Die Vriende van Afrikaans het op 16 Augustus hul Ommietafel-gesprek gehad waartydens Willa Boezak die spreker was.
Die aand is afgeskop met ’n eerbetoning aan wyle Christo van Rensburg, en Boezak het gesels oor die manier waarop Van Rensburg die Afrikaanse landskap beïnvloed het. Van Rensburg se nalatenskap is toeganklik vir alle Afrikaanssprekendes en hy het gesorg vir eenheid onder talle sprekers van die taal. Boezak het ook gesê dat as dit nie vir Van Rensburg was nie, sou hy nie vandag so ’n groot taalstryder gewees het nie. Van Rensburg en diegene soos hy het van ’n menigte mense taalaktiviste gemaak en daarvoor sal sy naam nog lank voortleef.
Boezak se praatjie was getiteld “Afrikaans die reënboogtaal” en hy het tydens die gesprek die diverse wortels van die taal gedeel. Die manier waarop aardsbiskop Desmond Tutu en oudpresident Nelson Mandela gestrewe het na ’n reënboognasie, ongeag daarvan dat daar sommige landsburgers is wat dink die beginsel het misluk, bly die idee daarvan steeds vir ’n menigte mense ’n edele aspirasie. Net soos wat die reënboognasie daarna gestreef het om inklusief te wees, so maak Afrikaans dit ook haar werk om erkenning te gee aan al haar variëteite en die ontstaan van die taal, meen Boezak.
“Ek glo nog diep in my hart dat dit moontlik is om ander mense te aanvaar. Dis moontlik om wedersydse respek te kweek. Dis moontlik in elke persoon se wil en hart om te sê ‘Ek wil ’n klein Suid-Afrikatjie [in my huis] skep.’ Dit is moontlik om ’n reënboognasie te hê as jy maar net begin oopkop raak, oopkop dink en oopkop doen. Sodoende skep jy dan dit wat die grootvaders van demokrasie oor gedroom het,” het Boezak gesê.
In ons land se huidige politieke klimaat gebeur dit dikwels dat ons verby mekaar praat en verby mekaar groei. Boezak moedig mense aan om verby hul verskille te kyk en saam van die land ’n beter plek te maak.
Die wanopvatting rondom Afrikaans het hy ook aangespreek – dat dit ’n onderdrukkerstaal en witmenstaal sou wees. Dit is om hierdie redes dat sommige meen daar moet afgesien word van Afrikaans.
Ek wonder dikwels wat nog gedoen moet word sodat diegene wat voor in die koor #AfrikaansMustFall skree, sal besef dat ’n taal nie mense kan onderdruk nie – slegs die sprekers van die taal is daartoe in staat.
Ek het geweldige respek vir Boezak en hy is ’n taal- en kultuurskat wat bewaar moet word.
Die tyd het aangebreek dat ons gesprekke begin voer wat verder strek as die ontstaan van Afrikaans. Afrikaans is op ’n mespunt – soos wat gesien kan word in die manier waarop die taal drasties uitgefaseer en afgeskaal word, nie net op tersiêre vlak nie, maar ook op skole. En wat gaan ons gemeenskappe doen om te verseker dat die taal sonder enige vrese sal voortleef? Hoe gaan Afrikaans ander tale omarm? En wat kan prakties gedoen word om seker te maak dat die antagonistiese gevoel wat daar heers oor Afrikaans, kan verdwyn? Op watter maniere is Afrikaans besig om mense se lewens ekonomies, sosiaal en maatskaplik te verbeter, en hoe kan dit bydra tot kohesie in ons samelewing? Dit is die tipe gesprekke waaraan ek graag sou wou deelneem.
Kommentaar
Merci, die tema is bewustelik op versoek van 'n skoolhoof wat voel ons kinders is nie gegrond nie, hulle weet nie waar Afrikaans vandaan kom nie en weet dus nie wat hulle het om op trots te wees nie. Die leerders se reaksie het dit weerspieël, nè?