Kraak deur Rouxnette Meiring: ’n resensie

  • 0

Kraak
Rouxnette Meiring
Tafelberg
ISBN: 9780624085317

Fantasie, eers die stiefkind van die Afrikaanse letterkunde, beleef deesdae ’n oplewing. Die kritiese sukses van Carina Stander se Die Bergengel het reeds bewys dat daar wel ’n aptyt vir goeie fantasie onder Afrikaanse lesers is, en daar is hoop dat uitgewers WF- en fantasieverhale meer en meer aanneemlik sal vind.

Die jongste bydrae tot hierdie groeiende genre is Rouxnette Meiring se Kraak, ’n toekomsfantasie wat by veral jong volwasse lesers aanklank sal vind. Kraak is die eerste boek in die IIHui !Gaeb-reeks.

Kraak speel af in die jaar 2315. Die aksie begin in IIHui !Gaeb,’n tegnologies gevorderde stad aan die suidpunt van Chinafrika. IIHui !Gaeb, oftewel Kaapstad in ’n nuwe, futuristiese baadjie, is ’n veilige hawe in ’n onstabiele vasteland. Hier word inwoners deur ’n virtuele koepel teen die ekologiese en menslike gevare van die buitewêreld beskerm, en toegang tot die stad word streng beheer.

Dit is egter gou duidelik dat alles nie pluis is in hierdie paradys nie. Die meeste van die stad se volwasse bevolking ly aan ’n vreemde slaapsiekte (hulle is lewend, maar is in ’n diep slaap vasgevang, soos die karakter Eri in Haruki Murakami se After dark). Boonop doen daar gerugte die ronde dat die koepel aan die kraak is.

Kara, Amber, Kaleb en Mohlomi, ’n groep IIHui !Gaebse weeskinders wat hulle ouers aan die slaap afgestaan het, ontvang ’n kriptiese opdrag van die geheimsinnige Sophia: Hulle moet die koepelstad verlaat en noord trek na Egipte. Daar sal hulle die oplossing tot die raaisel van hulle ouers se siekte vind.

So begin ’n reis wat ons jong karakters van die suidpunt van Afrika tot by Egipte se piramides sal lei.

Soos Carina Stander se Die Bergengel, is Kraak deels reisroman, deels bildungsroman. Vir veral die hoofkarakter, Kara, is die reis deur die distopiese Afrika-landskap ook ’n reis na binne. Soos die tog haar al hoe verder van die veiligheid van IIHui !Gaeb se koepel neem, moet Kara gewigtige kwessies soos die verlies van ’n ouer en onbeantwoorde eerste liefde konfronteer.

Meiring se uitbeelding van ‘n toekomstige Afrika is vernuwend. Kraak vermeng fantastie-elemente soos meerminne, “aliens” en mensvretende visse met die mistieke, Egiptiese mitologie en die tegnologiese aspekte van wetenskapfiksie.

Meiring voltooi tans ’n doktorsgraad in omgewingsopvoedkunde, en haar belangstelling in die verhouding tussen die mens en die natuur blyk duidelik in Kraak. Die verhaal ondersoek onder meer die langtermyneffek van klimaatsverandering en ander ekologiese rampe, asook interessante aspekte van beide menslike en niemenslike evolusie.

In die 24ste eeu is reuse-mantiskrewe bedrywig op land en het visse ’n smaak vir mensvleis. Ook die mens het op verskillende maniere ontwikkel om aan te pas by die omgewing, soos die bysiende molmense van Subsiber-Amerika wat hulle na ’n virtuele wêreld onttrek, die meermin-viswesens wat telepaties kan kommunikeer, en die goddelike (moontlik ruimte-) wesens van Lug-Eurasië. Die roman verwys ook vlugtig na ’n uiteindelike transformasie wat sal lei tot ’n “gebalanseerde” mens wat haar volle potensiaal bereik het, iets wat moontlik later in die reeks aangespreek sal word.

Alhoewel Kraak ’n jeugroman is, sal volwasse aanhangers van wetenskapfiksie en fantasie beslis ook die verhaal geniet.

Die roman bevat baie enigmatiese elemente en nuutskeppinge wat eers vreemd voorkom. Dit neem byvoorbeeld ’n bietjie naslaanwerk om uit te vind hoe ver ’n “chi” nou regtig is. (Meiring verwys moontlik hier na die Chinese chi of voet, wat een derde van ’n meter is); en dat “kayo” bloot “okay” is, met die lettergrepe omgeruil. Soos die leser mettertyd gewoond raak aan hierdie nuwe wêreld se manier van praat en doen, loop dinge egter meer vlot.

Lesers kan ook uitsien na die tweede boek in die IIHui !Gaeb-reeks, Snak.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top