Vlooi en die Olimpiese vlam by die Kunstekaapteater: ’n onderhoud

  • 0

Eldon van der Merwe en Mine Marais (Wim en Vlooi): foto verskaf

Naomi Meyer praat met Margit Meyer-Rödenbeck en Marinda Engelbrecht oor Vlooi en die Olimpiese vlam wat nou by die Kunstekaap op die planke is.

Die akteurs Mine Marais, Mia van der Merwe en Kerscha Titus, wat deel is van die produksie, gee ook onderaan die onderhoud hul terugvoer en vertel van hul onderskeie ervarings as akteurs in hierdie kinderteaterstuk.

Marinda en Margit, dis amper weer tyd vir Vlooi en sy maats by die Kunstekaap. Die eerste kinders wat Vlooi op daardie verhoog gesien het, is nou al grootmense. Begin asseblief voor en vertel vir ons lesers wie Vlooi is?

Marinda: Vlooi is ’n karakter in die Oxford University Press-leesreeks wat vir Grondslagfase voorgeskryf is in skole. Die leesreeks staan bekend as die Storieboomreeks. Hy is die hoofkarakter. Die leerders is baie lief vir hom, want hy is ’n ondeunde klein seuntjie wat hou van pret. Hy het ’n sussie Biebie en ’n boetie met die naam van Kalla. Hul bure se kinders is hul beste vriende en hulle name is Wilma en Wim. Die towersleutel neem gereeld die vyf kinders op ’n avontuur.

Margit:  As die towersleutel begin gloei, gaan Vlooi en sy maats op ’n avontuur, en hierdie keer is die bestemming Parys! Nie die ene in die Vrystaat nie, die een ver oor die water waar hulle paddaboudjies eet en die Mona Lisa vir hulle loer. En hulle is net betyds vir die 30ste Olimpiese Spele. Maar o wee, die Olimpiese vlam is gesteel, en daar is verskeie verdagtes. Is dit Cupid met sy pyl en boog, of Spartacus, die gladiator van Rome, of die Franse sangsensasie, Fleur? Vlooi en Wilma benodig almal van julle se hulp om saam met hom hierdie raaisel op te los.

Sommige van ons ouer lesers sal Sus en Daan ken, of Boet en Saartjie. Dis dalk ’n manier om vir Vlooi te beskryf. Die unieke aspek van Vlooi is dat die ander karakters wat ek noem, nooit ’n plek op die verhoog gekry het nie. Waar het jy 22 jaar gelede die idee gekry, of hoe het die storie ontstaan dat Vlooi toe Kunstekaap toe gekom het?

Marinda: Ek is/was ’n onderwyseres wat my liefde vir die onderwys met drama gekombineer het. Ek het besef dat as ek die twee kombineer, kan ek ’n liefde vir die teater by leerders aanwakker. Soos ’n dapper muis het ek 22 jaar gelede vir Oxford gevra of ek asseblief die opvoerregte vir die teater kan kry. Wonder bo wonder het hul positief geantwoord. Nadat ek by hul hoofkantoor was, het ek Marlene le Roux gekontak en vir haar gevra om in goedertrou (met die hoop dat skole sal bespreek) die teater aan my beskikbaar te stel. Daardie tyd was daar geen rekenaars nie. Ek het nagte omgesit en fakse uitgestuur skole toe. Alles het in plek geval en die res is geskiedenis.

Van die begin af het ek besluit om met die beste akteurs te werk en net ’n produk van hoogstaande gehalte te lewer. My eerste groep akteurs was: Joanie Combrink, Susanne Beyers, Pedro Kruger, Andre Samuels, Pierre Neethling en Margit Meyer-Rödenbeck. Van die tweede jaar af het Margit my vennoot geword. Soms moet mens iets doen buite jou gemaksone. Iets wat jou bietjie bang maak. 

Wie vertolk Vlooi en wie vertolk sy maats?

Margit: Minke Marais vertolk vanaf laasjaar die rol van Vlooi. Kerscha Titus is vir die eerste keer in die Vlooi-geselskap en vertolk die rol van Wilma, Vlooi se bure. Eldon van der Merwe is vir die derde jaar deel van die Vlooi-geselskap en speel ’n Hula Hoop-kompetisie-beoordelaar en die rol van Cupid. Die Olimpiese Spele is mos in Parys, die stad van die liefde. Dis Wian Taljaard se tweede jaar. Hy is ’n Hula Hoop-kompetisie-deelnemer en dan is hy die gladiator Spartacus wat 2000 jaar vorentoe beweeg het. Dis Mia van der Merwe se eerste Vlooi, hoewel sy ook destyds as kind Vlooi gekyk het. Mia vertolk sommer baie rolle: Biebie, Vlooi se sussie, Fleur, ’n Franse popsensasie, en Cleopatra.

