wat staan vir ’n situasierapport.)
Kort nadat die Suid-Afrikaanse ambassadeur in die VSA persona non grata verklaar is en reeds terug is in Suid-Afrika, het die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake (State Department) ook die Suid-Afrikaanse militêre verteenwoordiging in die VSA opgeskort. ’n Militêre teenwoordigheid is ’n standaard- diplomatieke pos by die meeste diplomatieke missies, en die bekleër van die pos word die militêre attaché genoem.
Uit die verklaring blyk dit dat die beëindiging van militêre verteenwoordiging nie weens ’n probleem met brigadier-generaal Richard Maponyane is nie, maar eerder weens ’n probleem met Suid-Afrika se buitelandse beleid en die risiko wat dit vir die VSA se nasionale veiligheid inhou. Die optrede kan dus as ’n diplomatieke strafmaatreël beskou word.
Histories was Suid-Afrika en die VSA al in ’n soortgelyke situasie. Op 25 Mei 1986 is die Amerikaanse militêre attaché, kolonel Robert Hastie, as strafmaatreël uit Suid-Afrika geskop nadat die Amerikaners Suid-Afrika se militêre attaché, brigadier Alexander Potgieter, uit die VSA geskop het. Dit het plaasgevind na aanleiding van Suid-Afrika se hakkejagoperasies teen die ANC in Botswana, Zambië en Zimbabwe. Die Reagan-administrasie, wat Suid-Afrika toe redelik goedgesind was, moes aan Suid-Afrika ’n duidelike aanduiding gee dat die aanvalle op buurlande nie geduld sal word nie. Die situasie is egter nou, amper 40 jaar later, heeltemal anders. Met die skryf van hierdie bulletin het Suid-Afrika nog nie aangedui of die normale diplomatieke gebruik gevolg gaan word om ook die Amerikaanse militêre attaché uit Pretoria te skop nie.
Hierdie eensydige optrede van die Trump-administrasie dui op die laagtepunt wat verhoudinge met Suid-Afrika nou bereik het. Daar word ook wyd gegis dat die Trump-administrasie werk aan ’n lys van ANC-leiers (en dalk een EFF-leier!) op wie as ’n soort strafmaatreël sanksies toegepas sal word. Terwyl daar op politieke en diplomatieke vlak baie min in die openbaar verklaar word, is dit duidelik dat ’n aantal prominente oudpolitici, sakeleiers en beleggers tans in die VSA is, besig met wat as “agterdeurdiplomasie” gesien kan word. Suid-Afrika het natuurlik nie tans ’n ambassadeur in die VSA nie en moet dus noodwendig op ander goedgesinde individue se netwerke staatmaak. Die besoek van die AfriForum-Solidariteit-afvaardiging aan Washington, DC het beslis ’n rol gespeel in die verswakking van die verhouding tussen die Trump-administrasie en Suid-Afrika. Hierdie diplomatieke krisis het ook ander gevolge, wat Amerikaanse tariewe van 25% op alle voertuie en onderdele wat buite Amerika vervaardig word, insluit. Die vraag is of Suid-Afrika op 2 April 2025 steeds die Agoa-voordele gaan kan benut. Dit word ook by die dag duideliker dat die RNE ’n groter rol sal moet speel in Suid-Afrika se buitelandse beleid, net soos wat die begrotingsproses vereis. Die verslegtende verhouding met die Trump-administrasie en Suid-Afrika se politieke toondoofheid is besig om die glans van Ramaphosa se voorsitterskap van die G20 heeltemal te laat verdof.


Kommentaar
Dit is verbasend dat RSA as geheel in gedrang gebring, en rooi geverf, weens die besoek aan Washington, van 'n klein groepie van die hele Suid Afrikaanse bevolking. Die hele bevolking moet nou straf dra van verhoogde koste en tariewe vir 'n klein groepie se "noodvlug" na VSA, maar ons het nou nog nie eers enige inligting oor wie vir wie gesien het, of samesprekings gehou het nie. Die VSA is nou besig om die spreekwoordelike baba met die badwater uit te gooi - terwyl ons as burgers van RSA nog in die duister gelaat, deur beide partye.
Interessant is dat Mandela nie 'n voorstander van die Agoa-ooreenkoms was nie toe die Clintonadministrasie dit ingestel het, omdat dit aandui die ANC se verhouding met Kuba en Iran as vennote in die struggle se geskiedenis kan in die gedrang kom.
Die sanksies in die 80's het ook almal in SA geraak. Die VSA in nie blind vir dit wat in SA aangaan nie en die ANC het al lankal eerder met China en Rusland bande gesmee. Hulle ondersteun terroriste organisasies wêreldwyd en dit is almal lande wat téén die VSA is.
Die enigste verskil is dat die swakste president nóg in die Amerikaanse geskiedenis, Joe Biden, niks daaraan gedoen het nie en dit selfs goedgekeur het. Amerika neem nie sulke besluite slegs op die besoek van Solidariteit en Afriforum se besoek nie. Hulle het agente in SA wat die situasie in die land monitor en hulle sien daagliks wat in die land aangaan. Die ANC en EFF se leuens en arrogante uitdagings aan die VSA, help ook nie hulle saak nie.