US Woordfees 2019: ’n Gesprek met Mercy Kannemeyer

  • 0

Mercy Kannemeyer (foto: Facebook)

Naomi Meyer vra vir Mercy Kannemeyer oor kunstefeeste en oor haar betrokkenheid by produksies op vanjaar se US Woordfeesprogram. 

Mercy, ek weet jy woon gereeld kunstefeeste by. Wat neem jy waar?

Kunstefeeste is ’n belangrike platform vir die voortbestaan van kuns en kultuur. Eerstens skep dit werk en tweedens word dit ’n plek waar mense kan saamkom en saambestaan. Kunstefeeste het ook ’n verantwoordelikheid teenoor die gemeenskap waar dit plaasvind. Die onus berus by die onderskeie feeste om te bepaal wat hul verantwoordelikheid is, hetsy gemeenskapsbemagtiging deur middel van werkskepping, ekonomiese hupstoot, of die ontginning van plaaslike talent. Ek besef ook kunstefeeste is ’n nasionale bate, dus moet die ruimer konteks van Suid-Afrika ook in ag geneem word.

Rondom jou betrokkenheid by vanjaar se Woordfees: Ons is nie almal so nie ... Het jy die boek geken, en hoe beïnvloed dit vir jou die produksie? Wat is jou rol hierso – agter die skerms?

Ek het die teks verwerk en behartig ook die regie. Dit was glad nie maklik om hierdie teks te verwerk nie, want ek wil so graag getrou bly aan Jeanne se manier van skryf, want haar styl is deurtrek met humor en ironie. Die uitdaging is ook natuurlik dat ek nie die hele boek op die verhoog kan sit nie. Ek het dele geïdentifiseer wat ’n verhaallyn binne 70 minute kan behou. Ek moes ook baie dink oor die konteks waarin die storie afspeel en die uitwerking wat daardie konteks op ’n hedendaagse gehoor sal hê. Die storie speel af in die 1950’s. En destydse gebeure mag moontlike sensitiewe kykers ontstel. Jeanne hou glad nie terug nie – sy sê ’n ding reguit. Teater moet nie polities korrek wees nie, dit moet wel verantwoordelik wees. Ek wil nie dinge op die verhoog sit net om te skok of te offend nie – ek wil hê mense moet dink. En indien mense aanstoot neem, is dit ’n belangrike gesprek wat moet plaasvind om te probeer uitvind waarom hulle aanstoot neem.

Ek het Ons is nie almal so nie in graad 9 vir die eerste keer gelees. Daarna is die boek behandel in my eerste jaar van Afrikaans en Nederlands. Afgesien daarvan dat ek ’n groot aanhanger van Jeanne Goosen se werk is, is Ons is nie almal so nie een van daardie boeke wat ’n mens altyd bybly. Jeanne gaan met soveel deernis om met ’n pynlike storie en beeld sodoende die menslikheid van verkeerde besluite uit. Ek wil hoegenaamd nie ’n apologeet wees vir rassiste nie – ek dink dis die moeite werd om genuanseerd met hierdie storie om te gaan. “Ons is nie almal so nie”, wat deur Doris in die boek gesê word, is natuurlik die toppunt van ironie – want die meeste van die mense in die boek ís so – so rassisties, so bevooroordeeld, so blind vir hul eie foute. En dit kom in 2019 nog steeds voor. Mense sal hulself distansieer van hul eie mense, want hulle is nie soos daai mense nie. En dis geldig. Ek wonder dan maar net: As ons nie almal so is nie, hoe is ons dan?

Die bul die wil nie is 'n ander Woordfeesproduksie waarby jy betrokke is. Hoe skep mens teater vir kinders? En hoe verskil dit van ander teater vir volwassenes vir jou, of van die film (Ferdinand the bull)?

Ek gaan nou maar probeer. Ek dink nie dit hoef noodwendig te verskil van teater vir volwassenes nie – natuurlik in inhoud – maar ander teaterelemente bly steeds staan. Daar is ’n storie, daar is ’n plek waar dit plaasvind en ’n gehoor wat dit kom kyk. Met Die bul die wil nie probeer ek en Amee om ’n prettige, kleurvolle en energieke produksie op die planke te bring wat jong gehore kan vermaak. Stories soos Rooikappie en Raponsie word oor en oor vertel. Ons moet bietjie na stories gaan soek wat wegbreek van dit wat ons nou al ken. Kinders is baie slim, so ek wil nie die idee skep dat ek “maklike” teater probeer maak nie. Dis juis uitdagend om ’n jong gehoor se aandag vir 45 minute te probeer behou. So jy moet vermaak!

Die teaterdiskoerse waarby jy betrokke is - watter gesprekke is warm en lewendig op die oomblik? Wat kan mense kom kyk?

My gespreksreeks is getiteld “Naggesprekke saam met Mercy Kannemeyer – Kom kry jou loopdop en gesels saam.” Ons gesels vanjaar onder andere oor teatertoekennings, transformasie en teater, kulturele toe-eiening, wat jongmense teater toe sal lok, en feeshoogtepunte. Ek is baie opgewonde oor naggesprekke en dink mense moet almal kom bywoon. Dis ’n lekker geleentheid om te kom debrief na ’n lang dag van feesvier. Van die paneellede is Ilza Roggeband, Wolf Britz, Cornelia Faasen, Christo Davids, Shihaam Domingo en Martie Meiring.

Wat laat ek uit? Waarby is jy nog betrokke by die Woordfees?

Ek doen ook die regie vir ’n komedie, Large, asseblief, wat handel oor vier vroue wat gearresteer word omdat hulle buite ’n bekende klerewinkel betoog. Die winkel het nie klere in hul grootte nie. Hulle moet dan hul saak voor ’n konstabel gaan pleit.

Gaan daar tyd oor wees vir jou om self iets te gaan kyk? Wat sou jy sommer net vir die lekker wou bywoon? 

Ek het min tyd om ander produksies te kyk. Maar ek wil probeer om die volgende te sien:

Walk
SAMSON
Katrina: die dansende taal
MI(SA).

Jy het die afgelope tyd so baie kunstefeeste bygewoon. Watter van die produksies wat jy gesien het, is vanjaar by die US Woordfees?

Ek beveel die volgende aan:

GodgOdgoD
Rooilug
Toutjies & Ferreira
Huishou
Babbelagtig
Klippe wat val.

Lees ook:

US Woordfees 2019: Volledig bygewerkte program nou beskikbaar

US Woordfees 2019: ’n onderhoud met Saartjie Botha

US Woordfees 2019: Teater

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top