Om ’n taal formeel as skryftaal te kodifiseer, is ’n komplekse proses wat nóú verweef is met die politieke en sosiale leefwêreld van die taal se sprekers. Oor die afgelope eeu het die Taalkommissie van die Suid‑Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns die taak gehad om Afrikaans as skryftaal te help vestig. Aan die een kant neem die Taalkommissie leiding deur reëls vir die eenvormige spelling en skryfwyse van Afrikaans aan gebruikers beskikbaar te stel. Aan die ander kant reflekteer die Taalkommissie se werk die altyd groeiende woordeskat, segswyse en behoeftes van Afrikaans se skrywende gemeenskap. Die resultaat van dié opdrag word telkens weerspieël in ’n nuwe uitgawe van die Afrikaanse woordelys en spelreëls as Afrikaans se oudste lewende taalhulpbron.
Sedert 1917 het elf Taalkommissies elf uitgawes van die AWS die lig laat sien terwyl daar in Suid-Afrika en in die wêreld rondom hulle belangwekkende gebeurtenisse afgespeel het wat noodwendig op elke uitgawe van die AWS hulle tekens gelaat het.
In hierdie eerste virtuele aanbieding van vyf, op Dinsdag 23 April 2024, het drie lede van die huidige Taalkommissie, Jana Luther, Fred Pheiffer en Annelise de Vries, ’n kort oorsig aangebied oor aspekte van die geskiedenis van Afrikaans wat in wisselwerking met die normering daarvan gestaan het.
Onder die vergrootglas was:
- die ontstaansgeskiedenis van die AWS
- belangrike gebeurtenisse in die Suid-Afrikaanse geskiedenis wat op die kodifisering van Afrikaans as skryftaal ingewerk het
- die AWS en die WAT
- die AWS en die Afrikaanse Bybelvertaling
- die AWS en vaktaal
- anglisismes
- taalbeplanning
Die lesing is intyds aangebied, ingelei deur die TK-voorsitter, Suléne Pilon, en met geleentheid vir vrae aan die einde.
Hier onder, met dank en erkenning aan die Taalkommissie gepubliseer, verskyn Fred Pheiffer se bydrae aanvullend tot Jana Luther s’n, by die geleentheid:
AWS 1 tot 11 – ’n tydlyn
Aspekte van die normering van Afrikaans staan in wisselwerking met aspekte van die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Elk van die Taalkommissies wat sedert 1917, ononderbroke, vir reeds 11 AWS’e verantwoordelik was, het hulle AWS in ’n veranderende wêreld opgestel. As deel van die eerste lesing in die Taalkommissie se onlangse reeks van vyf het Fred Pheiffer ’n kort oorsig van belangrike gebeurtenisse gegee wat op verskillende uitgawes van die AWS hulle tekens gelaat het.
1910
Uniewording
↓
Eerste Wêreldoorlog en die 1914-Rebellie
Toe die Eerste Wêreldoorlog in 1914 uitbreek, is Louis Botha eerste minister en Jan Smuts minister van verdediging. As lede van die Suid-Afrikaanse Party is hulle voorstanders van ’n bydraende rol vir die Unie in die Britse Ryk. Hulle stem in om Duits-Suidwes-Afrika binne te val. Vername offisiere van die Suid-Afrikaanse weermag – Christiaan de Wet, Koos de la Rey, CF Beyers, Manie Maritz, Jan Kemp – is egter hierteen gekant. Hulle kom in opstand teen die regering met die doel om die Boererepublieke te herstel. Die rebellie word egter onderdruk, hul leiers in hegtenis geneem en tronkstraf opgelê. Een van hulle, Jopie Fourie, wat nie sy offisierskap neergelê het voor hy by die rebellie aangesluit het nie, is tereggestel.
↓
Hernude Afrikaner-nasionalisme
Die rebellie misluk, maar wek ’n hernude gevoel van nasionalisme onder Afrikaners. Fourie se teregstelling het skok en verontwaardiging tot gevolg, en Helpmekaarverenigings word gestig om die rebelle se boetes te betaal. ’n Optog van bykans 3 000 vroue na die Uniegebou eis die vrylating van Christiaan de Wet.
In 1914 stig Barry Hertzog die Nasionale Party (NP) in Bloemfontein, wat vir Afrikaners met hul onafhanklikheidsin en taalpatriotisme ’n tuiste wil bied. Dieselfde jaar kry lede van De Zuid-Afrikaansche Akademie voor Taal, Letteren en Kunst (in 1909 gestig) geleentheid om te stem oor Langenhoven se plan vir die onderrig van Afrikaans en die standaardisering daarvan.
