Wesens, ’n kritiese ontleding deur Leoné Prinsloo

  • 0

Wesens
Met:
 Pietie Beyers, Morné Visser en Albert Maritz 
Regisseur en skrywer: 
Derick Muller

Wesens is ’n dramatiese wetenskapfiksiefilm waarin verskillende sentraal-onderliggende temas en simboliek met betrekking tot aweregse vrae oor identiteit, verteenwoordiging en liggingsgeoriënteerde politiek deur middel van konseptuele metafore, sowel as toepaslike filmtegnieke, vanuit die postkoloniale teoretiese raamwerk ondersoek word. Dié vrae vind gestalte in die intelligente en sensitiewe waarnemings van ’n wapeningenieur, Pieter Kuyper Albertyn, wat gedurende die Suid-Afrikaanse Republikeinse Intelligensiediens se ondersoek na ’n vreemde voorwerp op ’n plaas in die Karoo as belangstellende kinematograaf optree.

...
Die identiteit van die mens as lewende organisme en die betekenis van lewe op aarde na aanleiding van Khoi-legendes en wetenskaplike navorsing, sowel as liggingsgeoriënteerde politiek met betrekking tot apartheid gedurende die sestigerjare in Suid-Afrika, word onder die soeklig geplaas.
...

Die identiteit van die mens as lewende organisme en die betekenis van lewe op aarde na aanleiding van Khoi-legendes en wetenskaplike navorsing, sowel as liggingsgeoriënteerde politiek met betrekking tot apartheid gedurende die sestigerjare in Suid-Afrika, word onder die soeklig geplaas. Getrou aan die postmodernisme as ’n styltendens of -neiging wat onder die sogenaamde postkritiese tradisie ressorteer, neem die skrywer-regisseur, Derick Muller, ’n baie skeptiese houding teenoor totaliserende neigings van waarheid, realiteit en vorming in. Dekonstruksie as ’n kenmerk van die postkoloniale teoretiese raamwerk word gevolglik ingespan om die kykers se Gods-, mens-, wêreld-, sosiale en ekonomiese beskouing uit te daag deur hulle ontologies oor hul plek binne ’n postmoderne samelewing te laat nadink.

Die Godsbeskouing van die gereformeerde Christelike tradisie, waarvolgens die Almagtige God as ’n liefdevolle vaderfiguur uitgebeeld word, staan in skrille kontras met dié van die Boesmans waarvolgens hulle god, Kaang, die gestalte van ’n vrou aanneem. Dit word ironies geïllustreer deur die lirieke, “In die hemel sit ons Vader op die troon” uit die Briels se lied “Die engele sing” wat na afloop van die groot onthulling aan die einde gehoor kan word.

Die mensbeskouing wat gedurende die vorige eeu hoofsaaklik deur ’n patriargale denkwyse gedomineer is, word na ’n meer feministiese perspektief verplaas deur die wyse waarop daar binne die konteks van hierdie film na die vroulike geslag verwys word. Dié grensverskuiwende denke met betrekking tot geslag blyk duidelik uit die woorde van die junior chemiese ingenieur, Johan Conradie: “Ek kan dit nie verduidelik nie. Sy het net hierdie effek op ’n mens. Sy is ongelooflik!” Die gebruik van die geel filter voor Kuyper se lens met die silhoeët van die Boesmanvrou wat teen sonsondergang tussen die struike deur beweeg, dien as metafoor vir die verheerliking van Kaang as die Boesmans se vroulike god.

Die Christelike wêreldbeskouing se teïstiese benadering waarvolgens hulle God die Almagtige Skepper van alles op aarde is, blyk duidelik uit Conradie se woorde, “Daar is mense gemaak en daar is diere gemaak, en op die 7de dag het God gerus.” Dit word egter getroef deur die Khoisan se evolusionistiese benadering waarvolgens die eerste mens gebore is uit die saad wat deur ’n by binne-in die hottentotsgot geplant is toe die blom waarin Kaang neergelê is, op die land uitgespoel het. Die deurlopende gebruik van die Dutch tilt-tegniek waarvolgens die kamera skeef gedraai word en die fokuspunt uit die skerm verdwyn voordat dit later weer ontdek word, suggereer dat niks op aarde as vanselfsprekend aanvaar kan word nie.

Die sosiale beskouing van Europese nasate op Suid-Afrikaanse bodem word gekenmerk deur die uitsluiting van ander op grond van hulle vooropgestelde idees, soos duidelik blyk uit majoor Marthinus Viljoen se vraag “Waar is hierdie goed? Hulle hoort nie hier nie!” Die etiek van hierdie gesindheid teenoor Boesmans word egter deur Kuyper bevraagteken wanneer hy sê: “Die Majoor weet nie eers wat daar uitval nie, maar hy trek ’n sneller. Dis nie reg nie.”

Die ekonomiese beskouing van Boesmans wat hoofsaaklik op ruilhandel met beeste gebaseer was, is verwerp deur die postkoloniale samelewing, waarin kapitalisme as ideologie aan die orde van die dag is. Hierdie ekonomiese ontwikkeling en vooruitgang word egter ten sterkste deur Kuyper gekritiseer wanneer hy sê: “Hulle het dit nie nodig gevind om te tel nie, want dit het nie net vir hulle daaroor gegaan om goed bymekaar te maak nie.”

...
Die vreemde voorwerp wat op Sakkie Haarhoff se plaas ontdek is, dien as simbool van ’n ander wêreld wat nog verborge lê vir diegene met ’n gebrek aan begrip vir ander oortuigings as hul eie rakende geloof, kultuur, ras en geslag.
...

Die vreemde voorwerp wat op Sakkie Haarhoff se plaas ontdek is, dien as simbool van ’n ander wêreld wat nog verborge lê vir diegene met ’n gebrek aan begrip vir ander oortuigings as hul eie rakende geloof, kultuur, ras en geslag. Wesens slaag dus met sy interpretasie van die kykers se Gods-, mens-, wêreld-, sosiale en ekonomiese beskouing daarin om die sin- en identiteitsproblematiek rakende die mens se herkoms op ’n uiters treffende wyse bloot te lê.

Lees ook:

Wesens: R15 000 se pryse te wen

Tussen realisme en wetenskapfiksie: die konstruering van die Ander in Wesens (2020)

Filmresensie: Wesens

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top