Waar jakkalse huil
Elrien Scheepers
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624094128
Elrien Scheepers praat met Naomi Meyer oor Elrien se Waar jakkalse huil.
Elrien, baie geluk met Waar jakkalse huil. Jy was ’n veearts, so my eerste vraag handel oor diere. Jakkalse. ’n Tema en ’n simbool. Mens assosieer 'n jakkals met 'n dier wat mens nie kan vertrou nie. Die titel, die aantreklike man wat mak jakkalse besit. Vertel my asseblief van hierdie dier in jou boek.
Ja, dis waar, Naomi. Die jakkalse pas in by die tema van jag en vervolging in die boek, maar is ook ’n simbool van verraad. Die vos in Europese en die jakkals in Afrika-volksverhale word voorgestel as ’n bedrieër, ’n geslepe vabond wat jagters keer op keer ontwyk, sy spore kan uitvee en sy eie dood kan namaak. In Khoikhoi-fabels uitoorlê die jakkals gereeld die leeu, die koning van die diere.
Daar kom drie spesies jakkalse in Afrika voor. Die rooijakkals, Canis mesomelas, waaroor ek geskryf het en wat op die voorblad is, is eintlik klein, net 40 cm hoog, en hulle weeg maar so 7–10 kilogram. Hulle is aanpasbare en vernuftige diere wat baie suksesvolle oorlewingstegnieke toepas tydens die ongeveer 13 jaar wat hulle leef. Hulle paar lewenslank met net een maat en werk baie goed saam om hulle kleintjies groot te maak. Hulle ouer werpsel bly soms aan om die volgende werpsel te help grootmaak. Jakkalse huil wanneer hulle veral gedurende die wintermaande, tydens paarseisoen, na mekaar roep en antwoord. Hulle kan klein bokke jag, en vreet reptiele, insekte, grondlewende voëls en ook bessies, vrugte en gras. Hulle is dus omnivore. Hulle sal ook aas waar groter karnivore prooi platgetrek het.
Natuurlik is hulle ’n probleem vir kleinveeboere, wat groot finansiële verliese ly omdat dié jakkalse ook hoenders, skape en lammers vang in hulle pogings om te oorleef. Jakkalsbeheer is ’n kontroversiële onderwerp. As hulle eers een keer weet hulle word gejag, kry die jakkalsjagter nie sommer weer ’n kans om hulle te skiet nie. Hulle word met jakkalsroepe en die geluide van klein prooi nadergelok en miskien is dit dan die laaste nag vir hulle. Hulle word nie as ’n bedreigde spesie gelys nie, juis omdat hulle so slim oorleef en hulle werpsels so effektief grootmaak. Hulle populasies is stabiel en hul verspreiding is wyd.
Waar jakkalse huil is ’n distopiese wetenskapfiksieverhaal met jongmense van so 16 of 17 as teikenmark. Ek kan wel verstaan dat volwassenes wat wetenskapfiksie lees, ewe veel hiervan sal hou. Of ook tieners of volwassenes wat nie noodwendig wetenskapfiksie lees nie, maar net lees. Sal jy die storie in jou eie woorde opsom?
Dit is ’n spanningsverhaal oor ’n jong valkenier se reis in ’n verwoeste toekomswêreld, haar poging om haar vader se laaste wens uit te voer en haar aangenome suster te ontvlug. Sy moet veel meer hanteer as wat sy ooit verwag het, want sy weet nie wie of wat, hetsy mens of maaksel, sy kan vertrou nie. Natuurlik is die vraag nie óf sy gaan oorleef nie, die vraag is hóé sy gaan oorleef en of sy die onderduimse gaan oorwin.
