Om ’n taal formeel as skryftaal te kodifiseer, is ’n komplekse proses wat nóú verweef is met die politieke en sosiale leefwêreld van die taal se sprekers. Oor die afgelope eeu het die Taalkommissie van die Suid‑Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns die taak gehad om Afrikaans as skryftaal te help vestig. Aan die een kant neem die Taalkommissie leiding deur reëls vir die eenvormige spelling en skryfwyse van Afrikaans aan gebruikers beskikbaar te stel. Aan die ander kant reflekteer die Taalkommissie se werk die altyd groeiende woordeskat, segswyse en behoeftes van Afrikaans se skrywende gemeenskap. Die resultaat van dié opdrag word telkens weerspieël in ’n nuwe uitgawe van die Afrikaanse woordelys en spelreëls as Afrikaans se oudste lewende taalhulpbron.
Sedert 1917 het elf Taalkommissies elf uitgawes van die AWS die lig laat sien terwyl daar in Suid-Afrika en in die wêreld rondom hulle belangwekkende gebeurtenisse afgespeel het wat noodwendig op elke uitgawe van die AWS hulle tekens gelaat het.
In hierdie eerste virtuele aanbieding van vyf, op Dinsdag 23 April 2024, het drie lede van die huidige Taalkommissie, Jana Luther, Fred Pheiffer en Annelise de Vries, ’n kort oorsig aangebied oor aspekte van die geskiedenis van Afrikaans wat in wisselwerking met die normering daarvan gestaan het.
Onder die vergrootglas was:
- die ontstaansgeskiedenis van die AWS
- belangrike gebeurtenisse in die Suid-Afrikaanse geskiedenis wat op die kodifisering van Afrikaans as skryftaal ingewerk het
- die AWS en die WAT
- die AWS en die Afrikaanse Bybelvertaling
- die AWS en vaktaal
- anglisismes
- taalbeplanning
Die lesing is intyds aangebied, ingelei deur die TK-voorsitter, Suléne Pilon, en met geleentheid vir vrae aan die einde.
Hier onder, met dank en erkenning aan die Taalkommissie gepubliseer, verskyn Jana Luther se bydrae by die geleentheid:
Die Taalkommissie is een van ses kommissies van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK). Hierdie kommissies – vir taal, letterkunde, onderwys, geskiedenis en die uitvoerende en visuele kunste – staan onder beskerming van die Akademie en word deur die Akademie met spesifieke opdragte belas.
Die opdrag van die Taalkommissie is om Afrikaans formeel as skryftaal te kodifiseer. Dié opdrag dateer terug tot 1917.
Die Taalkommissie en die AWS
In hierdie eerste uittreksel uit ’n reeks lesings wat die Taalkommissie in April en Mei 2024 aangebied het, belig Jana Luther kortliks die omstandighede wat tot die byeenroep van die eerste Taalkommissie en die publikasie, in 1917 en 1918, van die eerste twee uitgawes van die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS) gelei het.
Vroeë Afrikaans
Afrikaans is gepraat lank voordat dit geskryf is. Van 1595 af, so lees ons by Christo van Rensburg (2021), kom en gaan 363 Hollandse skepe en nog ander om die Suid-Afrikaanse kus. Taalkontak vind plaas. ’n Handelsituasie ontstaan in die Kaap. Daar is ’n konstante vloei van idees. Mense van hier, mense van elders praat – met mekaar – verskillende soorte Afrikaans.
In Die storie van Afrikaans (2017) vertel Wannie Carstens en Edith Raidt hierdie verhaal van die wording van Afrikaans volledig.
In die 19de eeu, die 1800’s, begin mense in Suid-Afrika om Afrikaans te skryf, of ten minste skryf baie mense nie meer Hollands nie. Hulle skryf op allerlei verskillende maniere.