↓
1917
AWS 1 verskyn
↓
1918
AWS 2 verskyn
↓
Grieppandemie van 1918
In 1918 breek ’n grieppandemie uit. Die omstandighede van die Eerste Wêreldoorlog dra grootliks daartoe by dat die siekte wêreldwyd versprei. Só beland die siekte ook in Suid-Afrika, deur troepe wat per skip van Europese slagvelde terugkeer. Ons talle hawens, goed ontwikkelde spoorweë en trekarbeid veroorsaak dat die siekte spoedig landwyd versprei. Tot ’n halfmiljoen Suid-Afrikaners kom om.
Vir Afrikaners volg dié tragedie kort op die hakke van die dood van 26 000 vroue en kinders wat in konsentrasiekampe omgekom het, die mislukte Rebellie van 1914 en die groeiende armblankevraagstuk.
↓
1918 tot 1921
AWS 3 word saamgestel
↓
Armblankevraagstuk en rebellie aan die Rand
Die armblankevraagstuk ontstaan deur die ineenstorting van die landbou as gevolg van herhaalde droogtes, die runderpes, onderverdeling van plase en die ontwrigting vanweë die Suid-Afrikaanse Oorlog. Die platteland ontvolk, maar Afrikanerboere was meestal ongeskoold en kon nie aanpas by die veranderende ekonomie wat mynbou en industrie teweegbring nie. Dit het tot ’n kwartmiljoen Afrikaners geraak.
1921 tot 1931
AWS 4 word saamgestel
↓
Einde 1921 lei ’n daling in die goudprys tot ’n verlaging in lone en die vervanging van wit arbeid deur goedkoper swart arbeid. Dit lei spoedig tot ’n gewapende opstand deur wit mynwerkers – die Randrebellie – wat in 1922 met militêre geweld deur die Smuts-regering onderdruk word. Tot 200 mynwerkers is doodgeskiet.
↓
Paktregering
In die algemene verkiesing van 1924 word Smuts se Suid-Afrikaanse Party deur ’n koalisie van die NP en die Arbeidersparty verslaan. Die redes hiervoor kan teruggevoer word na Smuts se stief houding teenoor moedertaalonderrig in die ZAR ná 1902, sy gewelddadige onderdrukking van die rebellies van 1914 en 1922, sy onbeholpe hantering van die armblankevraagstuk, en sy louwarm houding jeens onafhanklikheid van die Britse Ryk.
Hertzog se slagspreuk was “Suid-Afrika Eerste”, en die nuwe Paktregering se strewe is om Suid-Afrika weldra van die Britse Ryk te ontkoppel. Eie munte (1925), eie seëls (1926) en ’n eie vlag (1928) is tekenend hiervan. Openbare werke, staatsondernemings soos Yskor, die spoorweë en hawens, en die poskantoor, die polisie en die weermag begin indiensneming vir ondergeskoolde wit werkers bied.
Die Afrikaansgesinde Paktregering begin ook aan Afrikaanse kultuurverenigings meer aandag gee, waarby die Akademie en die Woordelyskomitee baat vind. Engels is in daardie stadium diep geworteld in die staatsdiens, maar hoe meer Afrikaanssprekendes staatsamptenare word, hoe groter word die behoefte aan taalgelykberegtiging. Daar ontwikkel dus ’n toenemende behoefte aan die AWS se gestandaardiseerde Afrikaanse spelling.
Op 8 Mei 1925 word Afrikaans wettiglik as mede- amptelike taal erken. Dieselfde jaar verander die Akademie sy naam na die Suid-Afrikaanse Akademie vir Taal, Lettere en Kuns. Die AWS tree hiermee op die voorgrond om hierdie nuwe rol van Afrikaans te help konkretiseer.
↓
1931 tot 1937
AWS 5 word saamgestel
↓
Groot Depressie en die Verenigde Party (VP)
Van 1929 tot 1933 gaan Suid-Afrika gebuk onder die wêreldwye Groot Depressie. Weens dalende aanvraag word veral landbou-uitvoere swaar getref. Dít, en verdere vervanging van wit mynwerkers deur laer besoldigde swart werkers laat Hertzog se party heelwat steun verloor. Die NP beleef ook interne struwelinge weens die eise van DF Malan se reaksionêre republikeinse vleuel. Daarom besluit Hertzog en Smuts om die 1933-verkiesing saam aan te pak. Dit lei tot die vorming van die Verenigde Party (VP). Dié koalisie sorg vir stabiliteit en wen ook die 1938-verkiesing oortuigend.
↓
1937 tot 1953
AWS 6 word saamgestel
↓
Tweede Wêreldoorlog
Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog verlaat Hertzog en sy volgelinge die koalisie, omdat hulle nie Suid-Afrika se deelname aan die Geallieerdes se kant kon steun nie. Die VP wen egter die daaropvolgende 1943-verkiesing op grond van veldmaarskalk Jan Smuts se gewildheid.
