Vryheidsdag 2023: Vryheid en ontnugtering

  • 0

https://pixabay.com/photos/chain-rusty-chain-rust-1799916/

It’s a general principle that overdoing anything leads to a huge compensatory shift towards the opposite. Plato, Die Republiek.

..........
Wanneer die demokrasie skeefloop, word die vinger meermale na “elites” gewys wat die demokrasie tot hul eie voordeel ondermyn (Orwell se bekende uitspraak uit Animal Farm, naamlik dat sommige diere meer gelyk as ander is, word dikwels bygesleep). Hierdie ontleding spreek nie die oorsprong van die probleem aan nie, maar slegs ’n simptoom, en versterk die aanname dat demokrasie inherent goed is en gesuiwer moet bly van elites. Anders gestel, die probleem word dus nie by demokrasie gesoek nie, maar by die indringer van die demokrasie.
..............

Wanneer die demokrasie skeefloop, word die vinger meermale na “elites” gewys wat die demokrasie tot hul eie voordeel ondermyn (Orwell se bekende uitspraak uit Animal Farm, naamlik dat sommige diere meer gelyk as ander is, word dikwels bygesleep). Hierdie ontleding spreek nie die oorsprong van die probleem aan nie, maar slegs ’n simptoom, en versterk die aanname dat demokrasie inherent goed is en gesuiwer moet bly van elites. Anders gestel, die probleem word dus nie by demokrasie gesoek nie, maar by die indringer van die demokrasie. In teenstelling hiermee, het antieke denkers soos Plato en Aristoteles reeds daarop gewys dat elkeen van die groot politieke organiseringsvorme – monargie, aristokrasie en demokrasie – unieke verwronge gestaltes kan aanneem. Met eersgenoemde twee se verwronge vorme is ons bekend: tirannie en oligargie; maar hoe lyk demokrasie se verwronge gestalte en wat onderskei dit van eersgenoemde twee vorme?

In sy Republiek spreek Plato hierdie probleem direk aan. Dieselfde beginsel wat die demokrasie onderlê, hou na sy mening ook die potensiaal in om dit te ondermyn. Dit is niks anders nie as die aandrang op vryheid.

https://pixabay.com/photos/wine-bottle-of-wine-red-wine-cup-4813260/

............
Vryheid is soos onverdunde wyn: Wanneer dit in oormaat ingeneem word sonder inagneming van ander faktore, sonder ander substansies, raak mens gou dronk daarvan. Só dronk word mens daarvan dat jy nie besef dat slawerny, die teenpool van vryheid, konstant dreig nie.
............

Vryheid is soos onverdunde wyn: Wanneer dit in oormaat ingeneem word sonder inagneming van ander faktore, sonder ander substansies, raak mens gou dronk daarvan. Só dronk word mens daarvan dat jy nie besef dat slawerny, die teenpool van vryheid, konstant dreig nie. Die ontkenning vind deels plaas omdat die slawerny (aanvanklik) nie ’n afgedwonge slawerny is nie, maar ’n selfopgelegde een. Die selfoplegging begin volgens Plato by ’n oorsensitiwiteit vir enige iets wat my vryheid bedreig: “The minds of the citizens of democracy become so sensitive that they get angry and annoyed at the slightest hint of enslavement.” Hierdie kwaad bou op en ondermyn dan stelselmatig die orde en wette wat geskep is om die vryheid in die eerste plek te verseker. Die afskaffing van slawerny in sy afgedwonge vorm in die moderne tyd (gewis ’n groot gebeurtenis) het allermins die samelewing gevrywaar van selfopgelegde slawerny, en daaropvolgende slawerny aan diktators, plutokratiese kapitaliste en totalitêre diktators.

Omdat goeie demokrasie dus ander substansies benodig om daartoe by te dra om vryheid te verwesenlik, beteken dit ook dat ander substansies kan bydra om demokrasie ten gronde te bring. Omdat substansies ekstern tot vryheid bydra tot die verwesenliking daarvan, moet daar met omsigtigheid gewerk word ten einde nie die smaak van die wyn ten volle te bederf nie, maar eerder die volle smake daarin vervat oop te maak.  

