Filmresensie: Wesens

  • 1

Wesens
Met:
Pietie Beyers, Morné Visser en Albert Maritz 
Regisseur en skrywer:
Derick Muller

Wat Wesens des te meer merkwaardig maak, is die dapper, onverwagse, lewegewende filosofie agter die rolprent wat so ver verwyder is van tradisionele Afrikaanse rolprente soos ’n politieke gewete van sekere besluite wat in regeringskringe geneem word.

Hier het ons nie te make met ’n goedkoop, vinnig-aanmekaargeflansde nabootsing van glans-Amerikanismes om die loket te voer nie, want Amerika het die sogenaamde ruimtefiksiefilm mos “vervolmaak”. Die teenoorgestelde gebeur.

Ons word terugvervoer na die Georges Méliès-era, daardie slim baanbrekersregisseur uit Frankryk wie se kortrolprent A Trip to the Moon (1902) (Le Voyage dans la lune) spog met seker een van die mees ikoniese beelde ooit uit rolprente: ’n befoeterde maan wie se regteroog beseer is deur ’n lomp ruimtetuig, wat kaboem! in sy pupil geland het.

Daar was, natuurlik, vorige rolprente oor dieselfde onderwerp deur Méliès, een so vroeg as 1898, maar die 1902-weergawe het in die kollektiewe onderbewussyn bly vassteek. Die maan is van kaas gemaak en daar is ’n man in die maan!

Daarna het honderde ander gevolg, waaronder die goedkoop B-rolprente van veral die vyftigerjare waar wrede, gruwelwesens uit die buitenste ruim aardlinge geterroriseer het. Dink maar aan Orson Welles se radiohoorspel The War of the Worlds, ook die 1953- en afskuwelike 2019-weergawes. Oorweeg ook die duisende ander nabootsings soos The Day of the Triffids, ook genoem Invasion of the Triffids in 1963, The Day the Earth Stood still in 1951, en tallose navolgers. In 95% van die gevalle was die aliens ons vyandiggesind, tot Steven Spielberg die prentjie ’n snapsie verander het met E.T. The Extra Terrestrial in 1982 en1977 se Close Encounters of the Third Kind, om nie te praat van Stanley Kubrick se meesterstuk 2001: A Space Odyssey (1967) nie.

Derick Muller se skokstok-rolprent Wesens, sekerlik Afrikaans se eerste ruimtefiksiefilm, leen so ’n fraksie by Kubrick, maar dan net die filosofie agter die meester en Arthur C. Clarke se stelling wat ’n mens nie hier durf verklap nie omdat dit die klimaks van die rolprent mag befoeter.

Genoeg om te sê dat Muller ons hiermee terugneem na die Carfo-dae (1950’s en 1960’s) toe Afrikaanse rolprente op ’n begroting kleiner as die punt van ’n skoenveter gemaak is waarin akteurs dikwels goedgunstig verniet gespeel het, en wat almal ’n geestelike boodskap oorgedra het.

Wesens se boodskap is nie noodwendig suiwer “geestelik” of religieus nie, maar dit stem die kyker tog tot nadenke oor waar die mens vandaan kom, die heelal, die Godheid, hoekom ons deur middel van swaartekrag aan hierdie stuk rots vasklou wat deur die ruimte tuimel en om die son wentel, en hoekom ons eintlik hier is. “Wat is die betekenis van die lewe hier op aarde?” is seker een van die tergendste vrae wat geen filosofie, godsdiens of geniale sterrekundige nog ooit bevredigend kon beantwoord nie.

Wesens probeer dit ook nie verklaar nie, maar mymer tog oor die ontstaan van die eerste lewende organisme op hierdie planeet en die oorlewing daarvan, hetsy oorgedra deur Khoi-legendes, of filosowe en wetenskaplikes se eeu-oue navorsing. Daarvoor sou ’n mens miljarde rande nodig hè om te verbeeld, maar Muller het net durf, vermetelheid en ’n koppige vasberadenheid, gekoppel aan hope talent.

Hy omseil die probleem van ’n reuse-begroting deur van The Blairwitch Project se tegniek gebruik te maak, of eintlik gedeeltelik daarby te leen. Want sou die kyker sy of haar gesonde verstand inspan, maak die gebeure en verfilming deur twee kameras eintlik nie behoorlik sin nie.

In elk geval, in hierdie geval word filmrolle, wat in die vroegsestigerjare geskiet is, in die Karoo ontdek. Hierin ry ’n paar tradisionele Afrikaanse manne, darem nie almal stereotipes nie, deur die Karoo rond nadat ’n boer (’n lekker groot boepens Albert Maritz as ’n tipiese Karooboer met al sy vooroordele) ’n vreemde ontdekking gemaak het. Maar tussen die ouens is ’n bogemiddeld intelligente en sensitiewe kinematograaf, uitmuntend gespeel deur Pietie Beyers, wat die rit deur die Karoo tot by sy eindpunt verfilm en in verstomming met stil respek gadeslaan.