↓
1948
DF Malan se skokoorwinning
Verskeie faktore dra by tot die skokoorwinning van DF Malan se Nasionale Party in die 1948-verkiesing. Geskoolde ambagslui moes met ’n toenemende aantal immigrante meeding. Die toestroming van swart mense van die platteland na die stede is in ’n ernstige lig beskou. Weens die uittrede van verskeie bekwame VP-leiers het die regering se administrasie agteruitgegaan. Brood-en-botter-kwessies het ook ’n rol gespeel. Les bes was die VP se ondersteuners in stedelike kiesafdelings gekonsentreer, terwyl die NP se ondersteuners yl versprei is oor heelwat meer plattelandse kiesafdelings.
Die rassevraagstuk het waarskynlik egter die deurslag gegee. Die term apartheid is die eerste keer in dié verkiesing aangewend. Vir die eerste dekade en meer van sy bewind gaan dit vir die NP voor die wind. Dit ekonomie is sterk en sy ondersteuners voel hulself beveilig in die eksklusiwiteit en bevoorregting wat die NP se string apartheidswette teweegbring.
Met Afrikaans gaan dit ook uitstekend. Die taal verrig al hoe meer hoë funksies – in die staatsdiens, in die howe, op universiteit en in die ekonomie. As landstaal word dit in alle opsigte die eweknie van Engels.
↓
1953 tot 1964
AWS 7 word saamgestel
↓
Winde van verandering
Die doodskiet van 69 swart betogers op 21 Maart 1960 deur die polisie by Sharpeville verskerp die internasionale veroordeling van die NP-regering en sy apartheidsbeleid. Op grond van VN-resolusies word al feller buitelandse sanksies teen die land toegepas – ’n wapen- en olieverbod en uiteindelik ook ekonomiese sanksies.
↓
1964 tot 1991
AWS 8 word saamgestel
↓
Grensoorlog en die Soweto-opstand
Die opstand wat op 16 Junie 1976 onder skoolleerlinge van Soweto uitbars oor die verpligte onderrig deur die medium van Afrikaans in hul skole, lui ’n tydperk van voortslepende onrus in die townships van Suid-Afrika in. Afrikaans word finaal deur rassisme en as die taal van die onderdrukker gestigmatiseer.
Die Grensoorlog, wat van 1966 tot 1990 duur, was aanvanklik ’n poging deur die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) om die magsoorname van Suidwes-Afrika (nou Namibië) deur Swapo te verhoed. Mettertyd ontaard dit in ’n konvensionele oorlog in die suide van Angola tussen die SAW en Kubaans-ondersteunde Angolese magte, maar die stryd eindig onbeslis. Toe die SAW die aftog blaas, verkry Namibië sy onafhanklikheid en Swapo wen in 1990 dié land se eerste demokratiese verkiesings.
↓
1991 tot 2002
AWS 9 word saamgestel
↓
Nuwe Suid-Afrika
Die koste van amper ’n kwarteeu se oorlogvoering word ’n ondraaglike las op die Suid-Afrikaanse fiskus. Toe die stryd op sy felste was, het dit 5% van die land se BNP gekos en amper 20% van die totale staatsbesteding. Dit, tesame met sanksies wat die land laat noustrop trek, noop pres FW de Klerk om in 1990 die verbod op die ANC op te hef en die vrylating van Nelson Mandela en ander weerstandsleiers aan te kondig.
Ná die land se eerste demokratiese verkiesing in 1994 word Afrikaans een van 11 amptelike tale. Hoewel al die landstale gelyke erkenning geniet, word Engels spoedig die de facto-voertaal van die staat en die ekonomie. Deur die PanSAT-wet kry elke taal geringe staatsfondse vir sy handhawing en byvoorbeeld terminologieontwikkeling. Dit geld ook die Taalkommissie en die Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Volwaardige handhawing raak egter afhanklik van private befondsing en die ywer van nieregeringsorganisasies.
↓
2002 tot 2009
AWS 10 word saamgestel
↓
Suid-Afrika se nuwe kultuur van menseregte, asook die veranderende samestelling van die Afrikaanse taalgemeenskap, lei tot groter erkenning, bestudering en vaslegging van Afrikaans se variëteite.
↓
2009 tot 2017
AWS 11 word saamgestel
↓
Die kwessie van die herstandaardisering van Afrikaans begin aandag geniet.
Lees ook:
TK-lesing 1 (deel 1): Geskiedenis van die Taalkommissie en die AWS
Kommentaar
'n Aangename opsomming om steunpunte van standaardisering tot herstandaardisering vas te vat - baie dankie