Wat sê Bettina? Hoekom is Sport, Kuns en Kultuur so ’n kopseer onder Gayton McKenzie?

  • 3
  • Bettina Wyngaard skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.

Toe Gayton McKenzie aangestel is as minister van sport, kuns en kultuur, was ek heeltemal bereid om hom kans te gee om hom te bewys. Erger as die R22 miljoen vlagpaal kon hy seker nie, het ek gemeen. Maar die afgelope paar weke het McKenzie hom bewys as veel gevaarliker.

Die meeste lesers behoort teen hierdie tyd bewus te wees van die kansellasie van Gabrielle Goliath se installasie, Elegy, aan die Venice Biennale. Elegy sou Suid-Afrika se inskrywing wees, nadat dit eenparig verkies is deur Art Periodic, ’n organisasie aangewys deur die departement om die keurproses te hanteer. Goliath het intussen voortgegaan met ’n dringende interdik om McKenzie te verhoed om haar installasie te onttrek. Beslissing moet nog in die saak gegee word.

Uit die hofstukke blyk dit dat McKenzie beswaar maak teen die gedeelte van die installasie wat spesifiek kommentaar lewer op die Israeli-volksmoord in Gaza, en dat dit aangevoer is as die rede waarom haar werk onttrek is aan die Biennale. Behalwe dat die minister se eie prosesse nie voorsiening maak daarvoor dat hy eensydig kunswerke kan onttrek nie, is dit ook ’n kommerwekkende poging om sensuur toe te pas op ’n kunstenaar. Wat sê McKenzie deur sy optrede? Net werke wat in lyn met sy siening is, sal ondersteun word. Die outokratiese ingrype maak dat kunstenaars wat in die toekoms wil deelneem aan prestigeryke geleenthede soos die Biennale, gaan begin selfsensuur toepas om tog nie die minister se argwaan op die hals te haal nie.

........
As kunstenaars nie vry is om hul kuns te beoefen op die wyse wat hulle goedvind nie, wie is dan vry? As regeringsamptenare toegelaat word om kunstenaars te muilband, wat is volgende? Hoe lank voor ons demokrasie net in naam bestaan?
.........

As kunstenaars nie vry is om hul kuns te beoefen op die wyse wat hulle goedvind nie, wie is dan vry? As regeringsamptenare toegelaat word om kunstenaars te muilband, wat is volgende? Hoe lank voor ons demokrasie net in naam bestaan?

Dis belangrik om in gedagte te hou dat die Suid-Afrikaanse regering regsaksie teen Israel van stapel gestuur het, juis omdat die regering die vergrype in Gaza as volksmoord sien, ’n siening gedeel deur die Verenigde Nasies. Die minister is met ander woorde besig om met die amptelike siening van die regering wat hom aangestel het, te breek. Hy is ook besig om ons Handves van Menseregte, die bakermat van ons Grondwet, te ignoreer. Vryheid van spraak is ’n gevestigde en gewaardeerde deel van die tekstuur van ons samelewing. Ons is in staat om ons eie regering te kritiseer, maar nou probeer die minister ’n kunstenaar verhoed om ’n ander regering te kritiseer? Aikona, dis nie hoe demokrasie werk nie.

........
Ons is in staat om ons eie regering te kritiseer, maar nou probeer die minister ’n kunstenaar verhoed om ’n ander regering te kritiseer? Aikona, dis nie hoe demokrasie werk nie.
........

Boonop het McKenzie toe probeer om op ondeursigtige manier ander kunswerke en kunstenaars te kies om deel van die Biennale te vorm, in stryd met die neergelegde prosedure. Hy het inderwaarheid Art Periodic in die pad gesteek om dit te kon doen. Dit herinner sterk aan die wyse waarop hy ingemeng het in die keurproses om skrywers te kies om deel te neem aan die Internasionale Boekfees in Havana, Kuba, in 2025. Daar is toe ook bewerings gemaak dat die minister nie die amptelike voorleggings aanvaar het nie, maar sy eie lysie skrywers saamgestel het wat die fees bygewoon het.

Telkens lyk dit asof die minister sy bes probeer om sy eie departement te kortwiek. Die Grahamstad-fees, een van die bekendste kunstefeeste in die land, is op onvaste voet nadat die departement nie hul finansiële steun aan die fees bevestig het nie. Net hierdie week is aangekondig dat Jeffreysbaai, die enigste branderry-venue in Afrika om deel van die Wêreld Branderry Liga se rooster uit te maak, nie vanjaar as venue gekies is nie, weens gebrek aan finansiële ondersteuning, algemeen verstaan om gebrek van die departement se kant te wees.

Met die hofsaak hangend, is daar ’n goeie kans dat ook deelname aan die Venice Biennale in gevaar gestel word, alhoewel die departement ons wil laat glo daar sal wel ’n Suid-Afrikaanse teenwoordigheid in Venesië wees. Ek vermoed dit sal ’n teenwoordigheid van amptenare eerder as kunstenaars wees, soos wat al meer gereeld die tendens in McKenzie se departement begin raak.

In enige regering van nasionale eenheid gaan daar oomblikke van spanning wees, maar daar behoort tog ’n algemene aanvaarding van demokratiese waardes te wees. Vryheid van spraak en vryheid van kreatiewe uitdrukking is een van daardie gedeelde waardes, of dit behoort te wees.

As ’n minister nie aan daardie basiese vereiste kan voldoen nie, behoort hy nog in die kabinet?

Lees ook:

"Ek het al die bloede in my … ek ís die nuwe Suid-Afrika."

Wat sê Bettina? Trump teen die EU – is Groenland se kool die sous werd?

  • 3

Kommentaar

  • Ja toemaar, jy is nie al een nie. Ek het ook die standpunt gehandhaaf van - gee die man 'n kans. Tog, mens kan maar net kyk hoe die PA bestuur word, om reeds gevaarligte te sien. En tog is verstommend baie Suid-Afrikaners heel gemaklik met die outokratiese styl van partye soos die PA, EFF en MK. Suid-Afrikaners hou maar steeds van die sterk man wat sy voet neersit. Die Trump-soort van bestuurstyl.

  • Jong, as mens jou laaste vraag eerlik moet beantwoord, moet so 90% van die kabinet die trekpas kry.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top