Margit Meyer-Rödenbeck praat met Naomi Meyer oor Woordedief, wat pas in Pretoria gekuier het en nou by die Suidoosterfees op die planke is.
Margit, wie is Woordedief?
Woordedief is ’n stoute kalant wat jaloers is op almal wat kan lees, en alles probeer om woorde, stories, letters, sinne en sommer enige rondlopergedagtes te steel – tot groot ontsteltenis van kinders wat baie graag wil leer lees en spel en skryf en natuurlik veral die stories wil hoor.
Woordedief is ook die naam van die kindertoneelstuk wat nou deel gaan wees van die Suidoosterfees. Waar kom die storie van Woordedief vandaan? Wat is die agtergrond van die produksie?
Woordedief is gebaseer op Best Books van NB-Uitgewers se reeks boekies wat geskryf is met die oog op voorgeskrewe tekste vir die Grondslagfase.
NB-Uitgewers het my genader om die stories vir die teater te omskep, om dit op die verhoog te bring, laas jaar al. Dit het verlede jaar by die Woordfees afgeskop.
Hoe maak mens ’n storie van wat jy my vertel het? Goed en wel dat ’n karakter stories steel, maar vertel my hoe Woordedief prakties ’n toneelstuk word?
My opwindende uitdaging was: Hoe bring ek ’n klomp verskillende, uiteenlopende stories byeen? Ek moes ’n sentrale karakter kies om die stories bymekaar te bring.
Toe, op die ou end, is daar die sentrale karakter wat almal moet saambind, om ’n intrige te veroorsaak.
Dié sentrale karakter se naam is Woordedief. En hy steel ander mense se stories, soos ek gesê het. Hy steel die stories omdat hy sien ander mense kan lees, maar hy sukkel ’n bietjie met lees. Hy wil ook nie hê ander mense moet kan lees nie.
Vertel dalk van een van die stories wat Woordedief wil steel – en dan hoe jy dit op die verhoog demonstreer.
“Pol Pou soek ’n werk” is een van die stories. “Diere en hulle maniere” is ’n ander storie. En “Robbie Robot se taxi” is nóg ’n storie.
Woordedief steel daardie drie stories. Ek het nog een bygesit! “Boukabouters." Hulle woon in ’n Woordewoud.
Jy vra hoe ek dit doen? Jy sal moet kom kyk! Hier is ’n leidraad: Die gehoor sien heeltyd net een deel van die stories wat nog nie gesteel is nie.
...........
Jy vra hoe ek dit doen? Jy sal moet kom kyk! Hier is ’n leidraad: Die gehoor sien heeltyd net een deel van die stories wat nog nie gesteel is nie.
.............
Wie is die akteurs?
Eldon van der Merwe, Wian Taljaard, Kerscha Titus en Mia van der Merwe. Supertalentvolle jong spelers wat kinderteater verstaan.
Hoekom moet mense kom kyk? En vir watter ouderdomme is die teaterstuk geskik?
Kinderteater is van 3 tot 103.
Dis so lekker om te sien hoe die kleintjies hulle verkneukel, en daar is baie gehoordeelname. Jy sal sien: As jy kom kyk, gaan jy nie net kan bly sit nie!
Produksie-inligting:
Vervaardiger/teks/regie: Margit Meyer-Rödenbeck, wat al verskeie toekennings (KKNK Kanna, kykNET Fiësta, Fleur du Cap) en nominasies vir haar kinderteater ontvang het.
Musiek geskryf deur Margit Meyer-Rödenbeck en Luca Human en getoonset deur Coenraad Rall en Luca Human. Coenraad Rall is die musikale regisseur en almal sal hom ken as Amanda Strydom se pianis.
Koreografie deur Carlia Greyling, stelontwerp deur Gerrit Snyman, kostuums deur Mariska Meyer en natuurlik ons supertalentvolle geselskap: Eldon van der Merwe, Wian Taljaard, Kerscha Titus, Mia van der Merwe. Al vier akteurs het al verskeie toekennings en nominasies ontvang.
Die produksie word op die planke gebring met die hulp en in opdrag van NB-Uitgewers, die Wes-Kaapse Onderwysdepartement en die Suidoosterfees.
Tydsduur: 60 minute
Suidoosterfees Junior: Kunstekaap-Operahuis (hier is nog inligting)
Skolevertonings:
Datums: 5–8 Mei om 9:30
Besprekings: margit@dieboer.com / 083 303 3430.
Noord-Kaap-toer: Moontlik gemaak deur die SBA.
26–30 Mei besoek ons gemeenskappe wat nog nooit blootgestel is aan teater nie – Kharkams, Port Nolloth, Matjieskloof, Kakamas, Keimoes.
Kinders woon die vertoning gratis by.
Onthou: Woordedief kom in die lente Stellenbosch toe vir die Toyota Stellenbosch Woordfees!
Lees ook:
In gesprek met Kathie Viljoen oor 2025 SOF Junior, ’n deel van die Suidoosterfees
Die Meerkat-reeks deur Mart Meij en Beatrix de Villiers: ’n resensie
Wêreldhardopleesdag, 5 Februarie 2025: De Wet Hugo lees voor uit Die doodgewone bure
Wêreldhardopleesdag, 5 Februarie 2025: Chareldine van der Merwe lees voor uit Huisies vir muisies
Wêreldhardopleesdag, 5 Februarie 2025: Jaco Jacobs lees voor uit Dit is nie ’n boek nie
Vlooi en die Olimpiese vlam by die Kunstekaapteater: ’n onderhoud