Vryheidsdag 2018: Hoe vry is ons regtig?

  • 5

Nelson Mandela by die 1994 verkiesing (Foto: Paul Weinberg, CC BY-SA 3.0, Wikimedia Commons )

We fought for freedom, but we got democracy instead.

Terwyl ons hierdie week Vryheidsdag vier, is dit dalk ’n goeie tyd om te besin oor wat dit beteken, veral nou en hier.

Almal is daarop geregtig om te stem. Ons almal het regte vasgelê in die Grondwet, en op papier lyk dit indrukwekkend. Ons het immers een van die mees moderne, gevorderde grondwette ter wêreld. Wanneer ’n meer gevestigde demokrasie veranderinge aan hul grondwet wil aanbring, kyk hulle na wat Suid-Afrika gedoen het. Wanneer ’n nuwe demokrasie tot stand kom, is die Suid-Afrikaanse Grondwet hul bloudruk. Dis immers die ideaal van hoe demokrasie in werking lyk.

Terselfdertyd het ons van die grootste ongelykhede in ons samelewing. Rassisme is in vele opsigte veel erger as wat dit in die verlede was. Groot dele van die bevolking lewe in haglike omstandighede, in plakkershutte met een kraan vir elke ongeveer 100 mense. Ons het geleer om mooi name aan goed te gee, dan hoef ons nie met die werklikheid saam te leef van wat ons demokrasie mense kos nie. “Informele nedersetting” klink tog nie so erg soos “plakkerskamp” nie. “Een kraan vir 100 mense” klink ook nie so vreeslik nie, is dit? Dis tog beter as om by die rivier te gaan water skep.

Ons vergeet dat die meeste van ons heelwat meer het. As ’n oefening het ek die krane in my eie huis getel. Twee mense, een hond, agt krane. In sommige HOP-huise is daar geen krane binne die huis aangebring nie. Die toilet is ’n ent weg van die huis.

Op papier word ons verseker van die reg op toegang tot skoon water.

Ons word verseker dat elke kind die reg het op ’n opvoeding. Hoekom is daar dan al hoe meer kinders buite die onderwysstelsel? Standaarde in onderwys is sodanig verlaag dat dit op die rand van belaglikheid is. Hoekom? Politici moet goed lyk, dus moet die statistieke goed lyk. Dit neem egter nie in ag dat daar in 2018 nog steeds putlatrines by skole is nie. Dit neem nie in ag dat handboeke nie afgelewer word by skole nie. Dit swyg oor die feit dat kinders steeds onder bome in plaas van in klaskamers onderrig word. Dit sluit die oë vir die feit dat kinders nie vervoer na skole het nie, en dus kilometers ver moet stap onder gevaarlike omstandighede, of by die huis bly en nie opvoeding ontvang nie. Dis blind vir die feit dat onderwysers soveel ekstra administratiewe take opgelê word dat hulle sukkel om daarby uit te kom om kinders op te voed.

Ons laat ons kinders in die steek, maar ten minste het hulle demokrasie.

Ons word verseker dat daar toegang tot mediese dienste vir alle burgers sal wees. Daar is hopeloos te min dokters om die bevolking te dien. Tog word dit onmoontlik gemaak vir ons mediese studente wat afstudeer om medisyne in Suid-Afrika te praktiseer. Klinieke is oorvol en kan nie die aantal mense wat dit nader vir dienste, bedien nie. Personeeltekorte is ’n kopseer. Tekorte aan medikasie begin al meer die norm eerder as die uitsondering word.

Paramedici moet hul take verrig terwyl hulle vir hulle lewe vrees. Dis nou al so erg dat ’n ambulans sekere gebiede net onder polisiebegeleiding sal ingaan. Geen polisiebegeleiding nie, en die persoon wat behoefte aan die dienste het, moet maar hoop hulle kan oorlewe tot die polisie opdaag. Sonder uitsondering is daardie gebiede nie in die gegoede dele waar inwoners in elk geval privaatambulansdienste kan bekostig nie.

Wat beteken vryheid dan?

Dit kan tog seer sekerlik nie net die reg wees om nie meer as ’n slaaf behandel te word nie. Dit moet meer wees as die reg om een keer elke paar jaar ’n kruisie te gaan maak op ’n stuk papier en dan toe te kyk hoedat jou verkose party niks doen om jou lewe te verbeter nie.

Dit moet tog beteken dat jy die keuse het om tyd aan ontspanning af te staan sonder vrees dat jy nie gaan eet nie. Dit beteken, of behoort te beteken, dat jy nie jou lewe waag elke keer as jy ’n glas water wil drink nie. Dit behoort te beteken dat jou toegang tot medikasie en mediese dienste nie afhanklik is van die grootte van jou bankrekening nie.

Vier-en-twintig jaar na demokrasie, en die oorgrote meerderheid mense wag steeds vir Projek Vryheid om te lanseer.

Is Vryheidsdag tot dan nie net nog ’n braaivleisdag vir dié wat vleis kan bekostig nie?

  • 5

Kommentaar

  • Ek glo werklikwaar die ongelykhede is in 'n groot mate te wyte aan die een oorsaak wat als oorheers: Diegene wat heers, kry nie die huis in orde nie. Sodoende kry al die euwels vastrapplek en vrede het geen plek nie omdat so baie mense baklei vir basiese dinge. Maak reg!

  • Hans Richardt

    Nee wat, die mense moet eintlik "vryheidsdag" in Augustus vier, want in Augustus 1983 was apartheid met wit alleen referendum geskrap, na PW Botha die Rubicon oorgesteek het.

  • Dit is 'n nare feit dat 'n suksesvolle bevrydingsorganisasie nie 'n suksesvolle regering beteken nie, want daar is te veel kamerade wat beloning verwag vir hul deel in die bevrydingstryd, want hulle het nie “gestruggle” om in armoede te leef nie
    “Wie die naaste aan die vuur sit, word die warmste”: ('n Persoon wat bevriend is met of familie is van mense, wat gunste kan uitdeel, word die meeste bevoordeel.)
    En diegene ver van die vuur af is afhanklik van gunste en gawes wat uitgedeel word deur die wat naaste aan die vuur sit en hul af en toe verwerdig om darem ter wille van gewildheid en stem oor hul skouers na diegene in die koue te loer.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top