US Woordfees 2019: ’n onderhoud met Elmari Rautenbach

  • 0

Foto van Elmari Rautenbach: Naomi Bruwer

Yolanda Wessels vra vir Elmari Rautenbach oor vanjaar se Skrywersfees by die US Woordfees.

Ons wil graag soveel as moontlik weet oor vanjaar se boekefees – waarna kan feesgangers uitsien? Wat dink jy is van die hoogtepunte?

Nié die maklikste vraag nie, want my eerste antwoord sou wees: “Maar álles!”

Ek dink ek moet begin by die gesprek waar ek vandag was, op die eerste dag van die Woordfees: Wilhelm Verwoerd met Lukhanyo Calata. En die opmerking van Lukhanyo teenoor Wilhelm dat sy Bloedbande – ’n donker tuiskoms vir hom ’n “baie moeilike boek” was om te lees. “Verwoerd was vir my soos ’n vloeknaam.”

En ek dink skielik hierdie sin, en hierdie twee mense saam op ’n verhoog, som vir my in ’n mate op wat ek as samesteller van die Skrywersfees wil bereik. Om dialoog te stimuleer. Om insig in mekaar se verskillende wêrelde te kry deur middel van boeke. Want boeke vermaak, maar – en dis ’n cliché, boeke lig ook in. Boeke maak ’n venster op die onbekende oop.

En met die niefiksieprogram is dit veral waar vanjaar, maar ook met die fiksie – en selfs die kosboeke en Picture This-uitstalling van wenners van dié internasionale kinderboek-illustrasiewedstryd in die Stellenbosse stadsaal.

Soms was die kombinasies van mense lucky mistakes. Soms was die vonk ’n opmerking van iemand, of iets wat ek toevallig raakgelees het in die media. Ek glo ook in die opstel van die program om met soveel kundiges moontlik vooraf te gesels – om koffie te drink met iemand soos Max du Preez is goud werd.

Só sien ek veral uit na die gesprekke van twee regsgeleerdes, skerp breine, met een (oudregter Johann Kriegler) wat sommer ’n fyn, indringende boekresensie ook kan skryf.  Regter Kriegler vra twee skrywende joernaliste, die internasionaal bekende Angolees Rafael Marques de Morais en News 24 se Adriaan Basson, uit oor verslagdoen met integriteit. Adriaan het onlangs geskryf oor sy eerste kennismaking met Bosasa en die Watsons, terwyl De Morais nog steeds, agt jaar later, in en uit die hof is oor sy aantygings teen die Angolese regering in sy opspraakwekkende Blood diamonds (later een van die vonke vir die Leonardo DiCaprio-fliek).

En dan is Gerrie Nel ’n opwindende toevoeging tot die program. Hy praat volgende Saterdag tydens ’n middagete by Guardian Peak as deel van ’n paneel oor die “wat nou?” ná staatskaping; wat gewone mense kan doen; die vele, raaiselagtige vertakkings van korrupsie – iets waarvan sy medepaneellid daar, parlementslid en Gupta-fluitjieblaser Vytjie Mentor óók weet. En persoonlik kan vertel hoe slim Zuma byvoorbeeld te werk gegaan het in onder meer daardie Saxonwold-“sjebien” (’n toneel wat sterk herinner aan Deon Meyer se prentjie van “captured Hawks” in sy nuwe Prooi!).

’n Driemanskap wat, tussen hulle, ook uit eie ervaring van korrupsie kan vertel, en veral verraad deur wat jy gedink het jou eie kollegas is, is joernalis Pearlie Joubert, wat destyds by die Sunday Times bedank het toe sy besef het daar word gepeuter met die verifiëring van bronne, wat gesels met onder andere genl-maj Johan Booysen, oudhoof van die Valke in die KZN, wat destyds daarvan aangekla is dat hy lid sou wees van die versinde Cato Manor-moordbende; wat verneder is deur by sy kantoor gearresteer te word, in ’n tronksel moes slaap, en wie se foon afgeluister is.