Daar moet hier bygevoeg word dat Beyers deesdae uitblink as een van Suid-Afrika se top-akteurs wat ’n nuwe dimensie aan rare karakters gee. Nie alleen speel hy binnekort in ’n radiodrama die rol van ’n wese van ’n ander planeet nie, sy ander werk getuig ook van diep nadenke, ’n deeglike ontleding van die verskuilde motiewe en eksentrieke, dikwels neerslagtige agendas. Hy kan ook doodgewone mense (soos in Meisies wat Fluit, 2020) ’n nuwe, selfs bedaarde dimensie gee. Hy kyk na die siel van sy karakters en dra hulle in getemperde spel oor.

In Wesens werk sy karakter se brein oortyd. Kyk hierdie wese vanuit ’n dor, doodse landskap in ’n ander dimensie in. Hoor hy geluide en sien dinge raak waarvoor ander doof en blind is. En maak hy kontak met ’n ander wêreld wat in hierdie rolprent eintlik deur ’n membraan waargeneem word. Die film is die naelstring waaraan ons aan ’n unieke visie gekoppel word.

Muller verfilm sy verhaal met ’n primitiewe, outydse kamera, natuurlik daarom dat die beelde uit fokus blyk te wees, die volle breedte en wydte van die silwerdoek nie na behore gebruik word nie en dikwels nie altyd op die onderwerp van belang fokus nie. Wat verder in die soms windskeef, onduidelike kinematografie skuil, is die aweregse visie van ’n regisseur wat waarsku: “ons is nie alleen nie en niks is vanselfsprekend nie,” maar hy ontsnap nie met die cliché-alien wat die aarde wil oorneem en annekseer nie, maar ’n blik op die skepping. Omdat die gewaarwording van wie ons werklik is en waar ons vandaan kom so oorweldigend is, kan ’n mens nooit ’n behoorlike begrip en dus fokus daarvan vorm nie. Dit is te oorweldigend.

En daarvoor moet Muller geloof word. Hy gebruik soms die sogenaamde Dutch tilt-tegniek waar die kamera skeef gedraai word, of waar die fokuspunt uit die skerm verdwyn en later weer ontdek word. Nêrens is daar ’n skoot waar die karakters netjies, soos in ’n “normale” rolprent, binne die raampie pas nie. Nog minder bevoordeel of verfraai die beligting nie die mense nie. Om die waarheid te sê, daar is nie eintlik sprake van beligting in die tradisionele sin van die woord nie, daarom mag “lui” of tradisionele kykers, wat uit hul gemaksone geruk word, heel verstaanbaar nie aanklank by die rolprent vind nie. Kleuruitsyfering (colouring) word byvoorbeeld gebruik om die fel, hel-harde Karooson te temper en te verbleek.

So baie Europese regisseurs en kinematograwe beland in Suid-Afrika en raak verblind deur ons helder sonlig. Weet nie wat om daarmee te maak of hoe om dit aan te wend of selfs visueel te “tem” vir sensitiewe Europese oë nie. Hulle raak oorweldig daardeur. Maar nie hier nie. Hierdie jong, opwindende rolprentmaker se beelde bevat feitlik geen kleur nie. Weerspieël die doodse dorheid van die Karoo waaronder lewe skuil en gedy, maar ’n doodsheid so erg dat ’n mens byna in die stof verstik en die hitte op jou kopvel voel kriewel. Jy kry eintlik sonsteek van die rolprent. Maar dit alles dra by tot die geheelbeeld van hoe die eerste lewende organisme op aarde leer oorleef het en oorweldig is deur die vyandigheid, maar ook doodse skoonheid, van hierdie onverstaanbare planeet.

Daar is ’n prikkelende, opwindende denkproses agter Muller se rolprent. Hy neem jou na ’n voorgeboortelike stadium waar organismes veg om tussen lewe en dood te onderskei en uiteindelik die lewe kies, dikwels met verraderlike gevolge.

Wesens is dus soos niks wat jy nog in Afrikaans gesien het nie. Dit dwing jou uit jou springmieliesone en gee nuwe moed aan mense wat dink die Afrikaanse rolprent is besig om uit te sterf. Dit bewys dat jy met die minimum geld, maar die maksimum talent en waagmoed, ’n uitdagende, moedswillige, astrante produk kan voortbring wat die Afrikaanse rolprent na ’n nuwe vlak neem. En daarvoor moet Derick Muller en sy vrou, Karin, geloof word.

Onderwerp jou aan hierdie rare, eksentrieke en byna onbeskryflike ervaring, maar wees taai, wees oopkop, vergeet alles wat jy dink jy weet oor rolprente en die skepping. Werp alles wat jy van ’n rolprent verwag by die motor se ruit uit. Ontsnap die grendelgreep van hoe Amerika jou geleer het films behoort te lyk, en gee jou oor aan een van die mees unieke en onverwagse, erbarmlike ervarings van die jaar.

Gaan asseblief sonder vooropgestelde idees en ’n gemoed wat bereid is om soos ’n spons op te suig, te dink, te wonder en dan te waardeer.

Dit sal interessant wees om te sien waarmee Muller (hopelik weer op ’n klein begroting) volgende vorendag sal kom en of ruimer begrotings en die belofte van regisseursroem en moontlike televisiereekse, hom gaan bederf.

Lees ook:

Persverklaring oor Wesens: ’n eerste vir Afrikaanse filmteater

Afrikaanse wetenskapfiksierolprent Wesens binnekort in teaters

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top