Is die verhaal wat op die planke gaan wees, ook werklik een van die boeke in die Vlooi-reeks wat verwerk is tot verhoogteks? Of is dit gebaseer op die Vlooi-reeks, maar is dit jul eie Vlooi-verwerking?

Margit: Nee, daar is nie ’n Olimpiese Spele-Vlooi-boekie nie, maar ons het gedink ná 22 jaar was ons nou omtrent al oral en almal is nou so opgesweep met die Olimpiese Spele en daar is eintlik baie opvoedkundige inligting om te leer. Die sentrale karakters maak altyd deel uit van ons storie, maar dan bou ons verder om meer opwindende karakters te betrek.

Ek hoor nou die dag ’n senior dramastudent sê hy het drama gestudeer en nou moet hy net ’n hanswors in ’n eetplek gaan wees. Maar dalk besef daardie dramastudent nie hoe belangrik dit vir ’n kind is om daardie hanswors te ervaar nie. Is dit belangrik dat kinders lees? Is dit belangrik dat kinders in die teater kom en dit beleef?

Margit: Ja! Ja! Ja! Lees. Niemand kan dit ooit van jou wegvat nie. Dis jou sleutel tot kennis en ontvlugting en hoe vinniger en meer modern ons wêreld raak, hoe meer dink ek is die nood vir stil raak, fokus en eie verbeeldingsvlugte. Lees is die “towersleutel” tot jou toekoms. En teater: Waar begin ek? Ja, die kinders is ons toekoms, ook ons teatergehore van die toekoms, wat besig is om uit te sterf. Teater is die een plek waar die kind kyk en sy eie keuses maak. Anders as met TV, kan hy deelneem; hy is deel van die oplossing, want soos in enige goeie kinderteater is daar ’n stryd tussen die goeie en die kwade en die kinders help die kwade oorwin. Ons kry baie keer kinders wat vir die eerste keer in die teater kom met Vlooi, wat ’n voorreg om die deur vir hulle oop te maak. As jy hulle gesiggies en spontane oorgawe meemaak, sal jy verstaan: Teater is ’n moet vir kinders.

Wat is die belang van kuns?

Marinda: Om ’n volronde, holistiese kind groot te maak moet ons hom/haar blootstel aan ’n volronde wêreld. Hul moet met ’n rugbykaartjie in die een hand en ’n teaterkaartjie in die ander hand grootword. Vir 60 minute verplaas jy ’n kind na ’n magic wêreld toe. ’n Wêreld sonder die seer en die lelik. Sonder hartseer en sonder vrees. In die teater kan hy vergeet van die sorge by die huis en in die wêreld. Die teater is gelyke speelveld. Afgesien van jou stand ensovoorts kan almal dieselfde ervaar.

Soms word daar neergesien deur akteurs op kinderteater. Hulle voel dis “minderwaardig” om in kinderteater (en die hanswors) te speel. Dis fisiek en emosioneel die mees uitdagende teatervorm. (Al die akteurs verloor gewig gedurende die speelvak.) Kinders is eerlik. Hulle sê hoe hulle voel. Die interaksie met die gehoor hou die akteur op sy tone. Hy moet buite sy teks kan hanteer wat die gehoor vir hom antwoord, sowel as op die gehoor se reaksie reageer. Vele van ons akteurs wat vir ons speel, vertel dat Vlooi hulle eerste teaterervaring was en dat dit die rede is hoekom hulle die beroep gekies het.

Teater is ’n pleister vir die seer van die wêreld.

Terug na die werklikheid: Wie is jul teikengehoor? Kan ouer kinders dit ook geniet? En volwassenes?

Margit: 5–10 jaar. Ouer kinders sal vir seker die skouspel van stel, musiek en choreografie geniet en soos altyd is daar baie humor. So dikwels geniet die ouers en grootouers dit selfs meer. Nie net hul eie kinders se kwinkslae tydens die vertoning nie, maar ook ons almal raak weer kind. Jy stap uit en endorfiene bruis deur jou are.

Is dit net in Afrikaans?

Margit: Nee, een week Afrikaans en dan een week Engels. Sien besonderhede hier onder.

Drie van die akteurs wat deel is van die produksie deel ook hul ervarings:

Minke Marais (sy vertolk vir die tweede jaar die rol van Vlooi):

Ek het in 2023 vir die eerste keer die voorreg gehad om Vlooi te speel. Vlooi het laas jaar 21 geword, en dit was vir my so spesiaal omdat ek nog 21 was toe ek begin het met Vlooi. Om weer in 2024 Vlooi te kan wees het vir my dieselfde hoeveelheid opgewondenheid gebring! Ek leer die agtjarige, nuuskierige seuntjie dieper en dieper ken, met elke repetisie en optrede raak ek net liewer vir hom.

