16 dae van aktivisme: Geen geweld teen vroue en kinders

  • 2

Sophia Kapp

Ek is nou sommer knorrig. Ek wil nie hierdie artikel skryf nie. Ek wil nie aan hierdie veldtog deelneem nie. Ek wil nie my steun daaraan toesê nie en ek wil nie my naam daaraan gekoppel hê nie. Ek wil nie 16 dae van die jaar afstaan aan aktivisme nie. Ek wil eintlik glad nie eers hoef te dink dat die regering, die onderwysdepartemente, die pers en die politici, die kerke en die wetstoepassers, die gemeenskap en die intelligentsia sestien dae per jaar opsy sit om te agiteer dat vroue en kinders as mense beskou moet word nie.

Lees ook:
Sophia Kapp daag vroue uit om hul regte op te eis
16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders

Moenie my verkeerd verstaan nie – hierdie saak lê my na aan die hart. En aan die lyf. Ek was al aan die ontvangkant van ’n vuis, en ek weet watse verwoesting dit meebring. Ek was ook bevoorreg – ek kon daaruit losbreek en vir myself ’n lewe skep waar ek veilig is. Nie almal is so gelukkig nie. Nie almal het die materiële of emosionele kapasiteit om dit te doen nie. En ek weet: daar is huise waar hierdie siklus dag na dag, jaar na jaar en geslag na geslag herhaal word. Ek wil mal word van frustrasie as ek net daaraan dink. Want 16 dae, ’n paar toesprake en ’n klompie artikels, hoe vurig ook al, gaan niks daaraan verander nie.

Jy roei nie hierdie ding binne 16 dae uit nie. Jy roei dit nie eers binne een geslag uit nie. Gesinsgeweld is nie iets wat per geleentheid gebeur omdat mense se humeure onbeteueld geraak het of omdat iemand gesuip by die huis opgedaag het nie. Dit gebeur ook nie omdat ’n vrou se rok te kort was of omdat ’n kind teruggepraat het nie. Dit is die opvatting dat daar hiërargieë van baasskap in huishoudings is wat ten alle koste behou moet word wat maak dat geweld plaasvind. En dit is nie ’n glips of ’n oomblik van swakheid nie, dit is ’n lewensuitkyk wat omskakel in ’n lewenswyse.

Ek is ook nie seker dat ek beïndruk is met die feit dat hierdie saak ’n veldtog geword het nie. Die blote feit dat die regering so iets van stapel stuur, is ’n bewys dat die einste regering nie daarin kan slaag om ’n basiese mensereg wat in die Grondwet verskans is, vir al sy burgers te waarborg nie. ’n Regeringsveldtog is in wese ’n klug; dis ’n geleentheid vir ’n paar politici om iewers op ’n verhoog te staan en stemme werf en om dekking op die nuus te kry. Dis lippetaal, en per definisie ’n belediging vir die mense wat hulle voorgee om te wil beskerm. Maar goed, in ’n land waar niemand aanspreeklik gehou word vir die slagting by Marikana nie, gaan ’n oorveeg oor ’n bord kerrie en rys nie veel gewig dra nie.

Wat meer is, die internasionale veldtog se tema is: aktivisme teen gendergebaseerde geweld. Ek wonder hoekom daar in hierdie land nie erkenning gegee word aan die feit dat binnekringgeweld dikwels wyer en sieker is as net geweld op vroue of geweld op kinders nie. Dis asof ons moeite het, ten spyte van wat ons Grondwet waarborg, om te aanvaar dat daar ander soort verhoudings bestaan as die konvensionele man + vrou + kinders, en dat daar in hierdie verhoudings ook spanning en konflik is. Ons ignoreer die verwoestende vooroordeel wat daar op talle fronte teenoor dieselfdegeslagverhoudings bestaan, en ons ontken die verplettering (wat dikwels met geweld gepaardgaan) wat daar in konvensionele gesinne plaasvind wanneer kinders onkonvensionele lewenskeuses maak. En ons weier om te aanvaar dat die geweld in hierdie situasies net so onaanvaarbaar is as in enige ander.

En dit is. Glo vir my, dit is.

Dis die ding van geweld: dit is ewekansig. Geweld het nie ’n geslag nie, dit het nie ’n kleur nie, dit het nie ’n ouderdom nie en daar is niks wat jou daarteen vrywaar nie – nie jou geld of jou agtergrond of jou fensie graad of jou goeie adres of jou geloof of jou lewenswyse of jou gedrag nie. Alle slagoffers lyk dieselfde, alle geweldenaars werk op dieselfde beginsel: Hulle heers deur middel van vrees. Alle vrees lê lam en almal wat met daardie juk op hulle nekke leef, is skaam daaroor.

