Wat sê Bettina? Die dag toe die begroting in die hek geduik het

  • 2

........
Die begrotingsrede is kort voordat dit op 19 Februarie voorgehou moes word, uitgestel na 12 Maart. Die toespraak met al die gepaardgaande dokumentasie is alreeds na joernaliste gestuur. Minister Enoch Godongwana het klaarblyklik nie verwag dat daar teenkanting teen sy begroting sou wees nie.
........

“I’m starting to worry 2025 is just three 2020’s stacked in a trench coat,” sê Kenzi Enright op sosiale media, en wie kan haar blameer? Hierdie jaar is soos ’n wilde perd wat volspoed op ’n afgrond afpeil.

Wie sou begin verlede jaar gedink het Amerikaanse demokrasie lê op sy sterfbed? Ek was van plan om ander voorbeelde te noem, soos die oorlog in Oekraïne, of die plan om Gaza in ’n luukse vakansieoord te omskep, maar toe besef ek die wortel van die kwaad is in al die gevalle dieselfde. Daar is wel ’n verwagting dat sekere tradisies klokslag elke jaar dieselfde sal wees. Die staatsrede in Suid-Afrika is normaalweg vroeg in Februarie, met die begrotingsrede binne twee weke daarna. Hoekom sal dit afwyk? Dis hoe dit nog altyd was, maar 2025 is blykbaar in geen opsig business as usual nie. Die begrotingsrede is kort voordat dit op 19 Februarie voorgehou moes word, uitgestel na 12 Maart. Die toespraak met al die gepaardgaande dokumentasie is alreeds na joernaliste gestuur. Minister Enoch Godongwana het klaarblyklik nie verwag dat daar teenkanting teen sy begroting sou wees nie. Ander vennote in die regering van nasionale eenheid het anders gevoel, wat natuurlik in sommige oorde vrae laat ontstaan oor hoeveel eenheid daar regtig is in die regering.

Die DA het natuurlik dadelik gespog, op sosiale media, dat dit hulle teenstand is wat die ANC in hul spore gestuit het. Hulle het duidelik niks geleer omtrent die gevare van te vroeg oorwinnings verklaar uit AfriSol se onlangse faux pas nie. Minister Gayton McKenzie het vinnig reageer, ook op sosiale media, om die DA as leuenaars te verklaar en te sê dat daar heelwat teenkanting van verskeie partye was, ook van sekere ministers binne die ANC. Soms verlang ek terug na dae toe ministers nie politieke sake op sosiale media probeer besleg het nie.

Die teenkanting het grootliks gegaan oor die 2% toename in belasting op toegevoegde waarde wat die minister van finansies wou voorstel om begrotingstekorte aan te vul. Aanvanklike berigte het dit laat klink asof die idee van ’n aanpassing van BTW die oggend van die begrotingsrede vir die eerste aan die ander partye in die RNE geopper is. Dis egter nie die geval nie, blyk uit latere berigte. Minister Godongwana het wel tydens ’n kabinetsvergadering vroeër in Februarie aangedui dat die moontlikheid van ’n aanpassing bestaan. Gesprekke het toe gegaan oor ’n 1% toename, waarmee partye skynbaar tevrede was.

.........
Ons hou alreeds een oog op tariefverhogings van Amerika wat ons beursies gaan seermaak. Maar word die baba met die badwater uitgegooi deur die hele begroting te skrap? Of anders gestel, wat was daar in die begroting wat goeie nuus sou wees?
.........

’n 2% toename sal natuurlik heelparty goed baie duurder maak, en niemand wil nog duurder betaal vir goed as wat alreeds die geval is nie. Ons hou alreeds een oog op tariefverhogings van Amerika wat ons beursies gaan seermaak. Maar word die baba met die badwater uitgegooi deur die hele begroting te skrap? Of anders gestel, wat was daar in die begroting wat goeie nuus sou wees?

Sekere basiese goedere is alreeds van BTW vrygestel, en die minister was van voorneme om daai lys uit te brei. In die begroting wat voorgestel is, sou elektrisiteit van BTW vrygestel wees, iets wat aansienlike verligting sou bring en sou help om die angel uit die elektrisiteitsverhoging wat in April in werking gestel word, te haal. Vleis en vleisprodukte, soos pluimvee, skaap, bees, lam en bok, sou van BTW vrygestel word. Alle Sassa-betalings sou bo inflasie verhoog word, wat die ekonomiese druk op die armste deel van die bevolking sou verlig.

