Wesens: “Wie was eerste hier?”

  • 0

...
Hierdie rolprent maak op ’n slim kinematografiese wyse gebruik van belangrike literêre en filmtegniese elemente om hierdie boodskap oor die sin van menslike bestaan aan bod te bring.
...

Wesens
Regisseur en skrywer Derick Muller
Met Pietie Beyers, Morné Visser en Albert Maritz

In die eerste Afrikaanse wetenskapfiksiefilm word die boodskap oor die sin van die menslike bestaan in Derick Muller se Wesens op ’n verwikkelde wyse aan die kyker voorgehou. Uiteraard is dit een van die kenmerke van die sogenaamde sci-fi-genre of wetenskapfiksie dat dit handel oor ruimtes en wesens wat vir die mens onbekend is, maar die leser/kyker desondanks noop om vrae oor die menslike bestaan (en lot) te vra. Een daarvan is of geykte opvattings (van religieuse, etiese en morele aard) bewysbaar is of die toets van kritiese ondersoek kan deurstaan.

Hierdie rolprent, wat vier Suid-Afrikaanse Republikeinse Intelligensie-diens agente volg wat deur die lens van ʼn Super 8- en 16 mm-kamera ’n vreemde voorwerp ondersoek wat op 3 Desember 1967 op die plaas Gannavlei in die Karoo geland het, maak op ’n slim kinematografiese wyse gebruik van belangrike literêre en filmtegniese elemente om hierdie boodskap oor die sin van menslike bestaan aan bod te bring.

Die titel roep reeds die wetenskapsfiksiegenre op – dit gaan hier nie primêr oor “mense” nie, maar oor “wesens”, soos buitenaardse wesens. Maar “wesens” druk ook uit dat die mense hier onvry is, bloot “wesens” wat deur groter magte gedetermineer word. Een daarvan is elkeen se innerlike “wese” (die magsbehepte en wrede mens wat alles wat vreemd is, wantrou, teenoor die visionêre kameraman wat nie net empatie uitstraal teenoor die Ander nie, maar ook wetenskaplik-krities is. Hy is die enigste wat hier in 1967 die maanreis (wat twee jaar later ’n werklikheid geword het) as moontlik beskou, kennis dra van die mitologie, én ontstaansteorieë bevraagteken. Ander deterministiese magte is die ruimte, hier ’n plaasruimte. Op subtiele wyse word getoon hoe die plaaseienaar slegs bekommerd is oor die indringing van sy ruimte; voorts word deur die verwysing na ’n plaas reeds verwys na die band tussen grond en identiteit vanweë die simboliese betekenis wat aan die ruimte gegee word. Uiteindelik is hierdie film ’n kinematografiese narratief van grond, Suid-Afrika, die mense wat dit bewoon en die Groot Verhale (mites) waaraan elke groep glo. Op (dalk te) eksplisiete wyse word die ontstaansmite van die Boesman byvoorbeeld hier vertel (en bykans hervertel) deur die “geboorte” van twee wesens uit die raaiselagtige “eier” wat op die plaas beland het.

...
Uiteindelik is hierdie film ’n kinematografiese narratief van grond, Suid-Afrika, die mense wat dit bewoon en die Groot Verhale (mites) waaraan elke groep glo.
...

Maar ook die (historiese) tyd is deterministies. In hierdie hoogbloei van apartheid is enigiets wat (volks)vreemds is, gewantrou; daar was ’n sterk klassesisteem (veral gebaseer op ras); en mense het bevele sonder bevraagtekening uitgevoer. Die Intelligensiediens is natuurlik simbolies van so ’n orde. Die historiese tyd blyk duidelik uit die opvattings en gedrag van die karakters, maar ook uit die kleredrag, haarstyle en bakkebaarde van die karakters.

In hierdie rolprent word tyd en plek ’n onbegrensde sirkel. Hier kan verwys word na Plato se beginsel dat kuns mimesis is en dat ons dus hier ook te make het met so ’n dubbele representasie. Wanneer die film begin, sien die kyker ’n beeld deur die lens van ’n ou filmkamera. Hierdie beeld is eerstens daar om outentisiteit te verhoog, maar ook om te suggereer dat die beeld “ingeperk” word, dus eintlik ’n vervalste beeld is. Die kyker word sodoende gekonfronteer met die reële, tekseksterne werklikheid en die fiksionele, teksinterne verhaalwerklikheid. Kuns kan nooit ’n presiese weerspieëling, nabootsing of weergawe van die reële werklikheid wees nie; dit is altyd gebaseer op seleksie en kombinasie. Selfs in sogenaamde objektiewe kunsvorme (soos fotografie of die maak van films) skemer iets van die subjektiewe visie van die filmmaker/fotograaf altyd deur. In die geval van Wesens weet die kyker meer as die karakters rakende die maanlanding in 1969, waarop die karakters steeds wag; sodoende word spanning geskep. Voorts word gesuggereer dat die karakters nie breër kan dink en kyk as die grense van die 16 mm-kamera nie, terwyl die kyker verby hierdie begrensdheid kan sien. Hierdie rolprent veronderstel verder ’n belese kyker, want die verwysing na die plaas Gannavlei, waar die wesens geland het, roep intellektueel ook die gelyknamige 1958-roman van Dolf van Niekerk op. Dit is ’n roman waarin ’n vroeër ontleding van die buitestander gegee word; iemand wat nie in alle opsigte naatloos pas in die landelike feodale ruimte van die plaasopset nie. In hierdie film is juis die twee kameramanne sodanige buitestanders wat nie net bevraagteken nie, maar selfs fisies in opstand kom teen gesag en onderdrukking.