In die Bo-Kaap, later ook in Port Elizabeth (nou Gqeberha), word Afrikaans as ’n skooltaal in godsdiensskole gebruik. Lesse in vroeë Maleier- of Maleisiese Afrikaans word aanvanklik in Arabiese skrif geskryf, in boeke wat as koplesboeke bekend was, omdat die leerders die lesse uiteindelik uit hulle kop moes ken. Lees hieroor Ernst Kotzé (1984) en Achmat Davids (1991). Later word die Arabiese skrif deur Romeinse skrif vervang. In dié Bo-Kaapse subvariëteit van Kaaps word daar van 1865 af, dalk al selfs vroeër, geskryf.
Op Genadendal, aan die voet van die Riviersonderendberg in vandag se Wes-Kaap, is daar in die 19de eeu die Broederkerk. Die broeders en susters hier is oorwegend sprekers van Khoi-Afrikaans. ’n Duitse sendeling, Georg Schmidt, is in 1737 deur die Morawiese Sendinggenootskap daarheen gestuur, en die Morawiese sendingkerk op Genadendal het later sy eie drukpers.
Van sendinggemeenskappe noord van die Oranjerivier, die Gariep, kom briewe wat beide sendelinge en gemeentelede in Khoi-Afrikaans skryf.
Vanuit die binneland kom veldwagtersbriewe. Veldwagters word aangestel om oor veeposte, bosplantasies en dergelike in die binneland toesig te hou. Hulle praat ’n verskeidenheid moedertale. Om as veldwagmeester aangestel te word, moet jy van die begin van die 18de eeu af gereeld verslae oor gebeurtenisse in jou wyk kan skryf.
Aan die Oosgrens stel boere wat van die Kaap wil afskei, hulle argumente op skrif, soos onder meer te sien is in die vroeë-Afrikaanse boek Zamenspraak tusschen Klaas Waarzegger en Jan Twyfelaar over het onderwerp van afscheiding tusschen de oostelyke en westelyke Provincie deur LH Meurant. J du P Scholtz wys op die “onmiskenbare” Khoi-aard van die Afrikaans van hierdie bydraes.
Onder die Voortrekkers is daar dagboekskrywers. Dink aan Louis Trichardt.
Die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA)
Van 1875 af begin die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) met toegewyde aandag ’n vorm van Afrikaans skryf waarna daar verwys word as Boerderyafrikaans. Dit is die Afrikaans van middelklassprekers wat aan die een kant nie langer hulle taal met Nederlands wil verdeftig nie, maar aan die ander kant ook nie Khoi-Afrikaans wil skryf nie, wat hulle as laer op die sosiale leer beskou. Tog is Boerderyafrikaans beduidend beïnvloed deur Khoi-Afrikaans, ’n variëteit waarvan die spore dwarsdeur die geskiedenis van Afrikaans loop, ook deur GRA-Afrikaans, selfs al besef hierdie Afrikaners dit nie aldag meer nie, of al wil hulle dit dalk nie weet nie.
Die GRA formuleer die eerste Afrikaanse spelreëls van 1875 af vir die volgende ongeveer 30 jaar. Hulle gee twee tydskrifte uit, die Patriot en Ons Klyntji.
Ondersteuners van Hollands, Nederlands, sien op GRA-Afrikaans neer.
Ongelukkig gaan die GRA aan die einde van die 19de eeu tot niet. En met die GRA tot niet is daar vir Afrikaans geen kampvegterorganisasie meer nie.
Uniewording
Die Eerste en Tweede Vryheidsoorlog, die Anglo-Boereoorlog, of die Suid-Afrikaanse Oorlog soos ons vandag daarna verwys, kom en gaan. Nog ’n dekade verloop. Nou trek ons by 1917 en by Afrikaanssprekendes wat in die Unie van Suid-Afrika met sy twee amptelike tale, Engels en Nederlands, Nederlands nie meer magtig is nie, wat Nederlands nie kan skryf nie, en wat hoëtaalfunksies betref, aan Engelse amptenare en offisiere oor- en uitgelewer is, terwyl hulle Engels ook nie behoorlik kan praat nie en dikwels daaroor gespot word.