Baie dankie dat jy die boek se teikenmark as jongmense en volwassenes wat lief is vir lees beskryf. Dit is van die mees deurlopende terugvoer wat ek gekry het: dat álmal wat baie graag lees, die boek sal geniet. Van my lekkerste komplimente is vanaf volwassenes wat sê dat hulle nie van wetenskapfiksie of toekomsfiksie hou nie, maar dat ek hulle oorgehaal het na die genre en hulle my wetenskapfiksie nou altyd sal lees. Die ironie dat ék vanaf my tienerjare tot ses jaar gelede ’n “ek-raak-nie-aan-wetenskapfiksie-nie-dis-totaal-laf”-leser was, ontgaan my nie. Die blinde sambok slaan lekker; vir my straf skryf ek dit nou.
...........
Die jakkalse het na my toe gekom een alleen wintersaand, teen skemer langs ’n Bosveldvuur, net na die heel eerste Covid-grendeltyd.
..............
Die jakkalse het na my toe gekom een alleen wintersaand, teen skemer langs ’n Bosveldvuur, net na die heel eerste Covid-grendeltyd. Die oomblik toe ek hulle hoor, het ek my titel gehad, presies soos hy nou is. Die storie en karakters het ek daarna geskep, uit hierdie drie woorde en uit die gevoelens wat daardie unieke, eensame, hartseer en half onheilspellende Afrika-klank in my wakker gemaak het, kort na al die isolasie en swaarkry en vreemdheid wat ons in daardie tyd beleef het. Dis dalk waarom mense vir my sê dat hulle iets van Covid voel in my boek, al het ek oor alles behalwe ’n dodelike virusinfeksie geskryf.
Die ironie is dat ek met my tweede boek altyd wou skryf oor ’n toekomswêreld wat onherroeplik verval en verander, postapokalipties in my kop. Ek het maande voor Covid weer begin lees oor toekomsvoorspellings en toekomstegnologie. Die volgende viruspandemie is daarin voorspel, maar ek het in my alwysheid besluit nee, dit gaan ek nie aan raak nie; dit klink half onwerklik en is daarby al voorheen in Afrikaans gedoen. Ek moes deur die begin en die verskrikking van ’n viruspandemie leef (en ek en my geliefdes hét genadiglik oorleef) voor ek by my tweede jeugboek kom uitkom. Die storie is beplan tydens die derde Covid-golf en die eerste weergawe van die manuskrip was klaargeskryf tydens die vierde golf. Die storie van klein idee tot finale manuskrip het uiteindelik twee jaar geneem om te skryf.
Eers was jy veearts en toe word jy met jou debuutjeugroman, Donkerbloed, genomineer vir die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Scheepersprys vir Jeugliteratuur. Hoekom het jy besluit om weg te stap van veearts-wees en te begin skryf? Of is jy besig om steeds ’n jakkals iewers daar in Kleinmond te versorg?
Ja kyk, daardie nominasie was ’n hoogtepunt! Wat amper by my verbygegaan het, aangesien ek toe nie veel van die pryse geweet het nie en daarby glad ook nie daarop sou gelet het nie, want ek sou nie kon oorweeg dat my debuutroman die keurders se oog sou vang nie. Ek het eers drie weke na Fanie Viljoen as die wenner aangekondig is, ná ’n baie toevallige en terloopse opmerking vanaf ’n veeartskollega wat die Akademie se nuusbrief lees, besef Donkerbloed was ook genomineer. Met alle respek aan Fanie, het dit toe vir die volgende week gevoel asof ék gewen het! Daardie geen-vooruitsig-geen-hoop-verrassing met my debuutbundel sal altyd ’n groot lekkerte wees.
Ek het eintlik nie weggestap van veearts-wees en toe begin skryf nie, of dalk nie op die manier wat jy bedoel nie. My eerste publikasie was ’n liefdesgedig vir tieners in 2010. Daarna het ek die skryfpad geleidelik geloop met kinderverhale vir die skolemark en kinder- en enkele tienerverse, tot met die publikasie van Donkerbloed in 2021.
.............
Dalk kan ek die Russiese dramaturg, kortverhaalskrywer en mediese dokter Anton Tsjechof aanhaal wat gesê het: “Medicine is my lawful wife and literature is my mistress. When I get fed-up with the one, I spend a night with the other.”
...............
