Afrikaanse wetenskapfiksierolprent Wesens binnekort in teaters

  • 0

Derick Muller

Wesens, ’n nuwe Afrikaanse wetenskapfiksierolprent, maak binnekort sy verskyning in rolprentteaters landwyd.

Die rolprent speel af op ’n plaas in die Karoo in 1967, waar ’n vreemde voorwerp geland het en vier Suid-Afrikaanse Republikeinse Intelligensiediens-agente vervolgens onder streng geheimhouding ondersoek instel…

Die rolverdeling sluit Albert Maritz, Pietie Beyers en Morné Visser in.

Wesens is landwyd van 23 Oktober af in teaters te sien.

Die skrywer en regisseur Derick Muller vertel meer.

Vertel asseblief meer oor Wesens – waaroor handel dit?

Baie dankie, Marli, vir die geleentheid om vir jou meer te vertel.

Wesens is ’n Afrikaanse "found footage"-film wat afspeel op ’n plaas in die Karoo in 1967.

Op 1 Desember 1967 het ’n vreemde voorwerp op ’n boer se plaas in die Karoo geland. Twee dae later ondersoek vier Suid-Afrikaanse Republikeinse Intelligensiediens-agente hierdie voorwerp met ’n Super 8- en 16 mm-kamera. Wat volg, is ’n raaiselfilm wat jou tot op die laaste oomblik boei.

Van waar die inspirasie agter die rolprent?

Dit het als begin toe ek en Karin (Muller), wat saam met my die film vervaardig het, een naweek by ’n oudhedewinkel in Ceres ’n ou 16 mm-Pentaflex-filmkamera gekoop het. Binne in die kameraboks was hierdie ou filmrolle. Ons het nie ’n filmprojektor by die huis nie, so kon nooit sien wat op die filmrolle is nie. So, later het ek net begin dink: Imagine daar is iets crazy op hierdie filmrolle. En van daar af het die konsep vir Wesens begin. Maar die storie het vir meer as ’n jaar eers in my kop gebroei en ontwikkel voordat ek pen op papier gesit het.

Wat maak jou opgewonde oor hierdie rolprent?

Die draaiboek. Mens het so min die geleentheid om ’n film te maak, so ek het net besluit om my instink te volg en iets te skryf wat nie die resep van ’n tradisionele genrefilm volg nie. Om iets uniek Afrikaans en, meer belangrik, uniek Suid-Afrikaans te skep wat vir jou meer gee en meer bied as net nog ’n film. Want dit is wat ek self soek in ’n film. Ek soek iets met waarde en diepte, wat onvoorspelbaar is en mens nog kan verras.

Hoe het jy die proses benader om die draaiboek te skep?

Dit gaan nou baie onkreatief klink, maar dit het als begin met die begroting. Ek het die draaiboek aangepak nadat ek van Amerika af teruggekom het waar ek vir ses maande as uitruilstudent aan Yale-universiteit se bestuurskool in Connecticut studeer het as deel van my MBA-studie. So, ek het die draaiboek eers uit ’n besigheidsoogpunt benader.

Ek het verslae getrek oor hoe goed (en sleg) Suid-Afrikaanse films vaar en navorsing gedoen oor potensiële verkoopspryse en dies meer en toe so uitgewerk wat is die maksimum wat ek kan begroot om seker te maak dat die film nog ’n wins sal maak. En eers van daar af kon ek met die draaiboek begin. Want toe weet ek ons moet ’n storie hê wat ons met net sóveel akteurs en net sóveel stelle (locations) kon vertel.

Daarna was dit net baie harde werk, ongelooflik baie navorsing en maande van sit en skryf en aan die teks skaaf. Gelukkig was Karin daar om saam met my deur die teks te werk en saam met my die karakters te ontwikkel om seker te maak hulle is geloofwaardig en eg.  

Wat was die uitdagings verbonde aan die verfilmingsproses?

Ons het die film geskiet op ’n plaas op die Oubergpas meer as ’n uur buitekant Montagu. Op die plaas is daar geen selfoonopvangs, geen elektrisiteit, en geen water nie – net ’n klein fonteintjie. So, dít – die omgewing self – was die grootste uitdaging.

En hoogtepunte?

Daar was ongelooflik baie hoogtepunte, veral die kameraadskap tussen ons almal op stel. Ons het gevoel soos ’n klein familie wat iets uniek probeer skep.

Die ander groot hoogtepunt was die toneelspel. Ál die akteurs het fantasties hul rolle vertolk. Omdat alles "found footage" is, mag dit nie lyk of hulle act nie. Als moet natuurlik wees. Jy móét die karakter wórd, anders voel dit vals.

Ek dink dit was baie uitdagend vir die akteurs, want dit is lang tonele met komplekse dialoog. Maar beide Morné Visser en Pietie Beyers – wat die hoofrolle vertolk – het uitstekende werk gedoen. Hulle trek jou in die tonele en in hierdie wêreld van die film in.

En Albert Maritz, wat die rol vertolk van die boer op wie se plaas die voorwerp geland het, het almal weggeblaas. Hy is by verre een van die beste akteurs in die land. En ek wens almal kon op stel wees om in lewende lywe sy toneelspel te sien. Die vóél nie eens soos toneelspel nie. Hy ís die boer.

Maar dit is nie net die akteurs in die hoofrolle nie. Álmal – Randy Januarie, Conradie van Heerden, Pierre Nelson en Rayno von Schlicht – het eenvoudig sulke uitstekende werk gedoen. En ek kan nie wag tot mense hulle op die grootskerm sien nie!

Die akteurs wat die karakters vertolk, is ’n belangrike komponent van die sukses van ’n rolprent. Hoe is daar op hierdie akteurs besluit?

Ek werk al vir baie jare saam met Pietie Beyers en Morné Visser, en ek weet hoe goed hulle albei is, so ek het die draaiboek met hulle in gedagte geskryf. En van daar af was dit ’n lang proses om die res van die akteurs te kry.

Maar gelukkig het Susanne Beyers, met wie ons ook al vir jare saamwerk, fantastiese jong akteurs aan ons voorgestel. Met die oudisies moes ek en Karin toe kyk hoe werk die chemistry tussen al die akteurs en dan vloei alles van daar af. Maar dit is iets wat jy nie objektief kan besluit nie – dit is totaal ’n gevoel wat vir jou sê: Ja, hierdie is die perfekte persoon vir die rol. 

Wat kan die gehoor te wagte wees van Wesens – wat maak hierdie rolprent uniek?

Wel, mens kan maklik sê álles van hierdie film is uniek. Maar ek dink mense moet liewers eers die film gaan kyk en dan self besluit. Die stadige ritme van die slow burn mystery gaan dalk nie almal geval nie, maar ek dink dié mense wat die film verstaan en daarby aanklank vind, gaan dit love.

  • Foto's: verskaf
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top