Valda Jansen: ’n onderhoud rondom die 2020 Jan Rabie Marjorie Wallace-skrywersbeurs

  • 0

Valda Jansen (foto voorsien)

Die Jan Rabie Marjorie Wallace-skrywersbeurs is onlangs aan Valda Jansen toegeken. Sy praat met Naomi Meyer hieroor.

Hallo Valda. Baie geluk met die ontvangs van die Jan Rabie Marjorie Wallace-skrywersbeurs! Hoe voel jy en het die besef hieromtrent al ingesink? 

Baie dankie! Al die gelukwensinge wat ek die afgelope tyd ontvang het, is ’n riem onder die hart.

Hierdie beurs is enige skrywer se droom en ek is ten volle bewus van die verantwoordelikheid wat daarmee gepaardgaan.  

Ek is baie dankbaar teenoor almal wat betrokke was by die toekenning van hierdie beurs. Dit is egter nie die einde van ’n pad nie, maar net die begin. Die harde werk begin nou eers.

Dit is bevrydend om vooruit te kan beplan. Daar is reeds ander stories wat begin broei.

Jy ken al die pad van skryf en Hy kom met die skoenlappers is bekroon. Mag ek vra waar jou idee(s) vir hierdie voorlegging vandaankom? Enige opmerkings oor jou voorgenome skryfprojek?

Die idee vir hierdie projek het so sewe jaar gelede reeds oor my pad gekom. Maar ek was besig: het as joernalis gewerk, my kind was nog klein. Mettertyd het die behoefte om te skryf begin oorneem.  Die tyd vir die nuwe projek was nog nie ryp nie; ek het dit eers op die lange baan geskuif, omdat Hy kom met die skoenlappers te hard gepraat het. Ek moes eers daardie boek van my af kry.

Wat die nuwe skryfprojek betref, volstaan ek by wat in die mediaverklaring staan. 

Om ’n voorlegging vir hierdie beurs te doen, is daar allerlei tegniese aspekte om aan aandag te gee. Teikens om te haal, ’n beplanning van die projek. Hoe lank voor die tyd het jy begin om aan jou voorlegging te werk?

Dit is beslis nie iets wat mens ’n aand of selfs ’n week voor die tyd begin doen nie. Soms neem ’n storie-idee ’n lang tyd om te ontkiem.

Twee jaar gelede het ek ook ingeskryf, maar dit nie gekry nie. Ek het dus gaan sit en ’n bestekopname gedoen en besluit om die projek van voor af te beplan en dit die keer deegliker te doen. Die vorige storie-idee het ek eers op ys gesit en ernstig aan die nuwe een begin werk.

Die feit dat ek sowat ses jaar gelede begin het om informeel navorsing doen oor ’n formidabele vrou wat sowat 200 jaar gelede in Suid-Afrika geleef het, het as ’n stewige basis vir die projekvoorstel gedien. Ek het genoeg materiaal gehad om die hele 2019 aan die projekvoorstel te werk, so tussen al my ander verpligtinge deur.

Onlangs (September) het ek aan die Week van de Afrikaanse Roman in Amsterdam deelgeneem, maar het oppad daarheen eers ’n draai in Duitsland gaan maak en weer met van haar afstammelinge gaan praat. Die vrou van die huis besit ’n indrukwekkende boekery oor die tema en ek kon ruimskoots daarvan gebruik maak.

Na ’n uitmergelend-besige Week in die Lae Lande het ek die oggend van 29 September in Kaapstad aangekom en volstoom aan die voltooiing van my projekvoorstel gewerk, net betyds vir die sluitingsdatum van 4 Oktober.

Om kreatief te wees is een ding, maar geld val darem ook nie uit die lug nie. Voel jy of jy nou ’n jaar lank sal kan asemhaal en nie bekommernis sal hê oor iets anders as jou skryfprojek nie, of dink jy ook die emosionele betekenis van so ’n toekenning (jou voorlegging het die sameroepers van die beurs beïndruk!) is ook sommer ’n erkenningsinspuiting? Wat beteken die beurs vir jou?

Die beurs is soveel meer as net ek, soveel meer as die skrywer aan wie dit toegeken word. Dis ’n erkenning, ’n ode aan die visie van twee groot kunstenaars van ons land wat aan eie lyf ervaar het hoe dit voel om van jou kunstenaarskap te leef. Hulle nalatenskap waarborg die geleentheid vir die skryf van boeke wat andersins dalk nooit die lig sou sien nie. Hierdie twee mense het onbaatsugtig geleef en elke boek wat uit hierdie beurs tevoorskyn kom, elke skrywer wie se lewe daardeur verander word, is ’n monument vir Jan Rabie en Marjorie Wallace.

As beurshouer is daar ook verpligtinge om na te kom met die Universiteit van Wes-Kaapland wat die beurs administreer. Ek beskou hierdie verbintenis met UWK as ’n groot voorreg. Veral omdat ek self as student destyds op soek was na rolmodelle. Dis belangrik vir studente om skrywers in hul midde te sien:  dat hulle net gewone mense is en nie verhewe bo die samelewing nie; dat skryf ’n ambag is wat met harde werk gepaardgaan; dat positiewe aanmoediging belangrik is.

Sedert die instelling van die beurs tien jaar gelede, is UWK die spil waarom hierdie beurs draai. Ek vertrou dat die positiewe invloed wat die beurs op die universiteit en studente uitoefen, net sal toeneem. Ons sal oor tien, twintig jaar van nou af ook met trots en dankbaarheid kan terugkyk na die vrugte wat die beurs opgelewer het. En ek dink dit is wat Marjorie Wallace en Jan Rabie voorsien het: dat hulle gebaar sal bydra tot ’n verryking van die Afrikaanse letterkunde wat tot ver in die toekoms sal weerklink.

Watter temas of dinge wat jou pad kruis, maak jou so passievol dat jy dit graag in jou voorgenome manuskrip wil inwerk? En hoe weet mens wat om in te werk en wat om te los, iets wat eerder vir persoonlike gebruik of werk in ’n ander manuskrip aan te wend is, eerder as die een waarvoor die beurs toegeken is? 

Ek was baie jonk toe ek die eerste keer ’n gedig geskryf het en onthou tot vandag toe hoe dit gevoel het:  dit was asof die gedig in die lug voor my hang; ek het die woorde gesien en geweet ek moes dit gryp. Dit was asof die gedig iewers op ’n ander plek reeds klaar geskryf was en tot by my gereis het waar ek dit kon sien sodat dit my taak geword het om dit neer te skryf.

Al my skryfwerk volg ’n soortgelyke pad: ek luister baie aandagtig na dit wat geskryf wil word; ek skryf instinktief; ontleed die teks eers agterna.

En ja, soos jy tereg noem, daar is allerhande idees wat uitspring en uiteindelik in verskeie gedaantes sal neerslag vind, nie noodwendig net in die boek wat uit hierdie beurs sal vloei nie.

Dalk is dit die uiteindelike doel van hierdie beurs: die voltooiing van ’n projek wat andersins baie langer sou neem om ’n boek te word en terselfdertyd ook die hupstoot om ’n ernstige skrywer te word.

Jan Rabie & Marjorie Wallace Skrywersbeurs vir 2020 toegeken aan Valda Jansen

Jan Rabie Marjorie Wallace-skrywersbeurs 2020: ’n onderhoud met Steward van Wyk

Jan Rabie & Marjorie Wallace-skrywersbeurs 2020

Valda Jansen (1965–)

Jan Rabie & Marjorie Wallace-lesing: Soos ’n koeipaal op die plaas

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top