Wat sê Bettina? Teleurstellende uitspraak in Mbenenge-tribunaal

  • 0
  • Bettina Wyngaard skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.
........
Al meer en meer lees ons egter van regters wat skande maak. Dis deels te danke aan ’n vrye pers, maar ten minste deel daarvan is omdat meer regters skande maak.
........

Regters, so is ons sedert ons dae as regstudente geleer, is ’n paar trappies verhewe bo gewone mense. Hulle is nie foutloos nie, maar hulle karakter is onkreukbaar en hulle integriteit is onbetwisbaar.

Goed, ek erken dit was meer as ’n kwarteeu gelede, maar die basiese verwagting dat regters op ’n sekere manier moet optree, het tog bly staan. Al meer en meer lees ons egter van regters wat skande maak. Dis deels te danke aan ’n vrye pers, maar ten minste deel daarvan is omdat meer regters skande maak. In die ou dae, voor persvryheid, het ons nie die koerante oopgeslaan om te lees oor regters se foute nie, maar die riemtelegram het nog altyd baie goed gewerk. Iemand iewers sou iets in iemand anders se oor fluister, en so versprei die nuus. Dan was daar natuurlik ook druk van ander regters wat gesorg het dat ’n regter in sy spore trap. Boonop is daar die dreigement dat die regter-president van die afdeling sal optree. Maar hoe gemaak as die regter-resident die skandemaker is?

Ek verwys hier na die tribunaal onder voorsitterskap van afgetrede regter Bernard Ngoepe, wat moes besluit oor die regter-president van die Oos-Kaap, RP Selby Mbenenge, se optrede met hofsekretaresse Andiswa Mengo. Mengo beweer seksuele teistering, Mbenenge beweer dit was konsensueel. Klassieke “he said, she said”. In hierdie geval is daar egter vele WhatsApp-boodskappe wat ontleed kon word.

Mbenenge is aangekla van growwe wangedrag, ’n klag wat daartoe kon lei dat hy in ’n staat van beskuldiging geplaas en van sy pos onthef kon word.

Van die getuienis wat ingebring is, is dat hy die hofsekretaresse op 14 verskillende geleenthede gevra het oor haar gunstelingseksposisie. Sy het elke keer geweier om te antwoord. Die tribunaal het dit nie as belangrik genoeg beskou om teen Mbenenge te bevind nie. ’n Kundige oor geweld teen vroue, Lisa Vetten, het getuig oor die magswanbalans wat daar tussen ‘n regter-president en ’n hofsekretaresse bestaan wat die moontlikheid van gedwonge interaksie verhoog. Die tribunaal het dit verwerp, en beslis dat magswanbalanse nie outomaties tot dwang lei nie.

........
’n Kundige oor geweld teen vroue, Lisa Vetten, het getuig oor die magswanbalans wat daar tussen ‘n regter-president en ’n hofsekretaresse bestaan wat die moontlikheid van gedwonge interaksie verhoog. Die tribunaal het dit verwerp, en beslis dat magswanbalanse nie outomaties tot dwang lei nie.
........

’n Kundige oor emoji’s, Zakeera Docrat, het getuig dat sekere emoji’s in die WhatsApp-boodskappe seksuele konnotasies inhou. Die tribunaal het haar kundige getuienis verwerp, en beslis dat ’n eiervrug-emoji dalk kan beteken iemand wil na ’n Griekse restaurant gaan. Die getuienis van ’n kundige is nie nodig om die betekenis van emoji’s te bepaal nie, net hoedat die gebruiker dit verstaan.

Die tribunaal se bevinding was dat Mbenenge nie skuldig is aan growwe wangedrag nie, maar aan gewone wangedrag, deurdat hy opgetree het op ’n wyse wat nie betaamlik vir ’n regter is nie. Boonop het groot dele van die WhatsApp-interaksie gedurende die werksdag plaasgevind, wat beteken dat die staat se tyd verkwis was. Dis blykbaar die grootste probleem wat die tribunaal met die regter-president se gedrag gehad het. Hulle het ook bevind dat Mengo nie beslis genoeg was daarin om ‘n die regter-president se toenadering stop te sit nie, terwyl hulle die magswanbalans ignoreer.

Dit volg ’n patroon waar daar agteroor gebuig is om Mbenenge te akkommodeer. In 2024, toe die klag teen hom bekendgemaak is, is hy nie dadelik geskors soos wat die gebruik is wanneer daar ’n ondersoek hangend is teen ’n regter nie. In sy geval is hy spesiale verlof toegestaan en toegelaat om al sy deelsverhore te voltooi. Dit beteken hy het nog toegang tot die gebou en die personeel gehad.

........
Die bevinding is teleurstellend, want nie net gaan dit toekomstige klaagsters twee keer laat dink voor hulle ’n klag teen ’n regter gaan lê nie, maar dit dui ook op sekere seksistiese vooropgestelde idees wat onder regsprekende beamptes bestaan. Hoe kan enige slagoffer van seksuele geweld nou verwag dat die regter haar gaan glo? Daar is alreeds ’n probleem dat seksuele geweld onderraporteer word. Met die regters se onderrokke wat nou so uithang, bestaan die gevaar dat hierdie tendens gaan vererger.
........

Die bevinding is teleurstellend, want nie net gaan dit toekomstige klaagsters twee keer laat dink voor hulle ’n klag teen ’n regter gaan lê nie, maar dit dui ook op sekere seksistiese vooropgestelde idees wat onder regsprekende beamptes bestaan. Hoe kan enige slagoffer van seksuele geweld nou verwag dat die regter haar gaan glo? Daar is alreeds ’n probleem dat seksuele geweld onderraporteer word. Met die regters se onderrokke wat nou so uithang, bestaan die gevaar dat hierdie tendens gaan vererger.

Die bevinding moet nou na die JSC, die Judicial Services Commission, gaan vir finale beslissing en vir hulle om te besluit watter straf, indien enige, Mbenenge behoort te kry. Dis die JSC wat besluit het hy hoef nie geskors te word nie.

Tog moet ons hoop die JSC sal geregtigheid laat geskied, want dit het nie by die tribunaal gebeur nie.

Lees ook:

16 Days of Activism: an interview with Ndiilokelwa Nthengwe

16 dae van aktivisme: Geen geweld teen vroue en kinders

Wat sê Bettina? Wanneer kapitalisme as feminisme paradeer

Wat sê Bettina? Watersekuriteit in 2026

Wat sê Bettina? Trump teen die EU – is Groenland se kool die sous werd?

Wat sê Bettina? Hoekom is Sport, Kuns en Kultuur so ’n kopseer onder Gayton McKenzie?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top