Dalk kan ek die Russiese dramaturg, kortverhaalskrywer en mediese dokter Anton Tsjechof aanhaal wat gesê het: “Medicine is my lawful wife and literature is my mistress. When I get fed-up with the one, I spend a night with the other.” So eintlik was skryf my skelmpie, Naomi. Veeartsenykunde en die skryfkuns kan nie en behoort nooit mekaar te ontmoet nie; ek kan my nie twee meer verskillende wêrelde verbeel nie, al probeer ek. Ek het wel plek vir beide, soos baie ander skrywers met ander professies ook het.
Ek het vroeg afgetree ’n jaar gelede, in dieselfde maand wat Waar jakkalse huil gepubliseer is, omdat ek op Kleinmond verlief geraak het. Mens weet ook wanneer dit tyd is om met die volgende hoofstuk te begin. Ek sal altyd in my hart ’n dieregeneser wees en ek was baie lief vir en betrokke by my klante, pasiënte en studente. Dit was my grootste tienerdroom om ’n veearts te word. Dalk begin ek oor ’n jaar of wat salf aan verbrande skilpadjiepootjies hier in Kleinmond smeer, ja. En noudat die minnares dalk meer aandag gaan kry omdat die vrou verdwyn het, sal ons maar moet sien of sy steeds so aantreklik vir my sal bly.
Waar jou vraag presies reg is, is dat ek Donkerbloed onder andere geskryf het omdat ek gevoel het dat ek oorwerk is en net een ding in my lewe doen, en dat ek dit aan myself verskuldig is om ordentlike aandag aan my ander talente en liefdes te gee. So ek het wel in 2018 op ’n sekere manier van veeartsenykunde weggestap en meer ernstig begin skryf.
Ek het onlangs ’n onderhoud met jou bygewoon waar jy vertel het dat dit makliker is om oor iets te skryf waarvan jy weet en dat jou veeartseny-agtergrond jou help met jou navorsing. Daar is inderdaad ook ’n hele paar diere in jou verhaal, soos ook dwergvalke. (’n Totaal ander simbool is hierdie pragtige voël – jou jeuglesers kan gerus na prente daarvan gaan kyk – of die voël in die lug soek as hulle in die regte omgewings is.) Vertel my eers ’n bietjie van hoe jou veeartseny- en dierekennis jou help as jy ’n boek skryf.
Eintlik het ek dit tydens die onderhoud effens onvolledig verduidelik. Ek glo nie regtig in die begrip van “skryf waarvan jy weet nie”; ek glo meer in “skryf waarvoor jy lief is”. Ek weet niks van die kuns van valkejag, genetiese modifikasie, breinoplaai-eksperimente, klimaatsverandering of hongersnood af nie (of bordele nie, so terloops), maar ek het daaroor geskryf. Ek dink die enigste plek waar my veeartsagtergrond my direk gehelp het, was in Donkerbloed, waar ek ’n beenmurgbiopsie beskryf het, omdat ek dit self al gedoen het.
Iets oor die valk: Intsimbi is eintlik ’n swerfvalk – peregrine falcon. Daar is dwergvalke in die storie, maar hulle is klein (letterlik) en sekondêr. Dael is ’n Dwergvalk.
My diere- en veeartskennis help my wel indirek baie, omdat dit binne die breër konteks van my wetenskaplike opleiding staan. Ek is ook opgelei en het gewerk as ’n entomoloog voor ek veeartsenykunde gaan studeer het. Hierdie agtergrond maak my baie gemaklik met die skryf van wetenskapfiksie. Ek weet watter artikels om te lees vir my navorsing, ek is tuis in laboratoriums, ek is gemaklik met bloed en pyn en weefselselle, ek is lief vir die natuur en diere; en ek weet dit wys in my skryfwerk.
..............
Hierdie agtergrond maak my baie gemaklik met die skryf van wetenskapfiksie. Ek weet watter artikels om te lees vir my navorsing, ek is tuis in laboratoriums, ek is gemaklik met bloed en pyn en weefselselle, ek is lief vir die natuur en diere; en ek weet dit wys in my skryfwerk.
..................