Teen hierdie tyd weet ek ’n hele paar mense se hande jeuk om hulle penne in gal te gaan doop. Laat ek jou die moeite spaar: Ek het reeds al die etikette waaraan jy kan dink om my nek: libtard, feminazi, fag hag, ek is dit. (Jy hoef ook nie na ergeres gaan soek nie, hulle hang ook reeds daar.) Ek is te oud dat ek my oor labeltjies gaan moeg maak.

Waaroor ek my moeg maak, is ’n vrou wat langs my in die ry by Pick ’n Pay staan met haar lip stukkend en haar selfbeeld aan flarde. Of ’n student wat in my klas sit met geen heenkome nie omdat sy ouers hom uit die huis uit gejaag het omdat hy gay is. En nie reg gebliksem kon word nie. Ek is begaan oor die jong meisie wat dink dis liefde wat maak dat haar kêrel almal wil dooddonner wat met haar praat, en oor seuns wat verkragting as ’n soort inisiasieproses beskou. En ek is begaan oor ma’s wat nie hierdie wanopvattings regstel nie. Ek is begaan oor vroue wat geweld regverdig en nóg ’n generasie boelies en slaansakke grootmaak. Oor die pa’s ook, natuurlik, maar veral oor die ma’s wat van binne af daaraan werk om siek opvattings te beskerm.

Sien, ek skryf net een genre, liefdesromans, en dit is ’n genre wat by uitstek tradisionele rolle en konvensionele opvattings oor verhoudings bevorder. Ek gee geredelik toe: Daar is heeltemal te veel stories wat in hierdie genre gepubliseer word waarin geweld, subtiel en openlik, voorgehou word as ’n teken van manlikheid. Daar is te veel stories waar ’n gekyf en verbale mishandeling voorgehou word as die teenvoeter vir chauvinisme. Dit help nie ek ontken dit nie – dit maak dit net moontlik vir sulke snert om te gedy. Maar ek gaan ook nie ophou om liefdesromans te skryf nie. My taak as skrywer en as verantwoordelike lid van ’n geweldgeteisterde samelewing is nie om my genre te versaak, romantiek as snert af te maak of om tradisie en konvensie swart te smeer nie. (Daar is op die aarde niks met liefde, romantiek, tradisie of konvensie verkeerd nie; dis wanneer gruwels in die naam daarvan geregverdig word dat dit ’n probleem word.) My taak is om my genre van binne af te herskryf en so aan te bied dat die siek daarin blootgelê word. Ek kan nie veldtogte voer nie, maar ek kan, vir langer as net sestien dae, daaraan werk om seker te maak dat my lesers bewus raak van watter soort optrede ’n ander mens geweld aandoen.

Laat ek jou verseker: Georganiseerde verset verander nie opvattings nie. Opvattings verander net as mense (en let op die inklusiwiteit van daardie woord) op voetsoolvlak besluit het hulle het genoeg gehad. Daarom is dit jou taak: om waar jy jou ook al bevind van binne af te werk om ongeregtigheid bloot te lê. As jy hierdie samelewing verander wil sien, moet jý dit bewerkstellig. Jý moet aandring op respek en menswaardigheid, selfs al skel mense jou uit vir al die goed hierbo. Jý moet vir jou dogter leer hoe om seksuele teistering te herken en jou seun leer dat manlikheid en baasskap nie dieselfde ding is nie. Jý gaan die standaard moet stel. Jy kan nie wag vir die regering, die onderwysdepartemente, die pers en die politici, die kerke en die wetstoepassers, die gemeenskap en die intelligentsia nie. Jy kan nie wag vir ’n veldtog nie. Want jy sien, ware verandering kom van binne af. Dit begin by jou.

*

Sophia Kapp praat op 9 Maart om 10:30 in HB Thom Foyer as deel van die US Woordfees. Haar nuutste boek, Honderd en een oorlewingswenke van ’n bedonnerde diva (LAPA Uitgewers) sal dan reeds beskikbaar wees.

  • 2

Kommentaar

  • Om 'n genre wat "by uitstek tradisionele rolle en konvensionele opvattings oor verhoudings bevorder" van binne af te herskryf, verg nogal 'n aansienlike kombinasie van doelgerigtheid en dapperheid, want die gevaar bestaan sekerlik dat 'n mens jou lesers, van wie baie (die meeste?) waarskynlik gemaklik is met tradisionele rolle en konvensionele opvattings, kan vervreem. Maar ek het vir Sophia (via 'n paar ligte skermutselings) leer ken as iemand wat die moed van haar oortuiging nie versaak nie. En sy is reg: die verandering van 'n bedenklike of siek sisteem begin by elkeen van ons.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top