Daar is ook Anneliese Burgess wat gesels met Liza Smit, aangenome dogter van die vermoorde Robert Smit en sy vrou, wat in ’n stadium selfs in ’n beskermingsprogram opgeneem moes word omdat sy te veel oor die hoe en waarom van die moord begin vrae stel het. En dan is daar die enigma van Dimitri Tsafendas en Verwoerd.

Ek onthou tot vandag nog my ma wat die telefoon beantwoord en omdraai, haar gesig die kleur van as, en sê: “Die Eerste Minister is vermoor.” Die dag, die omstandighede, die mes, die totaal bisarre verhaal van die moordenaar word vertel deur Harris Dousemetzis, wat spesiaal uit Engeland kom, waar hy by ’n universiteit met sy PhD besig is, om oor sy jare lange navorsing te gesels oor die man wat uiteindelik nooit parool gekry het nie en sy jare in ’n sielsieke-inrigting geslyt het totdat hy in sy 80’s ook daar dood is.

Iemand besonders is die digter Ronelda Kamfer, wat spesiaal van Grahamstad kom, se lesing Donderdag 6 Maart in die Drostdy-teater as wenner van die Jan Rabie & Marjorie Wallace-skryfbeurs. Sy was die eerste swart en eerste vroulike wenner van dié beurs.

Sy noem dit “Soos ’n koeipaal” en vertel: “Daar was ’n koeipaal op die plaas in Grabouw, maar geen koeie nie. Net appels. Vir dié wat nie weet nie, ’n koeipaal is die melkpos waaraan die astrante koeie vasgemaak word wanneer hulle gemelk word. Ek het vir jare my plek op die plaas gesoek en toe eendag besef ek en die koeipaal is dieselfde.”

Die lesing gee terselfdertyd ’n kykie in haar eerste roman, Kompoun, waarin sy onder andere oor die plaas en dorp en die wêreld van haar ma, haar ouma en al die ander sterk vroue uit haar kindertyd skryf, mense wie se geskiedenis geskryf is in “sand”.

Ek sien ook geweldig uit na die familielede van Johan Heyns, wat 25 jaar na die sluipmoord op hierdie oudmoderator van die NG Kerk met Karin Brynard gesels oor die man en die enorme rol wat hy in die kerk én samelewing gespeel het. Boonop word sy kleinseun se roerende dokumentêre film gewys waarin hy sy oupa as ’t ware herontdek.

Op ligter noot en groot pret is Rian Malan se gesprek met Graham Viney in The Last Hurrahoor, die “Royal Tour” van koning George van Engeland, sy vrou en die twee prinsesse deur Suid-Afrika in 1947. Rian se ma was ’n royalist en het ure in rye gestaan en vlaggies gewaai, en sy pa ’n lid van die Ossewabrandwag, wat eintlik graag ’n bom onder die “wit koets” wou gooi!

Fiksiehoogtepunte is daar só baie, maar ek het lank gehoop ek kan vir Ivan Vladislavić op my program insluit, en nou is hierdie wonderlike skrywer hier en gesels hy oor sy nuwe roman, The distance, met Muhammad Ali as vertrekpunt en die storie van twee boeties, saam met Harry Kalmer, wie se allerlieflike Duisend stories oor Johannesburg se Engelse weergawe die eerste vertaling van ’n oorspronklike Afrikaanse roman is wat die Sunday Times se Barry Ronge-fiksieprys kon wen.