Hoe sal mens die dronkenskap van vryheid in die geval van Suid-Afrika se toenemend mislukkende bestel beskryf? In ’n onlangse meningstuk verwys Koos Malan na die “Suid-Afrikaanse wonderwerk” wat die wêreld se verbeelding in die middel-90’s aangegryp het. ’n Wonderwerk is per definisie iets wat die normale verloop van sake te bowe kom en die uitsonderlikheid tot norm verhef. Maar hierdie wonderwerk was ook die dronkenskap wat sy eie onvryheid in die hand gewerk het. Substansies wat nie tot vryheid bydra nie, maar daaraan afbreuk doen, is toegevoeg. Die aandring op gelyke uitkoms wat beskikbare bronne uitput, geweld wat deur drukgroepe gebruik word om eise te stel (wat gesien kan word as ’n breë legitimering van geweld), transformatisme, kaderontplooiing en patronaatskap is onder meer voorbeelde hiervan.  

 

Alternatiewe

Dit is moeilik om ’n gekorrupteerde beskawing om te keer – gewis moeiliker as om dit ten gronde te bring. Desnieteenstaande is boedel oorgee nie die weg vorentoe nie. ’n Paar aangeleenthede kan geïdentifiseer word wat deurlopende aandag behoort te geniet om sake om te keer:

  • In die plek van gelyke uitkomste, gelyke kanse.
  • ’n Opvatting van menseregte wat versoenbaar is met ’n breë werklikheidsopvatting en waardes.
  • ’n Begrip van demokrasie wat dialoog, oftewel oop gesprek, sowel innemend as robuus, aanmoedig as maatstaf vir oplossings. Die bevordering van dialoog vereis egter ook ruimtes vir gespreksvoering. Gesonde instellings is hiervoor nodig: opvoedkundige instellings wat die vaardighede slyp vir gesprekvoering, funksionerende infrastruktuur, beskerming en versorging (in die vorm van hospitale) van sy burgers.

Machiavelli toon in sy Diskoerse aan dat die Romeine se grootste prestasie die vestiging van instellings is waarbinne die plebejers verteenwoordig word. Die mense vertrou hulle belange toe aan hierdie verkose verteenwoordigers, wat hoogs geskoolde mense moet wees. Hierdie persone temper die vryheid wat deurentyd eise stel wat die stabiliteit van die samelewing bedreig, en plooi die eise dermate dat dit binne die orde van die samelewing gestalte kry. Die gestaltegewing van vryheid verleen op sy beurt ’n dinamiese karakter aan die samelewing, wat net so nodig is as die orde. Indien vryheid nie manifesteer binne die orde van die samelewing nie (vir sover die orde vryheid voorstaan), val die orde uiteen en plof die samelewing ineen.  

Kant, die figuur wat by uitstek met die begrip outonomie geassosieer word, het sy dienskneg, Lampe, verplig om hom elke oggend 5-uur uit die bed uit op te jaag, ondanks die beswaar wat Kant op daardie oomblik sou hê. Vir daardie oomblik was die kneg meester en die meester kneg, wat ’n voorwaarde was vir die meester om ten volle meester te raak. So is vryheid ook aan orde gekoppel en moet dit aan orde onderwerp word om sigself ten volle te verwesenlik.

  • Hercules Boshoff, dosent in filosofie, Akademia

Lees ook:

Die gewaande Suid-Afrikaanse wonderwerk: tyd vir bestekopname

Die EFF-grendelpoging: Wat beteken dit vir Suid-Afrika?

Prisma of reënboog? Suid-Afrika deur ’n Graviaanse lens

Juggling die glasballe van ’n demokrasie

Vryheid van die pers en die EFF

Die media, demokrasie en burgerlike deelname: ’n Etiek van luister

Vryheidsdag 2018: Hoe vry is ons regtig?

Sal die Suid-Afrikaanse konstitusionele demokrasie die huidige krisis wat die bestel in die gesig staar oorleef?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top