Wat sê Bettina? Trump teen die EU – is Groenland se kool die sous werd?

  • 1

Groen agtergrond: Pixabay

  • Bettina Wyngaard skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.

Toe Trump die eerste keer geluide gemaak het dat hy Groenland deel van die VSA wil maak, het ek gemeen dis net nog een van sy onsamehangende toesprake wat gou-gou in die vergetelheid sal verval.

Ek was verkeerd.

Die afgelope paar dae het Trump vergaderings gehou met ampsdraers van Groenland en Denemarke, ’n brief geskryf aan die Noorweegse eerste minister, die Europese Unie gedreig met buitensporige tariewe en Frankryk spesifiek gedreig met tariewe van 200%. Die vergadering met die ampsdraers het, tot niemand behalwe Trump se verbasing, op dadels uitgeloop. Groenland het hoflik dankie, maar nee dankie gesê vir Trump se aanbod om hulle Amerikaners te maak. Dit is opgevolg met optogte deur Groenlandse burgers om hul misnoeë met die idee uit te spreek. Denemarke se minister van verdediging het aangedui dat hulle bereid is om Groenland militêr by te staan, sou Trump se dreigement om “iets in Groenland te doen, of hulle daarvan hou of nie” uitgevoer word.

........
Groenland is nominaal onder Deense beheer, alhoewel hulle onafhanklik is en selfbeskikking toepas. Enige aanval teen Groenland moet outomaties ook as ’n aanval teen Denemarke gesien word. Denemarke is een van Amerika se grootste bondgenote en het met elke oorlog sedert die Tweede Wêreldoorlog sy aan sy met Amerika geveg. 
........

Groenland is nominaal onder Deense beheer, alhoewel hulle onafhanklik is en selfbeskikking toepas. Enige aanval teen Groenland moet outomaties ook as ’n aanval teen Denemarke gesien word. Denemarke is een van Amerika se grootste bondgenote en het met elke oorlog sedert die Tweede Wêreldoorlog sy aan sy met Amerika geveg. Om ’n bondgenoot aan te val druis in teen alles waarvoor NAVO, die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie, tot nou toe gestaan het. Sou Trump deurdruk met sy dreigemente, beteken dit effektiewelik die einde van NAVO, waarvan Denemarke, die VSA en die meeste lidlande van die Europese Unie deel uitmaak.

Dit sal verder implikasies inhou vir die voortbestaan van die Verenigde Nasies.

Maar hoekom is Trump so hardnekkig in sy eise dat Groenland deel van die VSA moet word? Sy aanvanklike argument dat die VSA se militêre teenwoordigheid nodig is om Rusland en Sjina af te skrik, maak nie sin nie. Daar is ’n bestaande ooreenkoms in terme waarvan daar reeds ’n Amerikaanse teenwoordigheid in Groenland is, wat bloot uitgebrei kan word. Groenland se minerale rykdom kan ’n groot aantrekkingskrag wees, maar die koloniale tendens om aan te val en in te neem eerder as om handelsooreenkomste aan te gaan, is kommerwekkend.

Maar die vraag begin al meer ontstaan of enige van hierdie redes water dra. In ’n brief aan die Noorweegse eerste minister het Trump te kenne gegee die feit dat hy nie die Nobelprys vir vrede gekry het nie, is ’n groot oorweging vir hoekom hy Groenland wil besit. Die Noorweegse Nobel-komitee, bestaande uit vyf lede aangestel deur die Noorweegse parlement, die Storting, wys die wenner van die vredesprys aan, maar die Noorweegse regering het geen invloed op die proses nie. Die eerste minister kan nie die komitee beïnvloed om ’n spesifieke kandidaat te bevoordeel (of benadeel) nie.

Dit laat my wonder oor die onlangse militêre ingrype in Venezuela. María Corina Machado, Venezuela se opposisieleier, is die ontvanger van 2025 se Nobel-vredesprys, ’n prys waarop Trump sy hart gesit het. Kan dit wees dat Trump teen Venezuela opgetree het, omdat een van hul burgers die prys gekry het? En hoe bekommerd maak dit Groenland se burgers dat hulle lot op skrif verbind word aan die toekenning van ’n prys waarby hulle nie betrokke is nie en geen beheer oor het nie?

Machado het haar medalje aan Trump geskenk in ’n poging om hom tevrede te stel. Trump, in tipiese gedrag, het dit aanvaar. Dit het die Nobel Stigting genoop om ’n verklaring uit te reik waarin hulle dit duidelik maak dat die prys nie oordraagbaar is nie en dat die simboliese oorhandiging Trump nie nou die wenner van die prys maak nie.

Trump het ook gedreig om buitensporige tariewe te hef teen lede van die Europese Unie indien hulle voortgaan om sy eise ten opsigte van Groenland teen te staan. Die voorgestelde tariewe teen Frankryk is egter nie net ten opsigte van Groenland nie. Trump het ’n Vredesraad (Board of Peace) in die lewe geroep, en hy probeer Emmanuel Macron, Franse president, se arm draai om deel te word van hierdie raad, met ledegeld van 1 miljard dollar wat permanente lidmaatskap verseker. Dit voel soos ’n mafiategniek om beskermingsgeld te eis, wat Macron beslis nie meer geneë sal maak om lidmaatskap te oorweeg nie. Dat Trump ook terselfdertyd die skroewe oor Groenland stywer draai, is net ’n bonus.

Terwyl Groenland beslis van strategiese belang is, kan ek nie die gevoel afskud dat dit vir Trump nou ’n egosaak is nie. Hy is bereid om Amerikaanse bondgenote in die rug te steek, wêreldwye onstabiliteit te veroorsaak en oorlog te begin, met ander woorde sy speelgoed uit die wiegie te gooi, net omdat hy nie nee as ’n antwoord kan aanvaar nie.

Ek kan net hoop dat Denemarke, Groenland en die Europese Unie hulle nie laat boelie nie, want as Trump dit een keer regkry, gaan hy dit op ander nasies ook probeer.

Lees ook:

Wat sê Bettina? Trump as Venezuela se bevryder?

Wat sê Bettina? Watersekuriteit in 2026

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top