Twee kopieskrywers is daar: Pepe Marais van Joe Public het ’n vermaaklike, maar ook inspirerende verslag geskryf oor sy loopbaan sover, en gesels met Andries Bezuidenhout oor Growing greatness, terwyl John Hunt van Hunt Lascaris een van die roerendste romans van die jaar geskryf het: The boy who could keep a swan in his head, oor ’n seuntjie met die wonderbaarlikste verbeelding wat in die ’60’s in die woonstelwêreld van Hillbrow grootword. Ingrid Winterbach stel haar nuwe roman bekend saam met Charl-Pierre Naudé, en die twee gesels saam met Tinus Horn met Bibi Slippers oor humor wat so dikwels gebruik word om pyn draagliker te maak. Die reisverhaalskrywers Sihle Khumalo en Dana Snyman deel eie ervarings van die warm, eiesoortige karakters in ons wye en droewe land met Erns Grundling, en prima-misdaadskrywers soos Rudie van Rensburg en Bettina Wyngaard; nuweling Carina Diedericks-Hugo praat saam.

En ’n gróót hoogtepunt: Zakes Mda, wat al die pad van Ohio in Amerika kom waar hy klasgee, om meer te vertel van sy jongste roman (wat byna klink soos die verhaal van die The Greatest Showman-fliek!), gegrond op die ware verhaal van ’n Zoeloe-troupe wat in die 1880’s as freaks in New York opgetree het – The Zulus of New York. Hy gesels Donderdag 7 Maart in een van die boekklubs (wat elk met ’n gratis glas wyn afskop)  met Ingrid Winterbach.

En laaste op my lys is die Skrywerslangtafel Woensdagaand in De Volkskombuis, wat iets heel ongewoons gaan wees en waar lesers saam met die skrywers kan eet. Daar wag ’n heerlike prys op ’n leser wat die lekkerste WhatsApp-vraag vra, maar benewens dit gaan ses skrywers van hier wat deesdae in die buiteland woon, en ses plaaslike skrywers, onder leiding van RSG se energieke Johan van Lill vertel hoe die wêreld lyk van waar hulle sit. Hulle is Dana Snyman, Zakes Mda, Chase Rhys (van Kinnes), Ivan Vladislavić (The distance), Mohale Mashigo (The yearling), Gerda Taljaard (Die laksman se dogter), Deon Maas (Witboy in Berlyn), Maya Fowler (Patagonië en Tebatso gaan see toe), Zirk van den Berg (Ek wens, ek wens en Die vertes in), Melusi Tshabalala (Everyday Zulu), Johannes van Eeden (Die val) en Rafael Marques de Morais van Angola.

Vertel ons meer oor die buitelanders wat die fees besoek, veral met 'n fokus op Nederlanders.

Die fokus val vanjaar ongetwyfeld op vroue – van omtrent ál die uithoeke van die wêreld: van Ysland die bekroonde Yrsa Sigurdardottir, van Engeland (wat met ’n paneel van ons sterk vrouemisdaadskrywers met Mike Nicol gesels, en met Deon Meyer in Boekklub), die onstuitbare Joanna Trollope (wie se gesprek met Martie Meiring en Malene Breytenbach in Vrydag se Boekklub gróót pret beloof), van Angola die ondersoekende joernalis Rafael Marques de Morais (wat gedagtes ruil met oudregter Kriegler), en van Nederland die twee jong digters Radna Fabias en Ellen Deckwitz, al twee opwindende name in die Lae Lande. Laasgenoemde gaan ons eie jong digters Ryan Pedro en Pieter Odendaal ontmoet in Van ver en hier. Die hoogtepunt van die Nederlandse “inval” is die grande dame van Nederlandse prosakuns, Connie Palmen, wat saam met Valda Jansen bietjie gaan koppe stamp met die jonges oor of “rebellie en verset” dan net aan die jonger generasie behoort. Dit dien as lusmaker voor die jaarlikse Nederlandse verwelkomingsborrel.

Graag wil ek ook kortliks op jou fokus, sodat die lesers/feesgangers weet watter uitstekende bydrae jou betrokkenheid en leierskap bydrae tot die sukses van die boekeprogram. Jy is self skrywer, vryskutjoernalis, tydskrifredakteur en nou ook sameroeper van die US Woordfees se Skrywersfees. Hoe juggle jy alles?