Veeartsenykunde verg ook, soos baie ander dissiplines, om krisisse te kan hanteer en moeilike probleme op te los. ’n Siek dier is in daardie konteks niks anders as ’n stom raaisel nie, wat ’n veearts moet en wil ontknoop, hopelik omdat hy of sy omgee. Dit vra ook presiesheid, dissipline, fokus, deursettingsvermoë, geduld en ’n sin vir humor. Al daardie eienskappe wat ek daagliks gebruik het, wat van my ’n effektiewe geneser en onderwyser gemaak het, is ook van groot waarde vandat ek skryf.
Ek het geen gevoel vir rekenaars nie, so ek wonder of ek oor kunsmatige intelligensie of ’n kuberpunkroman sal kan skryf. Miskien is dit die volgende uitdaging! Sommige mense dink ek sal oor enige iets kan skryf, maar ek is nie so seker nie. Gelukkig is die mens wat dit wat hom regtig pas, vind, en daarmee woeker.
Van navorsing gepraat. Oor die toekoms en die wêreld waarbinne jou karakters in Waar jakkalse huil leef, het niemand nog navorsing gedoen nie. Hulle kón nie. Hoe het jy alles uitgedink – van die inplantings, die tegnologie wat gebruik word, die Genmods ...? Lees jy self baie wetenskapfiksie?
Daar is vele kenners wat wel vooruitskouings kan maak oor die toekoms, gebaseer op hedendaagse tendense en wetenskaplike navorsing. Gelukkig vir my is daar ook vele kreatiewe dromers wat voorspellings waag en dit alles op die internet sit. Ek lees boeke oor die toekoms, besoek webwerwe, lees artikels en kyk lekker na die dromers se YouTube-video’s. Ek besluit baie vroeg watter stuk wetenskap my karakters gaan beïnvloed en baie belangrik in die sentrale storiekonflik tussen my protagonis en antagonis gaan wees; gewoonlik iets waaroor ek my verwonder of waarin ek belangstel. Ek lees baie daaroor en borduur voort daarop. Meestal ontwikkel ek dus ook my eie klein stukkies wetenskap.
Met my wetenskaplike agtergrond besluit ek baie vinnig watter van al die dromervoorspellings te verregaande is, en dan stel ek my leser nie daaraan bloot nie, of ek verander dit in iets wat wel geloofwaardig en moontlik klink. Plotontwikkeling, die skep van karakters en die bou van my toekomswêreld (want wetenskapfiksie speel gewoonlik in die toekoms af) gebeur gelyktydig vir my. Elkeen van hierdie dele groei vanuit die ander twee dele. Ek het eintlik geen idee hoe ek dit doen nie, Naomi!
Maar daar is nie net wetenskap in my boeke nie. Wat betref die kuns van valkejag het ek handboeke gelees en saam met valkeniers gaan valke vlieg. Ek gaan ook soms terug in die verlede vir inspirasie. Die hongersnood in Waar jakkalse huil was gebaseer op die Groot Chinese Hongersnood van 1959–1961, maar toe kombineer ek dit met daardie dinge in die toekoms wat ek glo werklik kan gebeur.
Daar sal ook altyd iets wees in my boeke wat my leser baie goed sal herken of mee kan assosieer. Soos jy sê, die wêreld is vandag ook vol vals mense met voorwendsels, nè? Ek weet baie goed dat ek óór toekomsmense skryf, maar vír hedendaagse mense. Een van die beste stukkies raad wat ek gelees het oor die skryf van wetenskapfiksie (en fantasie) was vanaf die Amerikaanse skrywer Susanna Moore wat gesê het: “You can put extraodinary toads in ordinary gardens or ordinary toads in extraordinary gardens, but you cannot put extraordinary toads in extraordinary gardens.” Dit is my eenvoudige goue reël.
.............
Omdat ek wetenskapfiksie en nie fantasie skryf nie, is alles wat ek skryf, wel gebaseer op wat moontlik kan gebeur, al is dit dalk nie heeltemal waarskynlik nie. Alles wat ek skryf, het een of ander saadjie in die huidige werklikheid.
