Ware spookverhale van Suid-Afrika deur Daniël Lötter: ’n resensie

  • 2

Ware spookverhale van Suid-Afrika
Daniël Lötter
Protea Boekhuis
ISBN: 9781485313007

......

Ware spookverhale van Suid-Afrika is goednagevorste ontsnappingsliteratuur wat jou elke nou en dan koue rillings sal gee. Geniet die boek, maar moet dit liefs nie na donker aanpak nie.

........

Toe ek jonk was, was ek behep met spookstories. Soveel dat toe ek nege jaar oud was, ek en my broer lokvalle in ons kamer gestel het om spoke te vang. Maar helaas was daar geen spoke in ons huis nie. Met die lees van Ware spookverhale van Suid-Afrika word dit egter baie gou duidelik dat die skrywer, Daniël Lötter, aansienlik meer behep was (op ’n goeie manier) en aansienlik meer geslaagd was in sy spookjagavonture.

Nietemin, as ’n aanhanger van spookstories en die "misterie", is ek die taak gegee om die boek te lees en ’n resensie daaroor te skryf. So, laas Sondag, op ’n koue, reënerige somersdag hier in Amsterdam het ek begin lees. Op daardie oomblik was die boek presies waarna ek gesoek het – ’n lekker ontsnapping van die koue weer. En teen bladsy 25 was ek totaal ingesuig en meegevoer deur die verhale van al die Suid-Afrikaanse spoke. Die verhale lees lekker en vinnig en jy kan óf enkelstories per geleentheid geniet óf groot afdelings op ’n slag aandurf – afdelings wat handel oor verjaarspoke, saampraatspoke, krisisspoke, en meer.

Die eerste helfte van die boek het ek die eerste Sondag aangepak. Met die lees besef mens dat daar iets nostalgies aan die teks is, iets wat jou terugneem na ouer tye – hetsy die tyd van die VOC se bewind aan die Kaap, die tyd van die Voortrekkers, of die jare van die Anglo-Boereoorlog. Die taalgebruik en skryfstyl van die boek is ietwat "oudmodies", met woorde en ou Afrikaanse sêgoed waarby jonger lesers nie noodwendig sal aanklank vind nie. Maar mens besef ook dat dié taalgebruik goed geskik is vir die vertel van die verhale, want dit gee die stories ’n tipe geloofwaardigheid wat dit laat voel asof dit deur sprekers uit ’n ouer tyd oorgedra is.

........

Een van die verhale in die eerste helfte van die boek wat die vreesaanjaendste is, dra die beskeie titel van “Die rooikopvrou”. Maar moenie dat die titel jou flous nie. Die verhaal bevat al die elemente van ’n goeie horror.

.........

Een van die verhale in die eerste helfte van die boek wat die vreesaanjaendste is, dra die beskeie titel van “Die rooikopvrou”. Maar moenie dat die titel jou flous nie. Die verhaal bevat al die elemente van ’n goeie horror: Vreemdelinge wat niks verwag nie, kom aan in ’n klein dorpie, en gou begin dinge skeefloop. Later blyk dit dat alles "opgelos" is, maar dan eindig die storie met ’n skokkende angel in die stert wat jou sal laat sidder. Die verhaal van Anita se blou trui het net so ’n lekker kinkel in die kabel.  

...

Die daaropvolgende Sondag (wat nou vandag is) het ek besluit om die tweede helfte van die boek aan te pak. Weer het dit gereën, weer was dit koud, en weer was die boek die perfekte ontsnappingsliteratuur vir ’n Sondagmiddag.

Wel ... perfek totdat – soos die skrywer sê (en ek parafraseer nou deels hier) – "die skemer om ons huis neergedaal het en ’n eensame windjie opgesteek het, wat ons met ’n somber gevoel gelaat het wat ons nie kon skud nie". Veral by die afdeling oor goëlery het die aardige gevoel regtig begin nesmaak in my.

Ek moet ook net noem dat die woord "goël" my nog altyd onrustig gelaat het. Dit wakker beelde van heksery, demoniese entiteite en donker séances by my op – bonatuurlike elemente waarby ek self nie noodwendig baie aanklank vind nie. Dan moet ek ook net noem dat die woonstel waarin ons bly, 120 jaar oud is, met geen dubbelglas om die wind uit te hou nie en ou houtvloere wat lekker kraak in die laatnag.

Dus skuins na 11, hier in die donker woonstel met sy ou houtvloere, sukkel mens om die aardige gevoel wat die boek by mens opwek, af te skud.

......

Dus skuins na 11, hier in die donker woonstel met sy ou houtvloere, sukkel mens om die aardige gevoel wat die boek by mens opwek, af te skud.

.......

Die tweede helfte van die boek raak aansienlik meer makaber, veral wanneer die spoke jou skielik goed kan begin aandoen en families vir dae, weke of selfs maande lank kan teister. Stories wat jou nekhare laat rys en jou laat regop skiet elke keer as iets iewers in die donker kraak. Maar is hierdie tipe aardigheid wat dit by jou opwek, nie presies wat ’n goeie spookstorie (of dan "spookboek") veronderstel is om te doen nie?  

...

Ware spookverhale van Suid-Afrika is by verre een van die lekkerste Afrikaanse boeke wat ek in ’n lang tyd gelees het. Die boek is tegelykertyd lig en makaber, en die stories is gevul met intriges en misterie – alles wat ’n boeiende spookstorie benodig.

......

Een leemte in die boek is dat dit nie verhale van alle bevolkingsgroepe in Suid-Afrika insluit nie. Die skrywer maak self melding hiervan in die voorwoord, en hopelik skep hierdie leemte ’n geleentheid vir ’n tweede volume wat fokus op verhale van ’n meer diverse oorsprong.

.......

Een leemte in die boek is dat dit nie verhale van alle bevolkingsgroepe in Suid-Afrika insluit nie. Die skrywer maak self melding hiervan in die voorwoord, en hopelik skep hierdie leemte ’n geleentheid vir ’n tweede volume wat fokus op verhale van ’n meer diverse oorsprong.

Nietemin kan ek Ware spookverhale van Suid-Afrika deur Daniël Lötter aanbeveel vir almal wat hou van spookstories, volksverhale, misterie en ’n bietjie nostalgie vir ’n tyd toe al waarvoor jy bang hoef te gewees het, die gekraak van die houtvloere in die laatnag was.

Ware spookverhale van Suid-Afrika is goednagevorste ontsnappingsliteratuur wat jou elke nou en dan koue rillings sal gee. Geniet die boek, maar moet dit liefs nie na donker aanpak nie.

  • Derick Muller was die regisseur en skrywer van die film Wesens, wat onder andere die bonatuurlike ondersoek.

Lees ook:

Afrikaanse wetenskapfiksierolprent Wesens binnekort in teaters

Filmresensie: Wesens

Wesens: “Wie was eerste hier?”

Framing the film Wesens (2020) from a cinematic perspective

Wesens: Discovery of “the other” in the Klein Karoo

Wesens: a review by Ayden Kruger

  • 2

Kommentaar

  • Marc Vandepladutse

    Hallo, kan ik dit boek (Ware spookverhale) in Europa kopen? Ik woon in Vlaanderen (BE).

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top