Tydbestuur is my grootste probleem. Ek kom uit ’n báie Afrikaanse familie, met een oupa ’n dekaan aan die Universiteit van die Vrystaat, pa ’n Afrikaanse uitgewer, ma ’n Afrikaanse joernalis, en werk tot jy omval is mos ons mantra. Ek probeer my bes om nog oefen en bietjie wegkom ook in te pas (my man is besonder gesteld op laasgenoemde), maar ek moet bieg meestal geniet ek my werk só dat ek met ’n skok besef dis halftien en ek sit nog op kantoor. Gelukkig het ek ’n man (en seuns – my dogter studeer in New York), wat met ’n smile en ’n lied in hulle hart kook en kosmaak. En baie, baie beter as wat ek ooit sou kon!

Waar kom jou passie vir Afrikaans vandaan en hoe bly jy geïnspireerd om die verskillende projekte met die nodige geesdrif aan te pak?

My pa en ma het vandat ons klein-klein was, vir ons stories vertel en stories gelees. Ek onthou ’n sielige hotelkamertjie waarin ons hele gesin geslaap het op ’n godverlate dorpie in Swaziland een vakansie, en hoe ons almal op die bed gelê en my ma vir ons ’n storie begin vertel het van ’n klein vlakvarkie met die naam Siselana. My pa het weer tot sy eie groot vermaak vir ons doodsbenoud gemaak met sy stories oor Antjie Somers in haar lang wit rok en manstewels wat onder uitsteek, of die duiwel wat buite op die grasperk in sy helikopter land. (Dit het natuurlik nie gehelp dat daar ’n donker trap solder toe was in my kinderkamer nie.)

Die biblioteek op Hermanus, waar my ouma ’n huisie gehad het en waarheen ons met vakansie gegaan het vandat ek my oë uitgevee het, het ook ’n helse groot rol gespeel in my liefde vir lees en Afrikaanse boeke. Ons sou elke vakansie stapels uitneem – Die Uile-reekse, Fritz Deelman; later was ek gek oor enigiets met ’n dokter, of spuitnaald voorop onder een of ander romantiese titel. Ek het nou nog ’n swakte vir ’n lekker liefdestorie.

Ek onthou nog die huisie het ’n toegeboude stoep gehad en hoe die bure, plaasseuns van Caledon, ons gesin sou aangaap waar ons almal op die stoep sit, doodstil, elk ’n neus in ’n boek.

Geskenke was boeke – romans, maar ook niefiksie. Omdat ek en my pa ’n passie vir fliek gedeel het, het hy in ’n stadium vir my elke jaar ’n versameling van die jongste resensies deur die legendariese New Yorker-joernalis Pauline Kael vir Kersfees gegee. Toe hy in my graad 10-jaar hoof van Tafelberg-uitgewers geword het, was daar gereeld die lieflikste prenteboeke in ons huis in allerhande eksotiese tale. My ma weer het radiowerk en TV-oorklanking gedoen en was onder meer die stem van TV se Pinocchio!

Hulle vriendskap oor baie jare met al die grootste skrywers het my ook aan hulle bekendgestel. Só het ek in my graad 11-jaar gerebelleer deur op te hou om enige skoolwerk te doen (ek was toe in Afrikaans Meisies Hoër in Pretoria) en my pa se boekrak eerder aan te pak en deur te lees, van die een hoek tot die ander, ongeag wat op wat volg. My punte het in die hek geduik, maar ek het van Kennis van die aand tot Anna Karenina daardie jaar ontdek!

In my matriekjaar in Jan van Riebeeck in Kaapstad was dit my Afrikaans-onderwyser en ’n oudbokser, mnr Driesse, wat vir dié “nuwe meisie” die heel eerste keer gesê het: “Skryf meer.” Op sy swartbord het hy in groot wit bordkrytletters geskryf: “Lacrimae rerum – die patos van menswees”. En gereeld, dawerend, bekende Latynse of Engelse literêre frases ter inspirasie aangehaal.