Hierdie ekonomiese verligtingsinisiatiewe word nou met meer as ’n maand uitgestel. Dit klink dalk nie na lank nie, maar dis een maand meer wat daar duurder vir vleis en elektrisiteit betaal word. Om die begroting te maak klop, gaan daar dalk afgesien word van Sassa-verhogings. Dis hier waar ek vermoed die DA se gespog gaan terugkom om by hulle te spook. Wil hulle regtig die party wees wat die oorsaak is daarvan dat oumense en kinders honger ly omdat hulle subsidies nie verhoog is nie? Natuurlik is hulle nie die enigste party wat die begroting teengestaan het nie, maar hulle was eerste om te spog daarmee en hulle is die party wat beskuldig word dat hulle uit voeling is met wat op voetsoolvlak gebeur. (Die ANC is ook heeltemal uit voeling, maar in hierdie geval lyk hulle soos die party wat die armes probeer help. Soos ons weet, optics is alles.)

Almal wys nou fluks vinger na mekaar, en die media maak hulle gereed om te verklaar dat die RNE gefaal het.

Ek is meer optimisties. Ons het tog nie verwag dat hierdie RNE altyd vlot gaan saamwerk nie, of hoe? Daar is partye met fundamentele ideologiese verskille en met verskillende belangegroepe wat nou moet saamwerk. Natuurlik gaan hulle koppe stamp. Dis natuurlik. Elkeen probeer hulle plek in hierdie nuwe bedeling vind, en elkeen toets die grense van waarmee hulle kan wegkom.

.........
Wanneer ek sommige koerantberigte lees, dan sien ek schadenfreude oor wat hulle as die ondergang van die RNE beskou. Nie almal wil hê ons moet ’n suksesverhaal van samewerking wees nie.
........

Maar die suksesverhaal van die RNE kan nie uitsluitlik gemeet word aan wat met die begroting gebeur nie. Dit moet ook gemeet word aan die suksesse wat alreeds die afgelope aantal maande plaasgevind het. Die land is beter daaraan af met ’n bietjie spanning en kompetisie tussen die ministers in die verskillende portefeuljes. Elkeen wil presteer en beter doen as sy kollegas uit ’n ander party. Die ANC besef vir die eerste keer dat hulle resultate moet lewer as hulle oor vier of agt jaar nog in die regering wil wees. Kyk hoe vinnig is ons elektrisiteitsprobleme opgelos.

Die sukses van die RNE behoort ook gemeet te word aan hoe gesprekke tussen nou en 12 Maart gaan plaasvind, en watter toegewings partye bereid is om te maak. Wanneer ek sommige koerantberigte lees, dan sien ek schadenfreude oor wat hulle as die ondergang van die RNE beskou. Nie almal wil hê ons moet ’n suksesverhaal van samewerking wees nie.

Wat my gerusstel, is nie dat daar stryery onderling is nie. Partye is nog in gesprek met mekaar. Hulle praat en hulle luister. Word ons nie vertel dat suksesvolle kommunikasie die geheim vir ’n gelukkige huwelik is nie?

Lees ook:

Wat sê Bettina? Staatsrede 2025: meesterklas in diplomasie

Wat sê Bettina? Beurtkrag of strafkrag?

Die RNE kabinet is gevorm; wat nou?

’n Regering van nasionale eenheid en die pad vorentoe

Die nuwe kabinet: Hoe lank gaan die RNE hou?

 

  • 2

Kommentaar

  • Barend vd Merwe

    Sal maar sien wat word. Die vorige kere wat dinge uitgestel is, het die ANC uiteindelik tog maar hulle sin gekry. Wat is die alternatief? Alle politici is dieselfde. Die DA doen gewoonlik presies dieselfde as wat die ANC doen. Wanneer dit die DA is wat die meerderheid binne bepaalde koalisies is, soos dikwels op plaaslike regeringsvlakke, dan dwing die DA eenvoudig hulle wil af. Omdat hulle die 'senior' en grootste is. Almal weet die RNE is niks anders as 'n koalisie nie. Die ANC noem dit vir strategiese redes maar 'n RNE. So ek reken die BTW gaan tog uiteindelik verhoog word en daar is niks wat die DA daaraan sal kan doen nie. Hulle sal eenvoudig hulle ogies moet toeknyp en sluk, soos die res van ons. Die geld is op en die politici gaan nie ophou steel nie, so daar moet eenvoudig net iewers nog geld uitgepers word uit die publiek.

    Die politici het net nog geld en nog tyd en nog hulpbronne gemors. Hoeveel mense het verniet Kaap toe gery vir die okasie, en moes toe terugdraai?

    Kom ons kyk of die RNE my die keer verkeerd bewys...

  • "AfriSol se onlangse faux pas" Hoe dan so?... daar was berigte van eerbare regeringslui se geskarrel vir besigheidsklasvlugkaartjies Washington toe.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top