Wanneer tegnologie in jou taal begin praat: Hoe Google se nuwe veeltalige KI-woordelys ’n stem gee aan Suid-Afrika se tale in die digitale era

  • 0

Prent: Canva

Google Suid-Afrika en die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT) se nuwe veeltalige KI-woordelys maak dit vir Afrikaans-, Zoeloe- en Xhosa-sprekers moontlik om in hul eie taal oor KI te leer en daarmee te werk.

In ’n poging om tegnologie meer toeganklik en inklusief te maak het Google Suid-Afrika, in vennootskap met PanSAT, onlangs ’n veeltalige KI-woordelys in Afrikaans, Zoeloe en Xhosa bekendgestel.

Die projek is deel van ’n groter strewe om digitale vernuwing meer inklusief te maak en die tegnologiese kloof vir miljoene moedertaalsprekers regoor die vasteland te oorbrug. Die woordelys definieer 100 sleutelterme op die gebied van KI in die brontaal Engels en vertaal dit in drie doeltale. Die doel is om miljoene Suid-Afrikaners toe te rus om in hul eie taal met nuwe tegnologieë te werk.

........
Die projek is deel van ’n groter strewe om digitale vernuwing meer inklusief te maak en die tegnologiese kloof vir miljoene moedertaalsprekers regoor die vasteland te oorbrug. Die woordelys definieer 100 sleutelterme op die gebied van KI in die brontaal Engels en vertaal dit in drie doeltale. Die doel is om miljoene Suid-Afrikaners toe te rus om in hul eie taal met nuwe tegnologieë te werk.
..........

Hierdie inisiatief bou voort op Google se vorige werk in Oos-Afrika, waar ’n Swahili-weergawe vroeër vanjaar bekendgestel is. Volgens die maatskappy is die doel om die wêreldwye KI-gesprek oop te stel vir sowat 266 miljoen sprekers van hierdie vier tale. Kabelo Makwane, hoof van Google Suid-Afrika, stel dit só: “Ons wil hê dat almal die woorde moet hê om die tegnologieë wat die wêreld verander, te verstaan en te vorm.”

Vir Afrikaans, wat dikwels as ’n gevestigde maar ook gepolariseerde taal in die openbare sfeer beskou word, bied die KI-woordelys ’n unieke geleentheid om te wys dat Afrikaans nie net histories relevant is nie, maar ook toekomstig aanpasbaar. Dit bevestig dat Afrikaanssprekers nie bloot verbruikers van tegnologie is nie, maar medevormers van die digitale era.

Mariëtta Alberts (foto: https://www.litnet.co.za/author/marietta-alberts/)

Die doyenne van terminologie-ontwikkeling in Afrikaans, Mariëtta Alberts, verwelkom die projek as ’n stap in die regte rigting. Sy beklemtoon dat inligting altyd die beste in die moedertaal oorgedra en verstaan word. “Onderlinge begrip gaan verlore as inligting in ’n taal anders as die moedertaal oorgedra word,” sê sy.

Alberts, voormalige direkteur van PanSAT, meen termlyste behoort deel te wees van onderrig op skool- en universiteitsvlak. “Fisiese termlyste help onderwysers en leerders om inligting byderhand te hê, maar aanlyn toegang behoort ook beskikbaar te wees.”

Sy wys daarop dat sulke projekte deel moet vorm van ’n breër, gekoördineerde taalstrategie. “Die terme behoort na die Nasionale Terminologiekantoor by die Departement van Sport, Kuns en Kultuur gestuur te word sodat dit deel van ’n nasionale databasis kan word en wyd versprei kan word.”

Volgens Alberts versterk elke nuwe vakgebied waarin Afrikaanse terme vasgelê word, die taal se posisie as wetenskapstaal. “Afrikaans beskik reeds oor bykans 500 vakwoordeboeke en termlyste. Elke nuwe term wat geskep word, verryk die taal en help dit om as funksionele wetenskapstaal te groei.”

Sy waarsku egter dat Suid-Afrika dringend ’n nasionale terminologiebeleid nodig het om nuwe kennis en tegnologie in ál die land se tale beskikbaar te stel. Omdat daar min koördinering tussen instellings is en te min opgeleide terminoloë, word nuwe terme dikwels net in Engels vasgelê. Die gevolg is dat miljoene mense uitgesluit bly van die gesprek oor die toekoms. “Solank nuwe tegnologieë en begrippe slegs in Engels vasgelê word, sal die ander amptelike tale nie hul volle potensiaal as funksionele tale bereik nie. Tegniese en wetenskaplike vooruitgang kan nie net in een taal plaasvind nie – dit moet deel word van die taalbewussyn van alle gemeenskappe,” sê sy.

In dié lig is Google en PanSAT se veeltalige KI-woordelys meer as net ’n taalkundige hulpmiddel – dit is ’n simboliese skuif na taalregverdigheid in die digitale tydperk. Waar Alberts ’n beleid bepleit wat meertaligheid sistematies moet beskerm, gee hierdie projek ’n praktiese voorsmaak van hoe dit kan lyk: ’n Suid-Afrika waar tegnologie nie net in Engels praat nie, maar ook in Zoeloe, Xhosa en Afrikaans dink, droom en vernuwe.

