
Kathie Viljoen is een van die mense wat stil-stil werk om jongmense in die teater te kry tydens die Suidoosterfees. Izak de Vries het met haar gesels oor die Leesfees wat aangebied word deur Penguin Random House en deur die AON en SOF geborg word.
Kathie, verlede jaar het julle wonderlike werk gedoen om kinders uit minderbevoorregte skole in die teater te kry. Wat is julle hoogtepunte vir 2025?
Hoogtepunte? Moeilik om te kies tussen die feit dat ons weer ongeveer 4 500 leerders na die Kunstekaap kan bring, na nege skrywers kan luister, en dan natuurlik Skouerskuur met ons skrywers, met Antjie Krog as hoofspreker! Ons het weer ’n wonderlike borg gekry wat die leerders gratis van hulle skole vervoer en dan het drie skole weer ingestem om te help met broodjies. Elke leerder kry ook ’n bottel gegeurde water en ’n pakkie springmielies. Die ander nuwe lekkerte is die verhoogproduksie wat Margit op die plank sit, spesiaal vir die leerders.
Dis ’n mondvol. Kom ons begin met die 4 500 leerders. Verlede jaar is die kinders uit minderbevoorregte dele van die Kaap vervoer, gratis; hulle kon gratis vertonings bywoon in die teater; en hulle het elkeen met ’n vol magie huis toe gegaan. Jy praat van broodjieborge – verlede jaar het gegoede skole ingespring en gehelp. Vertel effens meer oor die logistiek, asseblief?
Ek weet daar is skole wat dit as ’n gereelde aktiwiteit op hulle kalender het, en daarom is ons dankbaar dat ons ook op daardie kalender kan wees. Laerskool Jan van Riebeeck en Hoërskool Jan van Riebeeck is beide betrokke. Hulle maak die broodjies en kom laai dit vir ons by Kunstekaap af. Dan is ons derde skool wat betrokke is, The Settlers High School. Hulle maak ’n hele storie hiervan! Almal is betrokke en blykbaar was daar ’n paar leerders wat laasjaar lekker vies was omdat hulle nie kon deel hê nie! Die leerders smeer die broodjies, verpak dit, en dan is daar ook oulike boodskappies wat hulle op die pakkie skryf en ook sommer nog ’n plakker plak. Hulle gaan ook ’n vrug saamgee. Volgens Tracy Magson, een van die adjunkhoofde, is dit vir hulle baie belangrik om terug te gee aan die gemeenskap, en is dit wonderlik dat hulle hierdie jaar weer deel het aan die projek.
Jy noem Margit hier bo. Dit is natuurlik Margit Meyer-Rödenbeck? Sy was lank bekend as Dowwe Dolla, maar dof is sy glad nie. Verstaan ek dit reg dat hierdie stuk kinders gaan blootstel aan verskeie aspekte van die teater?

Ja, die produksie klink regtig bitter oulik! Die verhoog se geheim handel oor al die verskillende genres wat ons op die teaterverhoog kry: opera, toneel, ballet, kontemporêre dans en selfs ’n hele filharmoniese orkes! Die bekroonde operaster en aktrise Lynnelle Kenned en die akteur Eldon van der Merwe is aan die stuur van sake, en dit klink my ons gaan lag, dans en lekker luister na al die stories op die verhoog. Presies wat ons jong leerders nodig het, want wie weet – dalk sit ons volgende generasie dansers, akteurs en musici in die gehoor!
Julle het dan ook ’n program getiteld Stories – opwinding en pret vir kleingoed! Hier gaan Zuléka Smith, Heléne Booyens en Roslynne Toerien met leerders van graad RR tot graad 3 gesels. Vertel my meer van die skrywers?