Op Stellenbosch was dit eers Dirk Opperman, in wie se poësieklas ek as dramastudent beland het, wat liefderyk (dit was ná sy Komas-hellevaart, en hy was oud, klein en verrimpeld toe) deur die venster van die Wilcocks kon kyk en lofliedere aanhef tot die “rosige pieke van die Pieke”, terwyl my meestersgraadpromotor, Merwe Scholtz, my later só geïnspireer het met sy energie en passie dat my ore heeltemal toegeklap het uit pure vervoering.

Vertel ons meer van waarby jy nou betrokke is?

Ek werk op die oomblik aan ’n eenmalige, oftewel ’n dik en besonderse “pop-up”-uitgawe, van Insig – die tydskrif waarvan ek vyf en ’n half jaar lank redakteur was in die vroeë 2000’s, en wat in die jaar waarin ek bedank het, aangewys is as die beste tydskrif in die land – al was sy sirkulasie so groot soos ’n tiekie.

My wonderlike jong uitlegredakteur het ewe wys nou die dag na “pop-up” verwys as sowel tydig as tydloos – iets wat verskyn wanneer daar ’n behoefte is daaraan. Hierdie is ’n uitgawe van 200 bladsye met ’n 32-blad-fiksiebylae en dis ’n kombinasie van die beste artikels van 1999, met nuwes wat daarby aanklank vind, of daarop kommentaar lewer, uit 2019. Oor 20 jaar het báie in hierdie land gebeur. Dink net daaraan: Toe Insig in 2007 gesluit is, was sosiale media in sy babaskoene. Die dinamiek wat tussen die verskillende stelle stories gebeur het, het byna ’n lewe van sy eie gekry. Ons het nie net op juwele uit die verlede afgekom nie, soos Van Zyl Slabbert se verslag oor die Dakar-beraad 20 jaar later, wat hy met ’n pen op ’n vlug na Londen geskryf en toe vir my geteleks het! Ons het ook besonderse nuwe bydraes gekry, soos Ingrid Winterbach wat eksklusief vertel oor haar briefwisseling as ’n 18-jarige met Etienne Leroux – ’n korrespondensie wat later aanleiding gegee het tot sy roman 18-44, of ’n eksklusief persoonlike verslag van Breyten oor sy laaste dae in die tronk en die daaropvolgende 48 uur voordat hy en Yolande in 1982 Frankryk toe gevlieg het.

Erns Grundling was ook in Japan om al die Wêreldrugbybekerstede te besoek en skryf ’n baie snaakse verslag van wat vir hierdie Uitenhage-outjie waarskynlik die naaste sou kom aan ’n besoek aan ’n ander planeet.

Die tydskrif verskyn middel-April en word op die oomblik deur ’n span van vier mense saans en oor naweke aanmekaargesit – die moderne manier van tydskrifmaak.

Watter nuwe dimensie het die feit dat jy Woordfees se boekeprogramkoördineerder is, tot jou profiel bygevoeg?

Kontakte, kontakte, kontakte en insigte, gesprekke wat ek andersins waarskynlik nie sou beleef het nie (en ek gebruik die woord “beleef” doelbewus), en die wete dat ek kan doen waarvoor ek lief is en dit “werk” noem. En daar is ook iets heel besonders aan ’n papierhouer koffie deel onder ’n boom met ’n skrywer soos John Miles – iemand wat ek nog altyd bewonder het en dan die kans kry om persoonlik te ontmoet.

US Woordfees 2019: ’n onderhoud met Ellen Deckwitz

Strafjaart: ’n onderhoud met Theo Kemp

US Woordfees 2019: ’n Gesprek met Mercy Kannemeyer

US Woordfees 2019: ’n onderhoud met Rudie van Rensburg oor Medusa

US Woordfees 2019: ’n onderhoud met Saartjie Botha

US Woordfees 2019: Nederlandse en Vlaamse komponent

US Woordfees 2019: Boeke en skrywers

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top