Vir Afrikaanse kinders is Nederlands nou basies ’n vreemde taal, en in skole is die enigste ander opsie Engels.
’n Man met ’n plan
In dié tyd tree CJ Langenhoven na vore. Hooghollands is in Suid-Afrika ’n dooie boektaal, verklaar Langenhoven in 1914 en vra: Wat bly vir Afrikaanssprekendes oor? Taalverplasing na Engels?
As skrywer is Langenhoven dalk as Sagmoedige Neelsie bekend, maar as regsgeleerde, koerantman, Afrikaanse skrywer, digter en dramaturg is sy rol in die Afrikaanse letterkunde en kultuurgeskiedenis formidabel. As Volksraadslid en senator speel hy ’n kardinale rol daarin om Afrikaans as amptelike landstaal erken te kry.
In sy biografie, Langenhoven: ’n lewe, spreek wyle JC Kannemeyer (1995:425) die vermoede uit dat Langenhoven tot die politiek toegetree het hoofsaaklik om die saak van Afrikaans te bevorder. En daar is hy ’n meester van oorredingsgesprekke en wandelgangpolitiek. ’n Man met ’n plan.
Nederlands of Afrikaans?
As Afrikaans ’n gestandaardiseerde skryftaal was, sou Afrikaans hoër funksies en ’n status kon verwerf. Maar eers moet Afrikaanssprekendes tussen Afrikaans en Nederlands kies. In 1911 skryf Langenhoven in ’n artikel in Ons Land: “Hoe lank sal ons hink op twee gedagtes? As Nederlands ons taal is, waarom praat ons hom nie? As Afrikaans ons taal is, waarom skryf ons hom nie?” (Kannemeyer 1995:241).
Van Langenhoven se skryftaalplan vir Afrikaans maak moedertaalonderrig die basis uit. Afrikaans moet eers skooltaal word, maar voordat Afrikaans ’n skooltaal kan word, sal die goedkeuring van die betrokke politieke strukture waarbinne die skole funksioneer, eers verkry moet word. Daarna sal onderwysmateriaal in Afrikaans ook eers aan die skole beskikbaar gestel moet word.
Toe Langenhoven in 1914 tot lid van die Kaaplandse Provinsiale Raad verkies word, begin hy die politieke kant van sy plan uitvoer. Hy verkry die steun van die administrateur, sir Frederic de Waal; ook die steun van die superintendent-generaal van onderwys. Op Langenhoven se aandrang besluit die Kaaplandse Provinsiale Raad om met Afrikaans as voertaal tot standerd 4 in die Kaaplandse skole te begin, of dan, met Afrikaans-Hollands, een van die name waaronder Afrikaans destyds bekend was.
Die Vrystaatse Provinsiale Raad volg met ’n soortgelyke besluit, daarna die destydse Transvaal en uiteindelik ook Natal.
Die belangrikste kwessie waaroor egter duidelikheid verkry moet word, is hoe om Afrikaans te skryf. Sonder reëls vir konsekwente spelling – “solang als daar geen spellingeenheid was nie” (Le Roux 1917 in Van Rensburg 2021:35) – sal dit onmoontlik wees om Afrikaanse skoolboeke te skryf en nuwe skoolhandboeke goedgekeur te kry.
’n Akademie vir Taal, Lettere en Kuns
Die Zuid-Afrikaansche Akademie voor Taal, Letteren en Kunst, wat in 1909 gestig is, sou ten opsigte van die erkenning van Afrikaans ’n belangrike rol kon speel, behalwe dat die Akademie hom in hierdie tyd nog op Hollands toespits en hom vir ’n plek vir Hollands op skool en universiteit beywer.
Voordat die proses van kodifisering van Afrikaans as skryftaal kon begin, moes Afrikaans dus eers, óók nog, naas Hollands erken word.