.................
Omdat ek wetenskapfiksie en nie fantasie skryf nie, is alles wat ek skryf, wel gebaseer op wat moontlik kan gebeur, al is dit dalk nie heeltemal waarskynlik nie. Alles wat ek skryf, het een of ander saadjie in die huidige werklikheid. Soos ek verduidelik het, voeg ek kreatief wel lekker by wanneer my storie en karakters dit nodig het. Dit is een van die genre-eienskappe waaraan ek getrou wil bly, want ek weet ook dat lesers die egtheid van sekere dinge kognitief maar ook instinktief herken. As ek hou by die “reëls”, sal my stories meer eg en toeganklik en oortuigend wees, het ek al voor die eerste boek geglo.
Omdat ek nog eintlik hopeloos te min wetenskapfiksie gelees het, kom my idees nie uit ander wetenskapfiksieverhale nie. Ek sal myself ook nie voorgee as ’n kenner van wetenskapfiksie nie – allermins. Ek skryf dit maar soos ek daarvan hou. Baie van wat ek wel weet van wetenskapfiksie, het ek eers agtergekom na ek dit begin skryf het. So ek het maar net ingestorm ook, as ek eerlik is.
The hunger games – ek het hieraan gedink, iewers tydens die lees van jou boek. Ek vergelyk nie, want die boek is nie soos daardie reeks nie. Behalwe die aspek van hongerte! Mense wat amper sal moor omdat hulle so honger is ... Weer eens, nie 'n vergelyking nie. Maar as voornemende lesers van daardie soort boeke hou, kan hulle gerus gaan kyk. In Afrikaans bestaan daar ook sulke boeke. Iets opwindend om te gaan lees! Afrikaanse jongmense, neem kennis! Mens wonder wel: Wie kan mens vertrou? Soms wonder mens of daar net een persoon staande gaan bly – en gaan dit jou hoofkarakter wees? Sy het al dood en verwoesting gesien en beleef, en die trauma is heelwat vir iemand van haar 18-jarige ouderdom. Tog is die boek nie swaar en moeilik nie. Soos die einste onderhoudvoerder waar ek julle hoor praat het, gesê het: Daardie jong student kon nie die boek neersit nie. Watter atmosfeer wou jy skep toe jy die boek skryf – waarheen het die boek jou self tydens die skryfproses verplaas?
Jy is nie die eerste persoon wat sê dat hierdie boek hulle aan The hunger games laat dink nie, en dat die boek vergelykbaar is met wat internasionaal vir jongmense beskikbaar is. Hoe lekker dat ek ’n storie in Afrika en in Afrikaans kan skryf wat so opwindend lees soos daardie wonderlike boek! Kom ons hoop die Afrikaanse jongmense neem wel kennis.
Ek wou ’n ondertoon van verlies en eensaamheid en onheil en misterie skep – daardie emosies wat die aand in die Bosveld in my geroer het toe ek die jakkalse gehoor het. Natuurlik het ek die jakkals as simbool van verraad baie sterk gebruik. Ek wou iets anders en donkerder as my eerste boek doen, maar ook eenvoudiger op ’n sekere manier. Ek wou lig en donker, ook aksie en emosie, in balans hê.
Dit is vir my net heerlik om suiwer te vermaak en ontvlugtingsliteratuur te skryf, so ek sal nooit ’n swaar en moeilike of skokkende boek skryf nie, al raak ek wel soms moeilike onderwerpe aan, omdat dit deel van my komplekse karakters en hulle komplekse wêreld is. Die teenkant van Laela se verlies en eensaamheid is tog die liefde en begrip tussen haar en haar pa. Dit is ’n baie sterk, deurlopende lyn in die storie en dit bring meer warmte en lig in. Ek skryf dalk maar net vir die tiener wie ek was: mal oor lees, baie gelukkig en gebalanseerd, maar sensitief genoeg om te weet swaarkry kan net om die volgende hoek skuil ook. Ek wou ook ’n interessante, atmosferiese en boeiende boek skryf, maar een waar “boeiend” ’n werklikheid en nie net ’n reklamecliché is nie.