Dít is uiteindelik wat ware toegang beteken: om in jou eie taal deel te hê aan die toekoms.

Gerda Odendaal (foto: Naomi Bruwer)

Gerda Odendaal, mederedakteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT), sê hoewel Engels as globale taal al hoe belangriker word, bly iemand se moedertaal steeds die beste medium vir die aanleer van komplekse begrippe. “Dit is nie net belangrik dat KI uiteindelik almal se moedertale moet kan praat nie, maar ons moet ook in staat wees om in ons moedertale oor en met KI te kan praat.”

Sy sê tydens die bekendstelling van Google se KI-woordelys is daar baie klem gelê op samewerking tussen Google, PanSAT en die Departemente van Basiese en Hoër Onderwys. “Google het beklemtoon dat hulle KI-woordelyste gratis en dinamies is. Die hoop is dat gebruikers, veral in skole en universiteite, hierdie lys aktief sal gebruik. Hiervoor is daar egter bemarking en bewusmaking nodig.”

Op die vraag hoe KI in plaaslike tale kan ontwikkel, is haar antwoord eenvoudig: “Data, data, data!” KI het goeie en bruikbare data in plaaslike tale nodig – tekstueel, visueel en ouditief – om opgelei te kan word. ’n Groot struikelblok is die gebrek aan kwaliteitsteks in plaaslike tale wat nie aan kopiereg gebonde is nie.

Woordelyste is volgens haar ’n goeie begin, aangesien dit sprekers die woordeskat gee om oor tegnologiese verskynsels te praat. “Dit wys vir sprekers dat enige begrip in enige taal bespreek en bestudeer kan word. As ons vir sprekers die hulpbronne gee om hul moedertaal in die tegnologiese sfeer te gebruik, bemagtig ons hulle om aktiewe deelnemers aan tegnologiese vooruitgang te wees.”

Wannie Carstens (https://www.litnet.co.za/author/wannie-carstens/)

Die bekende taalkundige Wannie Carstens sê die projek maak hom opgewonde. “Ons lewe al hoe meer in ’n digitale wêreld. Diegene wat onbekend is met wat hierdie wêreld inhou, sal verlore wees. Ek lei af dat kinders reeds hierdie pad loop – ek het kleinkinders wat robotika op skool as vak het en hulle praat van goed waarvan hulle oupa min weet, en dis ’n goeie ding!”

Hy beklemtoon die belang van gestandaardiseerde terme. “Gestandaardiseerde terme verseker eenvormigheid in gebruik en begrip – dit is meer as net ’n simboliese gebaar.”

Carstens waarsku dat as terme slegs in Engels bekend word, ons oorgee aan die hegemoniese krag van Engels. “As Afrikaanse terme nie gebruik word nie, moet ’n strategie met die hulp van kundiges ontwikkel word; as daar nie terme is nie, moet dit geskep word.”

Vir hom bevestig die projek dat Afrikaans steeds ’n taal is om mee rekening te hou – ’n selfstandige, lewende taal wat nie aan ander tale ondergeskik hoef te wees nie. Hy wys op die groei van die Afrikaanse Wikipedia as bewys van die taal se lewenskragtigheid in die digitale wêreld. “Met instansies soos VivA, die WAT en universiteite word die werk reeds gedoen. Ons moet hierdie pogings erken en met dank aanvaar.”

Carstens meen Afrikaanse media en joernaliste het ’n sleutelrol: “Gebruik voortdurend die Afrikaanse terme waar en wanneer ter sake. Die terme moet gebruikersvriendelik wees en nie vreemd nie – ons weet mos wat gebeur het met “knormoer” vir ’n aansitter of “koestoeter” vir ’n toeter!”

PanSAT se voormalige uitvoerende hoof, Lance Schultz, wat op 1 November bedank het, het die projek geloof as ’n voorbeeld van hoe taalkundige ontwikkeling en digitale vernuwing hand aan hand kan gaan. “Ons doel is om te verseker dat Suid-Afrika se tale lewend, relevant en aanpasbaar bly. Deur KI-terme te standaardiseer, help ons om ons tale te moderniseer en te verseker dat hul sprekers nie van die globale digitale gesprek uitgesluit word nie.”

Met hierdie projek betree Google en PanSAT ʼn terrein wat veel verder strek as tegnologie alleen. Dit gaan oor insluiting, identiteit en toegang. Wanneer tegnologie in jou taal begin praat, begin die toekoms jou taal praat – en dáárin lê ware bemagtiging.

Lees ook:

Skepping of nabootsing? Kunsmatige intelligensie en intelligente kuns

Kunsmatige intelligensie en die dekolonialisering van onderwys in Suid-Afrika

Voordele en uitdagings van KI vir die universiteitswese

Seen elsewhere: UCT abandons the use of AI detection software for academic assessment

Ja vir KI in die skeppende bedryf!

Goue lint my storie begint: Kunsmatige intelligensie (KI) en kinderboekillustrasies

KI en die vryskutwoordsmid: ’n fundamentele verskuiwing in strategie en rigting

Bye-bye and thanks to AI

Kunsmatige intelligensie

Kunsmatige intelligensie kan leergeleenthede verryk

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top