Zuléka se Ben-boeke is vol pret en opwinding en tipiese situasies waarmee leerders sal kan identifiseer. Ben het ook nou ’n sussie, Lea, en ons gaan haar nou ontmoet. Zuléka se boeke raak tipiese vrese van jong kinders aan, soos om die nuwe kind in die klas te wees of om jou eerste toets te skryf, en deur middel van die storie help en wys sy jong kinders hoe om dié vrese te besweer. Daar is onder andere Ben en die boelies, Ben en die groot toets en Lea gaan skool toe.
Heléne Booyens is een van ons debuutkinderboekskrywers met ’n verskriklik oulike nuwe karakter: Jorsie die worsie. Hierdie worshondjie het (natuurlik) ’n hoë dunk van homself en wil eintlik ’n polisehond wees en ernstige sake oplos! Heléne het ook haar boeke self geïllustreer, en benewens pragtige en kleurvolle illustrasies is die stories vol avontuur en baie humor, met Jorsie wat soos ’n waffersse held wys hoe om dapper te wees en om probleme op te los. Daar is Die raaisel van die lammervanger en Die putponie-penarie.
Roslynne Toerien was ’n Grondslagfase-onderwyser, is self mal oor lees, en verstaan kinders baie goed. Haar liefde vir die bewaring van die natuur is baie duidelik te sien in haar ses boeke by Penguin. Dit handel alles oor wilde diere – nie oor die tipiese Groot Vyf nie, maar oor die vinnigste (The Speedy Six Olympics), die ander groter diere (The Forgotten Four), nagdiertjies (The Nocturnal Nine) en wilde voëls (The Feathered Five), en dan het sy ’n pragtige boek oor die bewaring van renosters (The Rumbling Rhino) en ’n boek oor die hoe diere saam staatmaak op die natuur vir oorlewing (Under the baobab tree).
In Avonture vir almal! gaan Fanie Viljoen, Peti Troskie en Lori-Ann Preston met leerders in graad 4 en graad 5 gesels. Vertel my ’n bietjie meer.

Fanie is die wenner van LAPA se Jeugromankompetisie met Ons laaste legendariese somer, en toe nooi ons hom sommer ook om oor sy twee lekkerleesboeke vir graad 4 en 5 te gesels. Springboekie (ook beskikbaar in Engels as Sprinbookaroo) handel oor ’n springbokkie wat eerder wil lees as om rugby te speel. Dan, in ’n volgende titel, Jani Jonker gloei in die donker, word Jani deur ’n vuurvliegie gebyt ... en begin dan gloei in die donker! ’n Heerlike verhaal vol humor, ’n bietjie vriendskapsdrama, en ’n gloeiende Jani wat op die ou end net nie meer haar geheim kan wegsteek nie!
Peti se debuutroman, Lukas bou ’n superkar, laat ons almal na ons Lego-dae verlang! Lukas neem ons op ’n lekker avontuur wanneer hy sy beste maat, ’n boelie, ’n kwaai juffrou, ’n verlore wiskundeboek en Lego-blokkies kombineer. Om na ’n vreemde plek te verhuis is nooit maklik nie, maar in Luna Skitterster word gered word die leser meegevoer in ’n magiese towerwêreld met eenhorings en nuwe maats.
Lori-Ann se boeke is vol opwinding en interessante avonture! In Fab Farm is daar ’n plaas vol troeteldiere ... maar die bure mag net nie uitvind nie! En in Vampi, the flying guinea pig probeer Flint sy nuwe troeteldier wegsteek, maar dit sukkel, want die marmot wil nie weggesteek wees nie – hy kan vlieg, en hy praat met ’n Afrikaanse aksent!
De Wet Hugo, Eleanor Lombard en Felicia Snyman-Du Toit gaan met leerders in graad 6 en graad 7 gesels in die produksie Spanning, slim planne en ’n gevaarlike sending. Dit klink na iets wat ek sou geniet!