Wanneer ek skryf, leef en dink ek in daardie wêreld en word ek die karakters vir ’n baie lang tyd (’n jaar met Donkerbloed, twee jaar met Waar jakkalse huil). Dit raak vir my baie doodgewoon en is nie misterieus of onheilspellend nie. Dan is ek altyd verras wanneer my lesers die wêreld en die storie as buitengewoon ondervind. Dit is egter seker soos dit hoort indien ek my werk as wetenskapfiksieskrywer goed gedoen het.
Jou karakters het name soos Avabelle, Laela, Finian, Sivan. Die name kan aan enige kultuurgroep behoort. Dis toekomsname, of hoe?
Ja, dis name wat ek geskep het of gekies het met die toekoms in gedagte. As ek hedendaagse name sou gebruik het, haal ek my lesers te blatant uit my toekomswêreld uit. Ek kies veel eerder minder belangrike elemente in my storie om die “ordinary toads” te wees. Ek sal wel soms ’n volwassene of newekarakter ’n meer hedendaagse naam gee.
Interessant dat jy sê dat die name aan enige kultuurgroep kan behoort. Ek het dit nie besef nie, Naomi! Dit is omdat ek nooit ras of kultuur oorweeg wanneer ek karakters skep nie. Ek fokus wel definitief op ouderdom en geslag. Ek vind my karakters visueel, na ek geslag en ouderdom gekies het op grond van my voorkeure of die verdagte / steeds baie onbeplande storielyn. Ek soek letterlik op Pinterest na my karakters; ek kyk na duisende gesigte, totdat een my stop en sê: Hier is ek. Ek herken hulle onmiddellik en op ’n baie instinktiewe vlak – en weet dan eers wat hulle ras is, want dan is ras in die foto. Ek het al jonger gesiggies gesien, en dan weet ek ook: Hier is my heldin toe sy ’n kind was. Dit is hoe ek al my karakters in beide boeke geskep het, en dan word hulle storie (wat ek glo reeds bestaan) net deur my vertel, en deur my hart verbeel.
Ek lees baie gereeld en redelik wyd sedert ek kon lees, maar ek voel steeds ek het nog te min gelees, en definitief te min wetenskapfiksie. Ek lees ewe veel Engels en Afrikaans en YA (in enige genre) en volwassenefiksie. Ek het wel The hunger games, Divergent, The giver en Ender’s game gelees. Ek was mal oor The handmaid’s tale (Margaret Atwood noem die boek spekulatiewe fiksie of hoogstens sosialewetenskapsfiksie) en veral Oryx and Crake. Ek hou ook van fantasie; ek bewonder Leigh Bardugo baie.
Ek lees alle genres, maar bitter min liefdesverhale. Soveel wonderlike boeke het al in my lewe opgedaag. Vir my kom die onvergeetlikes vanaf Margaret Atwood, Arundhati Roy, Cormac McCarthy en PG du Plessis se Fees van die ongenooides. My mees geliefkoosde boek ooit is Skellig, deur David Almond. Op die oog af eenvoudig en dun, ’n kinderboek dalk, maar met die mees eksentrieke, misterieuse en roerendste hart. Die skrywer van wie ek die meeste boeke gelees het, is Marcus Sedgwick. Sy Revolver het my geleer hoe wonderlik die ekonomie van woorde (en ook ekonomie van storielyn en karakters) is, hoe belangrik fokus in skryf is. Hy het my nog altyd as skrywer begeester en ek leer steeds uit sy boeke.
Wat was vir jou die lekkerste deel én die mees uitdagende deel van die skryf van hierdie boek?