Ek het van die begin af besef dat ek groot en bitter talentvolle skoene moet vul, omdat Margit die eerste Vlooi was, maar Marinda en Margit het my albei mooi gehelp om my eie weergawe van Vlooi te vorm.

Dit is beslis die moeilikste tipe teater vir my. Baie mense kyk neer op kinderteater omdat dit teater vir die “klein mensies” is, maar dit is rof. Op my eerste Vlooi-kontrak was die heel eerste woorde “Kinderteater is uitmergelend” en dit is verseker so. Ons oefen onsself behoorlik pap. Maar dit is wat dit lekker maak, om meer as 30 vertonings te doen is nie vir sissies nie. Dit maak jou teater net duisende kere meer waardeer en jy word SO teaterfiks!

My gunstelingdeel van Vlooi is sy stem. Omdat ek so lank gesukkel het om sy stemmetjie te bou, voel ek bitter trots op waar Vlooi nou is!

Vlooi is werklik ’n one in a million lewenservaring. Mens leer elke dag en met elke vertoning iets nuuts! En wie hou nie daarvan om soos ’n Suid-Afrikaanse Taylor Swift/ alombekende popster te voel nie!

Mia van der Merwe (vertolk die rol van Biebie, Vlooi se ouer suster, Fleur, ’n Franse sangsensasie, en Cleopatra. Eerste keer deel van die geselskap):

Ek het vir die eerste keer Vlooi gekyk in graad 2. Dit was ’n skooluitstappie teater toe en my eerste keer by die Artscape. Ek onthou nou nog hoe het Vlooi van agter die gehoor ingehardloop en my onderwyser het na my toe gedraai en gesê daardie seuntjie is eintlik ’n girlie. Ek het net daar besluit dis wat ek wil doen en 15 jaar later is ek deel van die geselskap. Vlooi is vir baie ’n begin van ’n droom en ’n plek waar kinders in magic kan glo. Om daarin te kan speel en daardie droom vir ander kindertjies te kan skep is pure magic!

Kerscha Titus (vertolk die rol van Wilma, buurdogter. Kerscha se eerste keer as deel van die Vlooi-geselskap):

Die heel eerste teaterproduksie wat ek beleef het, was ’n Vlooi-produksie. Dit was op ’n laerskooluitstappie en as ek reg onthou het ons Vlooi en die rooi planeet gekyk. Dit was my heel eerste keer in ’n teater en ek onthou hoe bang ek was vir die donkerte en die alien! Ek het wel daardie dag met twee gedagtes weggestap. 1) Daar is seker mannetjies onder die verhoog wat dit draai, en 2) eendag as ek groot is ...

Om deel van vanjaar se geselskap te wees is absoluut surrealisties. Ek pak hierdie proses met ’n hart vol dankbaarheid aan. Om deel van ’n produksie te wees wat vir my jonger self wêrelde oopgemaak het – dis definitief ’n full circle oomblik. Ek kan nie glo ek is nou so bevoorreg genoeg om in die posisie te wees om daardie wêrelde vir ander kinders oop te maak nie.

Ek het ’n groot sagte plek in my hart vir kinderteater. Nie net omdat dit een van die lekkerste genres is nie, maar omdat jy op die verhoog staan en sien hoe die kinders aan hulle realiteite ontsnap en hulself ten volle inleef. Kinderteater het ’n groot impak op my lewe gehad en ek wil graag deel wees van daardie impak op ander kinders se lewens.

❤️

Vlooi en die Olimpiese vlam

(14 Augustus tot 6 September)

Teks en lirieke: Margit Meyer-Rödenbeck (lirieke ook: Jurgen Human en Luca Human)

Regie: Marinda Engelbrecht

Musiekverwerking en regisseur: Coenraad Rall

Choreografie: Carlia Greyling

Spelers: Minke Marais, Eldon van der Merwe, Wian Taljaard, Kerscha Titus, Mia van der Merwe

Stelinkleding: Gaerin Hauptfleisch

Kostuums: Stephanie Hough

Vervaardiger: Krazy Katz Produksiehuis in samewerking met Kunstekaap en Oxford University Press

Publieke vertoning (Afrikaans): Saterdag 24 Augustus om 14:00

Kunstekaap-teater

Kaartjies: R125 (blokbesprekings van 10 en meer R100)

Bespreek: Webtickets

Skoolvertonings:

Afrikaans: 14–16, 19 Augustus; 26–30 Augustus 2024

Engels: 20–23 Augustus; 2–6 September 2024

Prys vir blokbesprekings: R75 per persoon (enkelkaartjies kos R100)

Besprekings: Louise by marinda.vlooi@gmail.com / 0716883033

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top