...
Hierdie rolprent veronderstel verder ’n belese kyker, want die verwysing na die plaas Gannavlei, waar die wesens geland het, roep intellektueel ook die gelyknamige 1958-roman van Dolf van Niekerk op.
...

Die algemene gevoel wat die films wek, is dié van ’n geslote ruimte. Aan die begin van die rolprent word daar kinematografies doelbewus vanuit die motor na buite gekyk. Die stofwolk wat die motor op ’n grondpad volg, is ’n visuele verwysing na die Karoolandskap wat die geslote binneruimte van die motor verbind met die ewe geslote buiteruimte van die Karoo. Die motor is verder sterk outentisiverend en plaas die verhaal onmiddellik binne ’n landelike historiese ouer tydperk. Die Karoo is ’n primordiale ruimte in Suid-Afrika waar die meeste reptiele (en selfs oorblyfsels van die Boesman en die Khoi) te vinde is. Dit verteenwoordig ’n oerwêreld en perfekte ruimte waarin hierdie mitiese geboorte kan plaasvind. Filmies ondersteun ook die hurkende posisie van die kameraman tydens die verfilming van die geboorte ’n soort eenword/deelword van hierdie mitiese geboorte. Dit word in feite ’n rekonstruksie van die oorspronklike mite waar die oermoeder lewe skenk aan Khaan.

Histories kan hierdie rolprent tussen 1967 en 1969 geplaas word. Die literêre semiotikus Mieke Bal skryf reeds vanaf die tagtigerjare oor narratiewe teorieë waarbinne “reis” tussen dissiplines, historiese tydperke en (kulturele) kontekste in die ontledings van verhaalnarratiewe ’n belangrike rol speel. In hierdie rolprent speel musiek ’n belangrike rol om die historiese tyd en die hede wat in die rolprent uitgespeel word, in direkte konflik met mekaar te plaas. Die kyker ervaar enorme afstand teenoor die musiek van die Briels waarvan die melodramatiese toonaard die gevolg het dat die kyker dus indirek ook afstand neem van die historiese tyd. Daar word dus anders daarna gekyk sodat hierdie sprokie wat oënskynlik net ’n mededeling is met ’n mitiese onderlaag, ook wel betrokke is, want dit noop die eietydse kyker om meer spesifiek afstand te neem van:

  • die naïwiteit van ’n vroeër era se mense oor die wetenskap
  • ’n Christelike lewensbeskouing wat nie ruimte bied vir die mitiese narratiewe nie, en in die proses die sin van bestaan as sodanig bevraagteken
  • die politieke struktuur van destyds waar die swart man uitgebeeld word as objek wat net hekke moet oopmaak terwyl die godin hier eintlik ’n bruin vrou is.

Die plot is verder ook histories nou verweef met die Sharpeville-slagting van 21 Maart 1960. Die parallel is duidelik te trek tussen die gebeure van 21 Maart 1960 en die wyse waarop die bruin vrou (byna ’n inkarnasie van Kaang, die hemelse god van die Khoi-Khoi) hier doodluiters doodgeskiet word. Die suggestie is dat die Boesmans of die Khoi dan eerste hier was en dat net die sensitiewe fotograaf deernis en selfs respek vir die Ander het. Die feit dat die Majoor haar doodskiet, kan dan ook as minagting van die Ander geïnterpreteer word.

Die uiteindelike vraag waarmee die kyker gelaat word, is wie eerste hier was en wie dus eiendomsreg op hierdie planeet het. Die antwoord hierop is net te vind wanneer die mens deur die regte lens na die werklikheid kyk.

Lees ook:

Wesens: R15 000 se pryse te wen

Tussen realisme en wetenskapfiksie: die konstruering van die Ander in Wesens (2020)

Wesens, ’n kritiese ontleding deur Leoné Prinsloo

Filmresensie: Wesens

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top