Die mees uitdagende deel was om iets baie anders te doen as met my eerste boek, om iets moeiliker aan te pak en dit maklik te laat lyk. Ook om storie, karakters en genre elk ewe sterk te laat skyn. Om nie net skryftegniek te probeer bemeester nie, maar ook die hart van die storie te vind en sy plek te gee. ’n Boek moet nie net geléés word nie, ’n boek moet belééf word. Wel, dis wat ek as leser wil hê, dis wat maak dat ’n boek vir jare by my bly. Ek hoop ek kon tegniek en ook hart regkry, en ek hoop ek sal groei in die kuns soos ek verder skryf, want ek weet ook ek het nog veel te leer.
Op ’n minder filosofiese vlak was die moeilikste vir my om die verval van ’n toekomswêreld te verbeeld, om dus eers hierdie wêreld in my kop te skep, omdat ek nie in die boek werk met ’n “heel” toekomswêreld nie. Maw, hoe wys ek die oorblyfsels van ’n toekomswêreld sonder om te veel op daardie wêreld te fokus, omdat dit in die boek in die verlede lê.
..........
Die lekkerste is altyd die hele skeppingsproses, wanneer karakter en storie en wêreld so onder jou beheer is en jy kan doen net wat jy wil, al dink jy hulle sit eintlik reeds daar êrens en wag net dat jy hulle storie vertel. Die bymekaarvloei van alles is ’n magiese proses en ek verstaan dit nie, maar ek geniet dit baie.
.............
Die lekkerste is altyd die hele skeppingsproses, wanneer karakter en storie en wêreld so onder jou beheer is en jy kan doen net wat jy wil, al dink jy hulle sit eintlik reeds daar êrens en wag net dat jy hulle storie vertel. Die bymekaarvloei van alles is ’n magiese proses en ek verstaan dit nie, maar ek geniet dit baie. Ek is mal daaroor om ’n storie te plot. Dit was vir my besonders heerlik om Sivan te skryf; Intsimbi was vir my baie spesiaal; en Laela en haar pa se verhouding was vir my ’n plesier. My lekkerste skryfhoofstukke was die kortste een (“Spatsels” op bl 215), en natuurlik die slothoofstuk, “Vry”.
Waarom sal mens nog in hierdie land en in hierdie tyd waarin ons leef, in Afrikaans boeke vir jongmense skryf en hoekom skryf jy boeke vir jongmense?
Ek vermoed ook dat skrywers wat in hierdie land op hierdie tyd vir Afrikaanse jongmense skryf, dalk reeds baie ryk is of absoluut geen begeerte het om ooit ryk te word nie en vir die liefde skryf of nooit ander werk kon kry nie? Alle grappies op ’n stokkie, Naomi: Dat ek vir juis die jeug skryf, is toevallig. Ek wou bloot skryf, maar die enigste Afrikaanse skryfkursus wat ek aanlyn kon kry, was vir die jeug. Ek het die kursus nie voltooi nie (praat nou van ’n lui student), maar dit was die goue sleutel wat my skryfdeur oopgemaak het. Nou is ek so bly dit was my begin, want dit het alles daarna bepaal.
Eintlik is die waarheid dat ek nie skryf met iemand of ’n sekere groep in gedagte nie. Wie ook al my toevallig ontdek en hou van die soort ontvlugtingsliteratuur wat ek doen en my boeke weer sal koop – dís my mark.
Ek skryf omdat ek lief is vir skryf en omdat dit geweldig moeilik is om te skryf, maar so vervullend as mens jou woorde weer lees en dit werk wel en jy nie kan glo jy het dit geskryf nie. Daardie gevoel is verslawend, vermoed ek. Ek skryf oor waarvan ek hou, oor die dinge waarvoor ek lief is en wat my pas. Op die oomblik kry ek dit alles uit wetenskapfiksie vir 16-plussers.
Ek is nie van plan om gou my fokus te verander nie, ongeag die relatief klein lesers-/kopersmark (wat dalk nou effens groter is agv my volwasse lesers). En daarby skryf ek dalk eendag regtig die Afrikaanse Hunger games! Ek skryf ook steeds nie om den brode nie en ek kan doen net waarvoor ek lus is of lief is en wanneer ek wil. Ek kan aan niks meer skrikwekkends as skryf (behalwe “stand-up comedy”) dink om my lewe uit te maak nie, of my hele dag aan te wy nie. Ek het baie, baie groot respek vir daardie skrywers wat dit wel doen, of só lief is vir skryf dat hulle niks anders wíl doen nie.