De Wet gaan gesels oor sy kies-jou-eie-avontuur-boek, Die ongelooflikste sending. En om te weet jy kan verkeerd kies, is lekker spanningsvol! Met ’n relevante boelietema, gevaarlike sendings waarop die seuns moet gaan en wat ’n ware vriend behels, is dit ’n lekker boek vir dié mark.
Eleanor raak ’n paar baie belangrike temas in haar boek Vasbyt Vyf aan. Die storie handel oor mensehandel en -ontvoering – ’n tema waarvan ons leerders deeglik bewus moet wees. Dis ’n heerlike lekkerleesverhaal wat onbewustelik opvoedkundig is en jou ook sommer ’n paar lesse in flinkdink en planne-maak leer.
Benru se boomskok van Felicia is omtrént ’n spanningsvolle verhaal, met familie wat swaar dra aan allerhande geheime en twee broers wat ’n magiese wêreld moet betree om van die probleme te probeer oplos. Daar is geheime agente, verlore testamente, ouers wat wegraak ... Ek glo die gehoor gaan uiters teleurgesteld wees as sy halfpad ophou vertel, want hulle gaan die boek wil lees om te sien hoe dit eindig!
En dan is daar die gesprek met Antjie Krog waarna jy in jou eerste antwoord verwys het. Waaroor gaan julle gesels?
Ons wil ook ’n kykie gee na haar kinderverse in Fynbosfeetjies, vetplantfeetjies, en hoor hoe sy te werk gegaan het met die keuse van gedigte in die bundel Mixtapes van die liefde. Dan gaan ons gesels oor haar aandeel in ’n kinderkookboek, asook ’n nuwe kinderverseboek waarmee sy tans besig is. En natuurlik gaan ons ook ’n paar vrae vra oor haar splinternuwe outobiografiese roman, Binnerym van bloed.
Hierdie program met Krog en ander skrywers, getiteld Skouerskuur met ons skrywers, is vir ’n volwasse gehoor, is ek reg?
Ja, ons nooi alle boekliefhebbers, en veral bibliotekarisse, uit om te kom luister na wat ons skrywers alles vertel. Dis hier waar ons ’n bietjie uitvind oor die stories ágter die stories: hoe skrywers op ’n tema vir ’n boek besluit, waarom hierdie of daardie karakter, wat moeilik was om neer te pen, ens. Maar as jy ’n hoërskoolleerder is wat boeke verslind, gaan hierdie aand ook vir jou gepas wees.
Wie is die ander skrywers wat by Skouerskuur met ons skrywers gaan optree?
Ons gaan met die skrywers hier bo genoem, gesels, en dan sluit Nanette van Rooyen en Jacolet van den Berg ook by ons aan. Jacolet is hierdie jaar ook een van die naaswenners van LAPA se Jeugromankompetisie en ons gaan spesifiek oor haar nuwe boek Bravo! Charlie gesels. Dan skuif ons volwassenefiksieskrywers na die verhoog toe met Martin Steyn, Elsa Winckler, Erla Diedericks en Christelle Wessels agter die mikrofoon. ’n Heerlike verskeidenheid!
Dis egter nie al nie. Ek wil terugkeer na die jongklomp. Daar gaan elke oggend voor die jongmense in die teater ingaan, interaktiewe vertonings met ’n omgewingsboodskap wees, is ek reg? Wil jy meer vertel, asseblief?

Verminder, herwin, hergebruik, skep! is ’n projek wat deur SOF, Stad Kaapstad en die WKOD geborg is. Dit behels ’n kunsuitstalling van graad 7-leerders wat werkswinkels bygewoon het oor hoe om oorspronklike kuns te skep wat omgewingsbewustheid en die belangrikheid van herwinning op ’n prettige en opvoedkundige manier bevorder.
In die optreekunsuitvoering Plastiek, nie so manjifiek! word fisieke teater, mimiek, klankontwerp en visuele elemente gekombineer om kommentaar te lewer oor die samelewing se fatale afhanklikheid van weggooiplastiek. Dit vestig die aandag op die dringende noodsaak vir verandering en spoor ons jong feesgangers én volwassenes aan om hul gewoontes met plastiek drasties aan te pas.



Kommentaar
Mooi so, Kathie!