Die 1914-jaarvergadering van die Akademie is vir 2 en 3 Julie van daardie jaar beplan. Naas al sy ander gawes en vermoëns was Langenhoven ook bekend as ’n spreker, ’n orator van formaat. En dit was die datums wat hy hom ten doel gestel het om die lede van die Akademie te oorreed om sy plan vir die invoer van Afrikaans as skooltaal te ondersteun.
Afrikaans-Hollands
Vir die verstaan van die verdere verloop is ons verstaan van Afrikaans-Hollands en die twee Afrikaans-Hollandse bewegings van hierdie tyd belangrik: die Afrikaanse Taalgenootskap (ATG) en die Afrikaanse Taalvereniging (ATV).
Hoewel die ATV in sy leiding aan Afrikaansgesindes oor hoe om te spel nog so na as moontlik aan ’n vereenvoudigde Nederlandse spelling probeer bly, is baie van sy lede nie meer gelukkig met dié “aanleuning” van Afrikaans by Nederlands nie. Hulle wil nog verder verafrikaans.
Langenhoven stel die ATV-lede gerus dat hulle spelsisteem die basis van die Akademie se nuwe spelsisteem sal vorm, al het die Taalbond, die kampvegter vir die Nederlandse taal in Suid-Afrika, in hierdie stadium steeds die Akademie se steun.
Langenhoven moet dus, vooraf, met sowel die pro-Nederlandse as die pro-Afrikaanse rolspelers gesprekke voer, beide groepe in sy planne ken, na weerskante toegewings maak en vennootskappe tot stand bring. Dit is die enigste manier waarop hy sy plan vir die invoer van Afrikaans as skooltaal kan laat slaag.
Afrikaans
Op 3 Julie 1917 word Langenhoven se voorstel met ’n groot meerderheid en slegs twee teenstemme deur die Akademie aanvaar.
Die eerste uitgawes van die AWS ontkom wel nie aan tweespalt nie, en die grondbeginsel en voorwaarde dat die spelling van Afrikaans by die Vereenvoudigde Hollandse Spelling (VHS) van destyds moes aansluit, bly nog lank by latere Taalkommissies spook.
’n AWS met ’n groter mate van verafrikaansing daarin? Ja, dan het Afrikaans vandag dalk anders gelyk. Maar ons kan nie teruggaan nie. Die spelling van AWS 1 was so Afrikaans as wat die eerste Taalkommissie dit kon maak. En ná meer as 100 jaar staan die ingrypende gevolge van daardie besluit vandag vas.
Geskrewe Afrikaans, in plaas van Engels, in plaas van Hollands, is binne etlike dekades op talle vlakke gevestig: as onderwysmedium in skole, universiteite en onderwyskolleges, in die media, in kerke, in politieke strukture, in howe – oral waar Afrikaanssprekendes hulle in formele situasies bevind.
Bronne
Carstens, WAM en EH Raidt. 2017. Die storie van Afrikaans I. Pretoria: Protea Boekhuis.
Davids, A. 1991. The Afrikaans of the Cape Muslims from 1815–1915: a socio-linguistic study. MA-verhandeling. Durban: Universiteit van Natal.
Kannemeyer, JC. 1995. Langenhoven: ’n lewe. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers.
Kotzé, E. 1984. Afrikaans in die Maleierbuurt: ’n Diachroniese perspektief. Tydskrif vir Geesteswetenskappe 24(1):41–72.
Scholtz, J du P. 1965. Afrikaans uit die vroeë tyd: studies oor die Afrikaanse taal en literêre volkskultuur van voor 1875. Kaapstad: Nasou.
Van Rensburg, C. 2021. Die Afrikaanse woordelys en spelreëls se eerste honderd jaar. Arcadia: SAAWK.
Lees ook:
Die storie van Afrikaans – uit Europa en van Afrika, Deel 1 deur WAM Carstens en EH Raidt