Daar is in elk geval geen boodskap of waarskuwing wat ek probeer oordra nie en ek wil nie hê iemand moet hulself in my stories vind nie (alhoewel ek voel almal moet hulself of hulle lewe op een of ander manier in ’n storie kan raaksien). Ek het dus op ’n sekere manier nie meer ’n teikenmark in my kop nie, alhoewel dit tog noodsaaklik is dat mens weet wat jou verwysingsraamwerk is, anders het ek geen beginpunt of fokus vir my werk nie, en kan ek baie verward raak oor wat ek nou eintlik wil bereik, seker.
Ek het nie kinders nie, maar natuurlik was daar al kinders en jongmense in my lewe vir wie ek as ’n soort mentor of versorger kon optree. Ek erken ruiterlik dat ek nie weet wat in die hedendaagse tiener en jong volwassene se leefwêreld aangaan nie, maar ek verstaan wat soms in die hart van enige mens, ongeag sy ouderdom, gebeur, en ek skryf van daar; ek skryf vanuit al die jare wat ek leef. Ek kan daarby steeds my eie tienerhart onthou, en dis vir my genoeg. Ek dink ook dit is dalk vir my as skrywer ’n bedekte seën dat ek nie kinders het nie, want vir my is een lewe te kort om twee beroepe (eintlik drie, as mens die entomologiejare ook tel) en ’n man en kinders ook in te pas. Ek dink eerlik ek sou nie geskryf het as ek kinders gehad het nie, Naomi.
Die (moontlikheid van) redding in jou verhaal word so mooi deur juis iets bewerkstellig wat my laat glimlag omdat ek jou agtergrond en belangstelling in diere ken. Het jy die einde geweet en geken toe jy dit begin skryf het?
Ja, ek het. Daardie einde, en natuurlik die emosionele effek van die einde, is baie deeglik en versigtig beplan, reg van die begin van my skryfproses af, dws saam met die storie, dwarsdeur die boek. Dit is ook waarom dit so goed werk, glo ek. Dit slaan jou as leser nie uit die bloute vanuit ’n vreemde hoek net blatant oor die kop nie. Dit sak sag op jou af, omdat ek dit gereeld en stelselmatig in jou onderbewuste geplant het van die begin af. Miskien is ek die bedrieër, die jakkals wat sy eie spore kan doodvee? Ek is baie trots op hierdie boek, maar veral trots op die einde.
Waaraan skryf jy nou? As jy dit nie wil beantwoord nie: Wat doen jy graag in jou vrye tyd of wat lees jy op die oomblik?
Ek skryf nie op die oomblik aktief aan die derde boek nie; aftrede en verhuising het al my tyd en energie die laaste jaar of wat beheer. Soos Francoise Sagan gesê het: “I shall live sadly if I do not write, and I shall write sadly if I do not live.” Soms moet mens ’n bietjie leef voor jy skryf, nie waar nie?
Ek weet al lankal die derde boek sal weer wetenskapfiksie met ’n 18-jarige heldin wees. Dit sal oor die see gaan; daar sal ’n ondergrondse dorp of dalk net tonnels wees. Spioenasie en verslawing draai in my rond. Ek vermoed ek is nie uitgeskryf aan die temas van familie, vriendskap, verlies en verraad nie. Ek weet hoe my heldin lyk en het ook reeds die titel (een woord dié keer), so ek moet nog net die storie uitdink en skryf. Ek broei, ek bepeins. Ek glo goeie dinge kom met die tyd.
Lees ook:
Lesmateriaal vir Afrikaans-onderwysers: Elrien Scheepers se kortverhaal as voorbeeld van ’n fabel
Afrikaanse jeugboeke vandag: ’n perspektief deur PRH/LAPA Uitgewers
Afrikaanse jeugboeke vandag: ’n perspektief deur NB-Uitgewers

